As geskiedenisentoesias was ek lank reeds van voornemens om ‘n besoek te bring aan Waterloo – die slagveld waar Napoleon Bonaparte vir die laaste keer sy alie gesien het.
Napoleon se imperialistiese uitbreiding is na ‘n mislukte inval in Rusland beëindig, en hy is in 1814 na die eiland Elba verban. ‘n Jaar later het hy egter ontsnap, aan die suidkus van Frankryk geland en nogmaals ‘n Franse mag van nagenoeg 72,000 manskappe op die been gebring. Die geallieerde magte was vasbeslote om hom hierdie keer geheel en al te verwoes, en op 18 Junie 1815 het Napoleon naby die Belgiese dorpie Waterloo te staan gekom teen ‘n mag bestaande uit Britse, Hollandse en Belgiese soldate onder die bevel van die Hertog van Wellington…
Februarie 2009
-
-
Die kamer in die Waterloo-museum waar Wellington die nag voor die veldslag deurgebring het.
-
-
Daar was, behalwe vir Wellington se weermag, ook weermagte van Pruise (Noord-Duitsland), Rusland en Oostenryk aan’t opruk teen Napoleon. Die enigste vervoermiddel vir troepe in daardie dae was egter te voet, wat beteken het dat die Russiese en Oostenrykse weermagte nog ‘n paar dae se mars weg was van die slagveld. Die Pruisiese weermag, onder bevel van Blucher, het egter tydens die veldslag daar aangesuiker gekom en Wellington ‘n handjie (en ‘n paar kruitbolle op die koop toe) gegee – dit was ‘n belangrike rede waarom Napoleon die veldslag verloor het.
-
-
Die veldslag by Waterloo was destyds groter nuus as 9/11 in 2001. Die rooi liggies op hierdie kaart dui al die plekke in die wêreld aan wat na dié klein Belgiese dorpie vernoem is.
-
-
Die hekke buite die museum. Nee, dit was nie kwart oor ses in die namiddag nie – dit dui die jaartal van die veldslag aan.
-
-
Die veldslag het so drie kilometer buite die dorp plaasgevind, en het hom uitgespeel oor ‘n uitgestrekte stuk aarde. Met hierdie trokkie kan jy tot by die verste hoeke van die slagveld ry, terwyl kommentaar in bykans elke taal denkbaar oor die luidsprekers blêr.
-
-
Die monument op die slagveld, opgerig ter nagedagtenis aan die Prins van Oranje wat op daardie plek noodlottig deur ‘n Musket-koeël getref is.
-
-
Hierdie foto plaas die omvang van die gevegsterrein mooi in perspektief. Napoleon se magte was min of meer aan die linkerkant van hierdie foto geposisioneer, terwyl Wellington s’n min of meer na regs gelê het.
Die aand voor die veldslag het daar ‘n swaar reënbui uitgesak, wat die grondoppervlakte in ‘n modderbad omskep het. Die kanonne wat in daardie dae gebruik is, kon die meeste verwoesting saai wanneer die loodballe oor die grond kon bons – soos ‘n plat klippe wat op ‘n dam gegooi word. Napoleon het vroegoggend ‘n paar sarsies in die rigting van Wellington se magte afgevuur, maar besef dat dit ‘n futiele oefening was. Waar die kanonkoeël die eerste keer die grond getref het, dáár het dit in die modder vasgesteek – niks se gebonsery sodat die maksimum vyandige ledemate in die verbyvlieg afgeruk kon word nie.
Napoleon het sy aanval derhalwe gestaak en besluit om te wag tot die grond effens uitgedroog het – ‘n fatale flater. Blucher se Pruisiese magte was op pad na die slagveld toe, met Napoleon salig onbewus hiervan. Napoleon se huiwering om met die aanval voort te gaan het vir Wellington kosbare tyd gewen, en nét toe dit wou lyk asof Napoleon die oorhand sou kry, het Blucher se manskappe vanuit die woud agter hierdie foto verskyn en daadwerklik bygedra tot Napoleon se ondergang.
-
-
Bo-op die Prins van Oranje-monument. Met ‘n fantastiese uitsig oor die slagveld en met hierdie blad as verwysing, kan jy die veldslag feitlik hou-vir-hou herleef.
-
-
Waterloo is slegs sowat 40km van Brussel af, so ons het sommer daar gaan oornag.
Hiérdie muurskildery in die Brusselse middedorp van Kuifie, kaptein Sardyn en Spokie, het die eerste keer, tydens ‘n vorige besoek in 2005, my belangstelling in hierdie oulike mannetjie geprikkel. België is Hergé, skrywer van die Tin Tin-boeke, se geboorteland en hulle het omtrént ‘n heldeverering vir die man.
Ek het destyds een van die boeke gekoop en vandag besit ek die hele reeks – dít ten spyte daarvan dat die ghemiddelde lesersouderdom van dié boeke 13 is. He he he…
-
-
Net soos ‘n horde pre-pubêre kinders kan ek ure hier deurbring. Hier kry jy enigiets Tin Tin-verwant – boeke, plakkate, klere, speelgoed…noem maar op.
-
-
Van Brussel af is ons weswaarts na Ypres (Ieper), waar die Duitse opmars in die 1ste Wêreldoorlog gestuit is en loopgraaf-oorlogvoering ontstaan het.
Die ‘In Flanders Fields’-museum gee ‘n duidelike beeld van die redes vir die uitbreek van die oorlog, die aard van loopgraaf-oorlogvoering, toestande in die loopgrawe en in niemandsland (die stuk oop grond tussen die opponerende loopgrawe) en baie interessante inligting oor o.a. die Christmas Truce van 1914.
-
-
Dit was interessant/skokkend/hartseer om te sien met hoeveel geesdrif jong seuns die slagveld tegemoet gegaan het. Patriotisme het hoogty gevier en niemand sou kon voorsien het dat dit ‘n uitgerekte stryd sou wees waarin miljoene lewens geoffer sou word vir die aanwins van skaars ‘n kilometer of twee in grondgebied nie.
-
-
Chemiese oorlogvoering in sy embrioniese fase. Die Duitsers was die baanbrekers van die loslating van giftige gasse oor die vyand se loopgrawe. Die enigste manier waarop dit egter gedoen kon word, was deur gebruik te maak van die wind. Dit het dikwels gebeur dat, net nadat die gas vrygelaat is, die windrigting sou draai en ‘n gasaanval op jou eie manskappe die gevolg was!
-
-
Die oorlog van 1914-1918 het nie destyds as die 1ste Wêreldoorlog bekend gestaan nie, maar eenvoudig as ‘The Great War’. Dit was veronderstel om ‘the war to end all wars’ te wees. Vandag weet ons natuurlik dat dit toe nooit was nie, en soos hierdie muurskildery aandui, was daar al 126 gewapende konflikte wêreldwyd sedert 1918.
-
-
-
‘n Monument in Ieper ter nagedagtenis aan die gesneuweldes.
Van der Berg, Van der Riet, Venter, Viljoen. Was daar nie Van der Merwes nie, of was hulle eenvoudig uitgeslape genoeg om ongedeerd uit elke verknorsing te kom? Nee wag – hulle was natuurlik almal besig om babas te maak…
-
-
Die dorpsplein in Ieper sien vandag baie anders daar uit as onmiddellik ná afloop van die oorlog, toe sowat 90% van al die geboue in die dorp verwoes is.
-
-
‘n Loopgraaf. Dis uiters beklemmend en jy kan jou net die wanhoop voorstel van hulle wat so te sê daarin gewoon het. Dit was dikwels kniediep oorspoel en vrotpootjie ‘trenchfoot’ het die lewens van talle soldate geëis. Die afstootlikste van als was moontlik die reuk van ontbindende mensvleis soos wat die lyke oor Niemandsland besaai gelê het. Wat ‘n aaklige gedagte…
-
-
‘n Voorstelling van die loopgraaf-netwerk by ‘n deel van die Westerse Front.