Oor die praatpret van ’n peuter

13 Oor die praatpret

Ek het maar pas ontwaak daardie Saterdagoggend. Deur talmende slaapnewels het die huisgeluide na my toe aangesweef gekom. Uit die aangrensende vertrek het die trippe-trappe van klein voetjies opgeklink, algaande nader beweeg en uiteindelik by my voetenend tot stilstand gekom. ’n Handjie het om my groottoon gesluit, dit ’n paar keer heen en weer gewikkel en toe, onverwags, het hy dit gesê – die mooiste, móóiste woord: ‘paaapaaa’. Oukei, om doodeerlik te wees het dit meer soos ‘pawpaw’ geklink, maar ek lê dié misstap vierkantig voor die deur van sy ouers se Pretoria-aksent, eerder as om te aanvaar dat ons Ben dalk sy pa met ’n tropiese vrug verwar het.

‘Pappa’ was egter nie die eerste ontsyferbare woord wat oor daardie kostelike lippies gekom het nie. Vir ’n geruime tyd al was hy in staat om verstaanbare klankreekse voort te bring, waarvan ‘mamamamama’ die eerste aan die beurt was. En dit was goed. En rein. En ’n gepaste beloning vir sy mammamma wat tog só baie vir hom doen. Die twééde klankreeks waarvoor hy ’n slag getoon het, het my egter met afgryse vervul. Watter baba, wat nie op die Kaapse Vlakte grootword nie, loop immers die huis vol met ’n onkuise ‘nainainainai’ wat uit sy keeltjie verrys? Gelukkig het dié tendens net vir ’n dag of wat geduur.

Vervolgens, tot sy sportmal pa se matelose trots, het die woord ‘bal’ gereeld uit sy mondjie begin kom. Dit het aanvanklik geblyk dat hy verstaan dat ’n bal ’n ding is wat geskop en gehop kan word, maar deesdae word daar na enigiets met ’n sferiese vorm as ‘bal’ verwys. Van ’n appel, tot die maan, tot ’n man met ’n bleskop. En dis eintlik ook nie eers bál nie, dis meer van ’n uitgerekte ‘baaaaal’. Ek kan maar net hoop dat hy hom nie só beroep op daai Kanaänitiese god met wie Elia by die Berg Karmel afgereken het nie.

Behalwe vir ‘baaaaal’, is die enigste ander woordjies wat hy tans met redelike bedrewenheid kan uiter, ‘kaaaaar’, ‘trrrrrrein’ en ‘koeeee-kieee’. Maar ondanks die huidige beperkte omvang van sy woordeskat, is ek en sy ma tóg heel ingenome daarmee dat hy sy eerste paar woorde in Afrikaans kon uiter. Dis vir ons ’n saak van belang dat hy Die Taal moet kan besig en ek het myself heimlik ’n ligte kloppie op die skouer gegee oor dié rooskleurige stand van sake…totdat ons hom die dag by sy skool gaan oplaai en sy juffrou met groot fanfare aankondig dat “…considering it’s not spoken at home, Ben is showing a wonderful aptitude for the English language, since he regularly uses the words ‘ball’, ‘car’, ‘train’ and ‘cookie’ in conversations with his peers”. Ja Juffrou, nes jy wil, maar soos ons in onbetwisbare Afrikaans sê: NONSENS!

Moet egter nie glo dat die beperkte aantal verstaanbare woorde in sy arsenaal hom daarvan weerhou om ellelange monoloë teen ’n oorverdowende volume te voer nie. Inteendeel. Dis ’n gúnsteling-aktiwiteit. En dis eintlik nogal cute, behalwe wanneer dit die dialoog van ’n spannende fliek uitdoof. Of die nuuslesers soos mimiekkunstenaars laat lyk.

Ek verkies egter enige dag dié luide gebrabbel bo volkome stilte. Volkome stilte is ’n slegte teken. Want volkome stilte beteken dat hy met ’n onhebbelikheid besig is, soos om met vetkryt teen ’n muur te krap, room aan die mat te smeer of sy ma se grimering in die toilet te ‘bêre’.

En daar het jy dit. Die baaaaal is aan die rol. Ons peuter is aan die gesels. Nou sien ek net uit na die dag wanneer hy die mooiste, móóiste woord in die mooiste, móóiste sin sal gebruik. Ja, hopelik sal hy eersdaags na my toe draai, na my kyk of dit die eerste keer is dat hy my sien, en dié wonderwoorde uiter: ‘Pappa, ek is lief vir jou’.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.