Oor tjorre, snorre en potte vol tjolle

1 Oor tjorre, snorre

Dis alweer dáárdie tyd van die jaar. Dit begin met die skalkse deurskemering van ’n paar stoppels – ’n subtiele sinspeling op wat straks ’n rowwe naweek was. Met die verloop van ’n paar dae begin dit egter gedy, totdat die onteenseglike bewyse daar is vir almal om te sien. En wanneer die produk van die skeerstaking wasdom bereik, word die onderste deel van die somtotaal onseremonieel weggesnoei en voila! Pappa is gereed en uitgevat vir Movember!

As ’n voormalige inwoner van Snor City (met apologie aan Bernoldus Niemand) kan ek jou ’n ding of twee van ’n besembek vertel. Want Pretoria is mos die stad met géén bolip glad. Waar die kweek van ’n snor meer belangrik is as jou tjor, en waar meneer Snortjé sy Ford Snortina lekker vet gee.

Maar ten spyte van hardnekkige gerugte wat die teendeel beweer, het die snor nie sy oorsprong in Pretoria gehad nie. Die vermoë om ’n snor te kweek word vir millennia al, onder bevolkings wêreldwyd, beskou as ’n simboliese bevestiging dat ’n seun ’n man geword het – ‘n brokkie inligting wat straks ‘n horde Joodse en Xhosa-jongkêrels ietwat ingedoen sal laat voel.

Ja, die geskiedenis lê besaai met snordraende karakters. Moses, Piet Retief en Eugène Terre’Blanche, om net ’n paar te noem. Dié driestuks sou egter nie volgens Movember-riglyne kwalifiseer nie, synde húlle snorre vergesel was deur baarde. Salvador Dali? Ai-tai-tai! Dáár was nou vir jou ‘n weglêsnor wat die koppe laat draai het…hoofsaaklik om uit die pad van die skerp punte daarvan te kom, maar nietemin een wat tot in die verganklikheid onthou sal word. Ditto die manjifieke pogings van Albert Einstein, Ned Flanders en selfs ons eie Snorre de Villiers.

En ’n bolip hoef ook nie altyd met ’n opreggeteelde snor versier te word om die draer daarvan in die annale te verewig nie. Vat byvoorbeeld die tandeborselsnor – daai een waarvan die puntjies aan weerskante mee weggedoen is. Charlie Chaplin het dit bekend gemaak, Adolf Hitler het dit berug gemaak en Robert Mugabe het dit belaglik gemaak. Wat ’n skitterende voorbeeld van evolusie in trurat.

En soms is dit juis die afwésigheid van ’n snor waarvoor die kwasi-eienaar onthou sal word. Soos oom Paul Kruger. “Om my pruim beter te kan spoeg, my kind”

Vir die statistici en die aanhangers van trivialiteite onder ons: die rekord vir die langste snor is ’n verbysterende 3.8m en word deur Bajansihn Gurjar van Indië gehou. Indien jy heimlik drome koester om hiérdie rekord te verbeter, gaan jy waaragtig moet vasbyt, want dit het Mev. Gurjar ’n hele 22 jaar geneem om haar snor só lank te groei.

Ekself gaan Movember hierdie jaar ’n mis gee. Ek het verlede jaar my allerbeste probeer, Bob Martins en al, maar die feit dat my bolip deur slegs sewe haartjies per vierkante sentimeter bevolk word, het my met die aanbreek van 30 November soos ‘n basterkruising tussen oom Kaspaas en ’n hupse adolessent laat lyk. Die hoon waarmee my voorkoms begroet is, het ’n letsel op my psige gelaat en ek is vasbeslote om myself hierdie jaar daardie trauma te spaar.

Maar alle grappies op ’n snortjie. Die Movember-veldtog is ’n prysenswaardige een, want prostaatkanker verdien om uit die skadu’s te beweeg. Maak daarom jou hart en jou beursie oop en ondersteun jou snorgroeiende vriende mildelik in hulle pogings. Lag met ‘n traan – só gaan ons nog ál die euwels van hierdie wêreld oorkom.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.