Noord-Korea: ‘n les in dankbaarheid

Missus Wong, wat net soos Juffrou Rottemaaier, nié met haar laat mors nie.

Onrusbarende nuus uit Noord-Korea: die “US Imperialists” se voortgesette skending van Noord-Koreaanse soewereiniteit dreig om ‘n volskaalse oorlog tussen dié twee aartsvyande te ontketen. En dié keer blyk die Noord-Koreane slaggereed vir oorlog te wees. Daar is immers oor die afgelope paar dae niks minder nie as séwe foto’s aan die media gelek van Kim Jong Un wat onheilspellend deur ‘n verkyker na ‘n onsigbare vyand staar.

In ‘n verdere wending is Klein Kim boonop tot die hoogste rang van die Noord-Koreaanse weermag bevorder. Hierdie verwikkeling het ‘n eenparige positiewe reaksie van oor die ganse Noord-Koreaanse politieke spektrum ontlok – van die parlementêre leier, Kim Jong Un, tot by die leier van die amptelike opposisie, Kim Jong Un, tot by die hoof van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, Kim Jong Un.

Dit bly egter ‘n ope vraag of die Noord-Koreaanse weermag inderdaad oor die vermoë beskik om tot aksie oor te gaan. Tydens ‘n onlangse skynaanval het ‘n langafstand-missiel binne sekondes na lansering in ‘n bol vlamme verdwyn, wat vir die 754ste mees indrukwekkende vuurwerkvertoning in die geskiedenis van die mensdom gesorg het. Volgens die staatsbeheerde media het ‘n woedende Kim Jong Un van die toneel af weggestorm, maar ondanks sy blinde woede kon hy steeds daarin slaag om ‘n rondloperhond wat in die omgewing rondgesnuffel het dood te skop, waarna Wagter volgens ooggetuies sommer ook die Dierbare Leier se aandete geword het.

Die Verenigde Nasies is egter hoopvol dat die heersende diplomatieke krisis sonder enige bloedvergieting ontlont kan word. Dít nadat Suid-Korea aangedui het dat enige Noord-Koreaanse aggressie beantwoord sal word deur die Suid-Koreaanse musikant, Psy, te dwing om ‘n opvolg van “Gangnam Style” op te neem. Al die betrokke partye is dit eens dat alles moontlik gedoen moet word om só ‘n katarsis te voorkom.

Die Noord-Koreaanse dreigement dat ‘n missiellanseerder gereed staan om ‘n langafstand-kernmissiel in die rigting van die VSA af te vuur, word egter nie ligtelik opgeneem nie. Gevolglik het al die eilande in die middel van die Stille Oseaan hul eenjarige verjaarsdagmaatjies opgekommandeer, om sodoende te verseker dat enige brande wat weens ‘n Noord-Koreaanse missielontploffing mag uitbreek sonder verwyl uitgeblaas kan word.

******************************

Dit was aand en dit was môre. Dit was die vyfde dag. En nadat ek en my sewe reisgenote met die verloop van die voorafgaande vier dae met melkbaard-propaganda bestook is, was dit tyd om kennis te maak met die grofgeskut. En waar eersgenoemde eufemisties gesproke maar net “ekonomies met die waarheid omgaan”, sou ons spoedig leer dat hardebaard-propaganda op flagrante leuens gebaseer word.

In Noord-Korea tref twee kenmerke van die samelewing jou soos ‘n vuishou in die gesig. Een: die ganse samelewing is hoogs gemilitariseer – nie ‘n kwasi-militarisme soos wat deur die EFF gepropageer word nie, maar ‘n allesoorheersende, regeringsgefinansierde weergawe wat al die swaargewigte van die verlede, van Hannibal en Julius Caesar, tot by Ghenghis Khan en Napoleon, tot by Hitler en Stalin, sou beïndruk het. En twee: hulle háát die VSA – nie soos die Afrika- en Midde-Oosterse leiers wat die Amerikaners blameer vir alles wat in hulle lande skeefloop nie, maar met ‘n diepliggende, allesverterende afsku in enigiets wat selfs net na die Star-Spangled Banner ruik.

Daar is geen land wat by Noord-Korea kan kers vashou wanneer dit by die aanwending van staatsgeld vir die instandhouding van die weermag kom nie. Volgens die Wêreldbank se statistieke word ‘n verstommende 25% van Noord-Korea se karige Bruto Binnelandse Produk elke jaar aan die weermag bestee (Oman lê tweede op dié lys, en hulle spandeer maar 10% van húlle BBP op hulle weermag), en die dividende van hierdie reuse-belegging staar jou oral in dié land in die gesig.

In die stede hoef jy net ‘n blok of twee in die bussie van die Korea International Travel Company (KITC) te ry, of jy sal ‘n groep uniformbeklede mans op ‘n sypaadjie teëkom. En dié troepies is nie huiwerig om te staar nie. As jy ‘n Westerse man in dié deel van die wêreld is kan jy maar weet dat jy met mening vanuit dié geledere bekyk sal word. En waar die ware Jakob ontbreek, sal die afbeelding van ‘n man in ‘n uniform vanaf ‘n plakkaat teen ‘n lamppaal na jou toe terugstaar.

Op die snelweë sal jy beswaarlik enige ander voertuie teëkom, maar elke kort-kort sal ‘n vragmotor vol strakgesig-soldate by jou verbysnel (of eerder verbykruie, aangesien die gehawende toestand van Noord-Koreaanse hoofpaaie die “snel” uit “snelweg” haal). En elke 20km of wat sal jy voor ‘n kontrolepunt tot stilstand te kom, waar ‘n intimiderende soldaat met ‘n intimiderende uniform en ‘n intimiderende aanvalsgeweer oor sy skouer, jou paspoort en toeriste-visum met intimiderende nougesetheid sal nagaan.

Dis ook nie net volwassenes wat aan hierdie militaristiese indoktrinasie blootgestel word nie. Die kinders van dié muishondland word dit kennelik óók nie gespaar nie. In Wonsan het ons byvoorbeeld verby ‘n kleuterskool gestap en ek moes wraggies drie keer kyk om sin te kon maak van die kleurvolle, glimlaggende sementbeertjies wat voor die ingang gemonteer was. Normaalweg sal daar niks vreemds aan beertjies voor die ingang van ‘n kleuterskool wees nie, maar hiérdie beertjies was in militêre uniforms geklee, en in hulle hande het hulle Kalashnikovs gehou. En hoewel ons baba-oppassers, oftewel die KITC-gidse in wie se sorg ons gelaat is, nie gretig was om daaroor uit te wei nie, het hulle tóg erken dat “Kill the American” een van die gewildste tydverdrywe op Noord-Koreaanse speelgronde is. Blykbaar word ‘n afbeelding van ‘n Amerikaanse soldaat uit papierpap saamgeflans, waarna die kinders dit herhaaldelik skop en slaan totdat dit letterlik aan flarde is. Dit mag dalk ongelooflik klink dat kinders hulself op dié manier kan vermaak, maar ‘n mens kan seker ook nie té verbaas wees dat Monopoly nié die speletjie van keuse onder kinders in ‘n anti-kapitalistiese land soos Noord-Korea is nie.

Vir ‘n buitestaander is dit bitter moeilik om die obsessie wat die Noord-Koreane met Amerika het te begryp, maar nadat ek vir ‘n paar dae aan die genadelose propaganda in dié land blootgestel is, het die stukkies van die legkaart in plek begin val. Die besoek wat ons dus op die vyfde dag aan die Oorlogsmuseum in Pyongyang gebring het, het enige twyfel oor die vermoedens wat ek oor dié obsessie begin vorm het uit die weg geruim.

Maar voordat ek vertel wat ek alles dáár wys geraak het, moet ek eers die gebeure van die Koreaanse Oorlog van 1950-1953 kortliks weergee…wel, soos wat dit in elk geval in Westerse geskiedenisboeke aangeteken staan.

******************************

Nadat die Japannese in 1945 uit die Koreaanse skiereiland verdryf is, is Korea in twee afsonderlike state verdeel. Met die 38ste breedtegraad as grens, is Noord- en Suid-Korea onderskeidelik onder die voogdyskap van die Sowjet-Unie en die Verenigde State geplaas. Kommunisme en kapitalisme, die onderskeie ideologieë van die twee superkrag-voogde, het spoedig ook die amptelike regeringsbeleid van die gebiede onder hulle beskerming geword, en só is ‘n wig ingedryf tussen die twee nuutgevonde state wat vir die voorafgaande millennium as ‘n verenigde Korea bestaan het.

In 1948 het beide die Russe en die Amerikaners hulle aan hul protektorate onttrek, maar minder as twee jaar later het Noord-Korea, onder die bevelvoering van Kim Il-Sung, Suid-Korea binnegeval. Die uiteindelike doelwit hiermee was ‘n herenigde Korea, met Kim Il-Sung as leier, en met kommunisme as die amptelike ideologie.

“Containment”, die VSA se na-oorlogse buitelandse beleid, waardeur gepoog is om die uitbreiding van kommunisme te stuit, het egter meegebring dat die Suid-Koreane nie sonder meer aan hulle lot oorgelaat sou word nie. In 1950 was die Koue Oorlog nog maar in sy babaskoene, maar die vrees dat ‘n onbesonne skuif tot ‘n volskaalse kernoorlog kon lei, het beide die VSA en die Sowjet-Unie lugtig gemaak om op eie stoom tot die Koreaanse krisis toe te tree.

Die Russe se betrokkenheid is gevolglik beperk tot die verskaffing van wapentuig aan die Noord-Koreaanse magte, terwyl die Amerikaners die nuutgestigte Verenigde Nasies begin bearbei het om ‘n koalisie van state op die been te bring waarmee die Suid-Koreane uit hulle ellende verlos kon word.

Soos wat dit vandag nog steeds die geval is, word geen resolusie egter in ‘n agtermiddag deur die VN se Veiligheidsraad bekragtig nie, en terwyl die burokrate in New York oor ‘n gepaste plan van aksie geredekawel het, het die Noord-Koreaanse weermag alle weerstand van hulle Suid-Koreaanse eweknieë uit die pad gevee.

‘n VN-koalisie van een-en-twintig lande, wat grootliks uit Amerikaanse troepe bestaan het, maar onder andere ook ‘n eskader Suid-Afrikaanse vegvlieëniers ingesluit het, is uiteindelik in die lewe geroep. Teen die tyd dat dié koalisie egter gereed was om tot aksie oor te gaan was nagenoeg die ganse Suid-Korea reeds deur die Noord-Koreaanse magte beset.

Kort na die mobilisasie van die VN-koalisie is die Noord-Koreaanse weermag meedoënloos begin terugdryf, verby die 38ste breedtegraad tot baie naby aan die Chinese grens. Op dié punt het die gevaar van ‘n Amerikaanse marionetstaat aan China se noord-westelike grens tot Mao Zedong deurgedring, en het hy ‘n reuse-weermag van drie miljoen soldate ter ondersteuning van die Noord-Koreane in die veld gestoot.

Danksy dié oormag is die VN-koalisie gedwing om te terug te val, en na ‘n uitgerekte wipplankryery, met Seoul wat ‘n merkwaardige vier keer van hande verwissel het, is ‘n skietstilstand in 1953 bereik, en is die 38ste breedtegraad nogmaals as die grens tussen Noord- en Suid-Korea aanvaar.

Na nagenoeg drie jaar se bloedvergieting was die strydende partye net mooi terug waar hulle begin het, met die toevoeging van ‘n gedemilitariseerde sone tot die Koreaanse landskap een van die enigste blywende uitvloeisels van die Koreaanse Oorlog.

Die skietstilstand van 1953 is steeds van krag. Geen bindende vredesonderhandelinge het sedertdien plaasgevind nie, en streng gesproke verkeer Noord- en Suid-Korea dus vandag nog in ‘n staat van oorlog.

In Amerika en ander Westerse lande word daar dikwels na dié konflik as die “Vergete Oorlog” verwys. Omdat die impak van die Koreaanse Oorlog in alle opsigte deur die twee Wêreldoorloë, die oorlog in Viëtnam, en selfs die Koue Oorlog oorskadu word, is daar feitlik geen geskiedenissillabus vir Westerse skoliere wat in ‘n beduidende mate op dié konflik fokus nie. Vir alle praktiese doeleindes ís daar dus van die Koreaanse Oorlog vergeet.

In Noord-Korea word daar egter pal na dié oorlog verwys. Dit definieer die Noord-Koreane se kollektiewe psige, en dit bly tot vandag toe ‘n integrale deel van hulle daaglikse lewens. As jy nie van beter geweet het nie, sou jy maklik kon dink dat die heldhaftige Noord-Koreaanse soldate nog steeds besig is om die “US Imperialists” in die strate van Pyongyang te beveg.

******************************

By die Oorlogsmuseum, oftewel die “Victorious Fatherland Liberation War Museum”, soos wat dit amptelik bekend staan, is ons sonder enige hartlikheid deur ‘n jongerige vrou in ‘n ouerige uniform verwelkom.

“My name is Missus Wong,” het sy gesê, “and if you have any questions I will answer them at the end of the tour.” Dit was duidelik dat dié nie ‘n interaktiewe toer sou wees nie, en dat ons daar was om na die Koreaanse weergawe van die geskiedenis te luister. En alleenlik dít. Enige debatvoering sou streng buite perke wees, en ons sou maar vrede daarmee moes maak dat ons gewillige onderdrukkers van ons ongeloof sou moes wees.

Aan weerskante van die aanloop tot die hoofgebou is ‘n enorme hoeveelheid wapentuig uitgestal. Langs die een kant kon ons na vegvliegtuie, tenks, missiellanseerders en selfs ‘n helikopter kyk wat gedurende die oorlog by die Amerikaners afgeneem is. Die meeste daarvan was verfrommel en in donker kleure geverf. Missus Wong het ons met groot trots meegedeel dat niks minder nie as 12,000 Amerikaanse vegvliegtuie tydens die oorlog neergeskiet is, maar toe ek die goue reël verbreek deur te vra hoeveel Noord-Koreaanse vegvliegtuie neergeskiet is, het sy stompsinnig geantwoord met “I don’t have that information”.

Aan die ander kant is dosyne stuks Noord-Koreaanse wapentuig uitgestal. Hiérdie vegvliegtuie, tenks, missiellanseerders en selfs ‘n helikopter was egter in perfekte kondisie, en was met silwer en rooi verf versier. Die kontras was opmerklik, maar nie juis verbasend nie.

Hierna is ons begelei na die USS Pueblo, ‘n Amerikaanse “spioenskip” wat in 1968 onderskep is nadat dit onregmatig in Noord-Koreaanse vaarwater betrap is. Hierdie insident het tot ‘n ernstige diplomatieke krisis gelei wat eers ontlont is nadat Lloyd Butcher, die skip se kaptein, ‘n skriftelike skulderkenning aan die Noord-Koreane besorg het. Geen melding is gemaak van die sielkundige marteling wat Butcher se skulderkenning voorafgegaan het nie, maar daar is wel groot gewag gemaak van die morele oorwinning wat die Noord-Koreane danksy dié insident oor die “US Imperialists” behaal het.

Vandag lê die USS Pueblo vasgemeer op die perseel van die Oorlogsmuseum, en alhoewel dit vir die Noord-Koreane ‘n hélse prestasie is dat hulle dié “oorlogskip” kon onderskep, het ek, in alle eerlikheid, al meer indrukwekkende vaartuie op ‘n Sondagmiddag langs die Vaaldam gesien.

Die hoofgebou self was egter wél indrukwekkend. Baie, báie indrukwekkend. As die oorlog vir die Noord-Koreane ‘n geloofsaak is, is hierdie hulle tempel. Dit moes miljoene der miljoene gekos het om op te rig, en in ‘n land waar hongersnood, elektrisiteitstekorte en algemene verval aan die orde van die dag is, kan sulke spandabelrigheid maar net as veragtelik beskryf word.

In die voorportaal moes ons oudergewoonte in ‘n lyn voor ‘n reuse-standbeeld van Kim Il-Sung aantree, waarna ons ons respek aan hom moes betoon deur ‘n lekker diep buiging te maak – só diep dat dit tot in die doderyk sou strek. Hierna is ons na ‘n kamertjie geneem waar ‘n video aan ons vertoon is oor die redes wat tot die uitbreek van die oorlog gelei het. Ek was tot in my diepste wese geskok nadat ek tot die besef gekom het dat álles wat ek vooraf oor die oorlog geweet het, op veragtelike Westerse leuens gebaseer was. Kug-kug.

Dit was inderdaad nié die Noord-Koreaanse magte wat hulle suidelike bure ingeval het nie. Dit was die “US Imperialist pigs” wat hulle kliëntebasis vir wapenverkope in Europa uitgeput het, en derhalwe op soek was na nuwe afsetgebiede waar hulle dié wapens kon verkwansel. Om hierdie rede het die lafhartige, oorlogsugtige Amerikaners, met behulp van hulle ewe lafhartige, oorlogsugtige VN-vennote, in 1950 die Noord-Koreaanse grens oorgesteek en aanvalle op die plaaslike bevolking begin loods.

In reaksie op dié moedswillige aggressie het die brawe Noord-Koreaanse weermag ‘n teenaanval teen die Amerikaners geloods en vreesloos die 38ste breedtegraad oorgesteek, met die uitsluitlike doel om hulle Suid-Koreaanse broers van ongenaakbare Amerikaanse onderdrukking te verlos…en op dié punt het ‘n kragonderbreking ons kykgenot bederf (‘n kragonderbreking wat jou werklik deur Missus Wong aan die “US Imperialists” se embargo toegeskryf is).

Ek was sprakeloos. As ‘n volslae geskiedenisentoesias weet ek nou al dat dít wat in die geskiedenisboeke geskryf staan deur die oorwinnaars só aangeteken is, maar sówat van ‘n radikale verdraaiing van die waarheid het ek nog nooit vantevore teëgekom nie. Benewens die vraende blik wat ek met ‘n paar van my ewe stomgeslane reisgenote verwissel het, het ek egter maar net ‘n diplomatiese stilte gehandhaaf. Ek was immers van voorneme om my weg lewend uit daardie totalitêre staat te vind.

Die res van die museum het bestaan uit dof verligte gangetjies en kamertjies waar oorlogsverwante foto’s, koerantberigte en propagandaplakkate uitgestal is. Amerikaanse soldate met gróót oë en láng neuse is uitgebeeld waar hulle kinders en babas met bajonette deurboor, terwyl Katolieke priesters as duiwels voorgehou is. Aan die ander kant is die Noord-Koreaanse soldate deurgaans as deugsaam, dapper, en onberispelik gedissiplineerd uitgebeeld. Daar was absoluut géén objektiwiteit te bespeur nie. Die Amerikaners was deur die bank boos, en die Noord-Koreane deur die bank vlekkeloos. Nêrens is daar enige melding gemaak van die wapentuig wat deur die Sowjet-unie verskaf is nie, en nêrens is daar enige krediet gegee aan die tienduisende Chinese soldate wat gesterf het terwyl hulle aan die kant van die Noord-Koreane geveg het nie. Die Noord-Koreaanse “oorwinning” is ten volle aan die wyse leierskap van die man-god, Kim Il-Sung, toegedig.

Vir die grand finale is ons na ‘n reusagtige vertrek met hemelhoë plafonne geneem, waar ons in die middel daarvan op ‘n ronde verhoog sitgemaak is. Die beskilderde mure het ‘n veldslag van soorte in ‘n panoramiese 360 grade uitgebeeld, en nadat Missus Wong aangekondig het dat ons na ‘n virtuele uitbeelding van die Slag van Taejon sou kyk, het die verhoog waarop ons gesit het stadig begin roteer. Ek kon egter nie help om in my mou te lag met dié dat die kenmerkende biep-geluide van ‘n Windows-bedryfstelsel wat lewe kry, kort daarna uit die luidsprekers opgeklink het nie. Noord-Korea is toe nié so ten volle selfversorgend as wat hulle wil voorgee nie.

Vir die volgende tien minute is daar lewe in die muurskilderye voor ons geblaas. Terwyl ons langsaam in die rondte gedraai het, het geboue in vlamme opgegaan, het honderde skote geklap, bomme het ontplof, en tallose smartvolle kreune het uit die kele van Amerikaanse soldate opgeklink. En soos wat ‘n mens te wagte kon wees, was die laaste toneel dié van ‘n triomfantelike groep Noord-Koreaanse soldate wat ‘n Amerikaanse vlag vertrap.

Ek was lanklaas so dankbaar vir ‘n paar teue vars asem as toe Missus Wong ons uit die halfdonker na buite toe begelei. Ek het skoon oorweldig (en besmet) gevoel deur al die leuens waaronder ek tydens ons 3-uur lange besoek toegegooi is. Dit was een van die mees fassinerende besoeke wat ek nog ooit aan enige museum, op enige plek ter wêreld, gebring het. Dis niks vreemds dat ‘n museumbesoek jou dwing om jou standpunte en oortuigings in heroorweging te neem nie, maar my besoek aan die Oorlogsmuseum het in die besónder ‘n lig vir my laat opgaan.

Ek het uiteindelik begin verstaan waarom die haat vir die “US Imperialists” so aangeblaas word, waarom die samelewing so oormatig gemilitariseer word, en waarom die bevolking so volkome oortuig word dat hulle land onder beleg is.

Deur ‘n universele vyand – ‘n “boogeyman” – te skep, word ‘n heilige vrees vir die onsigbare by die samelewing ingeboesem. En as jy ‘n lid van dié samelewing is, is jou onversetlike lojaliteit teenoor jou Dierbare Leiers ál wat jou teen die gewaande vyand kan beskerm. Om paraatheid te verseker word soveel as moontlik van die BBP aan militaristiese bedrywighede spandeer (deur ‘n lojale weermag te skep en in stand te hou word die mag van die Dierbare Leiers boonop gekonsolideer), en as jy dit durf waag om jou teen die status quo te verset, pleeg jy nie net hoogverraad teen jou land en sy Dierbare Leiers nie, maar plaas jy ook die veiligheid van jou familie en die mense in jou gemeenskap op die spel. Voila! Die leuen is genoeg kere herhaal, en het gevolglik, met die verloop van tyd, die waarheid geword.

******************************

Oor die afgelope paar weke het ek heelwat te sê gehad oor my besoek aan Noord-Korea – veel meer as wat ek beplan het, en veel meer as wat ek gedink het ek te sê sou hê. Vir die grootste deel van my relase het ek gefokus op die bedenklike/morbiede/eksentrieke/bisarre kenmerke van dié land, maar soos wat dit die geval met elke muntstuk is, het dié een ook twee kante, en daarom voel ek my genoodsaak om ook die positiewe kant van die lewe in Noord-Korea te probeer uitlig. So…

In Noord-Korea is daar geen verbruikerskultuur nie. In ‘n sosialistiese bestel soos die een wat daar geld, verdien niemand ‘n besteebare inkomste waarmee enigiets meer as net die mees basiese benodigdhede aangeskaf kan word nie. Klerasie en skoeisel is konserwatief en prakties, en modegiere is ‘n haas onbekende konsep. Elektroniese toestelle is ‘n luukse wat net die elite beskore is, en selfs die speelgoed wat te koop aangebied word is eenvoudig, goedkoop en allermins duursaam. Daar is dus bitter min “stuff” te koop, en derhalwe is daar van “retail therapy” geen sprake nie.

Die feit dat almal min of meer dieselfde lyk, en almal ewe min besittings het, is opsigself nie ‘n positiewe aspek in my oë nie. Om jou unieke identiteit deur jou klere, jou haarstyl, jou tatoeëermerke, die kar wat jy ry, of selfs die vakansies waarop jy gaan te laat beslag kry, is myns insiens ‘n onontbeerlike bestanddeel van ‘n moderne samelewing. Dis egter die gebrek aan ‘n verbruikerskultuur wat ‘n regmerkie moet kry.

Omdat daar feitlik niks “stuff” te koop aangebied word nie, is daar ook nêrens enige advertensies te sien nie. Niemand druk ‘n pamflet wat ‘n uitverkoping van “stuff” uitbasuin in jou hand nie, en daar is geen irriterende advertensieklingels op die TV en radio wat jou van die noodsaaklikheid van “stuff” probeer oortuig nie. Geen advertensieborde ontsier die landskap langs die hoofweë nie, en daar is geen neonligte wat die ligbesoedeling in die stad verhoog nie. Niemand probeer om by te hou by die Bothas nie, en ook nie by die Hyangs nie, en daarom word niemand in skuld gedompel omdat hulle “stuff” moes aankoop om hulle selfbeelde mee te poets nie. En dít kan nét ‘n goeie ding wees.

Omdat die bevolking so min verbruik, word daar ook baie min rommel gegenereer. Jy kan sê wat jy wil van Noord-Korea, maar boeta, dit is skoon daar. Sílwerskoon. Of dit nou op die platteland of in die middel van die stad is – jy sal nêrens selfs die kleinste stukkie rommel sien rondlê nie. Selfs die Blou Bul sal nie omgee om dáár van die vloer af te eet nie.

Vir ‘n toeris is Noord-Korea sekerlik die heel veiligste bestemming denkbaar. Geweldsmisdaad bestaan eenvoudig nie, en selfs “gewone” misdaad, soos diefstal en aanrandings, is uitermate seldsaam. Ek is darem nie heeltemal naïef nie, en ek het ‘n sterk vermoede dat selfs die mees onbenullige misdaad met ‘n kopafkapsessie begroet word, maar dit was tóg verfrissend om sorgvry in die strate te kon rondloop, sonder om voortdurend daarop bedag te wees dat iemand jou van jou beursie of kou kamera kan “verlos”.

Daar is geen werkloosheid in Noord-Korea nie, aangesien die regering elke burger van ‘n betrekking verseker. Of elke burger sy drome kan najaag en die beroep kan beoefen waaroor hy van kindsbeen af gedroom het, bly egter ‘n ope vraag. Ek het byvoorbeeld ‘n hele paar mense gesien wat in die middel van nêrens langs die snelweg sit en bossies uittrek. En op ander plekke het ek groot groepe mans in steengroewe gesien klippe kap – die groot klippe klein, en die klein klippies fyn. ‘Bossie-uittrekker’ en ‘klipkapper’ is twee beroepe wat nooit in my beroepsvoorligtingklasse bespreek is nie…en daarvoor kan ek maar net dankbaar wees.

Omdat daar geen werkloosheid is nie, is daar ook geen hawelose mense nie. Ek het ook my bedenkinge hiéroor, en ek is amper seker dat die afwesigheid van bedelaars maar net ‘n nogmaalse kunsmatige toesmering van die werklikheid is, maar dit het my opgeval dat niemand, in teenstelling met baie ander lande in Asië, gedwing word om ‘n bed op ‘n sypaadjie te maak nie.

Ek sal myself nou nie juis as ‘n kos-connoisseur beskryf nie, maar Noord-Koreaanse spyse is voorwaar iets besonders. Gegiste kool mag dalk nie uitermate aptytwekkend klink nie, maar dié dis, wat in daardie deel van die wêreld as ‘kimchee’ bekend staan en saam met élke maaltyd bedien word, prikkel jou smaakkliere behóórlik.

Dit mag dalk iets met die chroniese elektrisiteitstekorte te doen hê, maar vis word dikwels rou bedien. En nie sommer net soesji-agtige stukkies van die vis nie – die héle vis. As jy eers verby die aardigheid van ‘n visoog wat vanaf ‘n bord na jou toe staar kan kom, raak rou vis ‘n lekkerny uit die boonste rakke, en kan jy jou op die koop toe vir ‘n rukkie verbeel dat jy ‘n Eskimo is.

En dan is daar die dis waarvoor Korea, Noord én Suid, allerbekend is. En ek weet sommer dat dit ‘n hele paar mense sal ontstel dat ek my mond daaraan gesit het. Maar wanneer jy in Rome is, dan maak soos jy soos die Romeine. In Frankryk drink jy ‘n glasie rooiwyn, in Italië eet jy pasta, in Turkmenistan slaap jy saam met jou sussie…en in Noord-Korea eet jy hond.

Ek het natúúrlik eers ‘n uitmergelende morele binnegeveg gehou voordat ek dié eksotiese dis probeer het – ‘n mens smul tog nie goedsmoeds aan jou beste vriend nie. My nuuskierigheid het egter uiteindelik die oorhand gekry, en bowendien was die keffer op die spyskaart reeds in ‘n pot, en sou niks wat ek kon doen hom of haar in staat stel om ooit weer agter ‘n posman aan te hardloop nie. Ek het nie baie ver met my hondeetpoging gekom nie, en as ek nog ‘n kind was sou my patetiese poging my beslis nie vir nagereg gekwalifiseer het nie. Ek kon net drie happies vat voordat ek die bredie beleefd eenkant toe moes stoot. Dit het nié soos hoender gesmaak nie, en al wat ek regtig oor dié belewenis kan sê, is dat dit…uhm…hóndsleg was.

******************************

Dit was vir baie lank reeds een van my grootste reisbegeertes om ‘n besoek aan Noord-Korea te bring. Wanneer ek iets oor dié land in ‘n koerant raakgelees het, moes ek altyd eers seker maak dat ek nie dalk per ongeluk na die resensieblad van die nuutste fiksieboeke toe oorgeslaan het nie, só surrealisties het alles geklink wat oor die lewe daar berig is. Maar dit was juis dít wat my belangstelling geprikkel het, en wat ek gehoop het ek met my eie oë kon gaan gade slaan.

Ek weet ek het nou al vir bladsye en bladsye aangekarring oor dié unieke reis van my, maar gun my tóg maar die geleentheid om die vier belangrikste lesse wat ek tydens my besoek geleer het uit te lig, verál vir diegene wat dalk my vorige plasings misgeloop het:

  1. Sonder hulle leiers sal Noord-Korea onmiddellik begin verbrokkel en binne minute in die see wegsink.

In dié geooste leer jy baie vinnig dat Nelson Mandela, Ghandhi, Liewe Jesus en Kersvader inderwaarheid almal een en dieselfde man was: ‘n mollige, afgestorwe man met die naam Kim Il-Sung. Hy is hulle ‘Ewige President’ – ewig omrede hy dié titel verban het en niemand daarom ooit weer die president van dié land sal wees nie. Daar is ongeveer 34,000 standbeelde van hom in Noord-Korea, byna álles is na hom vernoem (as hulle die land van voor af kon begin sou dit sweerlik ‘Kimilsungland’ heet), dis ‘n vereiste dat alle volwassenes elke dag ‘n aansteeklapelwapen met sy gesig daarop aan hulle klere dra, en selfs die jaartal is verander om hom te eer – in Noord-Korea is dit nie 2016 nie, maar Juche 104 (104 jaar na sy geboorte).

Kim Jong-Il is Kim Il-Sung se seun, en die man wat ons oor die laaste dekade of wat as ‘n werfetter van formaat leer ken het. Daar word vertel dat hy op ‘n heilige Koreaanse bergspits gebore is (hy is in die Sowjet-unie gebore), en dat sy geboorte die winter in lente laat verander het (dit het nie, dit het winter gebly). Een van sy (talle) swakhede was dat hy dikwels in die openbaar met ‘n dames-donkerbril verskyn het, maar dít blyk vir niemand in Noord-Korea juis ‘n saak van belang te wees nie.

Kim Jong Un is Kim Jong-Il se seun en die huidige Opperleier van die land. Anders as met sy voorgangers kon die Noord-Koreaanse propagandamasjien nog nie na die hoogste lofprysingsrat toe oorskakel nie, hoofsaaklik omdat niemand regtig weet wie hy is, wat sy ‘superpower’ is, of selfs in watter jaar hy gebore is nie. Dis boonop algemene kennis dat hy hom net in die topposisie bevind omdat sy broer, wat aanvanklik geoormerk is om die mag ná hul pa se dood oor te neem, op ‘n stadium uit die land geglip het om met ‘n vervalste Dominikaanse paspoort in Disneyland te gaan kuier, en uitgevang is toe hy na sy prinsdom toe wou terugkeer. En dít het oubaas Kim se hart allermins laat tjoklits klop. My gevoel was dat daar nie eintlik ‘n opregte heldeverering vir Klein Kim onder die mense bestaan nie, maar dít het ons gidse nie verhoed om ons te versoek om na hom as “Maarskalk Kim Jong Un” te verwys nie.

  1. Almal lieg oor alles. Die heeltyd.

Die regering lieg vir die buitewêreld, die regering lieg vir die mense, die media lieg vir die mense, die mense lieg vir die ander mense, en die toergidse lieg vir die toeriste. Verál die toergidse – húlle en tandetrekkers sal lekker oor die weg kom – se leuens het later meer na grappies as liegstories begin klink. Gyong Sim, ‘n gids/baba-oppasser/komediant wat my toer meegemaak het, het in antwoord op ‘n vraag wat ek aan haar gestel het, te vertelle gehad dat sy Kim Jong Un nie net aantreklik vind nie, maar dat hy inderdaad “die aantreklikste man in die wêreld” is. Smaak verskil duidelik.

Sy het ook op ‘n ander vraag geantwoord dat Noord-Koreane wel toegelaat word om in ander lande te gaan woon, maar dat geen Noord-Koreaanse burger al ooit aansoek gedoen het om te emigreer nie, aangesien hulle reeds in die beste land ter wêreld woon. Hiep-hiep! Haha! Hiep-hiep! Haha!

Haar heel pittigste opmerking het egter gekom nadat ek wou weet waarom niemand toegelaat word om die internet te gebruik nie. “Nee,” het sy laat hoor, “Noord-Koreane word internettoegang geweier omdat die regering bekommerd is dat hulle dinge sal sien wat hulle onnodig krities teenoor Westerse lande sal maak, en hulle deur hulle verbod op die internet maar net probeer om die Weste se reputasie probeer beskerm.” Nog ‘n hiep-hiep!

  1. Propaganda bestaan. En dit lewe in Noord-Korea.

Plakkate, pamflette, poskaarte, muurskilderye, museumuitstallings, koerante, films, televisie – die regime maak deeglik gebruik van elke denkbare medium om hulle boodskap van Noord-Koreaanse superioriteit in hulle burgers se kele af te druk. En sluk moet die mense sluk. Teen dié ouens was Goebbels bloot ‘n hopelose amateur.

Die propaganda waaraan ék gedwing is om te kou, kan in vier hoofkategorieë verdeel word: 1) Die matelose grootsheid van Die Leiers, veral dié van oupa Kim Il-Sung, 2) die matelose manhaftigheid van die Noord-Koreaanse weermag, 3) die matelose boosheid van die “US Imperialists” en Suid-Korea, en 4) die matelose vreugde van ‘n lewe as ‘n Noord-Koreaanse burger.

Sug. Gaap. Sug.

  1. Daar bestaan ‘n land vanwaar jy die grens na China toe kan oorsteek en dink: “Dankie, dankie, dánkie vir hierdie land van nimmereindigende vryheid!”

Dis waar dat jy in China net met uiterste moeite besoek kan bring aan webblaaie soos Facebook, Twitter, Youtube, Instagram, Google en The New York Times. Maar nadat my trein uit Pyongyang by Dandong, in die noordooste van China, tot stilstand gekom het, wou ek omtrent die grond soen.

Ek kon weer rondloop sonder om agtervolg te word, met die mense op straat in my geradbraakte Chinees kommunikeer, en MacDonald’s, KFC en Coca-Cola na hartelus in my keel afgooi. En dít is nie altemit nie.

******************************

Dit was nie maklik óf goedkoop om my droom van ‘n besoek aan Noord-Korea te bewaarheid nie, maar dit was die moeite én die geld werd. Ek is nog nooit vantevore só oorweldig deur die volkome andersheid van ‘n toeristebestemming nie. Soos Rip van Winkel het ek wakker geword in ‘n wêreld wat hom in ‘n ander tydvak bevind as die een waaraan ek gewoond is. En net soos hy sal ek voortaan nooit weer met dieselfde oë na die wêreld waaraan ek gewoond is kan kyk nie.

Nou ja, kamerade, ek sluit dan af. Onthou om die goeie stryd te stry. En onthou om dankbaar te wees vir alles wat jy het – veral die vryheid om te kan murmureer, protesteer, en kritiseer.

Groete tot ‘n volgende keer!

Kameraad Fanie

Junie 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.