Oor Limpôpô: die pôpôl van Suid-Afrika?

Limpøpø

Vat die N1 in ‘n noordelike rigting uit Pretshwane, en dit neem jou nie lank om daar te kom nie. Wanneer tolhekke met gerusstellende reëlmaat voor jou begin opdoem, en jy omring word deur wetsgehoorsame padgebruikers, is jy op die regte pad. Wanneer dit begin wemel van padwaardige voertuie wat ’n wettige aantal insittendes karwei, is jy naby. En wanneer die roetewysers eers wêreldbekende name soos Mookgopong, Modimolle en Mokopane begin vertoon, het jy gearriveer. Welkom in Limpôpô!

Wat mens dadelik opval, is die jukstaposisie van die arbeidsaamheid van die Limpôpôane. Aan die een kant het jy die werkgierige, smetlose staatsamptenare en tenderpreneurs – deugsame mans en vroue wat alles in die stryd werp om van hul provinsie ’n baken van vooruitgang en skoon regering te maak. Lynreg teenoor dié groep staan die kreperende gepeupel – werksku leeglêers, wat met hul veragtelike aandrang op sosiale toelaes meebring dat al die goeie werk van die agbare premier, Cassel Mathale, tot niet gemaak word. Sóveel so dat Limpôpô se regering verlede week bankrot verklaar, van alle uitvoerende magte gestroop en deur die nasionale regering oorgeneem is. Ai, armlastige, nikswerd mense darem maar.

Op ’n meer positiewe noot: Limpôpô is die laaste beskawingsvesting voordat Donker Afrika sy skadu oor jou gooi. Die infrastruktuur is wêreldklas, met veral die gebrek aan slaggate wat ’n regmerkie verdien. Rommel word geplaas waar dit hoort – in asdromme – en word nie sommer goedsmoeds langs die pad gestrooi nie. Misdaad bestaan wel, maar dit behels gewoonlik onbenullighede, soos die aanbring van graffiti onder brûe, of die vaslê van vrugte uit vrugteboorde.

Op die platteland, soos in die stede, vind jy gemeenskappe wat moeiteloos die oorgang na die Nuwe Suid-Afrika gemaak het. Wit en swart aanvaar mekaar sonder slag of stoot, en dra passievol mekaar se belange op die hart – ware sierade van die reënboognasie, en ongetwyfeld die Aartsbiskop se witbroodjies.

By die meeste plaasingange word die plaasnaam sorgvuldig in sierskrif aangebring. Die fyn sin vir humor waarvoor Limpôpôane alom bekend is, skemer deur in die suggestie wat in dié name verskuil lê – iets wat moelik deur buitestanders gesnap word. ‘Kromdraai’, ‘Soetwater’ en ‘Moeg Getrek’  is nie sommer arbitrêre name wat lukraak aan lappies grond gegee is nie, hoor. Daardie name is met ‘n stoute vonkel in die oog aan daardie plase gegee!

In Bosveldkroeë word vreemdelinge sonder ’n greintjie agterdog bejeën. Nuwelinge in die kontrei word hartlik verwelkom en byna oombliklik in die binnekring van die drinkebroers toegelaat. Of jy nou geklee is in die Bosvelduniform van kakiehemp, PT-broek en rugbykouse, of nie. Inteendeel, sou jy jou in een van dié watergate begewe met ’n byderwetseT-hemp aan, veral een met die gesig van ’n ANC-vryheidsvegter daarop afgeëts, is jy so te sê gewaarborg van ’n dubbele brandewyn-en-Coke op die huis.

Die skoner geslag is ook altyd die res van die modewêreld ’n tree voor. Só het die gier om sonstrepies in soveel moontlik skakerings aan jou haredos aan te bring, byvoorbeeld sy oorsprong in Limpôpô gehad. Om te wil beweer dat dit die draer daarvan soos ’n gespikkelde houtkapper laat lyk, kan aan doodgewone afguns toegeskryf word.

En dan is daar Bosveld Stereo – ’n radiostasie wat die mees nuwerwetse Afrikaanse musiek oor sy senders die wêreld in stuur. Te danke aan Graat Pelser en sy span omroepers kan mens jou daagliks verluister aan die treffers van gróót geeste uit die Afrikaanse musiekwêreld, soos Truida Truter, Kleinjan ‘Die Yster’ Jordaan en selfs Pypkan Pelser en die Plaaspompe.

Die snedige verwysings na Limpôpô as ‘die pôpôl van Suid-Afrika’ is dus ongevraagd en onnodig minagtend, en dit spreek van skreiende oningeligtheid. Die haters behoort hulle gifpyle te bêre en behoort eerder hulle kritiek te spaar vir Mamparralanga – Suid-Afrika se éintlike wanfunksionele provinsie.

Januarie 2012

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.