Daar word nie om dowe neute na Athene as die wieg van die moderne beskawing verwys nie. Dis immers hiér waar die eerste tekens van Demokrasie sy kop uitgesteek het. Dis ook hiér waar die eerste Olimpiese Spele in 1896 aangebied is (wel, die eerste Olimpiese Spele waar die deelnemers nie in hulle geboortepakkies deelgeneem het nie). Om die waarheid te sê is daar só baie plekke van geskiedkundige belang te bespeur, dat dit soms voel of jy jouself in ‘n reusagtige opelug-museum bevind. Die Akropolis, die Parthenon, die Tempel van Nike Athena, die Tempel van Olimpiër Zeus, die Lycabettus-heuwel – dit alles tref jy hier aan. Volgens gerugte was daardie eerste demokratiese byeenkomste nogal rowwe gedoentes, maar ek het my hier vasgeloop in die toorn van die hedendaagse Griek, en daai manne speel nie speletjies wanneer hulle kwaad raak vir hulle regering nie…
Februarie 2011
-
-
Die Akropolis. Dit vorm die sentrale fokuspunt van die stad en geen poskaart van Athene is sy sout werd indien dit nie ‘n afbeelding daarvan insluit nie. Dit hou egter geen verbintenis in met Sanlam nie, en sal nié verseker dat jou familie steeds kos op die tafel het indien jy die emmer sou skop nie. Dis dus nie eintlik die naam polis werd nie.
Die vroegste artefakte wat hier ontdek is, dateer uit die vroeë Neolitiese tydperk. Vir die enkeles onder onder ons wat nie obsessiewe argeoloë is nie: die slotsom is dat daar reeds vir agt millennia tekens van menslike aktiwiteit hier te vinde is. Die gesegde ‘as die mure kon praat’ is derhalwe besonder relevant in hierdie geval.
-
-
Gestel die mure kon wérklik praat, sou hulle stories te vertelle hê oor onder andere die Helleense en Romeinse tydperke, sowel as die Bisantynse en Ottomaanse Ryke. Daarbenewens sou hulle ons ook onomwonde kon inlig of die antieke Olimpiese deelnemers inderdaad in hulle geboortepakkies aan hul onderskeie items deelgeneem het…in welke geval veral die hoogspring nogal ‘n aanskoulike gedoente moes wees.
Hier is ek buite die Akropolis-amfiteater. Wieookal verantwoordelik is vir die instandhouding van hiérdie mure, behoort van hulle kontrak vrygestel te word. Dis duidelik dat daar eeue gelede laas ‘n messelaar of ‘n verwer hier doenig was. Tsk-tsk.
-
-
Ten spyte van die afgeleefde voorkoms daarvan, word daar nog op ‘n gereelde basis musiekuitvoerings en toneelstukke hier aangebied. Indien hierdie amfiteater egter in Engeland geleë was, sou dit beslis nié die geval gewees het nie, aangesien dit sonder twyfel nié aan die drakoniese vereistes van die Health and Safety Regulations Act van hierdie land sou voldoen nie.
-
-
Bo-op die Akropolis voor die Parthenon, wat tydens die 5de eeu BCE deur Pericles gebou is as ‘n monument om die kulturele en politieke prestasies van die Atheners te huldig.
‘Akropolis’ is ‘n versamelnaam vir ‘n verskeidenheid strukture wat deur die eeue heen op die koppie verrys het. So vind mens byvoorbeeld die Tempel van Nike Athena net buite sig aan die regterkant van dié foto. Nike? As opposed to the similarly named American shoe manufacturer, they did not JUST DO IT. It was in fact built centuries ago.
-
-
Nee, dis nie ‘n kultus wat op die punt staan om ‘n massaselfmoordpoging van stapel te stuur nie. Dis bloot ‘n groep baldadige toeriste wat ‘n bekoorlike uitsig oor Athene geniet.
-
-
As jy ooit ‘n hond gehad het wat weggeloop het, kan jy goeie geld daarop verwed dat hy sy weg na Athene gevind het.
Rondloperhonde is ‘n probleem in Athene, nie omdat hulle jou sal aanval of deur die strate sal jaag nie, maar omdat hulle in troppe ronddrentel en aas na kos. En almal weet dat hondekos wat deur ‘n hond se dikderm beweeg het, nie die mees gewensde bondgenoot vir jou skoen se sool is nie.
Hierdie hond-verskynsel is werklik verbysterend. Sommige is troeteldiere, sommige is voormalige troeteldiere, maar verreweg die meeste was nie in die eerste plek troeteldiere gewees nie. Daar loop na raming sowat 5000 honde in die Atheense strate rond en is nét so deel van die landskap as die ontelbare bouvalle om elke hoek en draai.
Ten minste weet ek nou wat Lassie bedoel het toe sy gesing het: “Maybe tomorrow, oh, I’ll want to settle down…”
-
-
Klinkklare bewys dat vrouens hulle mans se koppe reeds vir duisende jare afbyt indien laasgenoemde dit sou waag om te veel sport te kyk. Hierdie arme drommel het seker een te veel strydkarwedren bygewoon.
-
-
Demetrios Papadopoulos se negosiewinkel gee waaragtig nuwe betekenis aan die term ‘algemene handelaars’. Die uiteenlopende aard van die snuisterye wat hy te koop aanbied is werklik iets om oor huis toe te skryf…wat ek immers op hierdie presiese oomblik besig is om te doen.
-
-
Die Tempel van Olimpiër Zeus, met die Akropolis in die agtergrond. Bouwerk hieraan het in 600 BCE ‘n aanvang geneem, maar is eers onder die Romeinse Keiserskap van Hadrian in circa 200 CE voltooi. Soos die naam aandui, is dit opgerig ter ere aan Zeus, die main peanut in die Griekse gode-pakkie.
In sy fleur het hierdie panteon uit 104 pilare bestaan, wat ‘n asembenewende gesig moes wees vir enigiemand wat uit die antieke platteland ‘n reis na die ‘groot stad’ sou aandurf. Hier is natuurlik ook offers gebring aan die swetterjoel gode wat in antikwiteit ‘n ogie oor die gewone sterflinge gehou het. Op dié manier het meer gekloude wesens aan hul einde gekom as tydens die veelbesproke Runderpes-epidemie van 1898. True’s Bob.
-
-
Hierdie pilaar is in 1852 deur die wind omgewaai, wat ernstige vrae laat ontstaan oor die argitektoniese en ingenieursvaardighede van die bouers daarvan. As dit nie was dat dit reeds in 200 CE voltooi is nie, sou ek ‘n diepgesetelde spesmaas gehad het dat die ANC se tenderprosedure hier gevolg is.
-
-
Die Panathinaiko Stadion, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 plaasgevind het. Tien lande het meegeding in nege sportsoorte (atletiek, fietsry, skerm, gimnastiek, kleiduif-skiet, swem, tennis, gewigoptel en stoei).
-
-
Die VSA het as algehele oorwinnaars uit die stryd getree met ‘n groottotaal van 11 goue medaljes, gevolg deur Griekeland (10 – dankie tuisveldvoordeel!), Duitsland (6), Frankryk (5), Groot-Brittanje (2), Hongarye (2), Oostenryk (2), Australië (2), Denemarke (1) en Switserland (1).
Geen Suid-Afrika nie. Om die waarheid te sê is al wat Zuid-Afrika in 1896 gewen het, die Jameson-inval.
http://en.wikipedia.org/wiki/Jameson_Raid
-
-
My persoonlike poging om ‘n spatsel Suid-Afrikaanse eer te red, het ook klaaglik misluk – omdat ek in die verkeerde rigting gehardloop het, maar ook omdat ek nie ‘n baan kon kies nie (ek blameer dit op die feit dat ek in SA leer bestuur het) en derhalwe my wedren soos ‘n dronk mens oor twee bane voltooi het. Ek is gevolglik summier gediskwalifiseer deur die baanbeamptes in my kop. Jammer julle.
-
-
‘n Wag voor die ampswoning van die Griekse Eerste Minister, George Papandreou.
Na my beskeie mening behoort ons eerder na dié snaar as ‘n ‘lag’ en nie ‘n ‘wag’ nie, te verwys. Met dáárdie uitrusting sal hy nie eers ‘n baba-katjie die skrik op die lyf kan jaag nie, wat hom met daardie koddige tossels op sy skoene eerder sal aansien vir ‘n reuse-speelding as ‘n lyfwag van die Eerste Minister van die magtige Helleense Republiek.
-
-
Die Lycabettus-heuwel – Athene se heuwel fantasties. Dit was eens op ‘n tyd die hoogste piek ter wêreld (wel, natuurlik wat die mense van daardie van bewus was!). Van hier af het jy ‘n fabelagtige uitsig oor die stad, maar wat my die meeste gefassineer het, was die vlieënde skepe op die horison. Inderdaad merkwaardig.
-
-
Poseidon, vir dié van julle wie se kennis van die Griekse mitologie nie heeltemal op standaard is nie, was die God van die See. Hy word altyd uitgebeeld as ‘n stokou, bebaarde man, met ‘n skerppuntige drietandvurk in die hand (hy kort nog net horings, in welke geval hy die identiese ewebeeld van ‘n ánder, meer berugte mitologiese figuur sou wees).
Indien jy nou voor jou geestesoog ‘n beeld van hom opgeroep het, sien jy heel moontlik vir Neptunus, die Romeinse god van die see. Jy dínk dis hy, maar dis nie hy nie…alhoewel ‘n leek (soos ek) die twee bitter maklik met mekaar sal verwar.
Poseidon se pa was Kronos, die God van Tyd, en sy ma was Rhea, die Godin van die Aarde. Sy broers was Hades, meester van die onderwêreld, en Zeus, die besturende direkteur van Griekse Gode PLC. Toemaar, ek verstaan ook nie mooi hoe al die stukke van die legkaart inmekaar pas nie, maar soos hulle sê: ‘bloedskande – ‘n spel vir die hele familie’.
Poseidon was verder ‘n wulpse ou kêrel en hy was die vader van ‘n stewige troppie mitologiese figure. Só was hy byvoorbeeld verantwoordelik daarvoor dat Pegasus, die perd met vlerke, in Medusa (die ou Kwaadjie Kabouter met die slange vir hare) verwek is. Behalwe vir bloedskande, was bestialiteit ook ooglopend ‘n gunsteling-tydverdryf van destyds se ‘holier than thous’.
-
-
Volgens my Chappies-papiertjie se ‘Did you know? No.375’, was Poseidon en Athena (die Godin van Wysheid) in ‘n titaniese stryd gewikkel om die liefde van die gepeupel wat rondom die Akropolis woonagtig was, vir hom/haarself toe te eien. Daar is uiteindelik ooreengekom dat wieookal daarin kon slaag om die mees nuttige voorwerp vir die onbeskaafde menigte te skep, die reg sou verkry om die stad na hom/haarself te vernoem.
Poseidon se poging het bestaan uit die optower van ‘n trop perde, maar Athena, aan die ander kant, het met die ongelooflike nuttige olyfboom vorendag gekom. Athena het dus as oorwinnaar uit die stryd getree, wat meebring dat die Griekse hoofstad vandag Athene heet, en nie Poseidonia nie. As vredesgebaar het Athena vervolgens ‘n olyftakkie aan Poseidon gegee. Lui dit ‘n klokkie?
Persoonlik voel ek egter dat Athena ‘n onregverdige voordeel gehad het – sy wás immers die Godin van Wysheid, so sy sou mos van meet af aan geweet het wat die plebs nuttig sou vind! Vroumense darem maar…
-
-
Terug in Athene by Hadrian se Boog. Ja, dis een en dieselfde Hadrian wat daardie tamaai muur gebou het tussen die beskaafde Romeinse provinsie Britannië, en haar barbaarse bure in die noorde.
♫ Round-round got around, he got around, ooh, got around ooh-hoo-hoo, he got around ♫
-
-
Een van talle bouvallige murasies in Athene. Net soos die sóveelste gadeslaan van ‘n trop rooibokke in die Wildtuin mens mettertyd laat gaap, bestaan daar ‘n geneigdheid om ná ‘n handvol dae se ronddrentel in hierdie stad, te versuim om die argeologiese wonders oral om jou te waardeer.
-
-
Tydens ons laaste dag het ons die twyfelagtige voorreg gehad om ons in ‘n anargistiese protesoptog (wat die hedendaagse Grieke vervolmaak het) vas te loop. Griekeland is bankrot en hulle burgers is intens ontstoke daaroor. Hoe gemaak dan? Wel, die voor-die-hand-liggende natuurlik – ruk in groot getalle op na die parlementsgebou en bestook die onlustepolisie met petrolbomme. Dít sal mos die probleem oplos!
Hierdie foto is geneem kort voordat alle hel losgebars het.
Hierdie is nie my beeldmateriaal nie, maar ek het wel die insident waarin ‘n polisieman met ‘n petrolbom bestook is met my eie oë aanskou: http://www.youtube.com/watch?v=GthZEd35xwI
Dit was op hiérdie punt dat ek besef het dat dié nie ‘n skrum is waarin ‘n toeris wil stoot nie, en noodgedwonge laat spaander het. Ek was egter nie vinnig genoeg om die traangas vry te spring nie. Aaaaah, jy weet, nothing like the smell of teargas in the morning.
-
-
Altyd tyd vir ‘n ou grappie. In die nadraai van die onluste wat ek vroeër aanskou het, het ek op dié borsbeeld afgekom, wat in solidariteit met die oproeriges ook in ‘n gasmasker geklee was.