Oor die grootste verskil tussen Londen en Guangzhou

Chinese and British Relations Concept Image - Flags of China and the United Kingdom Fading Together

My arme, árme ooroupagrootjie.

Die man sal seker in sy graf rondtol as hy moet weet met hoeveel vraatsug ek die afgelope drie weke in die hoofstad van Haar Majesteit se koninkryk opgevreet het. En wat dit selfs erger maak, is dat dit ook nie die eerste keer sal wees dat hy teleurgesteld sou wees met my aangeleerde lojaliteit jeens die eertydse geswore vyande van hom en my ander voorsate nie. Ek het immers vir vyftien jaar lank hierdie bakermat van die beskawing, hierdie eerstewêreldse juweel, hierdie uitspansel van ‘n metropool waar drome (en soms nagmerries ook!) waar word, my huis genoem.

Maar sedert ek twee jaar gelede uitgewyk het na die Wilde Ooste toe, het my wêreldbeskouing ‘n opmerklike omwenteling ondergaan, en vind ek my nou in die posisie om ‘n redelike akkurate (dog onteenseglik subjektiewe) vergelyking te tref tussen die grootste Britse ter wêreld, en die derde grootste Chinese stad in die heelal.

As ek regtig moet probeer om elke klein verskilletjie tussen Guangzhou en die beskawing uit te lig, sal ek waaragtig ‘n boek so dik soos die Bybel kan skryf, so laat ek daarom vir eers net by die volgende tien bondige (wel, bondigrige) punte volstaan:

  1. Londen, met sy bykans 8 miljoen inwoners, is ‘n dig bevolkte stad. Geen twyfel daaroor nie. Maar in Guangzhou, wat met ‘n kleiner grondoppervlakte ‘n tuiste bied aan sowat 14 miljoen mense, voel dit deurgaans asof iemand ‘n miershoop omgeskop het. Dit joel en krioel áltyd, maak nie saak waar jy jou bevind nie. Jy kry nooit sitplek op die metro nie, die eerste bus wat verbykom is altyd vol, en in ‘n supermark kronkel die rye altyd tot om die naaste hoek. Toe ek dus met my terugkeer in Londen deur ‘n oormaat persoonlike ruimte gekonfronteer is, het ek paniekbevange begin dink dat ek straks die Sky News-uitsending oor ‘n heruitbreking van die Swart Plaag misgeloop het. Maar toe onthou ek dat dit Ebola is wat deesdae die wêreld die horries gee, en toe onthou ek gelukkig ook dat die Britte se obsessie met health and safety ‘n stokkie voor die uitbreek van enige hedendaagse plaag sal steek. En daarmee was die krisis afgeweer.
  2. As dit die regte tyd van die jaar is, kan jy in Londen nog elke nou en dan ‘n stukkie helderblou lug te siene kry. Moet net nie wegkyk nie, want jy kan dit dalk mis. En alhoewel hierdie stukkie genot hom net elke nou en dan voordoen, bly dit steeds ‘n reusagtige ‘nou en dan’ meer as wat dit die geval in Guangzhou is. Dáár is die lug altyd die kleur van ‘n week-oue bloukol, selfs wanneer daar nie ‘n wolkie in die lug is nie. Daar moet seker ‘n wetenskaplike verklaring vir hiérdie verskynsel wees, maar as ek ‘n lekeraaiskoot moet waag, sou ek sê dat dit heel moontlik iets te doen het met die feit dat sowat 80% van China se fabrieke in en rondom Guangzhou geleë is – ‘n gedagte wat niks doen om my gemoed (of my longe) te sus nie.
  3. Die Britse koerante – en verál die poniepers – lewer met gereelde reëlmaat verslag oor die mees onsinnige dinge. Soos oor beskonke tieners wat pensioenarisse die skrik op die lyf jaag deur pretritte in onwettig verwyderde Tesco-trollies te onderneem. Of oor loterywenners wat hul nuutgevonde rykdom verkwis op rolskaatse vir hulle pas aangeskafde miniatuur-Schnauzers. Of oor die weer. Verál oor die weer. Want daar is mos altyd ‘n storie te vind in die rekord-temperature (gewoonlik in die hoë 20’s grade Celcius) wat die hospitale op ‘n gereedheidsgrondslag vir ‘n toename in pasiënte met hitte-uitputting plaas, of die onverwagse (huh?) reënbuie wat dreig om Wimbledon in ‘n derde week in te druk. Dít terwyl die koerante in Guangzhou gewoonlik verslag lewer oor…oor…uhm…wel…ek kan nie eintlik sê waaroor hulle verslag lewer nie, synde ek slegs sowat 10 Chinese karakters kan herken, wat aansienlike minder is as die vereiste 3000 karakters wat jy van kennis moet dra om enigsins sin van ‘n koerante te kan maak. Die foto’s op die voorblaaie is egter altyd van kwaai Chinese ooms in donker pakke klere wat vervaard hulle voorvingers soos Hitler en P.W. Botha rondswaai. En dít maak my so bang dat ek heimlik verlig is dat ek nie kan verstaan wat die onderskrifte sê nie.
  4. Dis weliswaar nie ‘n nuwe ding nie, maar soms sien jy iemand in die straat spoeg in Londen. Gewoonlik word só ‘n aksie met die grootste afgryse deur die ooggetuies daarvan begroet, wat duidelik bewys dat die gemeenskap in sy geheel ‘n ernstige afkeer daarin het. In Guangzhou het hulle egter straatspoeg tot ‘n fyn kuns vervolmaak. Wanneer jy in die straat stap, hoor jy soos klokslag ‘n gekug en ‘n gegorrel opklink vanuit die bondel mense waardeur jy deurgaans omring word. En wanneer jy begin rondsoek na die skuldige, vind jy dat dit dikwels die kortste, kromste ou tannietjie is wat op die punt staan om ‘n ghwel te gooi. En dit maak ook nie saak hóé jy jou gesig trek om jou renons in dié afstootlikheid te laat blyk nie; niemand steur hulle aan jou nie. Om by jou sinne te bly moet jy daarom maar net vrede maak met dié verskynsel, want daar is nou maar net geen manier om aan hierdie snotstorm van soorte te ontkom nie.
  5. In Guangzhou bestaan daar nie ‘n ding soos ‘n werkersunie nie. As ‘n werknemer ontevrede is met die noedelsop wat vir middagete bedien word, nie gediend is daarmee om 80 ure per week te werk nie, of selfs morele beswaar wil aanteken teen sy werknemer se beleid om fabrieksafval in die naaste rivier te stort, kan hy netsowel vir hom ander werk gaan soek – in welke geval 1.29 miljard van sy landgenote gereed staan om sy vakante pos te vul. Dié ingesteldheid weerspieël nie noodwendig my persoonlike siening oor die verdeling van produksiemiddele nie, maar dit hou tóg ‘n reuse-voordeel vir my in. Geen unies = geen stakings = geen pendelchaos. In Londen, aan die ander kant, is daar twee dinge waarop jy kan reken. 1 – Prins George se gevreetjie sal vroeër of later op die voorblad van die ‘Hello’ verskyn. 2 – Daar sal vroeër of later ‘n tube strike wees. En só was dit toe ook. En dit was nogmaals heel amuserend om te sien hoe die Londenaars met stoïsynse stiff upper lips hierdie foltering oorkom. Gedienstig en gedweë, maar met gesigsuitdrukkings wat lyk asof iemand besig is om hulle name in die Boek van die Dooies op te teken. ‘n Nasie wat egter die Blitz in 1940 oorleef het, gaan hulle nie sommer laat onderkry deur een dag se busry nie, en om dié rede word tube strikes maar net gelate aanvaar – net soos dit die geval is met die alewige gereënery, vertragings op die underground, en mense met baarde in helderkleurige Dri-Macs wat, gewapen met ‘n clipboard en ‘n sinistere grynslag, jou tydens jou etensuur bespring en jou sover probeer kry om ‘n direct debit ten bate van een of ander liefdadigheidsorganisasie te beteken.
  6. Ten spyte van die astronomiese koste van sigarette, en die drakoniese wetgewing rakende rook in openbare plekke, blyk dit dat Londen nog veel meer as net sy minimum kwota rokers het. Maar in Guangzhou rook álmal. Wel, alle mans bo die ouderdom van 16 in elk geval. Dis amper asof jou rokerstatus ‘n deurgangsrite tot volwassenheid is – ‘n verwronge tipe Verre Oosterse bar mitzvah, waar cartons skywe as persente aan die jongeling oorhandig word. Ai tog. Maar aan die ander kant behoort mens seker nie té verbaas oor dié stand van sake te wees nie. Dis immers minder skadelik vir jou longe om ‘n teug aan ‘n sigaret te vat as wat dit is om die besoedelde lug rondom jou in te asem.
  7. Aaah, straatmusikante in Londen…wat soet klanke laat opklink en jou laat voel of jy nie anders kan as om ‘n pond of twee in die oopgeslane kitaartas te gooi nie. En in teenstelling daarmee kry jy die straatmusikante in Guangzhou…wat klanke iewers op die kontinuum tussen ‘n doodsroggel en ‘n kraamkreet laat opklink, en jou laat voel of jy nie anders kan as om ‘n handgranaat of twee in die oopgeslane kitaartas te gooi nie.
  8. Vir ‘n stad van sy grootte word Londen betreklik skoon gehou. Tot ‘n mate kan daardie futuristiese karretjies met die ronde besempies vir voete daarvoor bedank word, maar oor die algemeen is Londenaars ook heeltemal geneë daarmee om self hulle leë Snickers-omhulsels in die naaste vullishouer te begrawe. En dis só anders as in Guangzhou, waar die meeste mense glo dat hul rommel vooruit bestem was om in die groot asblik rondom ons, genaamd Die Aarde, te beland. Jis, dit maak my briésend wanneer ek sien hoe iemand ‘n meter ver van ‘n asblik af staan, en dan steeds sy gemors op die grond gooi. Ek wens altyd ek kan my mond uitspoel teenoor dié Asiatiese Zibi-haters, maar tot my groot frustrasie (en skaamte) bestaan my totale Chinese repertoire slegs uit die volgende: ‘hou reguit aan’, ‘draai links’, ‘draai regs’, ‘ stop hier’, ‘hallo’, ‘dankie’, ‘tot siens’, ‘plastieksak’, ‘Suid-Afrika’, ‘Brittanje’, ‘skool’, ‘goed gedoen’ en ‘geskiedenisonderwyser’. En snaaks genoeg kan ek nooit die regte kombinasie uit bogenoemde vorm om my ware gevoelens teenoor die skuldige rommelstrooier te verwoord nie.
  9. Everything’s made in China. And everything’s faked in China. En dit sluit die hele spektrum in – van horlosies tot by babamelk. Dit was daarom heerlik verfrissend om in Londen klere te kon aanpas wat my nie net pas nie (in Guangzhou span selfs ‘n XXXL-hemp te styf hier om my kieliebakkies, en enige langbroek lyk of sy pype vir my skoene geskrik het) maar waarvan die handelsmerke boonop nog eg ook is. Ja, in Londen hoef jy nooit dubbel seker te maak dat jou swaarverdiende geldjies vermors word op vulgariteite soos Tommy Heelvinger, Donsie & Habana, Louis Viljoen, Versagie of Hugo Boos nie (nie dat ek ooit my Pretoria-Noordse lyf in bogenoemde handelsmerke drapeer nie…ek sê maar net wat ek gehoor het by ander mense).
  10. En so gepraat van die produkte van die tekstielindustrie: vyftien jaar gaan sit nie sommer net in jou klere nie. Dit sny diép. Die kosbaarste vriendskappe word in pubs en in parke en op die underground gesmee. Tydens bank holiday weekends, reënerige wintersdae en lang, sonskyn-somersdae. Met mense van verskillende geslagte, van verskillende ouderdomme, van verskillende agtergronde en van verskillende lande. Oor weke, oor maande, oor jare. En al was dit ‘n belewenis om weer vir Big Ben in die oog te kon kyk, om weer langs die Southbank rond te drentel, en om weer ‘n Wetherspoons-ontbyt kaf te draf, was die hoogtepunt van die laaste drie weke sonder twyfel om weer hiérdie mense op te soek, oombliklik en sonder enige ongemaklikheid op te tel waar ons laaskeer neergesit het, en aan die einde van ons ontmoeting ‘n pint te kon klink op wat die toekoms ookal mag inhou.

En dít is die grootste, die mees betekenisvolle verskil tussen Londen en Guangzhou: sóveel mense, wat ek só naby aan my hart hou, sit in Londen. En ek sit in Guangzhou…

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.