‘n Amerikaanse avontuur. Deel 3: Montana

1

Ek is al met ‘n vorige geleentheid welkom geheet in Montana.

Dít was egter in 1990, dit was my eerste dag in standerd 6, en dáái ‘Montana’ was Hoërskool Montana. Hierdie keer was daar darem geen matrieks wat ‘n bokstert in my kortgekapte eerste-dag-van-die-nuwe-skooljaar-hare wou maak nie, en niemand het daarop aangedring dat ek my bloedgroep en ander irrelevante persoonlike inligting op ‘n bord om my nek dra nie (natuurlik het ek op hierdie punt aan my skoollied gedink, wat toe soos The Wheels On The Bus en Row Row Row Your Boat in my kop kom vassteek het en nog die hele dag daar ronddraai).

Al wat my dié keer by die ingang na Montana ingewag het, was ‘n kennisgewingbord, ‘n ysige wind, en ‘n breë pad wat deur feitlik niemand gebruik word nie.

In Montana gebeur daar elke vyf minute niks. Met nóg ‘n bietjie niks vir ekstra effek. Oor die 750km wat ek deur dié staat afgelê het, kon ek wel by tye tekens van menslike bestaan sien, maar dit was alles indirekte tekens – soos ‘n verlate padstalletjie, ‘n ongebruikte skuur, of ‘n paar beeste wat hulleself dik vreet aan die onbeperkte wyding. Van die mense wat hiérvoor verantwoordelik is, was daar geen spoor nie. En dis seker ook nie ‘n wonder nie, aangesien Montana ‘n bevolkingsdigtheid van ‘n skrale 7.1 mense per vierkante myl het – die derde laagste van al die state in Amerika.

Daar mag dalk mense kortkom, maar die natuurskoon maak dubbel en dwars daarvoor op. Dit is móói hier! En koud! Vrrrriesend koud! Só koud dat die snot in jou neus vries, en jy soos ‘n polio-lyer onwillekeurige spasmas in jou ledemate kry*. Dis regtig verskriklik. Vergeet van leeukoud – hierdie is spookkoud. Want jy kan hom nie eers sien nie. Of so iets.

Montana is cowboy-wêreld, geen twyfel dáároor nie. En waar daar cowboys is, moet daar Indians ook wees. En só het ek toe deur een van Montana se sewe Indian Reserves gery. Maar dis nou nie ‘n plek waar jy ‘n vindaloo of ‘n tikka masala kan optel nie hoor. Hiérdie is ander tipe Indians. Hiérdie is Indiane. Rooihuide. Native Americans. En omdat hulle in die verlede so meedoënloos uitgemoor is, het die regering vir hulle spesiale reservate geskep waar hulle ongestoord hulle ding kan doen.

Gedurende my rit deur die Crow Reservation, wat ‘n tuiste bied aan die Apsalooke-stam, kon ek nie help om te dink aan die ooreenkomste tussen dié reservaat en die voormalige tuislandstelsel in Suid-Afrika nie. “Ag julle, vreeslik jammer oor alles, maar hier is vir julle ‘n lekker groot stuk grond waar julle julself kan regeer. En julle kan doen nét waarvoor julle lus kry – om op te maak vir als, julle weet. Hoe nou? Infrastruktuur? Minerale deposito’s? Vrugbare landbougrond? Werksgeleenthede? Volhoubare ekonomiese groei? Ag nee kom nou, julle kan tog seker nie álles op ‘n skinkbord wil hê nie!”

Dis seker ‘n goeie ding, dié reservate, maar die grond daar het vir my half braak gelyk, en die mense erg armoedig. Maar dan hét ek weliswaar net op die Interstate Highway gery, ver van die nedersettings af. En dít ook net deur een reservaat. Myne is dus ‘n wetenskaplik-oningeligte opinie.

So min of meer in die middel van die reservaat het ek by ‘n negosiewinkeltjie gestop. Ek was diép teleurgesteld dat die Indiaan agter die toonbank nie in ‘n diervel-kleed gedrapeer was nie. Hy het ook nie eers één ou veertjie in sy hare, of ‘n énkele rooi strepie op énige van sy wange gehad nie. En dan het hy homself ook nie eers voorgestel as Bear That Hunts With Gun, of Wolf With Girl’s Face nie. Hiérdie Indiaan het ‘n puffer jacket en jeans gedra, en homself voorgestel as ‘Peter, but everybody calls me Pete’. Tye het ooglopend verander.

My vriendin Lindsey, wat saam met my in Guangzhou werk, is ‘n gebore en getoë Montana-meisie. Nie net het sy vir my verblyf in Bozeman, Montana gereël nie, sy het ook vir my geselskap gereël! Ek moes haar vriend, Cole, om 18:00 by die Montana Ale Works ontmoet. Dit was soort van ‘n blind date, dus. Cole is ‘n rancher (met ander woorde ‘n cowboy)…en die ouens van Brokeback Mountain het hulle streke uitgehaal in Wyoming…en Wyoming is net langs Montana geleë…en jy kan seker sien waarheen hierdie storie op pad is, né…

Maar nee wat, my vermoedens was ongegrond. Ek en Cole het kliphard gekuier en lang stories uitgeruil oor Montana – syne én myne.

Nou is dit weer hef aan voor, want die oop pad wag. Nog ‘n dag, nog ‘n paar honderd kilometer om af te lê…wat sóveel beter sal gaan as ek net daai verdomde skoollied uit my kop kan kry…

*Voordat jy my van onsensitiewe bullebakkery beskuldig: polio is nie meer ‘n ding nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar tans slegs 359 bevestigde gevalle wêreldwyd, en dít slegs in Pakistan en Afghanistan. Dáárdie getal is weliswaar groter as die totale hoeveelheid Kings-ondersteuners in die ganse Suid-Afrika, maar dit bly steeds onbeduidend. En buitendien, nie ‘n enkele een van vandag se polio-lyers is Afrikaans magtig nie, so daar bestaan ‘n zero persent kans dat enige van hulle deur my ligsinnige opmerking beledig sal voel.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.