Noord-Koreane is onplesierig. Dit kan julle glo.

Noord-Koreane is plesierig

Sondagmiddae is gemaak om rustig te wees. Om ‘n vleisie te braai, ‘n uiltjie te knip, en jou vere reg te skud vir die week wat voorlê. En dis ook hoe ek myne verkies. Maar die pas afgelope Sondag het ek my in ‘n aktiwiteit begewe wat ongetwyfeld sal uitstaan wanneer ek op my oudag terugkyk en my Sondagmiddagaktiwiteite van vervloë jare in oënskou neem.

Ek was in Pyongyang, Noord-Korea. Dit was die laaste dag van my week lange besoek aan daardie vreemde, állervreemde land. Dit was toevallig ook die 70ste herdenking van die dag waarop die Groot Leier en Ewigdurende Partysekretaris Al-Is-Hy-Heen-Sal-Hy-Vir-Ewig-In-Die-Harte-Van-Die-Mense-Bly-Voortleef Dierbare Kameraad Kim Jong-Il met sy werk by die Werkersparty van Korea (WPK) begin het. En op dié dag sou die ‘popular masses’ oor die ganse land heen saamtrek om dié geleentheid te herdenk.

Toe ons die oggend weggespring het in Wonsan, ‘n stad aan die kus van die Oos-Koreaanse See, het ons gidse, Gyong Sim en Hyang Sun, plegtig onderneem dat ons met ons aankoms in Pyongyang een só ‘n saamtrek sou kon bywoon. Dié twee dames was die baba-oppassers wat deur die Korea International Travel Company, die staatsbeheerde monopolie-houer op interne toerisme, aan ons toergroep toegewys is. Onder normale omstandighede sou ‘n enkele gids meer as voldoende wees om aan die behoeftes van agt buitelandse besoekers te voldoen, maar ‘n besoek aan Noord-Korea vind nie onder normale omstandighede plaas nie.

Onder ons gidse se leiding/bevelvoering het ons die voorafgaande ses dae van plek tot plek in ‘n 15-sitplek minibus rondbeweeg – natuurlik nie om ons van die plaaslike mense af weg te hou nie, maar eerder om, soos dit hulle gaste betaam, in die gemak van ‘n superieure vervoermiddel rondgekarwei te word. Yeah right. Ons is nie toegelaat om enigiets te doen sonder hulle uitdruklike toestemming nie, en van vrye beweging was daar geen sprake nie.

Met dié was daar dus bittermin interaksie tussen ons en die gewone mense op straat. Hier en daar, waar ons wél ‘n paar lede van die publiek raakgeloop het – gewoonlik onderweg na nóg ‘n groteske monument ter ere aan Die Leiers – het ons allermins in vriendelike gesigte vasgekyk. Die Noord-Koreane koester ‘n intense haat jeens die ‘US Imperialists’, en mans wat soos ek lyk word met groot agterdog bejeën. Wanneer ek die oog van ‘n verbyganger gevang het, is die blik aan die oorkant binne oomblikke grondwaarts gekeer, so asof hulle iets onwettigs gedoen het bloot deur my raak te sien. Ek het dosyne verbygangers gevra of ek ‘n foto van hulle mag neem, maar om te poseer vir ‘n Westerling se kamera was ooglopend nie iets wat die Noord-Koreaanse man op straat welgeval nie, en na ses dae het ek sukseskoers van 0% gehad. Die kersie op dié verwerpingskoek was egter die klein dogtertjie in Kaesong wat niksvermoedend om ‘n hoek gestap gekom het, maar toe sy my sien, in haar spore omgedraai en al gillende laat spaander het. Dit was darem nie die eerste keer dat ‘n lid van die teenoorgestelde geslag gillend van my af weggehardloop het nie, so ek het myself nie té veel daaroor gekasty nie.

Die skyn kan egter tóg bedrieg, soos wat ek in ‘n universiteitslokaal buite Wonsan ontdek het. Dáár het ons ‘n groep finalejaar-studente ontmoet, en met die hulp van ‘n tolk kon ons ‘n paar woorde met hulle verwissel. Aanvanklik het dinge maar gesukkel om aan die gang te kom, synde nie een van die twee groepe regtig geweet het wat om vir mekaar te sê nie. Maar later was daar darem iets wat as ‘n gesprek beskryf kan word tussen ons. En was dié manne nou gretig om ‘n foto te neem! Op hulle aandrang moes ‘n foto met al die kameras in ons groep geneem word, en daar moes selfs plekke geskommel word tussen die neem van foto’s. Dit was asof hulle vir ‘n paar sekondes vryheid geruik het, en dit gevolglik met méning wou inasem. Toe ek egter as ‘n afskeidswoord vir een van hulle vra wat sy planne vir volgende jaar is, was die antwoord terug by die voorspelbare: “Wat dit ook al is wat Die Leier wil hê ek moet doen om my land te dien.”

En kyk, Die Leiers ís Noord-Korea, en Noord-Korea ís Die Leiers. Ek het skaars my voete in Pyongyang gesit, of ons moes afsit na Mansu-heuwel waar ek, soos voor Nebukadneser se goue beeld, voor 22m-hoë bronsbeelde van Die Leiers, Kim Il-Sung en Kim Jong-Il, moes gaan buig. Die Noord-Koreane het letterlik ‘n heilige ontsag vir dié twee ontslape leiers, en die persoonlikheidskultus wat rondom hulle, sowel as om die huidige leier, Kim Jong Un heers, is in gelyke mates merkwaardig én onrusbarend – om die minste te sê. Glimlaggende afbeeldings van die Dierbare Leiers Kim Il-Sung en Kim Jong-Il word uitgestal bo die ingange na alle treinstasies, skole, militêre geboue en publieke geboue, sowel as in alle museums, monumente, lesinglokale, publieke bymekaarkomplekke, klaskamers, spreekkamers, kleedkamers en kraamkamers. Elke Noord-Koreaan dra te alle tye ‘n lapelwapentjie, waarop enige laerskool-padpatrollielid érg trots sou wees, met ‘n afbeelding van een of albei van Die Leiers daarop afgeëts. Die mense is vreeslik selfvoldaan dat hulle bevry is van die juk van georganiseerde geloof, maar in die plek daarvan het hulle hul eie plaasvervangende, alomteenwoordige Onheilige Drie-eenheid geskep.

Nou ja, teen die reeds vermelde agtergrond van beroerde interpersoonlike interaksies het ons minibus toe laat Sondagmiddag by die plein langs die imposante WPK-hoofkwartiere in die hartjie van Pyongyang stilgehou. Ek kon my oë nie glo nie. Ek is nie heeltemal seker wat ek verwag het nie, maar wat dit ook al was, dit was nie dít nie. Op die plein het sowat 5,000 jongmense, netjies in rye, in doodse stilte gestaan en wag vir die verrigtinge om af te skop. Die meisies was geklee in kleurvolle tradisionele Koreaanse tabberds, en die seuns in wit hemde en swart broeke, met hulle rooi dasse wat die see van kleur perfek afgerond het. Bo die ingang van die hoofgebou het reuse-portrette van die glimlaggende, bebrilde Kim Il-Sung en Kim Jong-Il oudergewoonte oor dié kleurryke spulletjie toegekyk.

Toe die groot horlosie op die plein 5-uur slaan, het ouderwetse marsmusiek, waarvan die lirieke die deugde van Kim Jong-Il besing, uit reuse-luidsprekers begin blêr. ‘n Gewriemel van kleur soos wat ek nog nooit in my lewe aanskou het nie het voor my oë ontvou. Kyk maar self die meegaande video om te sien wat ek bedoel.

Ek het natuurlik baie bevoorreg gevoel om dié skouspel te kon gadeslaan. Min Westerlinge kry immers ooit dié kans. Tydens my besoek was ek een van ‘n skrale tweehonderd toeriste binne die grense van die land, en dáárvan was ten minste ‘n driekwart Chinese burgers. Daar het sóveel gedagtes deur my kop gegaan terwyl ek daardie kleurvolle kabaal in ‘n half gehipnotiseerde toestand betrag het, maar meestal het ek gedink aan nig Annatjie van Niekerk, my Voortrekkeroffisier in die laerskool, en hoe platgeslaan sy oor haar Koedoe-span se volkspelepoging by die Kommando-afsluitingsgeleentheid van 1987 sou wees as sy die toneel wat hom daar voor my afgespeel het kon sien.

My dagdroom is terstond beëindig toe een van ons gidse vir my en ‘n meisie in ons groep aan die hand na die naaste dansgroep begelei, ‘n dansende paartjie van mekaar geskei, en hulle beveel het om hulle danspassies met óns as hulle nuwe dansvennote voort te sit. Ek is nie seker of ek, of die Noord-Koreaanse meisie op wie ek afgedwing is die meeste oorbluf was nie. Vir nagenoeg ‘n week lank is enige interaksie tussen ons en die plaaslike mense ontmoedig, is ek verbied om foto’s van hulle te neem, en moes ek die kykie wat ek in hulle lewens kon kry van ‘n afstand af doen. En skielik staan ek daar op daai plein, omring deur 5,000 van ‘hulle’, met die sweterige handjie van ‘n Noord-Koreaanse aster in myne. En daar word van my verwag om saam met haar lyf te swaai. Praat van die onvoorspelbaarheid van die lewe!

Gelukkig vir my was ek ‘n voorslag-volkspeler in daardie Koedoe-span van 1987, en na ‘n effense wankelrige begin het ek vinnig agter die kap van die danspassiebyl gekom. Kort voor lank was dit ék wat vir húlle gewys het hoe dit nou eintlik gedoen moet word…of dít is in elk geval wat ek vir myself oor my danspoging wysmaak.

Die kleurvolle kaleidoskoop het vir ‘n volle vyftig minute voortgestoom, en hoewel die verrigtinge in ‘n feestelike atmosfeer afgespeel het, was daar van meet af aan iets vreemds wat my opgeval het. In die Weste word daar óf gedans om ‘n vertoning aan ‘n groep toeskouers te lewer, óf daar word gedans omdat die dansers dit geniet. Behalwe vir ‘n dosyn of wat Noord-Koreane wat lusteloos op ‘n sypaadjie rondgestaan het, en ons groep van agt toeriste, was daar geen ander toeskouers by hierdie skouspel teenwoordig nie. Boonop het dit ook, te oordeel aan hulle strak gesigsuitdrukkings, gelyk asof die geskoffel vir die meeste dansers ‘n intense pyniging was. Noord-Koreane was uiteindelik nié plesierig nie.

Ek kon regtig nie die punt van dié opgeblaasde dansvertoning insien nie, en ek moes tot later die aand wag om ‘n blik op die groter prentjie te kry…

Ons hotel in Pyongyang was geleë op ‘n eiland in die Taedongrivier. Ons is nie toegelaat om die hotel te verlaat nie, en toe ons die aand in die hotel se kroeg ‘n bier sit en drink, is ‘n nuusbulletin op ‘n TV in die hoek uitgesaai. Die nuusleser, ‘n dame, was nogmaals geklee in ‘n tradisionele Koreaanse rok, en haar uitrusting is netjies afgerond deur die lapelwapen waaraan ek met die verloop van ‘n week gewoond geraak het. ‘n Beeld van Kim Jong-Il het op die skerm geflits, gevolg deur ‘n allegaartjie van die tonele van die dag se landswye byeenkomste. In stede regoor die land het honderde mense in rye voor kolossale bronsstandbeelde van Kim Il-Sung en Kim Jong-Il stelling ingeneem, om op ‘n gegewe oomblik soos een man voor die beelde te buig. ‘Bisar’ is nie die woord nie.

Op ander plekke het soortgelyke tonele hom afgespeel as die een wat ons vroeër die dag aanskou het – duisende drommels wat ‘n riel dans ter ere aan die Groot Leier en Revolusionêre Kameraad Kim Jong-Il, om op dié wyse hulle innige dank te betuig vir die wyse leierskap wat hy geopenbaar het in die voortdurende, onkeerbare opmars ter bereiking van die finale oorwinning oor die ‘US Imperialists’ en ander vyandige kragte (die Noord-Koreane is nie bekend vir hulle bonkige politieke slagspreuke nie).

Die dag se feesvierings was ooglopend die hoofstorie van dié nuusuitsending. Of om die waarheid te sê, die énigste storie. En met die kyk daarvan is die laaste stukkie in die legkaart van die groter prentjie vir my in plek geplaas. Skielik was dit só duidelik dat die hele dag maar net ‘n enorme propaganda-oefening was. Die jongmense wat so stug op daardie plein gedans het is heel moontlik gedwing om só te maak, sodat die vrug van hulle arbeid vir ‘n paar sekondes op nasionale televisie uitgesaai kon word, om daardeur by te dra tot die beeld van ‘n verenigde, homogene nasie wat eenparig en onwrikbaar tot in alle ewigheid bankvas agter hulle wyse, dierbare leiers staan.

My besoek aan Noord-Korea was voorwaar ‘n hoogtepunt in my reisgeskiedenis. Elke dag het nuwe brokkies inligting gebring wat my mond van verbasing laat oophang het – die mense, die kos, die valse weergawes van die geskiedenis wat aan die mense opgedis word, en die unieke politieke en ekonomiese stelsels waarin die Noord-Koreaanse mense moet worstel om ‘n lewe te probeer maak. Ons is by talle plekke verbied om foto’s te neem, maar ek het dit tóg vermag om paar beelde vas te vang wat ‘n prentjie skep van die lewe in hierdie onderdrukkende land. Ek sien uit om dit, sowel as ‘n paar ander storietjies, met die verloop van tyd te deel.

Maar vir nou sê ek eers ‘annyeong’, my kamerade. En ek stuur vir julle groete uit die land van die Dierbare, Ewigdurende President, Vader Van Die Nasie, Leier Kim Il-Sung, en sy seun – Dierbare Leier, Geliefde Vader, Die Son Van Sosialisme, Gerespekteerde Generaal Kim Jong-Il. Vir volk! Vir vaderland! Vir Die Leiers! Voorwaarts, kamerade, voorwaarts!

Junie 2016

 

Noord-Korea dansery from Fanie van der Merwe on Vimeo.

 

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.