Fanie wie?

Volgens die Successful Blogging for Dummies behoort ek hiérdie spasie te gebruik om, ter bekendstelling, die een en ander oor myself te verklap. Nou maar goed, as dit dan moet...

Ek is saggeaard, lojaal en lief vir kinders - net soos ’n DBV-hond. My neus bloei soms vir geen rede nie, en ek het al bladgeskud met Naas Botha. Ek hou meer van Jan Smuts as van Eugene Terre’Blanche, en in twaalf jaar was ek nie één dag afwesig van skool nie. Ek was nog nooit betrokke in ’n vuisgeveg nie, en ek het al ’n bestaan gemaak deur skottelgoed te was. Ek het ’n amperse obsessiewe liefde vir krieket, en ek is getroud met ’n kind. Wel, nie mét ’n kind nie - dít is immers onwettig. Ek is getroud met ’n vrou, en ons het ’n kind.

Ek is ’n Afrikaner in murg en been – gebore en getoë in Pretoria. Een laerskool, een hoërskool, een universiteit, met Christelik-Nasionale Onderwys die rigsnoer van my jongmenslewe. Maar in 1998 het ek op ’n vliegtuig geklim om vir ’n jaar lank in Londen te gaan werk. Soos duisende ander jong Suid-Afrikaners wou ek die wêreld sien, ’n bietjie geld spaar, en myself ‘vind’.

Toe ek my vriende en familie in die lughawe se vertreksaal gegroet het, sou ek nooit kon raai watter draaie die lewe met my sou loop nie - soos dat daardie voorgenome ‘een jaar’ die res van my lewe sou word. Of dat ek my passie sou volg en my as ’n geskiedenisonderwyser sou bekwaam (die eerste vyf jaar in Londen het ek in ’n bank gewerk – en dit geháát). Of dat ek reise na dosyne verskillende lande sou onderneem. Of dat ek ’n rubriekskrywer vir The South African, die grootste Suid-Afrikaanse publikasie in die Noordelike Halfrond (kug-kug), sou word. Of dat ek ná vyftien jaar in Haar Majesteit se koninkryk sou uitwyk om my nering by ’n internasionale skool in China te gaan beoefen.

Nou kyk, ek is nie ’n skrywer nie. Ek is bloot ’n ou wat skryf. Ek is geen avonturier wie se reise na die uithoeke van die skepping die verbeelding van die wêreld aangryp nie. Ek doen ook nie enige baanbrekerswerk wat die massas uit belangstelling laat regop sit nie. En ek is beslis ook nie ’n mens-engel wat die hartsnare roer deur my lewe aan die opheffing van minderbevoorregtes te wy nie. Ek is net ’n gewone ou.

Behalwe vir ’n liefdesbriefie wat ek in standerd 2 vir Rialene Botha geskryf het, verskyn nagenoeg alles wat ek nog ooit op skrif geplaas het op hierdie blad. Van die rubrieke wat ek vir The South African geskryf het, tot by stories en foto’s oor sommige van die reise wat ek al onderneem het, tot by geskiedenisverwante opstelle wat tot op hede nog net deur my en ’n enkele proffie onder oë geneem is.

Hierdie webblad is my labour of love (ek sou sê ‘my liefdesvrug’, maar dit klink heeltemal te suggestief vir ’n gesinsvriendelike blad soos hierdie). Ek gee nie die geheim van ’n lang en gelukkige lewe hier weg nie, en ek probéér nie eers om die wêreld se verskriklikhede aan te spreek nie – hiérdie is bloot die gieter waarmee ek my Afrikaanse wortels natlei. En as enigiemand anders daardeur vermaak of ingelig word... wel dan is dit goed so.

So daar gaat hy. Laat hy val waar hy wil. Lekker lees, en lekker kyk.

Wees gesond, wees gelukkig, wees lekker.

Groete.

Fanie

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.