‘n Amerikaanse avontuur. Deel 5: Salt Lake City

14

Op ‘n dag in 1820, net buite New York, het Joseph Smith ‘n woudagtige gebied binnegestap. Tydens die voorafgaande maande het die 15-jarige Joseph ‘n diép innerlike worsteling beleef – oor die verwarrende religieuse idees binne sy gemeenskap, binne sy familie, en binne homself. Die begeerte om uitsluitsel te verkry oor watter een van die kerklike denominasies van die dag nou éintlik die Bybelse waarheid verkondig het, het soos ‘n vuur binne hom gebrand, aangesien hy oortuig was dat daar nie ‘n enkele een was wat die Kerk, soos wat Jesus Christus dit tydens sy bestaan op aarde gepredik het, verteenwoordig en uitgeleef het nie.

Midde-in dié emosionele maalstroom het hy hom, in sy soeke na ‘n uitkoms op sy vertwyfeling, op ‘n daaglikse basis na die Bybel gewend. En ná een só ‘n Bybelstudiesessie, was hy oortuig dat hy die antwoord gevind het – in Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

In die woud het die jong Joseph gevolglik op sy knieë neergeval en desperaat na God uitgeroep, en binne sekondes het hy hom in die greep van ‘n groter mag gevoel. Skielik was dit onmoontlik vir hom om ‘n spier te verroer, en kon hy nie ‘n woord oor sy lippe kry nie. Vreesbevange het hy voor hom uitgestaar…en daar, reg voor sy oë, het ‘n ligkolom in die woud verskyn. Binne-in dié ligkolom was daar twee misterieuse figure afgeëts, en terwyl hulle hom stip aangekyk het, het die een na die ander een gewys, en die volgende aan hom gesê: “Joseph, hierdie is my seun. Luister na hom.”

Dit was inderdaad niemand minder nie as God die Vader, en God die Seun, wat daar in die woud aan die jongeling verskyn het. En nie nét het hulle aan hom verskyn nie; hulle het ook ‘n aantal openbaringe aan hom gemaak, onder meer dat daar inderdáád geen kerk was wat die Bybelse waarheid verkondig het nie, en dat hy wat Joseph is, geroep is om ‘n profeet van God te wees. Net soos Jesaja. En Jeremia. En Esegiël.

‘n Jaar of wat later, terwyl Joseph diep in gebed was, en vir God gesmeek het om hom sy sondes te vergewe, het ‘n engel, genaamd Moroni, aan hom verskyn. Moroni het die bestaan van ‘n stel goudkleurige metaalplate, wat heilige geskrifte sou bevat, aan Joseph openbaar. Dié plate is in 395 NC geskep deur Mormon, ‘n profeet en militêre leier van die Nefitiese era. Mormon was ook die vader van Moroni, toe dié nog nie ‘n engel was nie, maar bloot ‘n mens van vlees en bloed.

Ná ‘n kortstondige soektog het Smith dié goue metaalplate, wat (baie gerieflik) in ‘n heuwelagtige gebied naby sy huis versteek was, gevind, maar tot sy diepe teleurstelling ontdek dat die inligting wat daarin vervat is in antieke Egiptiese skrif daarop aangebring is. Verdere intensiewe periodes van gebedsvoering het egter meegebring dat God vir Joseph die vermoë gegee het om dié plate te ontsyfer, en ná maande se ontsyfering en vertaling het ‘n boek uiteindelik die lig gesien – ‘Another Gospel of Jesus Christ’, wat vandag beter bekend is as ‘The Book of Mormon’.

Na aanleiding van die openbaringe wat aan hom gemaak is, en gewapen met ‘n addisionele Evangelie van Jesus Christus, het Smith ‘n kerk gestig, en binne enkele maande het hy ‘n aansienlike gevolg opgebou. Sekere van sy oortuiginge, verál sy verkondiging van poligamiese verhoudings, het die stadsvaders van die dag wárm onder die kraag gehad, en kort voor lank was Smith en sy volgelinge gedwing om weswaarts te vlug voor wat hy beskryf het as ‘religieuse vervolging’. Op pad na die nuwe Jerusalem is Smith egter in hegtenis geneem, en is hy in die tronk deur ‘n woedende groep burgerlikes om die lewe gebring.

In 1847, ná jare van uiterste ontbering, en selfs ‘n oorlog (die Mormoonse Oorlog in Missouri in 1838), het Smith se opvolger, Brigham Young, ‘n groep van sowat 70,000 volgelinge die Salt Lake Valley, wat toe nog deel van Mexico was, binnegelei. Hiér was hulle gevrywaar van vervolging, en met die bloed, sweet en trane van dié pioniers is Salt Lake City tot stand gebring.

Vandag is dié hoofstad van die deelstaat Utah steeds die hoofkwartiere van ‘n wêreldwye organisasie met digby die 15 miljoen lidmate: The Church of Jesus Christ of the Latter Day Saints (LDS), beter bekend aan my en jou as die Mormone.

Omtrent rég in die middel van Salt Lake City tref jy Temple Square aan – ‘n kompleks wat sowat 4 hektaar beslaan en wat die oorspronklike tempel, waarvan Brigham Young die fondamente gelê het, insluit. Hiérdie is een van die gewildste toeristebestemmings in die stad, en siende dat ek ‘n hele naweek gehad het om die plek te verken, het ek (en my ou vriend Jean-André Esterhuysen, wat hom vir die naweek hier by my aangesluit het) besluit om te gaan kyk wat alles daar aangaan.

Daar word van elke jong manlike LDS-lidmaat verwag om 18 maande van sy lewe op te offer deur iewers in die wêreld te gaan sendingwerk doen. Hulle verwys hierna as ‘His Mission’. Vir meisies is dit nie verpligtend nie, maar talle jong vroulike lidmate maak die keuse om ook op ‘n Mission te gaan. By Temple Square is daar sowat 250 jong meisies, afkomstig van al die uithoeke van die wêreld, wat hulle Missions uitvoer deur besoekers deur die kompleks te begelei, en meer te vertel oor die geskiedenis en die leerstellings van die LDS.

In die aanmeldingslokaal is ons vriendelik ontvang, en toe ons gevra is in watter taal ons begelei wou word, het ons tong-in-die-kies gevra of dit in Afrikaans gedoen kon word. Groot was ons verbasing egter toe ons meegedeel is dat dit nie ‘n probleem sou wees nie, aangesien daar wél ‘n Afrikaanssprekende meisie beskikbaar was.

Kort voor lank is ons deur ‘Sister Wentzel’ ontmoet – ‘n 25-jarige nooi van Magaliesburg se wêreld. Sy is op 14-jarige ouderdom bekeer tot Mormonisme, en dit was haar droom om haar Mission hiér by Temple Square in Salt Lake City te kom uitvoer – ‘n droom waarvoor sy R90,000 moes opdok om te bewaarheid.

Haar voornaam wou sy nie aan ons bekend maak nie, want om ‘veligheidsredes’ word sy nie toegelaat om dit te doen nie. Om dieselfde rede kon sy ook nie verklap hoe lank sy al in Salt Lake City doenig was nie, maar later het sy darem laat deurskemer dat dit korter as ‘n jaar was.

Vir ses dae van die week vergesel sy besoekers deur Temple Square, en is sy ook betrokke by ‘ander aktiwiteite’ van die LDS. Oor hierdie aktiwiteite wou sy nie uitwei nie. Sy word net met uitsonderlike geleenthede, soos Kersfees, toegelaat om kontak met haar familie te maak, aangesien God en sy kerk haar uitsluitlike fokus behoort te wees. Sy word ook nie toegelaat om rolprentteaters of restaurante te besoek nie, en sy het ook nog nooit ‘n besigtigingstoer deur Salt Lake City of omstreke onderneem nie. Al haar vrye tyd word spandeer in die geselskap van haar ‘companion’, ‘n mede-missioner, en in haar geval ‘n meisie van Thailand af. En wat as jy nie met jou companion oor die weg kom nie? “Wel, dan deal jy maar net met dit, want dit was God wat ons bymekaar gebring het.”

Aan entoesiasme het Sister Wentzel nie kortgekom nie. Dit was ooglopend vir haar ‘n hélse (of seker eerder ‘n ‘hemelse’) ondervinding om twee Afrikaanssprekende ouens deur die LDS-hartland te vergesel, en haar oortuigings met ons te deel. Sy was op die oog af intelligent, en oor die Book of Mormon (sowel as oor die Bybel) was sy duidelik baie goed ingelig. Sy het vertel hoe Joseph Smith vir God en Jesus gesien het, hoe Moroni vir hom gewys het waar die antieke goudplate versteek is, en hoe dié Evangelie die lig en die waarheid vir hierdie wêreld is. Sy het haar hart met sóveel oorgawe aan ons uitgestort, dat ek nie kon help om te wonder in watter mate kritiese denke ‘n rol in haar oortuiging speel…of nié speel nie.

Ná sowat ‘n uur in haar geselskap het ons lekker gemaklik in mekaar se teenwoordig gevoel, en was ek gereed om ‘n paar harde vrae aan haar te stel, en die volgende gesprek vloei toe tussen my en Sister Wentzel voort:

F: Sê my bietjie, wat dink jy van die persepsie wat die algemene publiek van die Mormone het?
SW: Uhm…ek is nie seker ek verstaan wat jy bedoel nie.
F: Wel, jy weet, hoekom dink jy is dit dat die meeste mense dink dat julle ‘n bietjie…uhm…weird is? (Natuurlik gesê in ‘n hoogs diplomatiese stemtoon)
SW: Huh? Dink mense ons is weird? (Met opregte verbasing in haar stem)
F: Uhmmm…wel…goed, kom ek stel dit só: veronderstel jy kan elke geloof in die wêreld as ‘n sirkel voorstel. Iewers deur hierdie sirkel word daar dan ‘n lyn getrek – die lyn tussen feit en geloof (of eerder ‘fact and faith’, soos ek dit aan haar gestel het). Vir iemand om ‘n geloof as sy eie aan te neem, móét hy gemaklik wees met waar dié lyn getrek word. ‘n Té groot porsie geloof aan die een kant van die sirkel, impliseer noodwendig ‘n sprokie aan die ander kant daarvan. En sprokies is nie die manier om jou siel te verheilig nie.
SW: Uhm…uh……huh?
F: Jy weet, vat byvoorbeeld Hindoeïsme. In my opinie is dit die mees vergesogte geloof wat bestaan. Drie-en-dertig miljoen gode? Nimmereindigende religieuse rituele? Reïnkarnasie, waar jy wedergebore kan word in enigeen van 8.4 miljoen verskillende vorme? Ek weet darem nie. Maar om aan te sluit by my metafoor van flussies – in Hindoeïsme word die lyn tussen feit en geloof dus só ver aan die feit-kant getrek, dat die sprokie-kant by verre die dominante kant is. En dít bring mee dat jy waaragtig diép geloof moet hê om te kan aanvaar dat die leerstellings daarvan waar is.
SW: Uhm…OK.
F: So, Joseph Smith het vir God die Vader en God die Seun in ‘n visioen in ‘n woud gesien. Reg?
SW: Reg.
F: Was enigiemand saam met hom toe hy hiérdie visioen gehad het?
SW: Uhm…nee.
F: So daar bestaan geen eksterne, objektiewe bevestiging vir wat hy gesien het nie?
SW: Uhm…wel, nee.
F: En toe verskyn die engel Moroni aan hom en wys die plek aan hom uit waar ‘n stel goue plate, wat ‘n addisionele Evangelie van Jesus Christus bevat, versteek is.
SW: Uhm…ja.
F: En het enigiemand anders hierdie plate gesien?
SW: Uhm…nee, maar dit is omdat Moroni hom verbied het om dit vir enigiemand te wys.
F: Goed, ek verstaan – Moroni is ‘n engel en ‘n engel se woord is wet. Maar het jy al ooit gewonder hoe daai plate van die Midde-Ooste af vervoer is tot by ‘n heuwel buite New York – in circa 400NC?
SW: Uhm…nee…maar…uhm…ek dink die engel Moroni het dit daarheen gevat.
F: En waar is dié plate vandag?
SW: Uhm…ek dink…dit is…uhm…uh…ek weet nie. (My daaropvolgende navorsing het aan die lig gebring dat Smith die plate aan Moroni terugbesorg het, en dat dié daarmee die hemele ingevaar het – sonder dat enigiemand anders ooit ‘n oog daarop kon lê).
F: Goed dan, vertel my bietjie meer van die dienste wat in die Tempel gehou word – wat presies gebeur daar?
SW: O gits, ek is regtig jammer, maar ek mag nie daaroor praat nie. Dáárdie inligting is uitsluitlik beskikbaar vir lede van die LDS.
F: (Grappenderwys) Het dit iets met seks te doen? Of met diere? Of met babas?
SW: Uhm…uh…ek is regtig jammer, maar ek mag nie sê nie.

Nou kyk, ek het nie die reg, óf die wil, om enigiemand se geloof te beswadder nie. En ek gaan dit ook nie doen nie. Maar ek kan jou verseker dat my een wenkbrou baie hoër as die ander een gelig is.

Die besigtigingstoer deur Temple City neem normaalweg sowat ‘n halfuur, maar óns s’n het mooitjies drie keer so lank geduur. Ons het baie vrae gevra, en heelwat antwoorde gekry. Maar daar was ook talle van ons vrae wat onbeantwoord gebly het…

Dis natuurlik nie regverdig om ‘n enkele, bloedjong lid van die LDS voor stok te kry oor die leerstellings en gebruike van haar kerk nie. Dié soort vraag-en-antwoord-sessie sal baie meer sinvol wees as dit met die Lewende Profeet (die hoof van die LDS, wat deur God homsélf as profeet geroep is) of met een van sy twaalf Apostels, gevoer kan word. Maar as Sister Wentzel in amper ‘n jaar se tyd nog nie eers één van dié here in lewende lywe gesien het nie, het ek as inkommer géén kans om my óóit in hulle teenwoordigheid te bevind nie.

Ons is uiteindelik daar weg, elk met ‘n kopie van The Book of Mormon onder die arm – ‘n persent van Sister Wentzel af. Sy het ons báie vriendelik gegroet, en as ‘n afskeidswoord het sy dit uitdruklik gestel dat sy dit báie geniet het dat ons so baie vrae gevra het. En dat dit vir haar héérlik was om weer Afrikaans te kon praat.

En toe ons so wegstap, en ek terugkyk oor my skouer na waar sy nog voor die LDS-Tempel staan, was daar maar een gedagte wat deur my kop bly maal het: “Jissie Sissie Wentzel, jy is darem maar vér van Magaliesburg af weg…”

****************************************

Twee dae later het ek ‘n e-pos ontvang van missionaries@mormon.org:

Hi Brother Fanie,

We love to refer to you as brother because we are all children of God. :-) How are you today?

We are so excited to hear about how your book of Mormon reading is going. We really know that this is an incredible book which was brought forth by the power of God. We also know that God and Jesus Christ appeared to Joseph Smith and now he has brought back the same church of Jesus Christ that was once on the earth, and you really can find peace and true happiness – your life can be filled.

We are not perfect teachers but we will love to help you on your journey to finding the truth. Let us help you.

We look forward to hearing from you.

Sisters Wentzel and Chaiyapat

****************************************

Ons het ons darem nie nét met religieushede opgehou nie. Nét buite Salt Lake City lê die Great Salt Lake – ‘n reusagtige, sóút meer. Ons het laatmiddag daar gaan aandoen, en dít, soos almal weet, is die beste tyd om foto’s te neem. En is ek nie beloon nie! Die foto’s wat ek daardie middag geneem het tel sonder twyfel onder my gunsteling-foto’s van my hele roadtrip tot dusver.

 

 

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

  1. Madé Hugo sê:

    Fanie, kan mens na die wonderlike Mormoonse Tabernakelkoor gaan luister in die tempel? Of self net na die orrel? Het iewers gelees hulle laat net Mormone in die tempel self toe.

Laat 'n boodskap na Fanie Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.