Jan Christian Smuts: die grootste Afrikaner van alle tye

15. Jan Smuts

Om in Londen se Parliament Square in brons verewig te word, voorveronderstel ’n merkwaardige lewe. Dis ’n sonderlinge eerbetoon wat tot op hede slegs drie buitelanders beskore was. Om dus ’n boorling van Riebeek-Wes, naby Malmesbury, op dié wyse neffens Winston Churchill uitgestal te sien, noop mens om nadere ondersoek in te stel na die man agter die standbeeld.

Jan Christian Smuts (1870-1950) was ’n fenomeen. Sóveel so dat sy mees omslagtige biografie uit twee volumes bestaan. Maar ten spyte van die oorvloed beskikbare leesstof oor sy lewe, blyk dit dat veral die jonger garde maar min van dié Afrikaanse reus weet. Soos dat hy, ná sy studies by die Universiteit van Stellenbosch, met ’n gesogte beurs aan die Universiteit van Cambridge studeer het. En dat Lord Todd, die Meester van Christ’s College, in 1970 die volgende te sê gehad het: “…in 500 years of the College’s history, of all its members, past and present, three had been truly outstanding: John Milton, Charles Darwin and Jan Smuts”. Vir die laaste twee jaar van sy lewe was Smuts boonop die Kansellier ook van dié toonaangewende universiteit.

Smuts wás akademies briljant. Vandaar sy bynaam ‘Slim Jannie’. Maar hoewel sy akademiese kwalifikasies in die regte was, was dit die natuurwetenskappe wat hom in só ’n mate gefassineer het dat die boek ‘Holism and Evolution’ in 1924, na jare se verfyning van dié idee, uit sy pen verskyn het. Die konsep ‘holisme’, wat tot vandag toe in verskeie wetenskaplike dissiplines toegepas word, is dus ’n breinkind van Smuts.

Hy het egter veel groter bekendheid verwerf as militêre leier en strateeg. Op ‘n jeugdige 31-jarige ouderdom het hy as Boere-generaal ’n kommando op gewaagde wyse diep die Kaapprovinsie in gelei, in ’n poging om ondersteuning vir die Boererepublieke onder die Kaapse Afrikaners teweeg te bring. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy die Suid-Afrikaanse magte tot ’n oorwinning oor die Duitsers in Suidwes-Afrika en Oos-Afrika gelei, en tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy as veldmaarskalk in die Britse Leër gedien.

Dis egter vir sy rol as politikus wat hy straks die helderste in die geheue sal voortleef. As minister in die Suid-Afrikaanse regering het hy verskeie portefeuljes beklee en het hy ook die unieke prestasie behaal om op twee afsonderlike geleenthede as Eerste Minister van Suid-Afrika te dien (1919-1924 en 1939-1945). Daarbenewens was hy tydens beide wêreldoorloë ’n lid van die Britse oorlogskabinet én hy was selfs vir ’n paar dae die waarnemende premier van Brittanje, toe Churchill besoek gebring het aan vegtende Britse soldate in die buiteland.

Smuts was weliswaar gesout in die kuns van oorlogvoering, maar sy deugde as vredemaker het ook wêreldwyd groot agting afgedwing. Na afloop van die Eerste Wêreldoorlog was hy ’n gematigde stem by die Versailles-vredesonderhandelinge en het hy die Geallieerdes (sonder sukses) gewaarsku teen die instelling van na-oorlogse maatreëls wat gebaseer sou wees op vergelding teen die Duitsers. Desondanks het hy tóg die Vredesverdrag van Versailles onderteken en was hy uiteindelik die enigste persoon om beide dié vredesooreenkoms, sowel as die een wat ná die Tweede Wêreldoorlog gesluit is, te onderteken.

Smuts was verder ’n grondlegger van die Volkerebond en was, saam met die Amerikaanse president Woodrow Wilson, verantwoordelik vir die ontstaan, ontwikkeling en implementering daarvan. Jare later was hy boonop die outeur van die inleiding van die handves van die Verenigde Nasies, die opvolger van die Volkerebond.

Uit bogenoemde feite was Smuts ooglopend ’n uiters begaafde man. En dít op verskeie terreine. Desondanks is hy deur talle van sy Afrikaner-tydgenote verag. Waarom dan so? Wel, die grootste beskuldiging teen hom was dat hy pro-Brits en anti-Afrikaner was. En pro-Brits dié was hy gewis. Maar anti-Afrikaner? Ek weet darem nie. In 1899 was hy immers ’n medewerker aan die boek “’n Eeu van Onreg”, wat deur die Boere as ‘n propaganda-instrument teen Britse koloniale vergrype gebruik is. En as Boere-generaal was hy onverskrokke en het hy op verskeie geleenthede byna gesneuwel.

Maar ná die oorlog het Smuts wel ’n beleid van rekonsiliasie voorgestaan. Anders as die eng Afrikaner-nasionalistiese leiers van sy tyd, wat die Afrikaner wou laat laertrek, het Smuts ’n prominente rol in die Britse Statebond vir ’n verenigde Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. En hoewel dié toekomsverwagting hom die gramskap van ’n groot groep Afrikaners op die hals gehaal het, kan daar geargumenteer word dat indien Smuts se visie volbring kon word, Suid-Afrika vandag dalk die eweknie van Kanada en Australië kon wees.

Verder het Smuts met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, in sy amp as Minister van Verdediging, die geallieerde poging ondersteun. Vir baie Afrikaners, vir wie die Boereoorlog nog vars in die geheue was en wat in ieder geval meer in gemeen met die Duitsers as met die Britte gehad het, was dié besluit gelykstaande aan hoogverraad en dié onvergenoegdheid het uiteindelik tot die Rebellie van 1914 gelei. Ook in die jare ná 1939, na aanleiding van Smuts se teenkanting teen die Nazi’s, het die Ossewa-Brandwag en hulle paramilitêre vleuel, Die Stormjaers, ’n sabotasieveldtog teen Smuts se regering van stapel gestuur. In beide gevalle het Smuts uiteindelik die botoon gevoer, maar nie voordat dat sy reputasie onder Afrikaners ’n knou sou kry nie.

Alhoewel Smuts nooit ’n voorstander van onvoorwaardelike rasse-integrasie was nie, het hy ná die Tweede Wêreldoorlog, in pas met die wêreldwye neiging, groter erkenning vir die status van alle rasse ondersteun. Hy het steeds segregasie onderskryf, maar hy het Apartheid as beleid verwerp. In die algemene verkiesing van 1948 het die Afrikaners egter vir Smúts verwerp en hulle heil by die Nasionale Party gaan soek. Dr. D.F. Malan is tot die hoogste regeringsamp verkies, Apartheid het amptelike regeringsbeleid geword en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Al het baie Afrikaners hom as antagonisties jeens Afrikanerbelange beskou, was Jan Smuts ’n visioenêr. Dink net hoe die Suid-Afrika van 2012 kon lyk indien ons wél die witbroodjie van die Empaaier kon wees. En as ons wél die Duitsers tydens die Wêreldoorloë ondersteun het? Waar sou ons dán gewees het? En sê nou net ons kon reeds in 1948 begin het om rasse-integrasie geleidelik in te stel, eerder as om die Apartheidspad te stap. Hoe sou Suid-Afrika vandag daar uitgesien het?

Dis daarom nie net sy intellek, of sy staatsmanskap, of sy militêre vaardighede wat regmerkies verdien nie. Dis Smuts se versiendheid wat hom myns insiens Die Grootste Afrikaner van Alle Tye maak. En te oordeel aan die nege-en-twintig eredoktorsgrade van universiteite van regoor die wêreld, en die agttien stede wat aan hom die vryheid van hul stad toegeken het, staan ek nie alleen in my oortuiging nie. Maar die feit dat hy, ’n boerklong, die Britse jingo’s van die vroeë 20ste eeu in só ’n mate kon beïndruk dat hulle vir hom ’n standbeeld in hul heiligsvierkant laat oprig het, is, wat my betref, onomstootlike bewys dat sy grootsheid nie bloot aan my vooroordeel toe te skryf is nie, maar dat hy waarlik, ook in die oë van die res van die wêreld, die grootste Afrikaner van alle tye was.

Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.