‘n Amerikaanse avontuur. Deel 7: Monument Valley

1

Ek het vandag vergeet watter dag van die week dit is – net een keer, vlugtig, maar dit hét gebeur. Ek moes al die pad terugkrabbel na voorverlede Vrydag toe, om van daar af te begin om elke plek waar ek geslaap het op te roep, sodat ek die dae wat verloop het kon tel, om uiteindelik te besef dat vandag Maandag is. Volgende keer sal ek, in plaas daarvan om so byna my brein te bars, met veel minder moeite net die kalender op my foon raadpleeg vir dag-van-die-week-verwante inligting.

Ja kyk, die afgelope twaalf dae begin nou wild inmekaar in vleg. Dit raak ál moeiliker om presiés te onthou waar dít of dát gebeur het, en ‘n groot rede daarvoor is dat ek so te sê elke dag ‘n lang ent moet bestuur. Ek het nou al meer as 3000km afgelê, so teen dié tyd het ek veel meer ure agter die stuurwiel deurgebring as wat ek kan onthou, en in my geheue begin elke vulstasie lyk soos die vorige een, en elke verkeerde afdraai ál meer soos die een voor hom.

Wanneer jy so baie tyd in ‘n voertuig deurbring, begin daardie voertuig mettertyd ‘n veeldoeligheid aanneem wat jy nooit gedink het moontlik sal wees nie. Só het my huurkar oor die afgelope tyd al diens gedoen as ‘n navorsingstasie (wanneer ek vir Mnr. Google vra om sy kennis oor die plekke wat ek raakry met my te deel), ‘n eetkamer (darem nog net vir ontbyt en middagete), ‘n asblik (net die agterste helfte, want wat die oog nie sien nie…), ‘n bed (net een keer vinnig, vir ‘n middagslapie) en ‘n ablusiegerief (net ‘n enkele keertjie, in ‘n leë lemoensapbottel, want ek was in die middel van nêrens en dit was vriésend buite).

Maar dan was ‘my wiele’ ook al ‘n eindelose bron van vermaak. Ek weet nou wat élke knoppie en élke liggie op die paneelbord se werk is, ek weet presiés hoeveel hale die ruitveërs moet gee om die voorruit skoon te vee, ek weet presiés hoe lank dit in die oggende sal neem vir die agterruit om te ontvries, en ek weet presiés watter vier stappe benodig word vir my om te stop sodat ek ‘n foto kan neem (1-handrem, 2-uit-rat-uit, 3-veiligheidsgordel, 4-deurslot oop…wat my pál laat dink aan 1-crouch, 2-touch, 3-pause, 4-engage).

Die toestel in die kajuit wat my egter die héél meeste plesier verskaf, is die karradio. Voordat ek hierheen gevlieg het, het ek ‘n ellelange MP3-speellys voorberei en op ‘n geheuestokkie gesit, slaggereed vir die lang pad wat voorgelê het. Toe ek egter in Denver, waar my roadtrip afgeskop het, in my huurkar klim, was die eerste ding wat ek opgemerk het die afwesigheid van ‘n USB-gaatjie in die radio! Ek het so byna ál my planne geaborteer, en sommer nét daar in Denver gebly vir die res van die drie weke. Ek was ernstig ontstig. ERNSTIG. Maar vandag is ek só bly dat ek nie toegang tot my speellys het nie, want al wat jy kan doen as jy nie CD’s of MP3’s het nie, is om na die radio te luister…

Tot op hede het ek die sein van ‘n goeie twintig klein, plaaslike radiostasietjies opgevang. Van dié’s wat klink of dit net een ou en sy vrou is wat in hulle kombuis sit en ‘n ‘uitsending’ doen, tot by dié’s wie se jingles meer lawaai maak as ‘n brandweerwa in ‘n casino. Jy word getrakteer op interessante geselsprogramme, en op vervelige geselsprogramme. Láng reklamebreke, en kortes. Goeie musiek uit die afgelope veertig jaar, en aweregse treffers uit die tydvak voor 1950. Maar die één ding waarop jy kan reken, maak nie saak wátter kanaal jy in wátter deelstaat opvang nie – die DJ sál in die mikrofoon in gil. Verál tydens die ontbytprogram.

Dis asof alle Amerikaners hardhorend is (of verslaap het), só oorverdowend is die gebrul van die DJ’s wat die ‘Breakfast Show’ aanbied. En gewoonlik is daar nog iemand anders ook in die ateljee (as die DJ ‘n man is, dan sal dit ‘n vrou wees, en andersom), wie se werk dit is om báie hard te lag vir die DJ se grappe, of om báie hard ‘awwwww’ te sê wanneer iemand inbel wie se kat onlangs dood is.

Die groot probleem is dat daar feitlik nooit ‘n vooraf-geoefende sinchronisasie bestaan nie, wat meebring dat die geselsies wat dié twee aanknoop, óf in ‘n gestotter, óf in ‘n oormekaarpratery ontaard. Dikwels speel hierdie ‘assistente’ dan ook die rol van nuuslesers of weervroue, en hoe kleiner die stasie, hoe wyer is die posbeskrywing. Op die heel kleinste stasies is die laggende stem van die wingwoman van die ‘Breakfast Show’, ook die stem wat jou aanmoedig om jou inkopies by die plaaslike River Creek Trading Post te gaan doen.

Die wêreld hier gaan behoorlik mál vir een musiekgenre: Country. Die musiek wat oor die senders stroom moet dus in pas daarmee bly, en gevolglik het ek ná ‘n relatiewe kort tydjie in ‘n bewese kenner van dié genre ontwikkel. Nou kyk, ek hou van Country-musiek (in elk geval meer as sowat twee weke gelede), maar waarom dit altyd so…snik-snik-snik…hártseer moet wees, kan ek eenvoudig nie kleinkry nie. Jy kan sélf die eerste versreël van ‘n Country-liedjie skryf, deur maar net die toepaslike frases uit die volgende te kies: ‘He/she is/isn’t coming home today/tonight/tomorrow/never’. Voeg dan daarby enige kombinasie van die volgende woorde: ‘broke’, ‘bottle’, ‘beer’, ‘drunk’, ‘truck’, ‘wanna’, ‘gonna’, ‘momma’, ‘oh’ en ‘yeah’, en jy het ‘n Country-treffer op jou hande.

‘n Groot frustrasie is die sein wat so kom en gaan op die langpad, en soms met ‘n ander sein kruis, sodat jy tegelykertyd na twee stasies luister. ‘Jolene’ en ‘Man! I Feel Like A Woman!’ is gemaak om afsonderlik geniet te word, want anders word dit ‘Jolene…uh-oh-oh-oh…please don’t take my man…who feels like a woman’. En dáái is ‘n beproewing wat enigiemand gespaar moet bly.

Die sein mag dalk nie oral langs die pad ewe sterk wees nie, maar die één sein wat jy áltyd op volle sterkte kan opvang, is dié van ‘n kerkstasie. In die middel van die dag, in die middel van die week…in Amerika is elke dag kerkdag. En dalk is dit net hulle Amerikaanse aksente wat daarvoor sorg, maar dié mediumgolf-predikers is báie oortuigend. Die emosie wel dikwels só sterk in hulle stemme op, dat dit klink of hulle na aan trane is. Hulle pléít behoorlik by hulle luisteraars – om hulle tot God te wend, om hulle naaste lief te hê, en om elke maand getrou ‘n finansiële bydrae aan die kerk te maak.

En só, met net die radio as geselskap, kom ek ook by die mees ongelooflike plekke uit. Soos by die Monument Valley Navajo Tribal Park – een van die mees majestueuse en mees gefotografeerde plekke op aarde.

Dis die plek waar John Wayne sy Cowboy-flieks gemaak het, en waar Forrest Gump tydens sy epiese hardlooptog aangedoen het. Dié woestyn-vallei spog met sandsteen-Meesterwerke wat op plekke tot driehonderd meter die lug in toring. Die landskap oorweldig ‘n mens – nie net deur die prag daarvan nie, maar ook deur die onverwagse grootte daarvan. Wat op ‘n afstand lyk na ‘n paar koppies wat nagenoeg rég langs mekaar staan, is inderwaarheid reusagtige rotsblokke wat soms honderde meters weg is van die volgende struktuur. Om te sê dis ‘n oorweldigende gesig, begin nie eers om dit te beskryf nie…

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.