Oor shows, induksies en kontraksies

1 Oor shows

So, my vrou is op die paal. Hóóg op, om die waarheid te sê. Sóveel so dat ek hierdie sit en tik in die kraameenheid van die St. Helier’s Hospitaal. Die induksiepil is geplant, en nou wag ons vir daai bad boy om sy ding te doen. Ai, dat ‘n enkele druppel piepie darem maar my lewe so op sy kop kon keer…

Natuurlik was ek verheug oor die dik pienk strepe op die Clearblue Home Pregnancy Kit. Ons het, in bykans agt jaar se getroude lewe, nog nooit akief probéér om ‘n baba te maak nie, en vir al wat ek geweet het was ek nog deurentyd besig om blanks te skiet. Die nuus dat ek een verby die goalie gekry het was dus ‘n welkome bevestiging van my viriliteit, en kon ek voortaan welverdiend die woorde ‘eersterangse stoetbul’ in hakies agter my naam op my CV aanbring.

Wat my petite vroutjie betref: sy het voor my oë die mees verstommende metamorfose ondergaan. Teen die 5-maande kerf was ek oortuig dat sy uiteindelik soos ‘n opgeblaasde chirurgiese handskoen sou lyk, maar daardie vrees was ongegrond. Vandag lyk sy bloot soos ‘n luislang wat ‘n skaap vir middagete verorber het (!) en nee, sy reageer glád nie gunstig op die troetelnaam ‘my klein Boeddha’ nie.

Onthou jy daardie speelpoppe uit die 1980’s – daais wat hulle doeke binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde natmaak nadat hulle water gevoer word? Húlle moes sweerlik almal preggies gewees het, want ek staan nog steeds verbysterd voor die frekwensie van vroulief se toiletbesoeke. Oggend, middag, aand, nag – die hééltyd man! En dan is daar die cravings…alhoewel ek ‘n spesmaas het dat haar sogenaamde sjokolade- en roomyscravings eintlik maar net kwalik bedekte pogings is om toegang tot ‘n onbeperkte hoeveelheid van dié lekkernye te verseker. Die klein skelm.

Ekself het ook ‘n transformasie van soorte ondergaan. In die verlede, wanneer ‘n mamma en haar baba by my verby sou rol, sou dit beslis die mamma gewees het wat my oog sou vang. Deesdae is dit egter die stootwaentjie wat my aandag trek. Vra my gerus uit oor ‘n Bugaboo, ‘n Quinny of ‘n Maxi Cosi, want ek is nou ‘n bewese kenner daarvan.

Verder het my woordeskat ook ‘n indrukwekkende bloeiperiode beleef. Só het ek byvoorbeeld die volgende ontdek: ‘n ‘show’ is nie alleenlik iets wat in ‘n West End-teater opgevoer word nie; ‘induksie’ hou nie noodwendig verband met jou eerste dag by ‘n nuwe werk nie; ‘serviks’ is nie die vroulik van ‘servant’ nie en, les bes, is ‘kontraksie’ beslis nie die verkleinwoord van ‘kontrak’ nie.

En hier staan ons nou op die drumpel van die mees lewensveranderende gebeurtenis denkbaar. Ja, die laaste nege maande was ‘n uitdaging, maar terselfdertyd ook vol jolyt – ek het immers elke naweek by verstek ‘n designated driver gehad!

Maar wag, ek moet skiet. Daai angsbevange gilletjie kan net een ding beteken – my klein Boed…ag ek bedoel my liefste vroutjie, se kontraksies is hier. Asem in, asem uit, asem in, asem uit…

*Hierdie inskrywing het in Mei 2011 as ‘n rubriek in The South African verskyn.

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.