Die Khoikhoi en die San: soortgelyk, maar tóg verskillend

3. Khoisan

Wanneer daar aan die pre-koloniale inwoners van Suid-Afrika gedink word, bestaan daar ‘n geneigdheid onder moderne Suid-Afrikaners om die San en die Khoikhoi oor dieselfde kam te skeer. Alhoewel daar ooreenkomste tussen hierdie twee groepe bestaan het, was daar ook duidelike verskille te bespeur. Hiérdie ooreenkomste en verskille kan gegroepeer word onder ekonomiese aktiwiteite, sosiale organisasie en politieke struktuur.

Die ekonomiese aktiwiteite van die San was inderdaad baie primitief. Die San het in hul behoeftes voorsien deur jag te maak op wild, en deur plantkosse uit hul natuurlike omgewing te versamel (vandaar die term jagter-versamelaar). Groter wildsoorte, veral wildsbokke, is gejag deur gebruik te maak van ‘n pyl-en-boog, terwyl kleiner wildsoorte deur middel van wippe en strikke gevang is. Die belangrikste waarneembare verskil tussen die ekonomiese aktiwiteite van die San en dié van die Khoikhoi, is dat laasgenoemde nie slegs gejag het nie, maar ook skape en beeste in kuddes aangehou het (jagter-herders). Hierdie kuddes is primêr aangewend as voedselbron, terwyl dit ook ‘n rol in die rituele van die Khoikhoi gespeel het.

‘n Ander belangrike verskil tussen die ekonomiese aktiwiteite van die San en dié van die Khoikhoi, was die versameling van rykdom. Die San het ‘n onderhoudsbestaan gevoer, wat beteken dat nét genoeg kos versamel is om in hulle onmiddellike behoeftes te voorsien. Vanweë die nomadiese aard van hul lewenstyl, was dit belangrik om so min as moontlik besittings te versamel, wat verseker het dat daar met min moeite opgepak en getrek kon word sou die natuurlike omstandighede dit vereis. Daar was dus geen poging om rykdom van enige aard te versamel nie. Die Khoikhoi, aan die ander kant, het kuddes skape en beeste aangehou. Die grootte van ‘n kudde was ‘n aanduiding van die eienaar daarvan se rykdom.

Ekonomiese aktiwiteite het ook ‘n direkte invloed op die sosiale organisasie van die San én die Khoikhoi gehad. Eerstens was dit ‘n bepalende faktor in die grootte waaruit verskillende gemeenskappe van die onderskeie groepe bestaan het. San-groepe was klein, en het gewoonlik uit enkele tot sowat 80 lede bestaan, en het dikwels slegs uit die lede van ‘n enkele uitgebreide familie bestaan. Die rede hiervoor was dat dit moeilik sou wees om in die behoeftes van honderde mense te voorsien, slegs deur middel van die jagter-versamelaarlewenstyl. Die grootte van San-groepe was vloeibaar en het soms gegroei in tye van voorspoed, maar groot San-groepe was die uitsondering eerder as die reël. Khoikhoi-groepe daarenteen, het bestaan uit 200 tot 500 lede. Die rede hiervoor was dat die aanhou van kuddes ‘n meer betroubare voedselbron was.

Verder het die af- en aanwesigheid van die versameling van rykdom ook ‘n rol gespeel in die sosiale status van individue onder die San en die Khoikhoi. Die San was ‘n egalistiese samelewing, wat beteken dat alle volwasse lede min of meer gelyke status geniet het. Wanneer daar gejag is, is die vleis verdeel tussen al die lede van die groep. Dieselfde het vir die versameling van plantkosse gegeld. Wat die Khoikhoi betref, het die situasie aansienlik anders daar uitgesien. Kudde-eienaars is beskou as ryk, terwyl dié sonder skape en beeste arm was. Ryk lede van die gemeenskap het armer lede as kliënte in diens geneem, en in ruil vir melk en vee, het die arm lede take namens hul ‘werkgewer’ verrig.

Die verskille tussen die ekonomiese aktiwiteite van die San en die Khoikhoi, kon egter nie ‘n ooreenkoms in die nomadiese lewenstyl wat deur albei hierdie groepe gevolg is, verhoed nie. Die San moes die migrasiepatrone van die wild waarop hulle jag gemaak het volg, terwyl die Khoikhoi gereeld moes trek op soek na genoegsame weiding vir hul kuddes. Hierdie trekpatrone was egter nie lukraak en planloos nie, maar het ‘n seisoenale patroon gevolg.

Ook is daar duidelike verskille te bespeur in die politieke organisasie van die San en die Khoikhoi. Uitmuntende jagters en shamans (geestelike leiers) was weliswaar tot ‘n sekere mate verhewe bo gewone lede van die groep, maar daar was geen opperhoof in ‘n San-groep nie. Alle besluite rakende die groep is geneem nadat konsensus onder die volwasse lede van die groep bereik is. Hierdie reëling spruit voort uit die feit dat alle volwassenes oor deeglike kennis van die veld en die natuurlike omgewing beskik het. Indien konsensus nie bereik kon word nie, het dit die onvergenoegde party vry gestaan om eenvoudig die groep te verlaat. Onder Khoikhoi-groepe het die ryk lede van die groep meer seggenskap as die armes gehad oor sake wat die groep as geheel sou raak. ‘n Khoikhoi-groep het as ‘n reël onder leiding van ‘n stamhoof gestaan, maar die stamhoof se magte was beperk, en hy moes die goedkeuring van sy ringkoppe kry alvorens hy enige besluite kon neem.

Alhoewel daar tydens die vroeë koloniale tydperk gesamentlik na die Khoikhoi en die San as die Khoisan verwys is, behoort dit duidelik te wees dat daar merkbare verskille tussen hierdie twee groepe op ekonomiese, sosiale en politieke vlak was. En alhoewel daar wél ooreenkomste in hul lewenstyl was, is dit belangrik om kennis te dra van die onderskeid wat tussen dié twee groepe getref kan word.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

  1. Esna sê:

    Uitstekende inhoud

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.