Oor die waarde van negehonderd pond

12 Oor die waarde van...

Negehonderd pond is weliswaar nie ’n wondermiddel waarmee jy die mees onversetlike finansiële kwellinge ’n nekslag kan toedien nie, maar dié bedrag bly aardig en kan op velerlei nuttige maniere ingespan word. Soos om jouself die eienaar van ’n MacBook Pro te maak. Of om ’n seisoenkaartjie vir Stamford Bridge aan te skaf. Of om The Savanna van digby die 2,000 boereworsrolle te verlos en jou tot in lengte van dae aan worsbroodjies te vervreet. As jy nou regtig wil.

Maar ék slaan deesdae in ’n koue sweet uit by die gedagte aan negehonderd pond, siende dat dít die bedrag is wat ek elke maand uit my beursie moet skud sodat ons vyftien maande-oue spruit ’n ingeskrewe leerling van ons plaaslike kleuterskool kan wees. En dít vir ’n skamele drie dae per week.

Vir die samesweringsteoretici onder ons: ‘ons plaaslike kleuterskool’ beteken presies dít. Dis nie ’n eufemisme vir Die Klein Duimpie Skool vir Hoogsbegaafde Babas nie. Ons Ben word nié deur vermaarde Tibettaanse monnike in die geheime wonders van Zen onderrig nie. En hy sal nié binne die afsienbare toekoms kan vlieg, homself onsigbaar maak of gedagtes kan lees nie. Inteendeel. Die Eveline Day Nursery is ’n gewone skool, met gewone onderwysers, vir gewone kinders. Daar is kinderkuns teen die mure en daar is speelkamers met speelgoed vol liggies en klokkies en hefbome en tollende prentjies – ’n droom vir ‘n baba, maar allig ’n nagmerrie vir ’n gerehabiliteerde dobbelverslaafde.

Ons kry egter tóg waarde vir ons geld met dié dat Ben daagliks met sy tuiskoms deur ’n gedetailleerde boekstawing van sy dag se doen en late vergesel word. Daardie eerste aand was ons die verpersoonliking van ouerlike trots toe ons op die rusbank stelling ingeneem en sy rapportjie getakseer het. Maar hoe verder ek gelees het, hoe hoër het my bloeddruk gestyg: “Ben had a lovely day…bla-bla…interacted well…bla-bla…and thoroughly enjoyed playing with the dolls” WAT? MET DIE POPPE? MY SEUN? Dit sou uiteraard nie deug nie en ’n dringende versoek aan die hoof het tot ’n welkome moratorium op popspeel gelei. Of eerder op die rapportéring van sy popspelery. Want wat die oog nie sien nie…

Intussen is ’n belangrike mylpaal op die baba-ontwikkelingskaal bereik, want sien, Meneertjie het begin loop. Eers was dit ‘Die Vliegtuig’ – huiwerige treë, met sy arms horisontaal langs hom uitgestrek, soos ’n hoogs bedrewe sirkusarties. Later het ‘Die T-Rex’ gevolg – kort, vinnige treëtjies met sy armpies ingetrek tot teenaan sy bors. En hopelik is ‘Die Mens’ nie te ver op die horison nie, want nog één kopstamp teen ’n kosyn of iets dergliks en permanente breinskade sal sy onvermydelike lot wees. Die arme kind het in sy kort bestaan al meer kopstampe as Bakkies Botha uitgedeel, en hy kom byna daagliks tuis as die ewebeeld van ’n Bonsmarakalf wat se horings gereed is om deur die vel te bars. Maar my hemelhoë skoolfondsrekening ten spyt, val my desperate pleidooie om hom met ’n skrumpetjie skool toe te stuur steeds op dowe ore. Ai.

Nou kyk, dis ’n pyniging om elke maand vir negehonderd pond koebaai te waai. Regtig, dit is. Maar stoomroller ’n MacBook Pro uit onverbloemde opgewondenheid sy maatjies uit die pad wanneer jy hom smiddae by die skool gaan haal? Nee. En gee ’n Stamford Bridge-seisoenkaartjie jou ’n spoegbeksoen wanneer jy dit die minste verwag? Nee. En worsrolletjies? Kom kielie hulle jou tone wanneer jy op ’n Saterdagoggend probeer inlê? Nogmaals nee.

En daarom, ten spyte van my ingeduikte bankbalans, voel ek ryk, gerus in die wete dat ek veel armer sou wees as geld my enigste besitting in die lewe was.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.