Oor hoe vinnig hulle groot word

FullSizeRender

Die meeste mense se daaglikse omgangstaal is deurspek met cliché’s, maar om nou 100% eerlik te wees, vee ek my daaraan af. Dis soos water op ’n eend se rug. Ek kan nie minder daaroor omgee nie. En al daai jazz.

Wanneer mens egter die sfeer van ouerskap betree, gaan ’n hele nuwe cliché-dimensie voor jou oop en word jy genadeloos gepeper met ’n stortvloed holruggeryde sêgoed. “Hy is só cute”. “Ek sal hom ópvreet”. “Sjoe, hy lyk nét soos jy”. Om maar net ’n paar te noem. Die nommer-een baba-cliché, wat in oormaat die rondte doen en in ons geval hoogs relevant is, moet egter die immergroen “ag, hy word tog so vinnig groot” wees.

Want kyk, ons Ben het nou regtig sy voete gevind. En nou gaan dit keer op keer reguit na sy mond toe. Dieselfde gebeur ook met enige ander voorwerp waarop hy sy poffertjies kan lê. Speelgoed, boeke, selfone, afstandbeheerders – niks is gevrywaar teen ’n tydige (of ontydige) spoegdeurdrenkingsessie nie. As dit daarin kon pas, sou hy sweerlik sy voedingstoel ook in daardie pap bekkie gedruk het.

Gepraat van etenstyd – wat vir Ben kennelik die hoogtepunt van sy dag is, is vir my en sy ma ’n okkasie wat intense konsentrasie en ongeëwenaarde fokus verg. Vir my omrede ek soos ’n wafferse glipveldwerker moet poog om sy kos tussen die tafelblad en die vloer te onderskep, en vir sy ma omdat sy haar allerbeste moet gee om te verseker dat die meeste van sy kossies darem by die regte kant van daardie ewig-wriemelende lyfie ingaan. Dis seker voortydig om te wil beweer dat ons baba sy velsorg vooropstel, maar dat hy telkens ná ete soos ’n vrou by ‘n gesondheidsoord lyk, is nie altemit nie. Met avokadopeer wat sy gesig van hoek tot kant bedek, is komkommerskywe op sy ogies al wat nog kortkom vir hom om as ’n Clinique-model te kwalifiseer.

’n Onafwendbare nadraai van grootword, so het ek tot my argwaan geleer, is tandekry. En tandekry is nie vir sissies nie, dosis na dosis Calpol ten spyt. Dis ’n geween en ‘n gekners van tandvleise, met ’n deurgaanse behoefte aan liefkosings, wat kort-kort met doodgewone mislikheid afgewissel word (die baba-weergawe van PMS, dus). Boonop lei dit tot ontstellende masochistiese neigings soos hy sy eie oë probeer uitkrap en homself herhaaldelik met die vuis in die gesig slaan. Maar nes jy dink dat die konstante maagwerkings en slapelose nagte nooit ’n einde gaan kry nie, sit die klein wit puntjie soos ’n ryp puisie daar en kan daar uiteindelik teruggekeer word na relatiewe normaliteit. Totdat die volgende tand sy sit moet kry.

Te oordeel aan die rigiede riglyne soos neergelê in Suster Lillian se Babasorgboek, betree ons nou die fase waartydens Ben blootgestel behoort te word aan opvoedkundige speelgoed. Volgens haar behoort ‘speel’ en ‘leer’ op sy ouderdom soomloos vermeng te word, maar ek sou graag van die goeie Suster wou verneem wat ons te doen staan indien ons baba oënskynlik geen erg het aan sinskonstruksieboublokkies of tydleesspeelkaarte nie, maar eerder ’n fassinasie toon met leë sjokoladeomhulsels, verspilde skuifspelde en gebruikte snesies. My enigste troos is dat sy fyn motoriese vaardighede daardeur ontwikkel word en dít kom baie handig te pas wanneer mens op vlak-regby veldwerk doen.

Die een aspek waaroor Suster Lillian wél die spyker op die kop slaan, is die sogenaamde ‘ondersoekende vernielsugtigheid’, wat weliswaar onlangs kop uitgesteek het. Sy Lig-en-Loerboek is ’n sprekende voorbeeld van hierdie onrusbarende tendens. Die arme papierdiertjies wou-wou nog agter hul kartonblaadjies uit loer, toe word hul koppe met al die geweld wat deur ’n 10-maande oue armpie bymekaargeskraap kan word van hul lyfies af geruk. En nou is die imponerende Lig-en-Loerboek afgewater tot net, wel…’n boek. Fluit-fluit, jou storie is uit.

Alhoewel hy nog nie kan praat nie, het onse Ben jou werklik ontpop in ’n voorslag tussenganger vir gesprekke tussen my en sy ma. Ek sal byvoorbeeld doodonskuldig lê en krieket kyk wanneer die subliminale boodskappe uit die kamer langsaan begin sypel: “…ons moet gou maak, want pappa gaan nou-nou jou kamer vir jou stofsuig…en wanneer ek jou doek omgeruil het, gaan pappa jou bietjie parkie toe vat…en het jy geweet páppa gaan jou vanaand bad?” en so aan. Om op só ’n jeugdige ouderdom reeds ’n bedrewe gesprekstussenganger te wees, sit wraggies nie in elke ou se doek nie.

Maar op ’n LOL-vrye noot: dis voorwaar ’n sonderlinge voorreg om eerstehands te kan ervaar hoe ’n pap babatjie besig is om te ontwikkel tot ’n volwaardige mensie met sy eie persoonlikheid en sy eie unieke nukke en grille. As die laaste tien maande enigsens ’n aanduiding moet wees van wat nog vir ons voorlê, kan ek my opgewondenheid skaars beteuel. Ek kan nie wág om elkeen van sy volgende ontwikkelingsfases neffens hom te beleef nie, maar vir nou staan een ding soos ’n paal bo water: hy word heeltemal te vinnig groot.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.   

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.