Oor die Derde Wêreldoorlog

Kakkerlak

Ek skrik nie vir ‘n koue pampoen nie. Ook nie vir insek-gedrogte wat in die tyd van die dinosourusse reeds die evolusiepad byster geraak het nie. Ék is immers ‘n kind van die land van oorkruipers, duisendpote, mierleeus en miskruiers, en daarom laat ek my nie intimideer deur sommer énige hierjy van ‘n ongewerwelde diertjie nie.

Maar hier, in die geooste waar ek tans my heil soek, kruis my pad gereeld met die grillerigste goggas* wat mens jou kan indink. Van bykans onsigbare muggies wat hul nukkerigheid met die venyn van ‘n rooiperdeby te kenne gee, tot by tamaai sonbesies wat se skelklinkende trillings ‘n swerm bosveld-katlagters na ‘n enkele verdwaalde muskiet laat klink.

My gunsteling nie-gunsteling insek hier rond bly egter steeds die immer-bekende, dog immer-gehate kakkerlak** – een en dieselfde spesie as dié wat ook rillings langs ruggrate afjaag in Komatipoort, Khayelitsha en Krugersdorp. Ek voel egter geëerd, en selfs ‘n tikkie bevoorreg, om te kan vermeld dat die kakkerlakfamilie wat mý woning met my deel, sensories by verre hulle Afrika-neefs se meerdere is. Nou kyk, ons sleep beslis nie die roemryke Van der Merwe-naam deur die modder deur ons halfgeëete hoenderpote en ander kosoorblyfsels sommer goedsmoeds die wêreld vol te los nie, maar hiérdie outjies kan die mees minuskule stukkie beeslong of varkderm van ‘n afstand af uitsnuffel, en voor jy kan sê ‘ryskorrel’, in die piepkleinste gaatjie daarmee verdwyn.

Bekommerenswaardig, egter, is my onlangse gewaarwording dat dit nie nét hul weergalose reuksintuig is waarmee ons rekening behoort te hou nie. Dit begin ook toenemend duidelik raak dat die Chinese kakkerlakke boonop kognitief óók gevorderd is…en trouens oor niks minder nie as SUPERKRAGTE beskik.

Vat byvoorbeeld die een wat nou die aand met die ratsheid van ‘n ninja (myne, natuurlik) aan die sool van ‘n visplakkie voorgestel is. Ná dié vlugtige, dog kragtige kennismaking kon sy binnegoed met groter akkuraatheid as ‘buitegoed’ beskryf word, en sy kop het maar aan ‘n draadjie aan die res van sy grieselige lyf gehang. Vir sowat vyftien sekondes (wat in kakkerlakjare gelykstaande is aan twee mensejare) het ek dié makabere gesig betrag, maar nét toe ek gereed maak om hom na die kakkerlak-begraafplaas aan die ander kant van die balkonreling te vervoer, begin ta se beentjies weer kriewel en daar gaat hy! Hy het dit weliswaar nie ver gemaak nie, maar uit die dood, dié het hy wél opgestaan: die Lasarus van die kakkerlakwêreld.

Dan was daar ook die een wat vanuit die niet sy verskyning teen my studeerkamermuur gemaak het: ‘n vet bruin vlek teen die andersins vlekkelose wit muur. Ek het hom so gekyk, en hy het my so teruggekyk, en sonder om oogkontak te verbreek, het ek stadig, baie stadig, ‘n treëtjie agteruit gegee. En toe nog een. En nog een. Al nader aan die kas waarin ek die insekdoder bêre. Met oogkontak steeds behoue, kon ek agter my die kasdeur se knop in my handpalm voel. Die deurtjie het saggies oopgekraak. Voel-voel tussen boeke en papiere het ek die gif probeer vasvat – sonder geluk. Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde het ek my kop van hom af weggedraai, die ontwykende gifblik vasgevat, teruggedraai, en my gestaal vir die toedien van die doodskoot. Maar van die kakkerlak wat my oomblikke tevore nog uitdagend aangegluur het was daar geen teken meer nie. Hy het eenvoudig verdwyn. Nie homself strategies verplaas teen die dak, of teen ‘n symuur, of op die vloer nie; hy was skoonveld. Soos in wég-wég: die Houdini van die kakkerlakwêreld.

En dan was daar ook die een wat my met ‘n voetkielie kom bederf het toe ek doodonskuldig by die kombuiswasbak ‘n tupperbakkie aan’t uitspoel was. Noem dit instink, noem dit voorbedagtheid, noem dit wat jy wil, maar ek het eenvoudig gewéét dat die gekriewel op my voet net een oorsprong kon hê. Met nogmaalse ninja-ratsheid het ek die skuimbedekte bakkie oor die wasbak se rand geswaai en dit op die vloer omgedop, met die ongenooide ongedierte binne-in vasgevang. En toe…toe bars alle hel los. ‘n Geknetter en ‘n geklap het uit daai omgekeerde bakkie opgeklink – soos ‘n pot springmielies op ‘n stoof. Hy het sy álles gegee om uit sy plastiektronk te ontsnap, en ek het gegril op plekke waar ek nie geweet het ek plekke het nie.

Ek het dit goedgedink om hom ‘n tydjie te gee om sy toorn uit te woed, voordat ek ‘n einde aan sy kakkerlakkige bestaan sou maak. Ek het my manlike pligte voltooi (skottelgoed gewas, gestofsuig en die skoon wasgoed weggepak) en by my terugkeer in die kombuis het die storm genadiglik bedaar. Gewapen met my vreesaanjaende vertroueling – die visplakkie – het ek langs die bakkie op die vloer gaan kniel. Ek het ‘n diep asemteug gevat, een kant van die bakkie in stadige aksie begin optel, en myself oorgehaal om die gedierte by die eerste aansig van ‘n tentakel gelyk met die aarde te maak. Met die spoed van ‘n rumatieklyer het ek die bakkie na bowe laat kantel. Verder en verder, totdat ek uiteindelik binne-in kon sien. ‘n Frons het op my voorkop verskyn, want net soos die een ‘n week of wat tevore, het dié een ook tussen neus en ore verdwyn. Hy moes, terwyl ek met my huistake besig was, die bakkie met brute krag opgedwing en só ‘n wonderbaarlike ontsnapping bewerkstellig het: die Simson van die kakkerlakwêreld.

En nou bevind ek my midde-in ‘n emosionele tweestryd. Aan die een kant beraam ek plannetjies om ‘n paar van hulle te vang, mak te maak, toertjies te leer, en die wêreld vol te toer onder die vaandel: ‘Fanie se Kakkerlakspul’. Dit kan tog nét ‘n wenner wees; beter selfs as Afrikaans Is Groot.

Maar aan die ander kant is ek bevrees dat my eksperiment ‘n Frankensteinagtige nadraai kan hê. Wat as daardie kakkerlakke later só gevorderd raak dat hulle nie net mý lewe begin beheer nie, maar die res van die wêreld ook oorneem? Maar toemaar, vriende, dít sal ek oor my dooie liggaam toelaat. Slaap daarom rustig vanaand, en wees veilig in die wete dat ek aan dié kant van die aardbol verbete veg teen ‘n potensiële wêreldoorname deur ‘n kolonie kognitief-gevorderde kakkerlakke.

Soos duidelik uit die aangehegde foto gesien kan word, het dié fel stryd reeds sy eerste slagoffer geëis. Laat ons egter nie voortydig begin feesvier nie, want hoewel ‘n veldslag gewen is, is die oorlog nog haas nie verby nie…

* In my ondervinding verteenwoordig hierdie twee woorde – grillerige goggas – die mees onuitspreekbare klankgrepe vir enigiemand wat Afrikaans nie as hul eerste taal besig nie – selfs ná ‘n halfdosyn sopies van die sterkste ryswyn wat China kan bied.

** Indien jy weet wat die verskil tussen ‘n kakkerlak en ‘n kokkerot is, tree asseblief onmiddellik met my in verbinding. Ek wil nou nie oordryf nie, maar die voortbestaan van die mensdom mag dalk daarvan afhang.

Februarie 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.