Oor name, vanne, diere en dorpe

oor name, vanne

‘n Vooraanstaande dramaturg het eenkeer gevra: “What’s in a name?” En hoewel ek my repliek in ‘n noukeurig geformuleerde sonnet kan lewer, regverdig die eenvoud van die antwoord dit nie.

Baie. Daar skuil báie agter ‘n naam. Veral as jy ‘n Afrikaner in Engeland is.

Die geneukery met myne het sommer kort na my aankoms in Haar Majesteit se koninkryk ‘n aanvang geneem. Die dametjie agter die toonbank by Barclays Bank het my rekeningaansoekvorm met ‘n groot glimlag in ontvangs geneem, maar ten aanskoue van my naam in my paspoort het dit vinnig plek gemaak vir ‘n diep frons. Háár frons was egter ‘n onbenullige rimpeling in vergelyking met die een op mý voorkop, toe ek sowat ‘n week later die bevestiging ontvang dat ek die trotse eienaar is van ‘n current account – in die naam van ‘Miss Fanny van der Merwe’. Dit het skokgolwe deur my sisteem gestuur, maar die finale seël op my naamprobleem is eers ‘n paar dae later geplaas, toe ‘n eiendomsagent, tydens ‘n voorafgereëlde ontmoeting, my vrou bestorm en haar uitbundig groet met “hello, you must be Fanny!”

Om jou naam te sien skade ly is nog een ding, maar wanneer die verkeerde uitspraak na onder die belt toe mik is dit eenvoudig onfatsoenlik, en dán moet ‘n man jou voet begin neersit. Geen Engelsman sal immers daarmee gediend wees om as ‘Koekie’ bekend te staan nie.

Die netelige kwessie rondom my voornaam is reeds traumaties genoeg, maar my van bly boonop óók nie gespaar nie. My trotse familie-erfenis is reeds male sonder tal verrinneweer, maar die algemene uitspraak van keuse blyk ‘Vên duh Murh’ te wees. Daarom het ek besluit om sommer Van der Meer te word. Vên duh Meer. Totdat ‘n kelner my die dag in kennis stel dat die tafel vir vier gereed is. Vir mister Vladimir.

Somtyds is dit ‘n beter strategie om die Bleekbeen-naamverkragters in ‘n groep voor te lê. Ek, Willie Jonker en Pieter Kok stel byvoorbeeld graag oor naweke ons vaardighede ten toon by ons plaaslike krieketklub, maar die opponerende kaptein is nooit te danig beïndruk wanneer hy ons toporde in sy tellingboek moet aanteken as ‘Fanny, Willy and Cock’ nie.

My enigste troos is dat ek nie die enigste een is wat my in die mynveld van die Afrikaanse naam bevind nie. Die Cilliers’s is nou al gewoond daaraan om Silly Ears te wees, terwyl dit vir die Rabies ‘n beproewing bly om ongesiens verby die ‘No Rabies’-bord by doeane te probeer sluip. Die Greeffs moes hulself al tot vervelens toe voorstel met: “Hi, I’m Mr. Grief. No relation to Mr. Happy or Mr. Grumpy.” En die gesin Buys? Wel, as die Engelse weergawe van hulle van as maatstaf moet dien, behoort hulle ‘n winskoop op ‘n myl te kan uitsnuffel.

En dan is daar Ockert, wat op onverklaarbare wyse in Engeland ‘Ockter’ geword het. Met daardie alias kan hy maklik ‘n rol in die volgende Star Wars-film losslaan. En Sarel? Wel, Sarel moet ook maar tevrede wees met ‘n silwerdoektema – hy staan deesdae beter bekend as ‘Zorro’. Anri loop deurentyd gevaar om verwar te word met ‘n Fransman genaamd Henri, en Rademeyer het sommer net Rad geword, wat gepas sou wees indien sy skaatsplank sy beste vriend was. Maar dit is nie.

Soms help dit om jou naam foneties te probeer uitlê, soos wat Johan gemaak het. ‘Yo’, soos in ‘yo my brother’ en ‘hun’, soos in ‘Attila the Hun’. En toe word hy sommer net ‘Attila’. En kom ons hou ook net ‘n oomblik van stilte vir die arme Marie-Frieda Slabbert, wat tot haar skok moes ontdek dat sy in Engeland Mary-Fried Slapper sou heet.

Maar wat, só rol ons maar, en met die verloop van tyd raak jy die naamvernielings gewoond. Deesdae gee ek regtig nie meer om wat mense my noem nie, solank dit nie met ‘n ‘d’ begin en met ‘n ‘s’ eindig, en twee vokale tussenin het nie…

Nee regtig, ek háát dit wanneer mense my ‘Dries’ noem. Fanny Vladimir? Ja dankie, véél eerder .

*Hierdie inskrywing het oorspronklik in 2013 as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

  1. Jean sê:

    My kamermaat was Fanie voor hy as uitruilstudent VSA toe is. Hy kom toe, baie cool, terug as Steve. Ek het eers later besef “Fanny” het vir hom te veel geraak in die States

    • Fanie sê:

      Haha! Wel, as jy daaroor dink, is ‘Fanie’ afgelei van die Romeinse ‘Stephanus’. Só ook ‘Stephen’/’Steven’. Met ander woorde Faan/Fanie/Faantjie = Steve/Steven/Stevie. :-)

  2. Dorea sê:

    My plat gelag – jy’s die beste om mens op ‘n droewige wintersoggend jouself sommer warm te lag !

    My Wessels van het veroorsaak dat die bode van Amazon twee keer weggestuur is toe hy vir ms Weasel kom soek het en dit nog met ‘n Skotse aksent

    Jare terug was ek in Amerika en soek toe ‘n kleiner handsak wat net ‘n beursie en passpoort kan vat, maar kon nie besluit nie.
    Sê die baie verfynde verkoops outjie dat ek ‘n fannypack moet oorweeg.
    Ja kan nou nie eintlik hier skryf wat deur my gedagtes gevlieg het nie 😳

  3. Sansunita sê:

    Dis absoluut die geval van mense spreek jou naam so dikwels verkeerd uit dat jyself al begin wonder of jy dit nog reg uitspreek.

  4. Francois sê:

    My pel Willie Scheepers is ook States toe. Soos jy sê word hy toe ook “Willy”. Nie baie ingenome daarmee nie doop hy homself toe maar “Skips” (skieps)

  5. Ella van Tonder sê:

    Ons kinders in Aus loop ook lekker deur. Ons seun is Louw se eerste e-posadres was lvantonder@venture.aus – elke keer as iemand bel wil hulle net Ivan Tunder praat. Raai wie het sy e-posadres verander….

  6. Nina Cilliers sê:

    My van, Cilliers, word hier in amerika baie keer uitgespreek as Chillers (ek is chill) en ook as Killers! Mrs Killers. Eendag het iemand my Mrs Ninja Killers genoem haha

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.