Oor ’n skoolmens se groot wens

7 Oor 'n skoolmens

Nadat my status in die samelewing onlangs so kras in twyfel getrek is, en dít bloot op grond van my gekose beroep, voel ek my daartoe genoop om ’n lansie te breek vir al ons strydrosse wat onsself in die voorste linie bevind van die geveg vir kognitiewe soepelheid, kreatiewe denke en ’n progressiewe lewensbeskouing onder húlle wat ons dieper in die 21ste eeu moet lei. Want kyk, om nou se dae ’n leerkrag aan ’n hoërskool van enige beskrywing, enige plek ter wêreld te wees, vereis dat jy hare op meer plekke as net jou tande moet hê.

Soos elke generasie oor die voorafgaande een beweer, is ‘vandag se kinders’ maar ’n eienaardige lotjie. Van Mao, die leier van die Chinese Revolusie, weet hulle nagenoeg niks, maar van LMAO kan hulle jou álles vertel. Franz Ferdinand? Oostenryk-Hongaarse kroonprins wie se sluipmoord gelei het tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog? Waarvan praat jy? Franz Ferdinand is ’n Skotse band wat ’n nr.1-treffer met Take Me Out gehad het!

Danksy die tegnologiese revolusie van die afgelope dekade of wat, dra die hedendaagse leerling meer elektroniese toestelle met hom saam as wat ek en jy penne in ons space cases gehad het. En dít vereis natuurlik van elke onderwyser “to get with the programme.” Van Blackberries, pinging en al die ander nuwerwetse tegnologiese wonders moet jy jouself maar vergewis, want indien jy onder die indruk verkeer dat Blu-ray een van die Smurfs is, sál jy jou rieme styfloop teen die genadelose gekoggel van ’n spul weerbarstige adolessente.

En moenie dink die blote feit dat hulle jou as ‘sir’ moet aanspreek vrywaar jou van ’n gewetenlose gekskeerdery nie. Die ongenaakbaarheid van die jare het my haarlyn ingrypend laat retireer en ek is onlangs in geen onsekere terme nie op hiérdie feit attent gemaak toe ’n kapokhaantjie laat waai het met “hey look, it’s Mr. Van der Forehead.” My verweer dat dit maar net, in teenstelling met sý ruie bos hare, toe te skryf is aan my allemintige groot brein, het sterk onder sy vriende aanklank gevind, want húlle beslissing van dié felle woordestryd was ’n onomwonde “sir, you owned him man!

Ja-nee, geen dag by die skool gaan ooit verby sonder ’n ruimskootse dosis humor nie. Somtyds van die ironiese variëteit, maar humor bly dit nietemin. Soos die keer wat ek, ná ’n hoogs interessante les (my opinie) oor die Normaanse oorwinning tydens die Slag van Hastings, in die normale uitvoer van my pligte vir ene Samuel gevra het om vir my die jaartal waarin dié veldslag plaasgevind het, weer te gee. Samuel het slegs vir ’n oomblik daaroor nagedink voordat hy ’n voorspelbare “I don’t know” as antwoord aangebied het. “Come on Samuel” het ek hom probeer aanpor, “more or less?” Hy het geaarsel, met sy mond half oop en sy oë na die hemele opgeslaan, en ná ‘n uitgerekte stilte gesê-vra: “uhmmmmmm…more?” Jy sien. Red nou ’n volk.

En net soos ek, het elke onderwyser eindelose stories om te vertel. Daar word van ons verwag om tegelykertyd leermeester, tugmeester, raadgewer, hanswors, filosoof, sielkundige, kritikus en beeldpoetser te wees. Ons is broers, susters, pa’s en ma’s, dominees, vredemakers en sedebewakers – als in een. En al hou ons eintlik net van skoolhou, word ons met administratiewe rompslomp en veeleisende en onredelike ouers belas. Maar desondanks voer elke leerkrag wat sy sout werd is sy pligte uit met ’n glimlag en ’n diepe bewustheid van die reuse-verantwoordelikheid wat op sy skouers rus, selfs met die gebrek aan enige noemenswaardige status of monetêre beloning.

Onderskraag daarom tog maar die onderwysers wat jy in jou daaglikse handel en wandel teëkom. ’n Beskawing is per slot van sake net so sterk soos sy leerkragte, en wie die onderwysers in die samelewing geringskat, minag in wese die toekoms van hulle eie kinders.

So daarsy dan. Mag dít nou vir jou ’n les wees.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.