Die Khoikhoi: uitwissing van ‘n ganse nasie

5. Khoikhoi

Vanaf die vroegste tye – 2,000 tot 3,000 jaar gelede – was die Khoikhoi ‘n nomadiese nasie wie se ekonomiese lewensvatbaarheid in hoofsaaklik twee faktore gegrond was, naamlik die beskikbaarheid van grond en die besit van vee. Vee was nie slegs ‘n voedselbron nie, maar het ook gedien as ‘n aanduiding van ‘n Khoi-persoon se sosiale status. Die Khoikhoi se ganse bestaan het dus gewentel rondom die uitbreiding en instandhouding van hul veekuddes.

Tussen die jare 1652 en 1720 het ‘n aantal faktore egter aanleiding gegee tot die verwoesting van die Khoikhoi-samelewing soos dit voorheen bestaan het. Blanke boere het, met behulp van die VOC, die binneland ingetrek en weivelde wat voorheen deur die Khoikhoi gebruik is, in gebruik begin neem. Laasgenoemde se nomadiese lewenstyl is érnstig hierdeur ontwrig. Die Khoikhoi se veekuddes is verder deur diefstal en ondeurdagte ruiltransaksies met blanke boere uitgedun, en boonop het Europese siektes (veral pokke) onder die Khoikhoi gemaai.

Toe die eerste vryburger-plase in 1657 aan die walle van die Liesbeeck-rivier deur die VOC aan blanke boere toegeken is, is die Khoikhoi daardeur onkant betrap. Oor die volgende twee dekades is selfs groter dele verder die binneland in deur blankes beset, wat weivelde in dié gebiede ook ontoeganklik vir die Khoikhoi gemaak het. Hul ontevredenheid hiermee het gelei tot twee Khoi-Hollandse oorloë, maar die vryburgers se meer gevorderde wapens het vernietigende gevolge vir die Khoikhoi ingehou. Na die tweede Khoi-Hollandse oorlog is Gonnema, ‘n belangrike Khoikhoi-leier, verslaan, wat meegebring het dat alle Khoikhoi-weerstand teen die blankes feitlik heeltemal vernietig is.

Na afloop van hierdie oorlog het verskeie Khoikhoi-groepe die Kaap permanent verlaat en hulle diep in die binneland gaan vestig. Ander Khoikhois het as arbeiders op blankes se plase agtergebly, waar hulle beswaarlik beter as slawe behandel is. Hulle vergoeding het bestaan uit voedsel en beskutting, en daar was dus geen kans om hulself te verryk deur vee te versamel nie.

Toe die blanke boere (bekend as trekboere) na 1700 verder die binneland ingetrek het, was hulle oogmerke dieselfde as dié van die Khoikhoi – om genoegsame weivelde en waterbronne te bekom om sodoende hul veekuddes te vergroot. Waar die Khoikhoi en trekboere in direkte konflik met mekaar gekom het, kon die trekboere danksy hul meer gevorderde wapens daarin slaag om die Khoikhoi van hul nuutgevonde grondgebiede af weg te hou. Die VOC het dit ook met die leenplaasstelsel aanloklik vir blankes gemaak om die binneland in te trek, en mettertyd was dit bykans onmoontlik vir die Khoikhoi om geskikte weivelde vir hulle reeds uitgedunde veekuddes te vind.

Behalwe vir die verlies van grond, was die verlies aan vee ook ‘n baie belangrike faktor in die disintegrasie van die Khoikhoi. Die VOC het gedurende die 1650’s in ruilhandel met die Khoikhoi getree, om sodoende die groot hoeveelhede beeste te bekom wat benodig is om aan die behoeftes van verbygaande skepe en die burgers aan die Kaap te voldoen. Vee is aanvanklik vir bruikbare middels soos yster verruil, maar later is nuttelose middele, soos alkohol, koper en krale in ruil vir vee aanvaar. Nadat blanke boere die binneland ingetrek het, is berigte ontvang dat hierdie trekboere verantwoordelik was vir die diefstal van groot getalle Khoikhoi-kuddes. Die Khoikhoi het ook onder diefstal deur die San deurgeloop. ‘n Ernstige droogte in 1715, en siektes soos bek-en-klouseer, het verder bygedra tot die uitdunning van die Khoikhoi se veekuddes.

Die verlies aan vee het ook negatiewe kulturele gevolge vir die Khoikhoi ingehou. Sosiale en ekonomiese funksies van vee binne die Khoikhoi se kulturele raamwerk het daardeur ‘n knou gekry. Vee is dikwels in geboorte-rituele, huwelikseremonies en begrafnisse gebruik, en die gebrek daaraan het die Khoikhoi-kultuur negatief geraak. Ouers kon ook nie meer aan hul kinders enige noemenswaardige erfporsies nalaat nie, en ruilhandel tussen Khoikhois het feitlik tot stilstand gekom.

Sonder hul vee was die Khoikhoi nie langer in beheer van hul eie lot nie. Hul belangrikste bron van voedsel is hulle só ontneem, en waar daar voorheen ‘n sosiale hiërargie bestaan het, was dit onmoontlik om ‘n onderskeid in sosiale status tussen die Khoikhoi te tref. Die gevolg was ‘n toenemende afhanklikheid van die kolonie, en van blanke boere.

Die Khoikhoi het ook ‘n baie lae immuniteitsvlak teen vreemde Europese siektes gehad, en toe ‘n pokke-epidemie in 1713 in die Kaap uitbreek, was dit bykans onmoontlik vir die Khoikhoi om hulself daarteen te beskerm. Die Khoikhoi in die Kaap is eerste getref, waarna dit na die plase in die omliggende omgewing, en daarna na die onafhanklike Khoikhoi-stamme verder die binneland in versprei het. Hierdie stamme het hulle sonder sukses teen die virus probeer beskerm deur besmette vlugtelinge uit die Kaap voor die voet dood te skiet. Die epidemie het ‘n verwoestende uitwerking op Khoikhoi-getalle gehad, en alhoewel dit moeilik is om die presiese getal sterftes vas te stel, word daar beraam dat ongeveer 90% van die totale Khoikhoi-bevolking daardeur uitgeroei is.

Waar die Khoikhoi voor 1652 ‘n redelike sorgvrye bestaan gevoer het, is hul met die blankes se koms na die Kaap van hul ekonomiese mag en sosiale status gestroop deur die geleidelike verlies van grondgebied wat voorheen as weivelde gebruik is, sowel as die gevolglike uitdunning van hul veekuddes. Die Khoikhoi-leiers se vermoë om rykdom te versamel en volgelinge te werf, is daardeur ongedaan gemaak. Voeg daarby die vernietigende uitwerking van die pokke-epidemie van 1713, en dit raak duidelik waarom die Khoikhoi-gemeenskappe in die Suidwes-Kaap gedisintegreer het en daarna slegs as ‘n nasie van onderdane voortbestaan het.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.