‘n Amerikaanse avontuur. Deel 6: Bryce Canyon

1

Sowat vyf ure se ry van Salt Lake City af, in die suide van Utah, is ‘n natuurlike wonder wat nog grootliks ‘n geheim is. In vergelyking met Zion National Park en die Grand Canyon, word Bryce Canyon deur relatief min toeriste besoek, grootliks vanweë sy afgeleë ligging. Maar dáárdeur het ek my nie laat afskrik nie!

Ten spyte van sy naam, is Bryce Canyon inderwaarheid glad nie ‘n canyon nie. Sy uitstaande kenmerk is die ‘hoodoos’ – rotsvingers wat oor honderdduisende jare deur ryp- en watererodasie gevorm is. Dié hoodoos (hierdie is ‘n Engelse woord – ek verwys nie na Julius Malema nie) kom voor in ‘n reeks reuse-amfiteaters, en alhoewel daar ‘n aantal uitkykpunte is waarvandaan dié amfiteaters gade geslaan kan word, is ek deur ‘n Ranger aangeraai om eerder ‘n staproete te volg tot onder in die rivierloop.

Ek het lanklaas sóveel pret gehad. Vir ses kilometer het ek deur die sneeu voortgeploeter – sonder dat ek één ander mens teëgekom het. Wanneer ek tien meter gestap het, het ‘n heeltemal ander panorama voor my oopgemaak, en ek sou nooit genoeg foto’s kon neem om wérklik reg aan hierdie ongelooflike gesig te laat geskied nie.

Ek was sowat vyf ure aan die loop in dié rotsoerwoud. Die gekraak van my skoene op die sneeu sal my vir altyd bybly. Die asembenewende landskap sal ek ook nooit vergeet nie. Maar wat die grootste indruk op my gemaak het, was die stilte. ‘n Stilte wat só oorweldigend is dat jou ore suis. ‘n Stilte wat maak dat jy die bloed deur jou are kan hoor vloei. ‘n Stilte wat ek wens ek in ‘n bottel kon vasvang, om so nou en dan uit te haal wanneer die geraas in China te veel raak…

 

 

facebook-page

Comments are closed.

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.