Oor ’n eerste verjaarsdagpartytjie

11 Oor 'n eerste verjaarsdag

Dit voel sommer nog soos gister toe ek Die Mamma daar in die kraamkamer bemoedig het met goed gespasieerde uitroepe van ‘crouch, touch, pause…engage!’ en hoe ek, ná my ridderlike onderskragingspogings, deur ’n waas van trane so byna die vroedvrou se vinger in plaas van ons pasgebore baba se naelstring geknip het. Maar tyd vlieg (om daai sêding se rug nóg holler te ry) en nadat ’n elftal vermaandsdae hul draaie kom gooi het, was dit onlangs tyd om Ben se eerste verjáársdag te vier.

Nou kyk, soos enige gesaghebbende ouerskapsgids sal beaam, is ’n eerste verjaarsdag nie die naam werd indien dit nie met ’n partytjie gepaard gaan nie. Nie dat ék noodwendig daarmee eens is nie – sover dit my betref kon ons met aansienlik minder moeite en met ’n veel kleiner impak op ons beursies, maar net vir Ben voor die wasmasjien staangemaak en dié vir ’n siklus laat tol het. Om die skuimbedekte maalkolk agter daai plastiekpatryspoort te betrag ís immers sy gunsteling tydverdryf…én dit sou boonop aan ons ’n skoon bondel wasgoed besorg het. Maar helaas, ’n partytjie moes dit wees.

Om met ’n perfeksionis getroud te wees hou die lewe…uhm…wel…interessant, maar dié slag was Die Mamma waaragtig onkeerbaar. Wanneer ék verjaar, is die uitnodiging altyd bondig en simplisties: “Ek verjaar. Kom pub toe. Bring geskenke.” Maar in dié geval is elke minuskule detail oorweeg en heroorweeg. En nogmaals heroorweeg. Watter kleur sal ons dit maak? In watter skrif? Met watter foto’tjie van hom? In kleur of swart-en-wit? Ek sou dink dat enige baba na enige plek heen gelok kan word met ’n potjie Petit Filous en die vooruitsig om ’n geraas met ’n helderkleurige speelding te maak. Maar wat weet ék nou?

Destyds, toe ons bruilofsfees beplan is, het ek op die harde manier geleer dat “wat dink jy hiervan?” nie ’n oop vraag is nie. Dis nie ’n uitnodiging om ’n debat te ontketen nie en dit verskaf nie aan jou ’n platform om jóú voorkeure op die tafel te plaas nie. Dit sal jou inteendeel betaam om dit as sinoniem vir “ék hou hiervan” te beskou en dan bloot daarmee akkoord te gaan – wáárdevolle ondervinding wat ook met dié geleentheid handig te pas gekom het.

Maar gelukkig vir my was die reëlings van die Groot Partytjie in veilige, dog ietwat gespanne hande. Die dae wat dit voorafgegaan het, is gekenmerk deur tallose beraadslagings tussen die mammajoor-generaal en haar partytjie-mammerade. Soms tot lank na slapenstyd. Elke eetdingetjie en elke dekoratiewe bykomstigheid is in die fynste besonderhede beplan, en níks is aan die toeval oorgelaat nie. Soos D-dag nader gesluip het is die Pinterest-besoeke slegs oortref deur die onverpoosde ‘vinnige draaitjies’ by al wat ’n supermark is. En ten einde laaste was ons gereed vir enige gebeurlikheid – verbasend genoeg sonder enige noemenswaardige angsaanvalle, senuwee-ineenstortings of dreigemente van egskeidings.

Om ’n lang storie kort te maak: die partytjie was ’n reuse-sukses. Soos mens sou verwag van ’n geleentheid wat só haarfyn beplan is. Die koeke (ja, in die meervoud) en ander versnaperings was aptytwekkend en onberispelik vars, die versiersels sjiek en smaakvol. Selfs die toespraak deur die vader van die verjaarsdagbaba was nie te versmaai nie. Ná al die afwagting en ’n wekelange opbou tot wat die hoogtepunt van die jaar sou wees, het alles só perfek verloop dat die hele gedoente eintlik maar effens vervelig was. Maar wat kan mens nou anders verwag van ’n okkasie wat afskop voor die eerste vliegtuig oor is, en waar die meeste genooides nie eers kan loop nie?

Nou ja, na ’n handvol frenetiese ure het die gaste verdaag, maar nie voordat hulle die helfte van die Toys R Us-inventaris daar agtergelaat het nie. Lekker vir Ben, maar om eerlik te wees, nóg lekkerder vir my.

In die stilte na die storm het ek, soos al só dikwels oor die laaste jaar gebeur het, vol bewondering na Die Mamma gestaar. Die suksesvolle voltooiing van dié sending was weereens maar net die vergestalting van ’n groter, amper magiese fenomeen – onvermoeibare, onbaatsugtige, onbeperkte moederliefde. En al kon hy haar nie in woorde bedank nie, het dit duidelik uit die Michelin-mannetjie se nat soen geblyk dat dit die béste verjaarsdagpartytjie was wat hy nog óóit gehad het.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.