Oor de wonderen van Vlaanderen

FullSizeRender (7)

Om in Londen te woon hét sy kwota nadele. Geen twyfel daaroor nie. Maar sekerlik die grootste voordeel van ’n emigrantebestaan is dat dit mens in staat stel om te reis. Deur die jare het ek haas elke land in Europa besoek, en dis feitlik onmoontlik om één land as my gunsteling uit te sonder – die hele kontinent lê my na aan die hart. Maar tog is daar ’n landjie aan die westerkim waar ek nét nie genoeg van kan kry nie. Dis ’n klein landjie – teen 120 km/h neem dit skaars twee ure om dit van bo na onder te deurkruis, maar dié land is, anders as sy plekkie op die wêreldkaart, groot van statuur.

Daar is baie dinge van België wat my fassineer. As selfverklaarde sjokolis is Belgiese sjokolade op sy eie genoeg rede om weer en weer terug te gaan daarheen. Om nie eers van die legendariese Belgiese bier te praat nie – wanneer mens aansit by ’n restaurant, word ’n bierspyskaart so dik soos die Bybel voor jou neergeplak, en daarin word die biere beskryf asof dit duur bottels uitsoekwyn is! As geskiedenisentoesias is ’n besoek aan Waterloo en die Eerste Wêreldoorlogse loopgrawe ’n ondervinding duisend en dan, les bes, is Hergé, die outeur van my strokiesboekheld, Tintin (oftewel Kuifie), boonop óók van Belgiese oorsprong.

Maar die punt van my hart lê eintlik in die noordwestelike hoek van België. In die provinsies van Vlaandere. Sonder om te veel oor die redes daarvoor te dink, vind ek dat ek keer op keer terugkeer daarheen. Maar ná my mees onlangse besoek was dit asof ’n lig vir my opgegaan het, en wéét ek nou waarom ek so tuis in Vlaandere voel.

Dit het die eerste oggend begin, toe ons aansit vir ontbyt en die onmiskenbare klaviernote van Johannes Kerkorrel se ‘Sit dit af’ my begroet. “O ja,” beantwoord ons gasheer doodluiters my verbasing, “ek is mal oor Johannes. Het hom selfs hier in Brugge sien optree.” ’n Lang gesprek oor Kerkorrel se tragiese dood en die stand van Afrikaanse musiek in die algemeen het gevolg – gewaarwording nommer een.

Later die dag, by ’n markstalletjie in Brugge, vra die eienaar of ons Nederlands praat. “Nee,” sê ek, “Afrikaans.” Ek is begroet met ’n glimlag so breed soos die Heer se genade, en ’n aangepasde aksent om my sodoende in my taal te probeer help – gewaarwording nommer twee.

Tydens ons laaste oggend se ontbyt noem ek aan ons gasheer dat ek skoon hartseer voel omrede ek nou weer dié stukkie hemel moet verlaat. Hy het skalks na my geloer, ondeund geglimlag, en weggeval met: “…o moenie huil nie, o moenie treur nie…” en al die res van Bobbejaan Klim Die Berg. En terwyl ek stadig my oop-van-verbasing-mond toemaak, het hy vertel dat hulle dit as kinders in die skool gesing het. “En sê my,” het hy boonop die kersie op die koek geplaas, “wie was Sarie Marais nou eintlik?” – gewaarwording nommer drie.

En dít is die ding van Vlaandere wat my daardie warm gevoel in my binneste gee. Om my op ’n plek te bevind waar mense jou taal met ope arms ontvang. Waar daar geen stigma aan kleef nie en daar geen ongewensde bagasie mee saamkom nie. Dis net ’n taal. ’n Jong, bruisende, bekende taal. Soveel anders as in Suid-Afrika, waar sommige Afrikaners hulle dikwels skaam vir hulle taal. Waar twee Afrikaners soms in Engels met mekaar kommunikeer, om geen goeie rede nie.

Dit sal dalk nie in my leeftyd gebeur nie, maar mag daar weer ’n dag kom wanneer alle Suid-Afrikaners wat Die Taal magtig is, dit onbevange praat, sonder ’n selfbewustheid oor wat dit kwansuis van hulle verklap. Net soos dit in gastehuise en op markpleine in Vlaandere gedoen word.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.