Oor die evolusie van die sokkiedans

Die video volg onderaan hierdie hierdie inskrywing.

Ek het gisteraand die twyfelagtige voorreg gehad om ‘n kontemporêre sokkiedans te kon bywoon. En hoewel ek vooraf nogal die ideaal gekoester het om ‘n nooi (wat ten minste reeds mondig moes wees, kug-kug) vir ‘n draai om die dansbaan te vat, is my rol, tot my wrede ontnugtering, tot dié van magrietjie-teen-die-muur gereduseer. Want sien, die evolusie van die sokkiedans het my ooglopend hééltemal verbygegaan.

In die dae toe ek nog érnstig gebokjol het (hier in die middel 90’s) was die idee om jou voete so egalig moontlik oor die vloer te laat skuifel. Jy moes poog om die sweefaksie van ‘n spook na te boots, en die trajek van jou kop moes soortgelyk wees aan die lyn op die hartmasjien van ‘n pasgestorwe pasiënt.

Vandag, so wil dit vir my voorkom, geld die teenoorgestelde – so asof dit ‘like heavy uncool’ sal wees indien albei voete op enige tydstip terselfdertyd aan die grond sou raak. Dít bring natuurlik mee dat die dansers lyk asof hulle oor warm kole loop, wat weer meebring dat hulle koppe die trajek volg van die lyn op die hartmasjien van ‘n pasiënt wat pas ‘n nadere kennismaking met ‘n defibrillator beleef het.

‘n Ander belangrike kenmerk van die hedendaagse sokkie is dat daar ‘n roekelose ongeërgdheid jeens die ritme van die musiek bestaan. ‘n Ongeërgdheid wat dikwels aan flagrante minagting grens. Want of dit nou ‘Sugar’, ‘Hello’ of ‘Baby Tjoklits’ is wat uit die luidsprekers blêr, bly daar net twee danstempo’s te bespeur. Vinnig. En mal vinnig.

En dan, met gereelde tussenposes, word dié ongelykmatige voetestampery onderbreek deur ‘n danspassie wat vir my ‘n riem onder die hart was om te aanskou – ‘n hedendaagse tipe volkspele! Sien, die dansvennote neem mekaar se hande, gee eers twee passies agteruit en dan weer twee passies vorentoe, nét soos Afrikaners wat plesierig is.

Vervolgens is daar ‘n duiselingwekkende vervlegting van arms wat ek voor gisteraand sou dink net volmaak uitvoerbaar kon wees deur ‘n Siamese tweeling, maar tot my volslae verwondering word dié vervlegting-en-ontvlegting-van-arms-kombinasie met amperse militêre presisie deur bykans elke dansvennootskap uitgevoer.

Nét voordat daar weer teruggekeer word na die onreëlmatige voetestampery waarmee dié riel ‘n aanvang neem, word daar eers ‘n geleentheid geskep waardeur die manlike vennoot se instinktiewe, primitiewe drang om sy manlikheid te bewys, bevredig kan word. Die aster draai haar lyfie na een kant toe en inisieer dan ‘n agteroorkanteling wat potensieel tot ‘n ernstige rugbesering kan lei. Maar voordat swaartekrag ‘n fatale impak kan maak, trek ons held haar met ‘n geoefende swiep van sy arm weg van die spreekwoordelike afgrond, en terug tot op haar voete. En net om seker te maak dat hierdie brawe reddingspoging nie ‘n vloekskoot was nie, word die proses nog ‘n keer herhaal – dié keer na die teenoorgestelde kant toe.

En dan, wanneer sy haar balans ná dié yoga-agtige geskoffel herwin het, herhaal die proses van voetestamp-volkspele-armvleg-agteroorval hom weer. En weer. En weer. En weer. Totdat die laaste note van die klankbaan van dié spektakel wegsterf. Dán gee die tweetjies mekaar ewe formeel ‘n drukkie, so asof hulle eers dán vir die eerste keer van mekaar se teenwoordigheid bewus raak. Of asof hulle mekaar innig dankbaar is dat hulle met mekaar se hulp daarin kon slaag om lewendig uit dié ‘skouspel’ te ontsnap.

So, as daar vanaand van jou verwag word om ‘n sokkie by te woon, en jy jou aan die verkeerde kant van 30 bevind, wees dan bang. Wees baie, báie bang.

Maar probeer ook maar om ten spyte van jou vrees die beste van die oujaarsvieringe te maak. Mag 2016 die beste jaar ooit wees!

Wees gesond. Wees gelukkig. Wees lekker.

31 Desember 2015

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.