Oor ‘n aand by die Grammys

16 - grammys

Dis nie wie jy is nie, dis wie jy ken. En ek ken vir Kobus Johnsen. En danksy sy ONGELOOFLIKE vrygewigheid kon ek ‘n lewensdroom verwesenlik deur die 58ste Grammy-toekennings in die Staples Center in Los Angeles by te woon.

Nou kyk, dit was sonder twyfel die mees swierige geleentheid waar ek nog ooit ‘n das deur gesleep het. Nie eers Huis Olienhout se Eerstejaarsdinee van ’95 kan daarby kers vashou nie. Die dames, uitgedos in glansryke tabberds, en die here, waarvan talle in swaelstertpakke geklee was, het reeds voor die aanvang van die verrigtinge ‘n elektriese atmosfeer geskep deur…wel…deur net daar te wees in hulle Sondagsbeste. Sóveel glimlagte, selfies en onderdrukte baldadigheid het ek lanklaas aanskou.

Nadat al dié welgeklede Grammy-gangers hulle sit gekry en hulle opgewonde giggels gegiggel het, was dit tyd vir die skouspel om ‘n aanvang te neem. Onder andere het Stevie Wonder, Taylor Swift, Adele, Lionel Richie, James Bay, The Weeknd, Chris Stapleton, Justin Bieber en Lady Gaga hulle aansienlike musiektalente op daardie glinsterende verhoog uitgestal. Die jongeheer Bieber het selfs ‘n kitaar teen die verhoog aan flarde geslaan – lyk my noudat sy stem gebreek het meng sy verhoogde testosteroonvlakke op gevaarlike wyse met sy goeie oordeel in.

Die musiek was by verre die uitstaande hoogtepunt van die verrigtinge, maar daar was ook ander fassinerende oomblikke, soos om een van my groot musiekhelde, Dave Grohl (Nirvana en Foo Fighters), in sy bekende baritonstem te hoor sê: “And the Grammy goes to…”

En dan was daar ook ander deeltjies van die program wat mens nooit op TV sal sien nie, soos die aankondiger wat ná ‘n advertensieflits die gehoor aanmaan met “Returning from the advertising break – applause in 3…2…1…” en dan juig die skare soos besetenes omdat die advertensies uiteindelik verby is.

Om my goeie skoolvriendin, Jeanne-ette Boshoff, vir die eerste keer in twintig jaar te sien, was ook glad nie te versmaai nie – veral omdat sy deesdae ‘n hotshot-sakevrou in die VSA is, en vir ons toegangskaartjies vir GQ Magazine se Grammys after-party georganiseer/afgesmeek/bekonkel het. Die ligging van dié eksklusiewe partytjie is egter nie aan ons bekend gemaak nie, maar ons is die instruksie gegee om op ‘n gegewe tyd op ‘n spesifieke plek aan te meld, sodat ons met ‘n minibus na die geheime bestemming vervoer kon word. Onderweg na die rendezvous-punt het iets anders egter gebeur wat die moeite werd is om eers te vermeld…

Dis ‘n bietjie van ‘n lang(erige) storie, waarvan die fyner detail straks vervelig sal wees, maar in ‘n neutedop het ek die mees bevredigende stalk in my lang en roemryke loopbaan as stalker opgeklits. Johnny Depp mense, JOHNNY DEPP! Johnny Depp mense, JOHNNY DEPP! Ja, ek moet dit twee keer sê, net om die realiteit van hierdie amper ondenkbare feit te beklemtoon. Kaptein Jack Sparrow homself! Die man! Die legende!

Ek dink dit was die woorde “I’m not from around here, but I’m a massive fan of yours”, uitgespreek in my heel dikste Afrikaanse aksent, wat hom laat besluit het om te stop en ‘n vinnige geselsie aan te knoop. En nie net het hy ewe vriendelik vir foto’s poseer nie, hy het boonop my blad ook geskud – twéé keer. En toe hy in die rigting van ‘n donkerige straatjie van ons af wegstap, met net twee van sy vriende aan sy flanke, het ek instinktief gewonder of dáái nie dalk die éintlike Kaptein is vir wie ons moet vra om die seile te span.

Vir ‘n goeie vyftien minute na dié plotselinge ontmoeting kon nie ek óf Jeanne-ette ‘n woord uitkry nie, só star struck was ons. Ek kon amper nie glo dat ek ‘n wêreldbekende ster, wie se naam 59,200,000 Google-resultate oplewer, minute tevore ‘n (baie manlike) eenarm-drukkie gegee het nie. Maar nét toe die knyp wat ek myself toegedien het die gewenste resultate oplewer, was dit tyd om die minibus na Plek X te bestyg.

Ons bussie het voor ‘n herehuis in Beverly Hills tot stilstand gekom. Die agterplaas het in ‘n lieflike kombinasie van gras, bome en geplaveide terrasse na benede gedaal. In die middel van dié lushof was daar ‘n swembad, wat omring was deur honderde flonkerende kerse. Langs die een kant van die swembad was ‘n dansbaan, waar ‘n lewendige DJ sy plaat-kraptegniek ten toon gestel het, en langs die ander kant is ‘n reeks ivoorkleurige leerbanke staangemaak. Etlike kelners in swart-en-wit het vingerhappies en sjampanjekelkies, gevul met Veuve Clicquot, vanaf blinksilwer skinkborde bedien. En om dié glansryke prentjie af te rond, het sowat 100 gaste (wat sekerlik hulle toegangskaartjies op minder bedenklike wyse as ons bekom het) gesellig rondgestaan en die aand se wenners en amper-wenners bespreek.

Ons het ons tuisgemaak op een van die leerbanke neffens die swembad, maar ons sitplekke was nog nie eers behoorlik warm gesit nie toe ‘n ietwat intimiderende sekuriteitsbeampte ons nader en ons vriendelik, dog ferm, versoek om ons sitplekke te ontruim. ‘n Ewe vriendelike navraag oor die rede vir hiérdie onwelkome versoek, is beantwoord met ‘n nogmaalse vriendelik-ferm: “’Cause Taylor Swift needs to sit there, man”

En wraggies, vyf minute later kom sit ‘n Grammy-wenner – vir Beste Langspeelplaat – op die plek wat ék flussies leeggemaak het. Sy was só naby dat ek maklik aan haar sou kon raak – in welke geval die sekuriteitsman van vroeër vir seker ‘n bossie bene-en-kneukels op my kennebak sou plant.

Kort hierna het Justin Bieber ons ook vergas met sy teenwoordigheid. Hy was steeds geklee in die frokkie, jeans en omgekeerde pet waarmee hy sy vertoning op die Grammy-verhoog uitgevoer het. Op ‘n stadium het ek só naby aan hom gestaan dat ek droë sweet aan hom kon ruik (‘n verdere manifestasie van sy worsteling met die effek van sy verhoogde testosteroonvlakke).

En dít was die hoogtepunte van ons aand by die Grammys.

Ek het vir Adele gemis (wat makliker geword het noudat sy die helfte van haar gewig afgeskud het), maar ek het wel ‘n gesprek afgeluister tussen iemand wat beweer het dat hy vriende is met iemand wat al voorheen Adele se hare gedoen het, en iemand anders wat beweer het dat hy al eenkeer vantevore, in sy rol as verhoogassistent, ‘n mikrofoon vir Adele aangegee het. En volgens hiérdie binnekring-brekers is ‘n definitiewe besluit geneem oor die titel van die opvolg-enkelspeler van haar wêreldwye treffer ‘Hello’.

Ek weet ek vat ‘n hélse risiko om dít wat ek gehoor het hiér openbaar te maak, maar ek gaan dit in elk geval doen. So, maak jou reg vir ‘n musiekbedryf-skinderstorie so reg uit die perd se bek: die titel van Adele se volgende enkelspeler is…is…is…‘Goodbye’.

Julle het dit heel eerste hiér gehoor, né! 😉

16 Februarie 2016

 

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.