PW Botha se interne hervormings na aanleiding van die Soweto-opstande van 1976

13. PW Botha

Die Soweto-opstande van 1976 het gelei tot ‘n kettingreaksie van opstande regdeur die land wat tot die middel-1980’s geduur het. Na aanleiding van hierdie opstande het P.W. Botha ‘n aantal interne hervorminge aangekondig wat die beveiliging van rassesegregasie onder blanke beheer in Suid-Afrika ten doel gehad het…

Ná die Soweto-opstande in 1976 het plaaslike, sowel as internasionale druk op die NP-regering se beleid van rassesegregasie met rasse skrede toegeneem. As teenvoeter vir hierdie ‘totale aanslag’ het President P.W. Botha vorendag gekom met ‘n ‘totale strategie’, uitgelê in die vorm van ‘n 12-punt plan, waardeur Suid-Afrika se vyande die loef afgesteek moes word en hy sy muishond-status sou afskud. Volgens Botha was ‘aanpas of sterf’ die enigste uitkoms wat rassesegregasie onder blanke beheer in Suid-Afrika in die gesig gestaar het. Daarom het hy tussen 1979 en 1986 ‘n beperkte aantal politieke, administratiewe en konstitusionele hervorminge deurgevoer met die oog op die handhawing van die status quo.

Dit was vir die Botha-regering van kardinale belang om ‘n sterk swart middelklas, in veral die stedelike gebiede, te vestig. Só ‘n stap sou dien as ‘n “verskansing teen revolusie”. In die jare onmiddellik ná Botha se besoek aan Soweto in 1979, is veel groter befondsing bewillig vir swart behuising en onderwys, terwyl swart vakbonde amptelike erkenning ontvang het na aanleiding van die voorstelle wat deur die Wiehahn Kommissie in 1979 gemaak is. Die regering was verder gretig om weg te doen met ‘klein apartheid’ en gevolglik is swartmense toegelaat om beter besoldigde betrekkinge te beklee, en is hulle ook in staat gestel om ‘n 99-jaar pag op eiendom bekom.

In 1979 het Botha aangekondig dat die struktuur van die staatsdiens hersien sou word. Die aantal regeringdepartemente sou verminder word in ‘n poging om beleidsimplementering meer vaartbelyn te maak, maar die mees prominente administratiewe hervorming was die aansienlike afskaling van die voormalige Departement van Bantoe-sake.

Een van die steunpilare van die ‘totale strategie’ was konstitusionele hervorming. Teen 1986 is instromingsbeheer en paswette afgeskaf en vervang deur ‘n beleid van ‘ordelike verstedeliking’. Blanke werksreservering is afgeskaf, terwyl Suid-Afrikaanse burgerskap terugbesorg is aan daardie swartes wat in Suid-Afrika gebore is voordat die tuislande hul onafhanklikheid verwerf het.

Die mees radikale konstitusionele hervorming het egter in 1983 gestalte gevind met die instelling van die Driekamerparlement, bestaande uit blankes (Volksraad), Kleurlinge (Raad van Verteenwoordigers) en Indiërs (Raad van Afgevaardigdes). Hierdeur is die reg op selfregering van die verskillende bevolkingsgroepe onderskryf, maar die feit dat swartmense op geen verteenwoordiging kon staatmaak nie, het gelei tot ‘n groot mate van teenstand teen die Driekamerparlement, veral vanuit swart geledere.

Op plaaslike vlak is wel voorsiening gemaak vir groter bemagtiging van swartes deur die instelling van swart munisipaliteite in 1982. In 1987 en 1988 is Streeksdiensterade (SDR) ook ingestel,  maar in die praktyk het blanke munisipaliteite egter volle beheer oor SDR’e gehad.

Die politieke, administratiewe en konstitusionele hervormings van die Botha-regering tussen die jare 1979 en 1986 wás inderdaad radikaal en het meegebring dat anderskleuriges in Suid-Afrika groter geleenthede, sowel as groter vryhede beleef het as tydens enige voorafgaande tydperk in die geskiedenis. Botha was egter nie van voornemens om swartmense te akkommodeer in die blankes se politieke stelsel nie, en die meerderheid van die bevolking was uitgesluit uit die regering se hervormingsprogramme. Dit was daarom duidelik dat Botha, ten spyte van sy hervormings, deurentyd die beskerming van volgehoue rassesegregasie onder blanke beheer in Suid-Afrika as doel voor oë gehad het.

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.