Oor ‘n Suid-Afrikaanse vakansie uit ‘n Chinese perspektief

8 - China vs SA

Nou ja. Vier weke, duisende kilometers, menige ete-afspraak, etlike brandewyne-en-Coke, veertien verskillende beddens (en ‘n sitkamerbank) later, staan ek nogmaals aan die einde van ‘n onvergeetlike vakansie in Suid-Afrika. En soos altyd, stel my status as expat my in staat om ‘n reeks objektiewe observasies op ‘n subjektiewe manier te maak.

Deur die loop van die afgelope paar weke kon ek dus die volgende onwetenskaplik-geformuleerde gewaarwordinge maak, en ek deel dit graag met wieookal mag belangstel:

 

  1. Biltong smaak beter as hoenderpote. Selfs ou, droë biltong, sonder enige vet aan die randjie, bly onmeetbaar meer smaaklik as die bes voorbereide hoenderpoot.
  2. Die Kaap is beter as Gauteng. Behalwe vir die weer. En die Gautrein. En die Blou Bulle. En die road rage. Die Gautengers het road rage waaragtig tot ‘n fyn kuns vervolmaak en behoort krediet gegee te word vir hierdie sonderlinge prestasie.
  3. Die meeste Suid-Afrikaners se kennis oor China strek ewe ver as die meeste Chinese s’n oor Suid-Afrika. En met ‘ver’ bedoel ek eintlik ‘naby’. En met ‘naby’ bedoel ek eintlik ‘feitlik niks’.
  4. Om tyd in die geselskap van Boeddhiste deur te bring, is ‘n wonderlike, verrykende ondervinding. Maar tóg hap dit nie eers aan die hakke van ‘n kuier met Boerdiste nie.
  5. Die woord ‘moer’ het nou onteenseglik sy plek in die Afrikaanse leksikon ingeneem. ‘n Bewys hiervan het ek in die Kaap gevind, toe ek om aanwysings gevra het en meegedeel is dat: “nei meneer, nou’s djy in djou se moer in”. ‘n Verdere bewys het in Pretoria gevolg, toe my opmerking aan ‘n petroljoggie oor die astronomiese koste van petrol begroet is met “yebo, eish, ês moerduur darrie een”. En dan was daar ook die op-die-oog-af-statige-tannie in Rustenburg se Dis-Chem wat my goedgunstiglik daarop gewys het dat dit wys sou wees om eerder die peppermentgeur Sensodyne aan te skaf, synde die neutrale geur ‘moersleg’ sou wees.
  6. In Suid-Afrika storm die luiperds en buffels deesdae met ‘n veel doller vaart uit jou beursie as wat hul eweknieë in die Krugerwildtuin voor die geweerloop van ‘n wildstroper doen.
  7. Ten spyte van die reputasie wat Afrika-mans vooruitloop, blyk dit dat daar tóg ‘n beduidende hoeveelheid van hulle bestaan wat hulle bedeeldheid geringskat. Dís nou as die tallose advertensies vir penisvergrotings op kragbokse in Johannesburg se middestad as ‘n geloofwaardige aanduiding kan dien.
  8. As ek oor enige entrepreneursinstink of –vaardighede beskik het, sou ek sonder twyfel ‘n onderneming gestig het wat troeteldiereienaars as hul teikenmark uitgesonder het. In Suid-Afrika sal dít immers meebring dat élke huishouding in die land by jou teikenmark ingesluit word. Dit was waarlik ‘n kleinood om die ongebreidelde liefde tussen troeteldier en baas te kon aanskou…só anders as in óns geooste, waar honde en katte vermoedelik geteel word met die uitsluitlike doel om kort na volwassewording omvorm te word tot ‘n bestanddeel van ‘n soet-suur chow mein.
  9. ‘n Stokou Corolla kry jou in presies dieselfde toestand van punt A na punt B as wat die geval met ‘n splinternuwe Fortuner (die Afrikaner se hedendaagse ossewa) sou wees. Dít ten spyte van die (wan)persepsie onder bestuurders van laasgenoemde dat hul eienaarskap van hul ‘lekka wiele’ hulle tot konings van die oop pad verhef.
  10. Estates (of ‘kontemporêre lokasies’, soos die moedswilliges daarna verwys), veral dié wat se name die kalmerende effek van natuurverskynsels soos stroompies, mere en berge weerspieël, verskaf veilige forte van voorstedelike vergenoegdheid. En dis cool. Mens word egter ewe gul ontvang in Capital Park, by eenvoudige huisies waar die verf afdop van die mure, en die grensdrade tussen erwe moeg na een kant toe oorhang.
  11. Al wil Maroela Media jou laat glo dat Suid-Afrika besig is om uitmekaar te val, is dáárdie boodskap van alle waarheid ontbloot. Dis ‘n drogredenasie, ten beste, en ten slegste goedkoop populistiese propaganda. Ek het eenkeer in ‘n Chappies-papiertjie gelees dat 85,3% van mense wat oor lopende water beskik ‘n 87.6% kans het om ‘n beter lewe te lei as 93.4% van die wêreld se totale bevolking. En daarvoor behoort ‘n mens 100% dankbaar te wees. Dit laat mens dink, né (soos die oom in die Allied-advertensie uit die 1980’s gesê het).
  12. Dit maak nie saak hoe oud mens word nie, jou ouerhuis bly ‘n veilige hawe. Dáár kan jy al jou pretensies en onsekerhede by die voordeurmatjie afkrap en jou rustig verlustig in die eenvoudige, onvoorwaardelike liefde wat eindeloos na jou kant toe stroom.

Baie dankie aan almal wat in hierdie tyd hulle voordeure, koskaste en harte vir my oopgemaak het. Dis moeilik, onmóóntlik selfs, om in woorde uit te druk hoeveel dit vir my beteken. Mag net die beste goed altyd met julle almal gebeur. Tot volgende keer: tot siens, good bye, hamba kahle, zai jian.

Desember 2015

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.