Oor statusbepaling in die Nuwe Suid-Afrika

6 statusbepaling

Ek het haar die naweek langs ’n braaivleisvuur ontmoet. Tertia – ’n toeris uit Suid-Afrika. Ons het heel gemoedelik oor ditjies en datjies geskerts, totdat die gesprek onvermydelik in in ’n meer persoonlike rigting beweeg het. “Wat doen jy vir ’n lewe?” wou sy weet. “Ek is ’n onderwyser,” het ek geantwoord. ’n Frons het op haar voorkop verskyn. “Wil jy dan teruggaan Suid-Afrika toe?” Daar was kommer in haar stem. “Ja, beslis,” het ek met Stoïsynse ongeërgdheid geantwoord. “Maar,” het sy geskok gereageer, “sal jy tevrede daarmee wees om so ’n lae status in die samelewing te beklee?”

Die luistervinke rondom ons het in afwagting ’n skielike belangstelling in ons gesprek getoon, moontlik in die hoop dat ek haar ’n paar kleurvolle byvoeglike naamwoorde sou toesnou.  Hulle moes egter teleurgesteld toekyk hoe ek die uiters ongemaklike situasie ontlont deur binnensmonds slegs ’n vae antwoord te mompel en die gesprek in die veilige rigting van die naweek se rugbytellings te stuur. Mý sosiale vaardighede het immers al ver genoeg geëvolusioneer om te kan weet wanneer ek moet sê wat ek dink, en wanneer ek eers moet dink oor wat ek wil sê.

Nou hoewel haar woorde my aanvanklik nie veel geskeel het nie, kon ek nie help om later nogmaals haar gewraakte stelling te oordink nie. Lae status in die samelewing? Omdat ek ’n onderwyser is? Toegegee, ek mag dalk nie die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, of die uitvoerende hoofbeampte van ’n multinasionale konglomeraat wees nie, maar ek is nie ’n misdadiger nie, ek lê nie op die staat se rug nie, en ek probeer my allerbeste om waarde toe te voeg tot die lewens van die mense rondom my. My doodsonde volgens Tertia is dus, so vermoed ek, die feit dat my salaristjek effens dunner is as die rekenmeesters, ingenieurs en mediese dokters van hierdie wêreld.

Dit sal natuurlik ’n onakkurate (en bitter onregverdige) oordeelsfout wees om ’n enkele witwynspritzer-gedrewe opinie, in ’n onbewaakte oomblik uitgespreek, op te blaas tot die algemene ingesteldheid van ’n ganse nasie. Maar dat ’n tipiese Afrikaanse persoon se besoldiging geen invloed op sy rangorde in die sosiale hiërargie het nie, is ’n aanvegbare stelling.

Neem die volgende (fiktiewe) gevallestudie as voorbeeld. Mnr. A is ’n toonaangewende professor aan ’n vooraanstaande universiteit. Hy is ’n gerekende kenner van sy vakgebied en artikels uit sy pen word dikwels in vakjoernale gepubliseer. Hy verdien ’n gemiddelde salaris, maar hy lewe gemaklik. Mnr. B, ’n pas-en-draaier van beroep, het een aand in sy dronkenskap sy vingers verbrand toe hy sy braaivleis met die hand wou omdraai. Die volgende dag het ’n idee vir ’n revolusionêre braaivleisomdraaitoestel by hom opgekom en Verimark het hom miljoene betaal om sy idee te ontwikkel tot ’n volwaardige produk. Die vraag is nou: wie van Mnr. A of Mnr. B beklee ’n hoër status in die samelewing?

Daar is natuurlik in wese allermins iets fout daarmee om vermoënd te wees. Volgens Anton Rupert was die grootste voordeel van sy rykdom dat dit hom toegelaat het om aan die knaende, beklemmende besorgdheid oor geld te kon ontsnap. En daardie vryheid gun ek vir enigiemand. Dis egter die hoogmoedige geneigdheid om ’n laer besoldigde persoon summier te reduseer tot ’n Untermensch waaraan ek ’n broertjie dood het. Myns insiens word jou sosiale rangorde deur meer as net die aantal nulle in jou bankbalans bepaal. En ter wille van almal wat in hulle professionele en persoonlike lewens ware sierade is, maar nooit miljoenêrs sal wees nie, hoop ek van harte dat ek nie alleen staan in hierdie beskouing nie.

Dalk moes ek Tertia se veronderstelling eerder met ’n “tune jy my?” en ’n kopstamp in haar tjops begroet het. Dán sou sy immers ’n rede gehad het om my sosiale status in twyfel te trek.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.