Noord Korea: laat die kindertjies na my toe kom

Die Monument van die Party-stigting is in 1995 opgerig om die 50ste herdenking van dié monumentale (pun? O ja!) gebeurtenis te vier. Dit reik 50 meter die hemele in - een meter vir elke jaar - en die hamer, sekel en en skryfkwas simboliseer onderskeidelik die Noord-Koreaanse arbeiders, boere en intelligentsia.

“Meneer! Meneer! Hoe lank is meneer al ‘n meneer, meneer?”… het geen leerling van die Children’s Palace in Pyongyang, Noord-Korea, al ooit vir enige van hulle onderwysers gevra nie.

Indien jy een van die 5,000 uitskieters op akademiese, kultuur- of sportvlak is wat die geleentheid gebied is om by dié skool vir hoogsbegaafde leerlinge te studeer, is daar immers geen tyd vir bogpraatjies met onderwysers nie. En ook nie met jou maatjies nie. En seker ook nie eers met jou ouers nie. En in ‘n land waar daar geen sprake van Facebook en Youtube is nie, is daar ook nie eers ‘n proeseltjie Justin Bieber of Taylor Swift om jou te help om oor jou tienerjeremiades te kom nie. As ‘n leerling van die Children’s Palace is daar inderdaad maar ‘n enkele doel met jou lewe, en dít is om die talent waarvan jy die grootste hap van die koek gekry het, tot op ‘n vlak te ontwikkel waar dit tot die ewigdurende eer van die Dierbare Leier kan strek.

As deel van die propagandastorm wat bo ons koppe losgebars het, is ons een middag na dié skool geneem om ‘n gratis vertoning deur “sommige van die mees talentvolle jongmense in die ganse Noord-Korea” by te woon. Maar soos wat ek teen daardie tyd reeds herhaaldelik ontdek het, is daar niks soos ‘n gratis middagete in dié land nie. En as dit régtig soos ‘n gratis middagete lyk, dan is dit eintlik maar net ‘n stewige skeut propaganda wat opgedollie is om soos ‘n gratis middagete te lyk.

Voordat ons op die vertoning getrakteer is, moes ons egter eers ons begeleide weg deur ‘n paar van die skool se klaskamers vind. In een was daar sowat twee dosyn kinders met trekklaviere. Hulle kon nie veel ouer as twaalf jaar oud gewees het nie, maar selfs Ollie Viljoen sou beïndruk gewees het met daardie vingertjies wat amper onsigbaar vinnig oor die klawers vlieg. In ‘n ander klaskamer was meisietjies van om en by agt jaar oud besig om tapisserieë te borduur wat enige vrou uit die Middeleeue van afguns sou laat kwyl het. Wat my opgeval het was die robotagtige presisie waarmee elke aksie uitgevoer is, hetsy met ‘n trekklavier of met ‘n borduurnaald. Dit was ooglopend nie hierdie kinders se eerste middag as skouponies nie…

In die 6,000-sitplek-ouditorium is ons begroet deur ‘n see van kindergesiggies. Die Children’s Palace bring hulle skouspel weekliks op die planke, en die kinders wat ‘gewone’ skole in die stad bywoon, kry een keer per jaar die geleentheid om hulle aan dié skoolkonsert-cum-pronkaktiwiteit te vergaap. Behalwe vir ‘n paar toeriste was die ouditorium volgepak met duisende skoolkinders, en was húlle nou beïndruk met ons groot-oog-lang-neus-mense in hulle teenwoordigheid (volgens Asiërs het Westerlinge groot oë en lang neuse, en dis ook hoe daar met tye na ons verwys is – agter ons rûe natuurlik…of dan seker eerder agter ons groot oë en lang neuse). Nadat ek daaraan gewoond begin raak het om in publieke plekke met agterdog aangestaar te word, was dit heerlik verfrissend om vir ‘n verandering deur ‘n horde vriendelike gesiggies en waaiende handjies verwelkom te word.

Nadat almal hulle sitplekke ingeneem het, is die gordyne effens oopgetrek, en het die skattigste dogtertjie haar verskyning op die verhoog gemaak. In haar kleindogtertjie-stemmetjie het sy losgetrek en ‘n fraaie monoloog gelewer wat tot groot opgewondenheid en dawerende applous onder die kleinmensies in die gehoor gelei het. My reisgenoot, Nanthini, het dit later vir my vertaal: “We are the children who benefitted greatly from the love bestowed upon us by our Dear Leaders. And now our Marshal Kim Jong Un continues to love and protect us. Let us keep this in mind when we watch the show.”

Vir die volgende uur is ons getrakteer op ‘n verskeidheidskonsert par excellence. Op die gemeganiseerde verhoog het een item soomloos op die volgende gevolg. Die kinders het gesing, en die kinders het musiek gemaak. As individue, en in groepe. Die kwaliteit was telkens uitstaande, en dit was voor die hand liggend dat dié kinders waarlik die room van die Noord-Koreaanse oes is.

Hoewel die vertoning op kinders (en, wel, ‘n paar toeriste) gemik was, het die beelde wat op die elektroniese grootskerms agter die kleinkunstenaars geflits het, in sinistere teenstelling met die ‘kindertema’ gestaan. Terwyl ‘n vyftal tieners besig was om ‘n vrolike polka uit hulle trekklaviere te pomp, het beelde van Noord-Korea se mees onlangse missiellansering op die skerms geflits. ‘n Groepie tienjarige dogters se engelgesange is afgerond met die beelde van honderde uniformbeklede kinders wat gedetermineerd deur ‘n sneeustorm voortbeur. En vir die grand finale het sowat vyftig jeugdige sangers en musici hulle ding gedoen onder die wakende oog van beelde van Kim Il-Sung, Kim Jong-Il en Kim Jong Un wat mekaar op die grootskerms agter hulle afgewissel het.

Nou kyk, ek weet hoeveel tyd en opoffering dit verg om enige instrument selfs tot op ‘n basiese vlak te bemeester, laat staan nog om ‘n virtuose vertoning soos die een wat ek aanskou het te lewer. Dit beteken net een ding – daardie kinders word soos sirkusdiere gedruk om geen tyd of moeite te ontsien in hulle strewe om meesters van hulle instrumente te word nie. En daardeur word ‘n móét vir enige jongmens afgeskeep: balans. Balans in die ontwikkeling van jou belangstellings, balans in die koestering van jou menseverhoudings, balans tussen jou werk- en speeltyd. Nanthini het nogmaals die vertaalwerk gedoen, en in ‘n neutedop het alles wat op daardie verhoog kwytgeraak is, oor Die Leiers gehandel. Oor wat hulle al vermag het, wat hulle steeds vermag, en wat hulle nog in die toekoms sal vermag. Dít waaraan ek blootgestel is was bloot een lang lofprysing – in die Noord-Koreaanse styl.

‘n Mens hoef egter nie ‘n kinderkonsert by te woon om deur propaganda verswelg te raak nie. In dié sosialistiese bestel is advertensieborde opsigtelik afwesig, maar in die plek daarvan vind jy nasionalistiese slagspreuke langs bykans elke straat, en teen bykans elke woonstelgebou. Ek kon telkens net die uitroepteken aan die einde van elke slagspreuk herken, maar nogmaals, danksy Nanthini se vernuftige Koreaans, kon ons die meeste slagspreuke ontsyfer: “Beskerm die nalatenskap van ons eerbare Kim Il-Sung!”, “Voorwaarts na die finale oorwinning toe!”, “Bewapen jouself met die revolusionêre gees van ons eerbare president kameraad Kim Il-Sung!”, “Beskerm die Party en Kim Jong Un!”. Daar kan geen twyfel wees oor wat die middelpunt van die burgers van dié land se daaglikse lewens is nie.

******************************

Op die tweede dag van my Noord-Koreaanse avontuur is ons almal die KITC-toerbussie ingeboender, en het ons die sowat 150km aangepak na Myohyangsan, waar die International Friendship Exhibition geleë is. Dit het ons drie ure geneem om ons bestemming te bereik, en dié stand van sake was nié te wyte aan verkeersopheenhopings nie. Om die waarheid te sê was daar byna geen ander voertuie op die ‘snelweg’ te sien nie, maar wat daar wel báie van was, was slaggate, en opgevulde slaggate – die snelwegweergawe van ‘Fifty Shades of Grey’.

Op dié geteerde lappieskombers het ons teen ‘n maksimumspoed van 70km/h voortgekruie, terwyl die stamperigheid van die rit deurgaans gedreig het om die vis-en-rysgereg wat ek vir ontbyt afgewurg het op my skoot te laat beland.

Toe die folterende gerondskud uiteindelik tot ‘n einde kom, het ons voor ‘n indrukwekkende gebou in die tradisionele Koreaanse boustyl te staan gekom. Daar was gewapende wagte voor die ingang, en nadat ons deur die metaalverklikkerpoort is, is ons vriendelik verplig om ons kameras en selfone vir ‘veilige bewaring’ by die ontvangstoonbank in te handig. Boonop is ons versoek om ons skoene uit te trek, waarna ons oudergewoonte in ons skewe lyn voor die reuse-afbeeldings van Kim Il-Sung en Kim Jong-Il staangemaak is. Teen dié tyd was ons al goed bekend met wat volgende sou kom, en sonder om te wag vir ons gidse se bevel het ons almal ‘n lekker diép buiging voor die aangesig van dié twee here gemaak…waarna my ontbyt rég agter my kleintongetjie gaan sit het.

Die International Friendship Exhibition is ‘n uitstalling van meer as 200,000 geskenke wat deur ‘n verskeidenheid buitelandse afgevaardigdes aan Kim Il-Sung en Kim Jong-Il gegee is. Die uitstalling dien as bewys van “die wêreldwye ondersteuning vir die Noord-Koreaanse regering”, en besoekers word vertel dat die duisende geskenke tekenend is van “die ganse wêreld se liefde en respek vir die Dierbare Leiers.”

Noord-Koreaanse besoekers aan die IFE het natuurlik geen benul dat die uitruil van geskenke bloot die handhawing van diplomatieke protokol behels nie, en derhalwe is hulle oortuig dat al dié geskenke ‘n onmiskenbare bewys is van die agting wat daar reg oor die wêreld vir hulle leiers bestaan.

Wiskunde is nie my sterkpunt nie, maar die Koreaanse Werkersparty is nou vir een-en-sewentig jaar die bewindhebbers van die DPRK. As die IFE 200,000 geskenke huisves, beteken dit dat daar elke dag van die afgelope sewe dekades ‘n gemiddeld van agt geskenke per dag aan Die Leiers gegee is. Agt! Per dag! Vir een-en-sewentig jaar lank! Hahaha! Sak Sarel.

Om die minste te sê was ek nie heeltemal oortuig toe die IFE-gids ons in die eerste uitstallingsaal ontmoet het nie. Soos wat die gewoonte onder toergidse wêreldwyd is, het sy ons met ‘n grappie verwelkom. Sy het te vertelle gehad dat die IFE (‘n kompleks van nagenoeg 70,000 vierkante meter) in 1978 binne drie dae deur Kim Jong-Il gebou is. ‘n Lag het in my keel opgestoot, maar te oordeel aan die doodernstige uitdrukking op die gids se gesig was dit inderdaad nié ‘n grappie nie, en derhalwe het ek voorgegee dat ek maar net verstik het.

Ons gids was heel duidelik nie ‘n aspirant-komediant nie, maar die komiese verligting was wel op pad. Terwyl ons in gedempte stilte van een saal na die volgende beweeg het, is ons getrakteer op ‘n kykie in die wonderwêreld van interdiplomatieke geskenkuitruilings. Opgestapel in glaskaste het die tasbare bewyse van die agting wat daar vir Kim Il-Sung heers gestaan. Ry op ry. Saal op saal. Van uiteenlopende groepe, lande en persoonlikhede, maar hoofsaaklik van hoogs bedenklike wêreldleiers. Soos die opgestopte kop van ‘n beer met komplimente van die Romeense leier Nicolae Causescu, ‘n skaakbord van Libië se Muhammar Gaddafi, ‘n krokodilvel-aktetas van Fidel Castro, ‘n gepantserde treinwa van Mao Zedong, ‘n koeëlvaste limousine van Josef Stalin, en ‘n handgekerfde Afrika-poppie van ons eie ‘Thabo Umbeki’.

Na aanleiding van al die belaglikhede waaraan ons sedert ons aankoms in Noord-Korea blootgestel is, het ek toenemend begin dink dat die IFE maar net ‘n groot, vervalste propaganda-instrument was. Daar was geen manier waarop enige van die geskenke geverifieer kon word nie, en toe ek ‘n geborduurde landelike toneel met die onderskrif “From a woman in Sweden” tussen ‘n VHS-kopie van Space Jam en ‘n kopie van Björk se album ‘Volta’ opmerk, was ek oortuig dat my vermoede ten minste deels reg was. Daar was soortgelyke vae beskrywings by die meeste van die geskenke aangebring, maar dit was tóg opmerklik dat die meeste daarvan hul oorsprong gehad het by genootskappe, gesetel in verál die Westerse wêreld, wat Kim Il-Sung se Juche-idee aanhang.

“Die Juche-idee? Huh?” Dít was my reaksie toe ek die eerste keer daarmee gekonfronteer is. Gyong Sim, een van ons gidse, het gevra of ek al voorheen daarvan gehoor het, en toe ek ontkennend antwoord, het sy my verslae aangekyk en ‘n ernstige twyfel in my intellektuele vernuf geopenbaar, siende dat “in North Korea even primary school kids learn about Juche.”

Nou kyk, daar is een ding wat ‘n mens van Kim Il-Sung moet verstaan. Dié man was ‘n genie. Op elke denkbare vlak. Nie net het hy manalleen daarin geslaag om die ‘Japanese Imperialists’ uit Korea te dryf nie (desondanks die feit dat twee Amerikaanse atoombomme skaars ‘n week voor dié uitdrywing op Japannese grondgebied geval het), maar hy het ook met sy nimmereindige kennis en insig toegesien dat Noord-Korea hulself aan hul skoenveters kon optel en kon ontwikkel in, soos wat die staatsbeheerde media jou wil laat glo, die ‘sosialistiese utopie’ wat dit vandag is.

Kim Il-Sung het álles van álles af geweet. In ons hotel, en in die restaurante waar ons geëet het, en in elke ander gebou waar ons aangedoen het, het ek foto’s gesien waar dié man ‘wyse leiding’ gee. Of dit nou in ‘n fabriek, op ‘n gekollektiviseerde plaas, in ‘n militêre barak, by ‘n skool, by die Kongres van die Koreaanse Werkersparty, of selfs met die skryf van die nasionale volkslied was. Hy was ‘n Jack of all trades, and a master of them all. Of só is ons vertel, dag na dag, deur élke gids by élke besienswaardigheid waar ons aangedoen het. Op ‘n kol het ek begin dink dat die Dierbare Leier seker ook nooit by ‘n toilet aangedoen het nie, synde hy seker oor die perfekte metabolisme beskik het en dit derhalwe nooit vir hom nodig was om enige oortollighede in sy kos en drank af te skei nie.

Onder die derduisende prestasies wat aan Kim Il-Sung toegedig word, resorteer die ontwikkeling van die Juche-idee ook. Djoe-tshy. Dié ideologie is volgens die amptelike regeringsverklaring “Kim Il-Sung se oorspronklike, briljante, en revolusionêre bydrae tot die nasionale en internasionale gedagtegang.” Wat presies oorspronklik, briljant óf revolusionêr aan hierdie wollerige ideologie is, weet ek nie, maar dit kom basies neer op politieke onafhanklikheid en ekonomiese selfstandigheid. Volgens Juche is die mens die bepaler van sy eie lot, en het hy die vermoë om sy eie lot te bepaal. Die mens kan besluit wat hy wil wees, en hy kan wees nét wat hy besluit om te wees. Ek weet, ek weet. Dit maak nie juis sin nie. Die Juche-idee het nie veel om die lyf nie, en daarom moes Kim Il-Sung homself telkens herhaal. En ook nie net homself nie, maar sommer vir Voltaire en Rousseau en ‘n hele rits ander filosowe ook.

Die Juche-idee is as die amptelike ideologie van die DPRK aangeneem, en later het Kim Jong-Il ‘n paar van sy eie gedagtes by sy pa se oorspronklike filosofie bygewerk. Vandag is dié konkoksie ‘n draak met twee koppe, en dit dra swaar aan ‘n amper onuitspreekbare naam: Kimilsungisme-Kimjongilisme. I kid you not.

Gegewe die onsamehangendheid daarvan, kon die Juche-idee netsowel die produk van ‘n breinstormsessie deur ‘n groep eerstejaar-filosofiestudente gewees het, maar volgens die Noord-Koreane is dié gebrabbel die rigsnoer van hulle lewens. Derhalwe het hulle ter viering van Kim Il-Sung se 70ste verjaarsdag die Juche-toring in die hartjie van Pyongyang opgerig. Dié toring, wat 170 meter in sy fondamente staan, bestaan uit 25, 550 granietblokke (een vir elke dag van die 70 jaar wat Kim Il-Sung tóé oud was), en dit is, raai-raai, deur niemand anders nie as Kim Jong-Il ontwerp.

By die ingang is ons begroet deur 82 gedenkplaatjies van ‘Juche-studiegroepe’ van reg oor die wêreld. Dié word só prominent uitgestal dat jy dit eenvoudig nie kan miskyk nie. En nadat ons ordentlik op hoogte gebring is oor die belangrikheid van die Juche-idee, het ‘n hysbak ons ‘n honderd meter die lug in tot by die boonste vlak gevat, vanwaar ons ‘n fantastiese uitsig oor oom Kim se trots gehad het. Die hoogtepunt (no pun intended) van dié uitsig was die ‘soek-vir-Kim’-speletjie waarin ons ons verdiep het. Giulia, die Italianer, het gewen. Sy het agttien afbeeldings van die Kims getel. Tydens haar oorwinningstoespraak het sy egter verseg om uit te wei oor die ooreenkomste tussen oom Kim en Bennito Mussolini…

****************************

Die briljansie van Noord-Korea se gunsteling pa-en-seun-kombinasie word ook nie beperk tot die hoofstad nie. In Wonsan, ‘n stad aan die ooskus van die land, het ons by die DPRK se Landbou-universiteit aangedoen. By die ingang is ons deur ‘n kennisgewing begroet wat dit duidelik gemaak het dat daar vier onontbeerlike bestanddele vir ‘n suksesvolle oes is: grond, water, son…en die wysheid van Kim Il-Sung.

By monde van ons gids, wat ondanks die versengende hitte in ‘n tradisionele Koreaanse tabberd uitgerus was, moes ons hoor van die verstommende landbourekords waarmee dié instelling spog. Die trots en opgewondenheid was merkbaar toe sy ons vertel van ‘n pampoen van 80kg, ‘n vark van 250kg, ‘n waatlemoen van 12kg, ‘n tamatie van 1kg, en ‘n tros piesangs van 80kg wat danksy die “wysheid van die Dierbare Leier” daar verbou is. Ek het in afwagting na haar neus gestaar, want na aanleiding van haar aansprake was ek oortuig dat dit ‘n paar sentimeter in lengte sou bykry. Dit het uiteindelik nié gebeur nie, maar ek was steeds agterdogtig oor die statistieke wat aan ons voorgehou is.

Wanneer een van Die Leiers ‘n welwillendheidsbesoek iewers aflê, word ‘n rooi kennisgewingbordjie by dié plek aangebring om toekomstige generasies te verwittig dat goddelike wysheid by ‘n vorige geleentheid daar uitgestrooi is. Dis byvoorbeeld ‘n groot eer om ‘n woonstel aangebied te word in ‘n blok wat met só ‘n rooi kennisgewing bo die ingang pryk.

By die Landbou-universiteit was daar tientalle sulke rooi kennisgewings aangebring. Vir Die Leiers was landbou-ontwikkeling ‘n ooglopende prioriteit, en gevolglik het hulle die plek waar die kosprodusente van die toekoms onderrig word mildelik met hulle teenwoordigheid vergas.

Die groot aantal rooi driehoekies wat op verskeie plekke op die plaveisel aangebring is het my dadelik opgeval. Na aanleiding van my navraag oor dié verskynsel is ek ingelig dat dié driehoeke die plekke aandui waar Die Leiers gestaan het toe hulle tydens hul besoeke gefotografeer is. Maar asof dít nie genoeg is nie, was daar ook groen driehoekies op plekke aangebring. Dié driehoekies dui op hul beurt die plekke aan waar Die Leiers geposeer het vir ‘n foto, maar die foto uiteindelik nié geneem is nie. Nie alleen word “Ek wou, en ek het”-oomblikke só herdenk nie, maar sommer die “Ek wou, maar ek kon nie”-oomblikke ook.

Dit was ook by dié Landbou-universiteit waar ons, soos wat ek in ‘n vorige skrywe vertel het, ‘n woordjie kon wissel en ‘n foto kon neem saam met ‘n groep ingeskrewe studente. Na afloop van dié kortstondige interaksie het ek vir een van die finalejaar-studente gevra wat sy planne vir volgende jaar behels het. Sy antwoord? “Wat dit ook al is wat Die Leier wil hê ek moet doen om my land te dien.”

In lyn met die landboutema wat deur ons besoek aan die Landbou-universiteit oopgekrap is, het ons vervolgens by ‘n gekollektiviseerde plaas aangedoen. Landbou in die algemeen, en gekollektiviseerde landbou in die besonder, is die Noord-Koreaanse bakermat. Dis immers danksy die sweet van die plaaswerkers dat die res van die land se revolusionêre gees, waarmee die vyandige imperialiste beveg moet word, gevoed kan word.

Die Chon Sun Farm, wat oor 450 hektaar strek, is die tuiste van 9,500 mense, waarvan 650 voltyds boer. Die boere, sowel as hulle families, woon op die plaas. Tien dae se arbeid word afgewissel met een dag se rus, wat beteken dat die uitmergelende werk wat deur ‘n gekollektiviseerde plaas vereis word, verrig word met slegs drie rusdae per maand.

Danksy die Bolsjewiste se revolusie in Rusland in 1917, was ek vir ‘n geruime tyd reeds geïnteresseerd in die konsep van ‘n gekollektiviseerde plaas, en was ek nuuskierig om meer te leer oor die boerderymetodes en veral die opbrengste wat met só ‘n plaas gepaard gaan. Ons gids het egter my vrae oor dié temas grootliks gesystap, en het dit instede goedgedink om ons eerder te bederf met ‘n storie oor Kim Il-Sung se genialiteit. Sug.

Volgens oorlewering het die Dierbare Leier op ‘n dag in 1967 ‘n besoek aan die Chon Sun Farm gebring. Tydens sy besigtigingstoer, wat met die gebruiklike ontploffing van wysheid gepaard gegaan het, het hy langs ‘n persimmonboom (‘n persimmon is ‘n kleinneef van ‘n nartjie) gaan stelling inneem, en vir die baasbreine van die boerdery gevra hoeveel vrugte hulle van mening was dié boom tydens daardie oesjaar sou dra. Nadat hulle vir ‘n wyle koppe bymekaar gesit het, het hulle ‘n antwoord gereed gehad: “Vyfhonderd.” Oom Kim het geglimlag oor dié konserwatiewe skatting, en verklaar dat die boom inderdaad ágthonderd vrugte sou dra. En jou wrintiewaar, glo dit of jy wil of nie, maar toe die vrugte van daai boom aan die einde van die seisoen getel is, was daar agthonderd-en-twee in die oessak. Fluit-fluit, my storie is uit. Gaap.

Oor die boerdery self het ek dus nie veel wysgeraak nie, maar ons is darem die geleentheid gegee om ‘n kykie te kry in die daaglikse bestaan van die inwoners van die Chon Sun Farm. Ons is na ‘n drievertrekhuisie geneem, waar ek die 12-jarige Minjae otmoet het. In sy geradbraakte Engels het hy my die een en ander oor sy lewe vertel, en hoewel die vooraf-ingeoefende antwoorde perfek van sy tong af gerol het, was daar geen sprake van enige spontaneïteit nie. Die arme kind se senuweeagtige rondkykery, so asof iemand ‘n aantekening maak van elke woord wat hy sê, het my simpatiemeter tot in die rooi gedruk. Hy was maar ‘n bogkind, maar desnieteenstaande moes hy let op elke woord wat by sy mond uitkom.

Ten spyte van ‘n gebrek aan elektrisiteit het beelde van Die Leiers deurlopend op die skerm van ‘n stokou TV in die hoek van die leefvertrek geflits. Daar was geen elektrisiteit in dié huisie nie, maar ons is meegedeel dat dié ou TV inderdaad met sonkrag werk. Ten spyte van ‘n poging wat Sherlock Holmes se goedkeuring sou wegdra, kon ek geen sonpanele naby dié huisie opmerk nie. Ek was nie juis verbaas nie. Dit was maar net nóg ‘n stukkie spek wat die verte in geskiet is.

******************************

Na aanleiding van al die wonderverhale wat ons oor Kim Il-Sung vertel is, het ek begin glo dat hy die geboorte van ‘n gewone sterfling gespaar is, en dat hy eenvoudig as ‘n volwasse genie na die aarde toe neergedaal het. Ek was verkeerd. Oom Kim is gebore in 1912, in ‘n nederige eenslaapkamerhuisie by Mangyongdae, aan die buitewyke van Pyongyang.

Soos wat verwag kan word het sy genialiteit vinnig begin deurskemer, en by dié huisie, wat (uit die aard van die saak) vandag ‘n nasionale erfenisterrein is, kan die tafeltjie gesien word waar oom Kim op 3-jarige ouderdom die woorde “Long live the independence of Korea” neergepen het. Verstommend. Absoluut verstommend. En ‘n nogmaalse bewys dat oom Kim nou maar eenmaal met die revolusionêre gees gebore is. The Force was indeed strong with that one.

******************************

Daar word dikwels beweer dat totalitêre regimes daarna streef om die gepeupel onder hulle gesag ongeletterd te hou. Oningeligte mense lei oningeligte lewens, en wanneer jy miljoene mense onderdruk, wil jy daardie mense so oningelig as moontlik hou oor allerhande onbenullighede soos ‘demokrasie’, ‘menseregte’ en ‘verhoogde lewenskwaliteit’.

In Noord-Korea werk dit egter anders. Dáár ontsien die regering geen moeite om die geletterdheidsvlakke te verhoog nie – juis sodat die proletariaat kan lees wat die regime wil hê gelees moet word.

Ek kon dit amper nie glo nie, maar in Pyongyang, waar verreweg die meeste mense ‘n uiters beskeie bestaan voer, krioel daar ‘n treinnetwerk ondergronds. Ons is natuurlik nie toegelaat om dit op ons eie te verken nie, maar ons is wel deur ons gidse daarheen vergesel – vir ‘n besigtigingstoer wat ‘n volle ses stoppe geduur het.

Onderweg daarheen het Hyang Sun ons met die trots wat so kenmerkend is van al die Noord-Koreane met wie ons te doen gekry het, ingelig dat bouwerk aan dié netwerk in 1967 ‘n aanvang geneem het, en dat dit, danksy die groot wysheid van Die Leiers, in 1989 voltooi is. En vandag, nadat daar vir 22 jaar daaraan gewerskaf is, bestaan dié netwerk uit twee lyne, en sewentien stasies – ‘n fenomenale gemiddeld van 1.3 stasies per jaar.

Die treine self was stokoud en sal nie uit plek uit lyk in ‘n museum nie. In elke trok het afbeeldings van Die Leiers oor strakgesig-pendelaars waggehou, terwyl propagandistiese marsmusiek uit luidsprekers geborrel het. Soos wat dit die geval met ondergrondse treinnetwerke wêreldwyd is, het elke stop sy kwota treinverlaters, sowel as nuweling-pendelaars opgelewer. Dit was baie amuserend om die uitdrukkings op die gesigte van dié nuwelinge te sien, wanneer hulle hulle onverwags in ons groepie groot-oog-lang-neus-mense vasgeloop het. Een ouerige dame het skoon oor haar eie voete geval, en meer as een voornemende pendelaar het sommer net omgedraai en weer uitgestap wanneer die besef tot hulle deurgedring het dat hulle ‘n trok met ons sou moes deel.

Die mees onvergeetlike aspek van ons besoek aan oom Kim se moltreine was egter nie die rit self nie, maar dít wat ons op die stasies se platforms aangetref het. Teen elke muur was ‘n veelkleurige mosaïek aangebring. Die temas was voorspelbaar – boere wat met ‘n huppel in hul stap die oes van die land af bring, vriendelike soldate wat onder slagspreukbaniere marsjeer, die intelligentsia wat met blye verwagtinge die toekoms in staar, en natuurlik Die Leiers in al hulle gevarieerde glorie. En al het die boodskap ‘n effense wrang smaak in my mond gelos, moet ek tóg erken dat dié kunswerke baie indrukwekkend was.

Wat óók indrukwekkend was, was die subtiele propaganda, in die vorm van koerantberigte, waaraan die pendelaars op die platforms neffens die treine blootgestel is. Daar is natuurlik geen persvryheid in Noord-Korea nie, en die meeste mense sal in elk geval nie hulle karige inkomste op koerante vermors nie, maar dáárvoor het Die Leiers ook ‘n plan beraam – op elke platform, agter glaspanele, is hele bladsye van die dag se koerant (daar is net een) aangebring. Só verseker die regime dat álmal op hoogte bly van al Noord-Korea se uitmuntende prestasies, sowel as van al haar vyande wat net wag om toe te slaan…

******************************

Net soos wat een man se vryheidsvegter ‘n ander man se terroris is, nét so is een man se propaganda ‘n ander man se weergawe van die feite. Ek was vir ‘n lang tyd onder die indruk dat ek tydens my grootwordjare onder propaganda toegegooi is. Die NP-regering het immers ‘n heilige vrees vir die ‘Rooi Gevaar’, die ‘Swart Gevaar’ en allerhande ander volksvreemde tokkelossies by my ingeboesem.

Oom PW-hulle het wel hard probeer, maar nadat ek ‘n draai in Noord-Korea gaan maak het, wéét ek nou hoe hardebaard-propaganda lyk. En dis lelik. Baie, baie lelik. Dit hou mense gevange in die boeie van oningeligtheid, en dit laat hulle vasklou aan argaïese oortuigings wat lankal nie meer geld nie. Dit saai ‘n haat vir mense wat hulle nog nooit eers ontmoet het nie, en dit spin die samelewing vas in ‘n web van vrees. Dis kragtig, en selfs almagtig. En vandag dank ek my sterre dat ek in die Suid-Afrika van die 1980’s kon grootword, en dit nie in die Noord-Korea van 2016 hoef te doen nie.

Junie 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.