Die ANC in ballingskap: ‘n bondige oorsig, 1960-1990

14. ANC

Die African National Congress (ANC) is kort na die Sharpeville-massamoord, op 30 Maart 1960, tot ‘n verbode organisasie verklaar. Eers op 2 Februarie 1990 het president F.W. De Klerk die ANC ontban, wat beteken dat die ANC vir 30 jaar hul doelwitte in ballingskap moes nastreef.

Gedurende hierdie tydperk het die ANC ‘n gewapende stryd deur middel van hul militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), gevoer in ‘n poging om die NP-regering en hul blanke kiesers te ontsenu en sielkundig te knou. Volgens Oliver Tambo was die hoofdoelwit van die ANC nie om ‘n militêre oorwinning te behaal nie, maar eerder om die NP-bewind na die onderhandelingstafel te dwing. In hierdie verband was die diplomatieke offensief wat die ANC gevoer het, onontbeerlik. Die oplading van die wêreldmening teen die NP-bewind sou internasionale isolasie meebring en onderhandelinge bespoedig. Verder het die ANC daarin geslaag om, ten spyte van hul bannelingstatus, bande te smee met wettige organisasies binne die grense van Suid-Afrika, wat meegebring het dat hul ledetal, sowel as hul aansien as vryheidsorganisasie, merkwaardig toegeneem het. Tussen die jare 1960-1990 het die ANC weliswaar nie ‘n perfekte politieke veldtog teen die apartheidsregering gevoer nie, maar hul doelwitte is desnieteenstaande suksesvol nagestreef.

Die ANC het ná sy verbanning sy hoofkwartiere buite Suid-Afrika gesetel, vanwaar gepoog is om politieke en ander vorme van steun te werf, voorsiening vir militêre opleiding te maak, en strategieë te ontwikkel vir die infiltrasie van Suid-Afrika. Kantore is gevestig in onder andere Dar-es-Salaam (wat een van die belangrikste fokuspunte van bannelingaktiwiteite geword het), Londen, Kaïro, Akkra, Algiers en New York. Teen die 1980’s was die ANC verteenwoordig in 32 lande.

Die internasionale diplomatieke veldtog, onder die leiding van Oliver Tambo, het effektiewe vooruitgang getoon. Die ANC het toegang verkry tot die Verenigde Nasies en het fondse en hulpbronne bekom van die Oosbloklande, Afrika en die Skandinawiese lande. In Brittanje was die ANC saam met belangrike figure van die Britse Arbeidersparty betrokke by die stigting van die Anti-apartheidsbeweging, en ten spyte van die amptelike standpunt van Margaret Thatcher, was daar gedurende die 1980’s aansienlike kontak agter die skerms tussen ANC-verteenwoordigers en Britse amptenare.

Sedert die aanvang van die ANC se tydperk in bannelingskap, was hul aangewese op hulp uit die lande van die Warskou-verdag. Deur middel van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) was die bande tussen die ANC en Moskou vanuit die staanspoor baie heg, en Sowjet-hulp het gekom in die vorm van politieke propaganda, diplomasie en onderwys, sowel as militêre opleiding en wapentuig. Onder nie-kommunistiese lande was Swede en Noorweë van die eerste regerings wat die ANC as ‘n legitieme beweging erken het, en kon daar deurentyd op finansiële en ander hulp vanuit dié oord gereken word.

Pogings is ook aangewend om Suid-Afrika binne die internasionale gemeenskap te isoleer, en ‘n belangrike wapen wat hiervoor ingespan is, was boikotte en sanksies. Uiteenlopende boikotveldtogte op alle terreine, waaronder handelsbetrekkinge, sportkontakte en akademiese verhoudinge, het die lewe vir blanke Suid-Afrikaners bemoeilik.

Die gewapende stryd het in 1961 ‘n aanvang geneem met die totstandkoming van MK (die spies van die nasie) onder leiding van Nelson Mandela. Die ANC het oorspronklik probeer om ondergronds binne die grense van die land te opereer, terwyl MK gefokus het op die vorming van selle met die doel om sleutelinstellings te saboteer. Deur die minimalisering van burgerlike sterftes, wat as moreel onregverdigbaar beskou is, het die ANC-leierskorps die rasse-polarisasie wat openlike oorlogvoering teweeg sou bring probeer vermy. Die eerste sabotasiehandelinge het plaasgevind op Geloftedag, 16 Desember 1961, en was gemik teen teikens soos elektrisiteitstorings, poskantore, Bantoe-administrasiepersele, tronke en spoorweginstallasies. Mandela is egter in 1962 gearresteer en in 1963 is ander sleutelfigure van die ondergrondse stryd op die plaas Lilliesleaf naby Rivonia gearresteer, en na ‘n opspraakwekkende hofsaak tot lewenslange gevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis. Teen die middel van die 1960’s wou dit by tye voorkom asof die gewapende stryd tot ‘n stotterende stilstand gekom het.

Die jaar 1976 was egter ‘n keerpunt. Soweto het ontplof, met onrus oor die hele land. Duisende Soweto-jeugdiges het oor die landsgrense gestroom, wat die ANC in ballingskap met mannekrag voorsien het. Opleidingskampe is in Angola, Tanzanië en Zambië gevestig, en MK het sy sabotasieveldtog teen strategiese teikens verskerp, en aanvalle op veiligheidspersoneel het toegeneem. In 1983 het MK burgerlikes begin teiken en bomaanvalle in besige strate in Pretoria (1983) en Durban (1984) uitgevoer. Die ANC se reputasie is nuwe krag gegee deur die toename in MK-aanvalle wat deur die nuwe groep rekrute moontlik gemaak is. Hierdie aanvalle was nie soseer gemik op die verwerwing van militêre oorwinnings nie, maar eerder om die NP-bewindhebbers se selfvertroue te skud en die ANC se reputasie te versterk. Die morele impak kon gesien word in die townships, waar die drapering van die ANC-vlag oor die kiste van gestorwe stryders ‘n algemene gesig geword het, en elke inval deur MK deur veral die jeug gevier is.

Die jare tagtig is gekenmerk deur die voortsetting van die gewapende stryd, maar is ook aangevul deur belangrike politieke inisiatiewe. Die hoofoogmerk hiermee was die mobilisering van die massas en die integrering van binnelandse verset in die program van die ANC. Die NP-regering se superieure verdedingingsmagte het volskaalse guerilla-oorlogvoering bemoeilik – veel meer so as wat die geval sou wees om protesaksies of stakings te organiseer. Die ANC het dus gepoog om bannelingpolitiek en binnelandse aksie te laat saamsmelt. Om hierdie doel suksesvol te kon bereik, was die ANC genoodsaak om nouer bande te smee met organisasies wat wettig binne die grense van Suid-Afrika werksaam kon wees – in die besonder die UDF en COSATU. Al het die ANC nie noemenswaardige militêre oorwinnings behaal nie, was hy in staat om die harte en siele van die mense in die townships te wen. Vir die regering was dit onmoontlik om die ‘gewapende propaganda’ van die ANC te beveg, en teen die middel 1980’s was dit duidelik dat die ANC se gewildheid, ten spyte van hul bannelingstatus, hoër as ooit was en dat hul in vele kringe as die antwoord op al Suid-Afrika se probleme beskou is.

ANC-gevangenes op Robbeneiland het ook daarin geslaag om politieke solidariteit te behou. ‘n Eie leierskorps inlsuitende Mandela, Sisulu, Mbeki en Raymond Mhlaba is daar gevestig. Gevestigde ANC-gevangenes was in staat om jeugaktiviste wat na 1976 in aanhouding geneem is, te inkorporeer, en talle voormalige gevangenes het ná hul vrylating weer hul gewig by die politiek ingegooi.

Die Nkomati-akkoord van 1984 en die gevolglike sluiting van MK-basisse in Mosambiek, het die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee gedwing om hul opsies in Junie 1985 by Kabwe in heroorweging te neem en daar is besluit om gebruik te maak van polities-militêre komitees, sowel as ontmoetings met diverse groepe Suid-Afrikaners. In September 1985 het ‘n groep besigheidsleiers ‘n vergadering met die ANC in Lusaka belê en verskeie opvolgvergaderings tussen die ANC en onder andere vakbondamptenare, kerkleiers, studente en besorgde Afrikaners het daarna gevolg in onder meer Dakar (Julie 1987), Munich (Oktober 1988) en Parys (Junie 1989). Die eerstehandse ondervinding van hierdie groepe het die negatiewe propaganda van die regering teengewerk en daartoe gelei dat onderhandelinge met die ANC gesien is as ‘n werkbare oplossing vir die politieke dooiepunt wat in Suid-Afrika geheers het.

Nelson Mandela is toenemend beskou as die spilpunt waarom die ANC gedraai het. In 1985 het Mandela P.W. Botha se aanbod om voorwaardelike vrylating van die hand gewys, wat sy statuur in die inernasionale arena verhoog het. Die regering het besef dat onderhandelinge met Mandela van kardinale belang was en na aanvanklike mislukte onderhandelingspogings tussen Mandela en Botha, was dit F.W. De Klerk wat die deurbraak kon maak wat uiteindelik tot die vrylating van Mandela en die ontbanning van die ANC gelei het.

Gedurende 1960-1990 het die ANC van buite die landgrense druk op die regering uitgeoefen. Die diplomatieke offensief het internasionale druk teen die bewind laat oplaai, terwyl die gewapende offensief ten doel gehad het om blanke kiesers te ontgogel, eerder as om volslae militêre oorwinnings te behaal. Teen die 1980’s het die ANC ook, met die hulp van wettige organisasies binne die landgrense, daarin gepoog om die land onregeerbaar te maak en daardeur is die statuur van die ANC as vryheidsbeweging verhoog. Vergaderings in die buiteland met belangrike meningsvormers binne die Suid-Afrikaanse raamwerk, het daartoe gelei dat die regering en sy kieserskorps besef het dat onderhandelinge met die ANC die enigste weg vorentoe was. Die internasionale statuur van Nelson Mandela en druk uit verskeie oorde, te danke aan die ANC se onverpooste pogings, het daartoe gelei dat president F.W. De Klerk die ANC in 1990 ontban het. Dis daarom duidelik dat die politieke opposisie ná die ANC se verbanning wel effektief was, aangesien die ANC daarin kon slaag om sy doelwitte suksesvol te bereik.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.