Keiser Augustus: die ontwikkeling van ‘n diktatorskap

A statue of Augustus Caesar in front of the site of the Forum of Augustus, Rome, Italy.

Tussen 27 VC en 14 NC het Augustus ‘n aantal magte en titels bekom wat aan hom absolute beheer oor aangeleenthede op tuisbodem en oorsee besorg het…

Imperator Caesar Divi Filius Augustus (gebore Gaius Octavius) is sonder twyfel een van die mees beroemde Romeine van alle tye. Hy was die aangenome seun van Julius Caesar, en het ná die moord op laasgenoemde as militêre en politieke leier op die toneel verskyn. Met die verloop van tyd het sy houvas op die politieke mag in die Romeinse ryk tot só ‘n mate versterk, dat hy die eerste (nie-amptelike) Keiser van die Romeinse Ryk geword het. Dít was veral te danke aan ‘n aantal titels en magte wat hy tussen die jare 27 VC en AD 14 bekom het.

Nadat Octavius in 31 tot Konsul verkies is, het hy hierdie prestasie vir drie agtereenvolgende jare herhaal. Die eerste tentatiewe stappe wat uiteindelik sou lei tot Octavius se alleenheerskappy, is in 28 geneem toe hy en sy naaste vertroueling, Marcus Agrippa, die aantal senators tot 800 verminder het. Octavius het aangevoer dat hy ontslae wou raak van onbekwame senators, maar die waarheid was eerder dat hy met hierdie optrede ten doel gehad het om van sy teenstanders ontslae te raak.

In 27 het Octavius verklaar dat hy suksesvol was in sy poging om die republiek te laat herleef, en dat die Romeinse Ryk nogmaals veilig was. Sy werk was dus gedaan, en het hy daarna uitgesien om op die ouderdom van 35 jaar af te tree. Vanweë die militêre mag wat hy steeds gehou het, het talle politici gevrees dat sy verdwyning van die politieke toneel tot ‘n burgeroorlog kon lei. Daar was dus min teenstand toe Octavius die titel princeps senatus, of ‘eerste senator’, bekom het. Kort hierna het die senaat die naam ‘Augustus’ aan hom gegee.

Augustus is herverkies tot konsul en is beheer oor drie belangrike provinsies in die Romeinse Ryk (Gallië, Spanje en Sirië) vir ‘n tydperk van 10 jaar gegee. Al drie hierdie provinsies het oor verskeie legioene soldate beskik, wat ‘n belangrike aanwins vir Augustus was. Verder het hy imperium proconsulare (diktatoriale magte) oor hierdie provinsies gehad, en omdat hy nie persoonlik oor dié gebiede kon regeer nie, kon hy self die persone aanwys wat namens hom moes regeer. Deur middel van hierdie legati Augusti pro praetore (die mag om ‘n instaan-heerser aan te wys) kon Augustus sy mag uitoefen in die gebiede onder sy beheer, sonder dat hy self teenwoordig was.

Van 27 tot 23 het Augustus te danke aan sy konsulskap, princeps senatus-status, hoogs gerespespekteerde naam en onbetwisbare auctoritas, as ‘Eerste Burger’ oor die Romeinse ryk regeer. Sy agtereenvolgende verkiesings as konsul het egter ‘n bron van irritasie vir die senaat geword, en in 23 het Augustus daarvan afstand gedoen. Hy moes egter vergoed word vir hierdie toegewing, en tribunicia potestas (tribunale magte) is gevolglik aan hom toegeken. Hiervolgens het hy die mag gekry om enige amptelike wetgewing te veto, sy eie wette voor die senaat en die menigte te bring, sowel as om die senaat byeen te roep, waar hy boonop die reg gehad het om die eerste mosie tydens ‘n vergadering in te stel. Verder het sy uitgebreide prokonsulêre magte (maius imperium proconsulare) aan hom onaanvegbare mag oor die Romeinse militêre magte besorg.

Hierdie verwikkelinge het die weg gebaan vir die alleenheerskappy van Augustus. Hy was ontslae van die juk van die konsulskap, en die senaat was tevrede met die feit dat ander senators ‘n kans gestaan het om tot konsul verkies te word. Die lewenslange toekenning van maius imperium proconsulare en tribunicia potestas, het die twee pilare geword waarop Augustus sy Prinsipaat gebou het.

Alhoewel dit nie deurslaggewend was vir sy ontwikkeling tot ‘goedhartige’ diktator nie, het Augustus ook sekere titels ná 23 ontvang. In 19 het hy lewenslange konsulêre magte ontvang (consulare imperium). Dit het hom in staat gestel om tussen die aangewese konsuls te sit, en heel waarskynlik hul besluite te beïnvloed. In 12 VC, ná die dood van Lepidus, is Augustus aangewys as pontifex maximus – die belangrikste religieuse amp in die ryk. In wat bes moontlik die duidelikste teken van die senaat se vertroue in Augustus se heerskappy was, is die ere-titel Pater Patriae (Vader van ons Land) in 2 VC aan hom toegeken.

Augustus se ontwikkeling van adellike militêre leier tot onbetwisbare alleenheerser oor die Romeinse Ryk, was dus ‘n geleidelike proses. Die feit dat hy elke verantwoordelikheid wat aan hom toegeken is met onderskeiding nagekom het, het sonder twyfel die senaat se teenstand teen die ontwikkeling van ‘n diktatorskap laat verwater. Mettertyd het Augustus dus toenemend meer mag verwerf, wat uiteindelik gelei tot die lewenslange toekenning van die konsulskap en die opperbevel oor die militêre magte, en dít het aan hom totale beheer oor plaaslike en oorsese aangeleenthede verseker.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.