Noord-Korea: land van die Onheilige Drie-eenheid

Die reuse-standbeelde van Kim Il-Sung en Kim Jong-Il op Mansu-heuwel. Smile and wave boys, smile and wave.

“Welcome! Welcome to the Democratic People’s Republic of Korea! In the DPRK there are many rules and regulations that you need to follow.”

Aan die woord was Hyang Sun, een van die twee Noord-Koreaanse gidse wat my kort tevore met my aankoms by Pyongyang se treinstasie ontmoet/onderskep het, en onder wie se wakende oog ek vir ‘n week lank ‘n kykie in die handel en wandel van die mense van hierdie geheimsinnige, fassinerende, en doodeenvoudig vreemde land sou kry. Die teenstrydigheid in haar openingsrede het my wel opgeval, maar dit het my nie juis verbaas nie. Dit was my tweede interaksie met ‘n Noord-Koreaanse burger, en vir die tweede keer is ek gekonfronteer met die skisofreniese aard van só ‘n interaksie.

Sowat ses ure tevore, terwyl my oornagtrein van Beijing af vir ‘n uur en ‘n half op die grens tussen China en die DPRK vertoef het, het ‘n Noord-Koreaanse doeane-beampte die kompartement wat ek met vyf ander mense gedeel het, binnegekom. As die Westerse media geglo kan word, is alle Noord-Koreane in die bol gepik, en daarom was ek meer as net ‘n bietjie lugtig vir dié vrou met die strak gesigsuitdrukking en ‘n militêre uniform wat vir Idi Amin na sy asem sou laat snak.

Sy het haar langs my op die smal treinbedjie tuisgemaak, iets in Koreaans geblaf, en met ‘n vlugtige handbeweging beduie dat ek die inhoud van my reistas moes ontbloot, en ook my kamera en selfoon vir inspeksie moes oorhandig. Ek het woordeloos aan haar bevel gehoor gegee, en toegekyk hoe sy deur die foto’s op my elektroniese toestelle begin blaai. Hier en daar het sy geglimlag, veral wanneer die bakkies van die 5-jarige mini-weergawe van myself op die skermpie voor haar geflits het, maar meestal was daar ‘n diep frons tussen haar oë.

Midde-in dié foto-inspeksie het sy skielik gestop, en in verwondering na my arms begin staar – so asof sy nog nooit in haar lewe ‘n man met arms gesien het nie. Dit was egter nie my arms as sulks nie, maar die harigheid daarvan wat die bron van haar fassinasie was. My senuwees was reeds aan’t lol in die spannende atmosfeer van daardie beknopte kompartement, maar my hart het ‘n slag of twee gemis toe sy sonder waarskuwing haar hand na my toe uitsteek en oor my voorarms begin vryf. Dít terwyl sy in ‘n veel meer liefderike stemtoon as vantevore met my begin praat het.

My ongemak was opmerklik vir almal behalwe vir haar, maar na ‘n ewigdurende minuut of wat het dié onfatsoenlike strelery genadiglik end gekry. Sy het haar aandag nogmaals by my kamera bepaal…en ‘n paar sekondes later het sy ontplof…

Voor my vertrek uit Beijing uit het ek my bes gedoen om die drakoniese vereistes wat die DPRK aan sy besoekers stel in die fynste besonderhede na te kom. In die proses is ‘n hele rits lêers van my skootrekenaar se hardeskyf uitgewis – pornografiese foto’s, e-weergawes van die Bybel, Koran en die Bhagavad Gita, musiek van Willie Nelson, Dolly Parton en Don Williams, video-opnames van opruiende toesprake deur ‘n verskeidenheid Amerikaanse presidente, sowel as die hoogs geheime planne vir ‘n koverte Noord-Koreaanse inval deur die Amerikaanse Marienekorps het als in die slag bly.

Tot my groot spyt het ek egter nagelaat om die GPS-funksie van my kamera te deaktiveer, en dít het vir Juliet/Juffrou Rottemaaier só ontstel dat dit ‘n tekereganery ontketen het wat ek oortuig was sou lei tot ‘n hartaanval vir haar, en ‘n terdoodveroordeling vir my.

My GPS-flater was bloot ‘n onskuldige, onbedoelde glips, en nadat ek haar met ‘n verskeidenheid verskonende handgebare van dié feit probeer oortuig het, wou dit darem lyk asof sy dit só sou aanvaar. Sy het my kamera aan my terugbesorg, haar hoogs indrukwekkende militaristiese hoofdeksel reggeskuif, en vir oulaas iets in Koreaans vir my gegrom. In die deur van die kompartement het sy geweifel, my vir ‘n paar sekondes afkeurend deur haar skrefiesoë aangegluur, en toe was sy weg. My sug van verligting kon sweerlik tot in Suid-Korea gehoor word. As ek nie voorheen geweet het dat jy in Noord-Korea in jou spoor trap en binne die voorafopgestelde raamwerk bly nie, het ek dit op die duidelikste manier denkbaar in daardie beknopte kompartement ontdek.

‘n Paar minute later het die trein se wiele nogmaals begin rol. Ek het dit gemaak! Ek was in! Ek het my aan die oorkant van die grens van een van die mees geslote en geheimsinnige state in die geskiedenis van die mensdom bevind!

Die res van my tog tot in Pyongyang het sonder enige voorval verloop. Deur die trein se venster het ek my verkyk aan die plattelandse beelde wat voor my verby geskuif het. Dit het nie noemenswaardig verskil van die plattelandse gebiede in enige ander Oos- of Suidoos-Asiese land wat ek al voorheen onder oë gehad het nie. Daar was mense in vaal klere wat ryslande met geboë rûe bearbei het, osse wat negentiende eeuse ploeë deur mielielande getrek het, mense op stokou fietse wat in stowwerige fietspaadjies neffens die treinspoor gery het, en hier en daar ‘n kind wat met ‘n vuil handjie vir die verbygaande trein gewaai het. Same old, same old.

Maar daar was tóg iets wat my onmiddellik opgeval het van elkeen van die dosyne dorpies waardeur die trein voortgestoom het. Anders as in Suid-Afrika, waar die burgemeester se huis die bes instandgehoue gebou in die dorp is, het dié eer op die skouers van die dorpies se treinstasies geval. En die bes instandgehoue deel van die bes instandgehoue gebou in die dorp was die reuse-muurskilderye van twee glimlaggende, bebrilde, onmiskenbaar Koreaanse ooms wat die bo die ingang na élke treinstasie waggehou het.

Dit het my nie lank geneem om die kloutjie by die oor te bring nie; die ooms wat met daardie amperse óórvriendelikheid oor die dorpenaars waak, was niemand anders nie as Kim Il Sung en Kim Jong Il – die eerste twee leiers van die DPRK. Tot watter mate die gemeenskaplike identiteit en selfkonsep van die Noord-Koreane met die bestaan en nalatenskap van hulle leiers vervleg is, sou ek nooit op daardie stadium kon raai nie, maar ek sou weldra uitvind dat Noord-Korea niks is sonder hulle leiers nie.

Met my aankoms in Pyongyang was ek nog besig om die laaste treetjie van die treintrappies af tot op die perron te gee, toe ek deur Hyang Sun onderskep is. As ‘n verwelkomingsgebaar het sy my paspoort vir ‘veilige bewaring’ ingeneem, waarna sy my teen ‘n hélse spoed verby ‘n skare wat in verwondering na my gestaar het begelei, tot waar die bussie van die Korea International Travel Company in die parkeerarea gewag het.

Die KITC is die monopolie-houer op interne reise in Noord-Korea, en alle toeriste word deur gidse van dié staatsbeheerde maatskappy op hulle Noord-Koreaanse reise vergesel. Daar is geen manier hoe enigiemand ‘n onafhanklike reis deur dié land kan onderneem nie, en toerisme word streng beperk tot die voorafopgestelde reisplanne wat deur die KITC verskaf word. Boonop word toeriste in vlae toegelaat – ‘n paar honderd toeriste word ingelaat, en ‘n paar weke nadat die laaste toeris van daardie vlaag die land verlaat het, word die volgende vlaag ingelaat. Tydens my besoek was ek een van slegs tweehonderd toeriste binne die grense van die land, en daarvan was maklik ‘n driekwart Chinese burgers.

In die KITC-bussie het ek sewe ander grootoog-toeriste aangetref. Noord-Korea is beslis nie die heel eerste bestemming wat ‘n internasionale reisiger sal aandurf nie, en ek sou later leer dat al sewe my reisgenote deurwinterde reisigers was. Met die verloop van tyd het ek diep stimulerende gesprekke oor ‘n verskeidenheid onderwerpe met elkeen van hulle gevoer, maar tydens daardie eerste paar minute op die KITC-bussie was dit grafstil – ‘n mens kon die afwagting en onsekerheid met ‘n stok aanvoel.

Ons eerste bestemming was Mansu-heuwel, waar die 22m-hoë bronsbeelde van Kim Il-Sung en Kim Jong-Il oor die stad waak. Om nié so gou as moontlik die nodige eerbewys aan Die Leiers te bring nie sou ‘n reuse-klap in die gesigte van die Noord-Koreaners wees. En omdat ek nie eintlik ‘n voorstander van klappe in gesigte is nie, was ek heeltemal geneë om ‘n buiginkie voor die afbeeldings van dié twee ontslape Noord-Koreaanse leiers te gaan maak.

Onderweg daarheen het Hyang Sun en ons tweede gids, Gyong Sim, ons die leviete op ‘n vriendelike, dog ferm wyse voorgelees. Ons is uitdruklik verbied om enige plek te besoek sonder die toestemming van ons gidse. Wanneer ons by ‘n besigtigingspunt sou rondbeweeg, sou dit in groepsverband gedoen word, en onder geen omstandighede sou enigiemand toegelaat word om van die groep af weg te dwaal nie. Ons sou nie toegelaat word om die plaaslike geldeenheid (won) te gebruik (of inderwaarheid eers te sien nie), maar ons is wel aangemoedig om soveel dollars, euros en Chinese yuan as moontlik te blaas. Die amptelike verklaring vir dié regulasie was dat die Noord-Koreaanse regering poog om die handelsbalans te versterk deur die instroming van buitelandse valuta te verseker, maar my persoonlike mening is dat dié verbod gesetel is in ‘n paranoïese vrees dat hulle aartsvyande, die gehate ‘US Imperialists’, hiperinflasie in die hand kan werk deur die Noord-Koreaanse markte toe te gooi onder vervalste won – ‘n vorm van ekonomiese oorlogvoering, dus.

Ons is verder verbied om sommer goedsmoeds foto’s van die plaaslike mense te neem. Voordat ons hulle wou afneem moes ons eers hulle toestemming vra (wat ‘n hersenskim was, want met die verloop van ‘n hele week het nie ‘n enkele persoon ingestem tot ‘n foto nie). Dan moes ons ook seker maak dat enige foto’s wat ons van standbeelde of ander afbeeldings van Die Leiers sou neem, die volle beeld moes insluit – dit was dus verbode om byvoorbeeld te fokus op die gesig, en die lyf uit te sny. Ons is ook streng verbied om enige foto’s van enigiemand in ‘n weermaguniform te neem, wat my heimlik gepas het, want daai manne lyk meer geïrriteerd en plofbaar as ‘n Rottweilerreun wat pas reggemaak is, en meer heethoofdig en onvoorspelbaar as daardie selfde Rottweiler net voordat hy sy operasie ondergaan het. Om die lengte van ‘n uniformbeklede malkop se lont te toets deur ‘n kamera in sy gesig te swaai, was derhalwe bitter ver van my gedagtes af, veral omdat hy in ‘n wederkerige swaaigebaar dalk net sy semi-outomatiese aanvalsgeweer in mý gesig sou kom swaai het. En ek het nie juis gedrup van die lus dáárvoor nie.

Dit was reeds laatmiddag, en terwyl ons ons weg deur die so te sê verkeerlose strate tot by Mansu-heuwel gevind het, het dit my getref dat ek sedert ek die oggend die grens oorgesteek het, nog nie ‘n enkele advertensie gesien het nie. Daar was nêrens ‘n glimlaggende gesig op ‘n reuse-reklamebord wat jou wou oortuig dat jou lewe onvolmaak is omdat jy nog nie ‘n iPhone/lewensversekering/lemmetjiegeur-tandepasta aangeskaf het nie, en geen plakkate teen lamppale wat uitverkopings in helder kleure uitbasuin het nie. Selfs die name van die winkels was in eenvoudige Koreaanse skrif bo die winkelingange aangebring, sonder enige handelsmerke of ander kapitalistiese tierlantyntjies. Hiérdie was sosialisme wat vir Karl Marx in ‘n staat van nirvana sou plaas – nádat sy tone eers vir ‘n rukkie van lekkerkry omgekrul het.

Toe ons uiteindelik by Mansu-heuwel arriveer, is ons aangesê om ons kortbroeke vir langes te verruil. Om ons knieknoppe vir Die Leiers te wys sou heel duidelik, ondanks die redelike hoë dunk wat ek van my knieknoptweeling het, ‘n geweldige belediging vir ons gashere wees. Ons gidse het ons ook belet om op die plein voor die reuse-beelde rond te hardloop, te spring, te skree, ons arms te swaai, op die grond te sit, met mekaar te stoei, of op ons hande te staan. Ek was verál platgeslaan deur daardie laaste bepaling. Ek léwe immers daarvoor om by internasionaal-bekende besienswaardighede op my hande te gaan staan, en my teleurstelling met dié verbod was so groot dat ek sommer net daar wou omdraai en teruggaan huis toe. Maar toe onthou ek dat my paspoort deur Hyang Sun ingeneem is vir ‘veilige bewaring’…

Ek was uiteindelik bly dat ek nié my besoek op daardie punt kortgeknip het nie, want my asem is behóórlik weggeslaan deur die reuse-beelde van Nommer 1 en Nommer 2 (en nou verwys ek nie na Zuma en Ramaphosa nie hoor). Wanneer ‘n mens daarna opkyk val jou mond in ‘n onwillekeurige refleksbeweging oop, en al probeer jy daarteen stoei kan jy nie anders as om beïndruk te wees nie.

Kort na ons aankoms op die plein het ons gidse ons in ‘n ry voor die beelde staangemaak. Vir ‘n oomblik was ek onder die indruk dat ons op die punt staan om te regs-rig en te oë-front, maar ‘n half-skewe lyn toeriste is skynbaar heelwat minder beledigend as ‘n pylreguit lyn toeriste wat op hulle hande staan. Op Hyang Sun se teken het ons soos een man vir sowat drie sekondes ‘n diep buiging voor die bronsbeslaande aangesigte van Die Leiers gemaak. En dit was piekfyn. Ek het nie my beginsels daardeur versaak nie, ek het bloot goeie maniere teenoor ons gashere geopenbaar. En boonop was dit goeie oefening, want met die verloop van die dae sou ons ook voor ‘n dosyn of wat ander afbeeldings van Die Leiers daardie koddige buiging moes nadoen.

In sterk skemerte is die KITC-bussie se neus in die rigting van ons hotel gedruk. Die Yanggakdo International Hotel is op ‘n eiland in Pyongyang se Taedong-rivier gebou – net soos Alcatraz. Ons is nie toegelaat om die hotel te verlaat nie, en indien ons op soek was na vermaak, sou ons dit binne die hotel se mure moes vind.

Dié hotel is ook die een waar die Amerikaanse student, Otto Warmbier, onlangs tuisgegaan het. Nadat die jong Otto uitdruklik deur sy gidse verbied is om sy voete op die 5de vloer van dié hotel te sit, het hy hulle vermaning in die wind geslaan en tóg gaan kyk wat daar aangaan. Hy het honderde propagandaplakkate en –baniere daar aangetref. Net soos Eva van ouds het hy geswig voor versoeking, en het hy een van dié propagandabaniere van die muur verwyder, met die doel om dit as ‘n trofee saam met hom na die VSA toe terug te neem. Dit was egter heeltemal te swaar vir een man om te dra, en nadat hy besef het dat hy te lig in die broek is om enigiets sinvol met sy vonds te doen, het hy dit net daar op die grond gelos en spore gemaak. ‘n Paar dae later, toe hy Noord-Korea wou verlaat, is hy by die lughawe in Pyongyang in hegtenis geneem. CCTV-getuienis van sy misdaad is aan hom voorgehou, en ondanks ‘n berouvolle tranedal ten aanskoue van die wêreld se media, is hy tot vyftien jaar se harde arbeid in ‘n Noord-Koreaanse strafkamp gevonnis. En dáár sal hy vir seker nooit ‘n bier sien nie. Nie eers ‘n Warmbier nie.

In die lig van wat met Otto die Dommetjie gebeur het was ek vasbeslote om nie net die 5de vloer nie, maar sommer die ook 4de en die 6de vloere soos die pes te vermy. Ek het reguit verby geskiet, tot by die 47ste vloer, waar ek gehoop het om in die roterende restaurant deur die stad se liggies betower te word.

Behalwe vir die agt van ons was daar niemand anders in daardie restaurant nie. Selfs ons gidse het ons op ons eentjies gelos omdat ons vir alle praktiese doeleindes in ‘n tronk vasgekeer was. ‘n Redelike luukse tronk met ‘n kegelbalbaan, ‘n karaokekroeg, drie restaurante en ‘n winkeltjie wat snoeperye verkoop, maar ‘n tronk nietemin.

Die roterende restaurant was veronderstel om die juweel in die kroon van die Yanggakdo International Hotel te wees, maar die blomme op die tafel was van plastiek gemaak, die bier was warm, en weens die nypende kragtekorte wat oor die ganse land ervaar word, was die stad grootliks in donkerte gehul…behalwe natuurlik vir die afbeeldings van Die Leiers se gesigte. Die gesigte van Die Leiers, soos wat ‘n mens seker kon verwag het, was hélder verlig…

Ek het ‘n kamer gedeel met Jeremy Brevet, ‘n 32-jarige professionele wynmaker van Bordeaux af. Terwyl ek daardie eerste aand op die naat van my rug na die onsigbare dak gelê en staar het, het ‘n manstem met ‘n Franse aksent deur die donker na my toe aangesweef gekom: “Eets eh stggange-uh countggy dees, no?”

Ek het my kop instemmend geknik, maar niks gesê nie, want ek was aandagtig aan’t luister na die manstem in my kop wat in ‘n Noord-Koreaanse aksent ‘n liedjie op die wysie van ‘Is this the way to Amarillo?’ gesing het: “Is this the way to North Korea? Every night I’ve been praising The Leader. Dreaming dreams of North Korea, and the Big Three who wait for me.”

Word vervolg.

Junie 2016

 

 

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.