Oor Doffel, Babbel en Bekkie. Veral Babbel.

Insubordinate man with zipped mouth

Daar is een ding wat al ons sterflinge met mekaar in gemeen het. Ons praat. Die skoner geslag veel meer as hul vuiler eweknieë, maar praat die praat ons almal. My volslae onwetenskaplike navorsing het aan die lig gebring dat die gemiddelde mens bykans tienduisend woorde per dag uiter, maar die meeste mense vermors (mos) minstens die helfte van hul praattyd op onsinnighede. Dis daarom hoogtyd dat die wag voor jou mond ‘n ogie begin hou oor die retoriese babbelarye wat alte dikwels sy aandag ontwyk.

Wanneer ek met medemenslike barmhartigheid oor jou welstand uitvra, is dit onvanpas om te antwoord met: “jy wil nie weet nie”. Indien dit die geval was, sou ek in die eerste plek nie die saak aangeroer het nie. My praattyd is kosbaar. Joune klaarblyklik nie.

Waarom sal jy, wanneer ek ‘n opmerking maak, reageer met “jy kan dit weer sê”? Ek kan ja, maar jy sal waarskynlik ‘n ewe patetiese poging aanwend om te luister as die eerste keer, so hamba man!

Hoekom sal jy ‘n amuserende vertelling ruïneer deur té gereeld ‘n “jy weet” in te gooi? Dis dan jóú storie. Hoe moet ék nou weet as jy nog besig is om my in te lig, jy weet?

Niemand kan jou ernstig opneem wanneer jy met groot fanfare aankondig dat jy iets op die hart het en dan wegval met “jy sal my nie glo nie”. ‘n Leuen behoort deur die aanhoorder daarvan ontbloot te word, so moenie jou eie spekskietpret so bederf nie.

Wanneer iets soek raak en jy vind dit weer, is dit onnodig om jou praattyd te verkwis met die niksseggende frase “dis altyd op die laaste plek waar mens soek”. Natuurlik is dit, anders sou jy mos lankal jou onverpooste speurwerk kon staak.

Moenie my eenkant toe trek en agter ‘n bak hand fluister: “kan ek jou ‘n vraag vra?” nie. Daai is dan ‘n vraag in eie reg. Jy bedoel seker: “kan ek jou, behalwe vir dié een, nóg ‘n vraag vra?”

Gestel ons sit aan by ‘n restauranttafel. Ons plaas ons bestelling en jy verskoon jouself om jou neus te gaan poeier. Met jou terugkeer tref jy my by die steeds leë tafel aan. Watter antwoord verwag jy nou regtig op die volgende betekenislose vraag: “het die kos al gekom?”. “Ja, dit het, maar ek het alles in ‘n oogwink opgevreet en jy sal maar nogmaals die kelner moet nader wink”?

So, jy ontmoet ‘n meisie, vind dadelik aanklank by haar, en vra haar gevolglik uit op ‘n date. In jou kisklere staan jy op haar drumpel, en wanneer sy haar verskyning maak, bring jy ‘n eksotiese bos blomme te voorskyn. Indien sy met aangeplakte verwondering sou laat hoor “is dít vir mý?”, is daar net een ding wat jou te doen staan. Draai om. Loop weg. En vat jou blomme saam. Sy is nie die moeite werd nie.

Sê jy loop my onverwags by die rugby raak. Het jy vooraf mooi gedink wanneer jy oorbluf vra: “háái, wat maak jý hier?”. Jy weet mos wat ek hier doen. Ek het die rugby kom kyk. Nes jy. En indien die sitplek langs my leeg is, waarom sal jy jou asem vermors deur te vra of daar iemand sit? Iemand soos wie? Die Invisible Man? Of die spookmeisie van Uniondale? En as jy dan jou sit langs my gekry het, moet my nie vra of ek daai têkkel gesien het nie. Ek het. Dis waarvoor ek hier is. Nie om jou sotlike vrae te beantwoord nie.

‘n Goeie begryper het slegs ‘n halwe woord nodig, so jy hoef my nie te bedank vir hierdie hoogs aangeskrewe raad nie. Dit sal net ‘n vermorsing van jou praattyd wees…en dit wil ons (mos) juis ten alle koste vermy, jy weet.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. Dis veronderstel om satiries van aard te wees – ek is nie regtig so ‘n bombastiese buffel as wat dit dalk uit hiérdie skrywe mag blyk nie.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.