Kambodja: oor gedagtes op pad

52

“Waarom sal ons $5 meer betaal vir ‘n diens wat ons eers twee ure later daar gaan besorg?”

Dít was die eerstewêreldse kwelvraag waarmee ek en Tamas, my Hongaarse vriend en reisgenoot, mee aan’t worstel was. Vanaf die oorkant van ‘n lendelam lessenaar het die reisagent, Mister Prak, ons belangstellingloos dopgehou, terwyl hy met gereelde tussenposes ‘n diepgebraaide kriek uit ‘n plastieksakkie neffens hom opgediep, en met ‘n geoefende swiep van sy gewrig in die rigting van sy keelgat gestuur het.

Teen die mure van die muwwerige kantoortjie het verbleikte plakkate van veraf bestemmings moeg aan geroeste spykers gehang, terwyl ‘n smeulende sigaret in ‘n ‘I love Cambodia’-asbakkie sy deel gedoen het om die verstikkende hitte nóg meer ondraaglik te maak. Vanuit ‘n hoek het die geweeklaag van ‘n gehawende waaier opgeklink, met die kraak van ‘n kriek tussen Mister Prak se onvolledige stel tande die enigste ander geluid wat kort-kort die eentonige getjierie-tjierie onderbreek het.

Ons was in Siem Reap, waar ons vir ‘n paar dae die tempels van Angkor verken het. Nou moes ons egter in Phnom Penh, die hoofstad, uitkom, en nadat ons ons voorneme aan hom geopenbaar het, het Mister Prak drie gelamineerde opsies uit sy boonste laai te voorskyn gebring en voor ons op die lessenaar uitgesprei. En tóé moes ek my bes doen om beide my breinselle te laat saamwerk, want ‘n besluit dié moes geneem word…

Die Kambodjaanse riel verwissel teen 4,153 tot die dollar, wat ‘n goeie aanduiding is van die treurige stand van die Kambodjaanse ekonomie. Die Amerikaanse geldeenheid word egter bo die riel verkies en word in alle winkels en straatstalletjies aanvaar, en selfs die kitsbanke spoeg daai groen note uit indien jy daarvoor vra. Dié stand van sake het my goed gepas, synde my 4,153-maal tafel deesdae hééltemal verroes is, en deur dollars as betaalmiddel te gebruik sou ‘n vermoeiende wiskundige berekening, telkens wanneer ek iets wou koop, my derhalwe gespaar bly.

So, teen die weggeeprys van $7 kon ons ‘n publieke bus haal. Die gebrek aan vensters sou die enigste lugverkoelingsmeganisme op dié vervoermiddel wees, maar sowel die hoenders op die dak as die onbestendige skokbrekers sou by die koste van die kaartjie ingesluit wees. Ek was egter van mening dat my lewe ‘n paar sente meer as sewe dollar werd was, en daarom het ek my neus vir hiérdie opsie opgetrek.

Teen $15 sou ‘n kommersiële vervoeroperateur ons met ‘n koning van die oop pad (minus enige pluimvee, plus werkende skokbrekers) binne sewe ure in Phnom Penh besorg, en teen $10 kon ons ‘n plekkie in ‘n moderne, lugverkoelde 12-sitplek-minibus ons s’n maak. Boonop sou die tog met laasgenoemde slegs vyf ure duur, en uiteindelik het ek nie eers ‘n samewerkingsooreenkoms tussen my twee breinselle benodig nie – die minibus sou dit wees.

Ons het elkeen tien groenes uit ons beursies geskud, en in ruil daarvoor het Mister Prak ons ‘n handgeskrewe bewys van betaling in die hand gestop. Hy het ons met geanimeerde armbewegings na die vertrekpunt toe beduie, en toe hy ons met ‘n stralende glimlag vaarwel toeroep, kon ek nie help om te staar na die kriekbeen wat teen een van sy voortande vasgePrak was nie.

**********************************************************************

By die rendezvouspunt het daar ‘n aanslag op ons sintuie gewag. ‘n Aanslag van mense, klanke, kleure en geure…en hoenders in staalhokke wat netnoumaartjies ‘n aandete sou word. Ná ‘n vlugtige soektog het ons die aangewese aanmeldingsplek gevind, maar die bussie wat dáár op ons gewag het was nie eers ‘n nabye familielid van die gelamineerde een in Mister Prak se kantoor nie. Dié een was die Suidoos-Asiese weergawe van ‘n hippie-wa uit die ‘70’s, eerder as ‘n ‘moderne, lugverkoelde 12-sitplek-minibus’.

Tyd vir protestasies was daar egter nie, en met ‘n skietgebedjie as wapenrusting het ek my gedweë in my toegekende plek heel agter in die ryding sitgemaak, terwyl ek kon sweer dat ek in die verte die gebeier van my doodsklok kon hoor lui.

Aan my een flank was Tamas, en knus aan die ander kant ‘n bejaarde Kambodjaanse omie met bedenklike persoonlike higiëne. Die bestuurder het boonop ‘n koffer in die reeds beperkte ruimte voor my voete staangemaak, en só is my lot finaal verseël – met al 1.87 meter van my ingewurm in ‘n spasie wat eintlik net vir ‘n enkele hoenderhokkie geskik sou wees. My mede-passasiers het hulle ewe knap sitplekke ingeneem, die bussie se deur het met ‘n ‘swoosh’ toegeswaai, en toe het ons in ‘n wolk van uitlaatgasse weggetrek – ek, Tamas, en tien Kambodjane.

Nou kyk, as jy gedink het dat die paaie in Limpopo met slaggate besaai lê, kan jy gerus maar weer dink. Want in vergelyking met die pad tussen Siem Reap en Phnom Penh, is die paaie in dáárdie deel van die wêreld so egalig soos ‘n biljarttafel se blad. Hoe enige passasier lewendig van punt A na punt B via ‘n Kabodjaanse pad kom, is ‘n ewe groot raaisel as wanneer die Stormers eendag die Superrugby-trofee gaan lig.

Dis asof die bestuurders hulle bes probeer om hulle onpadwaardige voertuie op ‘n skrootwerf te laat beland. En hulle passasiers in doodskiste. Waar daar eintlik net plek vir twee voertuie sy-aan-sy is, word daar plek vir ‘n derde een gemáák. Daar word getoet en geskwenk dat hoor en sien vergaan, en nadat ek vir ‘n kilometer of tien in afgryse deur die windskerm getuur het, het ek besef dat ek my aandag by iets anders moes bepaal, sou ek met ons aankoms in Phnom Penh meer wou doen as om net my varkies terug in hulle hok te probeer jaag.

Maar waarmee hou jy nou jouself besig in ‘n minibus wat meer rondskommel as die wipwaentjies destyds by die Pretoria Skou? Lees dié kon ek nie – nie nét omdat ek van voornemens was om my ontbyt in my maag te hou nie, maar ook omdat my konsentrasievermoë deur die oorverdowende gerammel van die enjin lamgelê is. Weens dieselfde rede was enige gesprekvoering ook buite die kwessie, en al kon ek vir ‘n wyle na musiek deur my oorfone luister, was dié afleiding van korte duur weens die breinpoep wat ek kort voor ons vertrek in my hotelkamer beleef het. Ek het spesiaal Kim Wilde se ‘Cambodia’ van my rekenaar na my slimfoon toe oorgedra, maar weens die flatulensie in my kop het ek ál die musiek wat reeds daarop was verwyder, en het net daardie enkele snit op my foon agtergebly. So, na sewe of agt herhalings kon ek dit eenvoudig nie langer verduur om te hoor van ‘Fly to Cambodi-haaaaa-ha-haaaaa…’ nie.

En om die kroon op dié sieldodende situasie te span, sou die vergatlike briesie wat deur die lugverkoelingstelsel gegenereer is, boonop nie eers die kersie op ‘n eenjarige se verjaarsdagkoek kon uitdoof nie.

Nou ja, daar sit ek toe. Afrikaner in annermansland, bekrompe op die agterste sitplek van ‘n doodskis op wiele, met die lewenslus wat saam met die soutdruppels uit my sweetporieë vloei. En al wat daar vir my is om te doen, is om te dink. En om rondom my te kyk na my Kambodjaanse mede-passasiers.

Maar ná ‘n rukkie se rondkykery en dinkery, wat met inténse selfbejammering gepaard gegaan het, het ek begin skaam kry vir myself. Want daar sit ek en verknies myself oor ‘n situasie wat ek heel moontlik nooit weer sal beleef nie, terwyl ‘n angsrit soos daardie maar net ‘n nógmaalse een vir die mense rondom my was. En wat dit selfs érger gemaak het, was die besef dat dié Kambodjane eintlik van die gelukkiges was, siende dat hulle só ‘n rit kon bekostig het. En só, terwyl die sweet van my neuspunt af tot binne-in my skoot gedrup het, het my gedagtes vér paaie begin loop…

Julle, die Kambodjane is arm. Baie, báie arm. Die gemiddelde inkomste in Kambodja is maar $1,000 per jaar, wat ‘n skamele $3 (of R45) per dag is. Maar desnieteenstaande is hulle opgeruimd. En verwelkomend. En sommer net doodgewoon oulik. En bowe alles is hulle vindingryk. Álmal probeer om ‘n ietsie aan jou te verkwansel – of dit nou uit ‘n bouvallige winkeltjie, of uit ‘n stalletjie in ‘n mark, of sommer uit die hand uit is. En alles, maar álles kos een dollar…of ‘whan dolla’, om presies te wees. Handgerygte stringetjies krale, sjiek serpies, veelkleurige materiaalbeursietjies, wolarmbandjies, botteltjies water, blikkies koeldrank, poskaarte, sleutelhouers, penne, sjokoladestafies, ag noem maar op – als teen die standaardprys van ‘whan dolla’.

Maar nadat jy ‘n dag of drie in dié geooste spandeer het, begin jy verstaan dat ‘whan dolla’ eintlik glad nie ‘een dollar’ beteken nie. ‘Whan dolla’ beteken bloot ‘ek-sê-dit-kos-whan-dolla-maar-eintlik-wil-ek-hê-jy-moet-’n-prys-maak-sodat-ons-daaroor-kan-kibbel-so-komaan-toeris-speel-dié-speletjie-saam-met-my-man’. En die mees merkwaardige hiervan is die wiskundige berekeninge wat deur selfs die pikkies toegepas word tydens dié kibbelary. $1 vir een word vinnig-vinnig $1.20 vir twee, en dan $1.50 vir drie, en dan $2 vir vyf. Wie het nou nodig om skool toe te gaan as jy jou breuke sommer so on-the-job kan inoefen?

En dan is daar die kosverkopers. Mister Prak is nie die enigste Kamodjaan wat ‘n smaak vir diepgebraaide gedrogte het nie. O nee! Op die meeste sypaadjies tref jy kosstalletjies aan wat die mees skrikwekkende disse te koop aanbied. Ek het een aand al my moed bymekaar geskraap en my mond gewaag aan ‘n allegaartjie van diepgebraaide paddatjies, krieke, sywurms en kewers. Die paddas het nogal soos gebraaide spek gesmaak, die krieke soos springmielies, en die sywurms soos grondboontjiebotter. Die kewers…wel, ek sal nie weet hoe dáái outjies smaak nie, want dís waar my kulinêre avontuurlus uit stoom uit gehardloop het.

Die meeste Kambodjaanse kleinsake-ondernemings genereer egter nie ‘n inkomste deur die verkoop van ‘n produk nie, maar eerder deur die lewering van ‘n diens. In elke tweede winkelvenster word die woorde ‘massage available’ vertoon, of dit nou régtig ‘n masseersalon is of nie. Selfs in sommige beknopte, bedompige straatkafeetjies kan jy teen ‘n appel en ‘n ei ‘n massering vir nagereg bestel…mits die sjef haar natuurlik vir ‘n uur of wat van die voorbereiding van ‘n insek-gebaseerde voorgereg kan losskeur.

Iets anders wat ‘n mens hiér opval, is die spoed waarteen ‘n minderjarige entrepreneur in ‘n minderjarige liefdadigheidsgeval kan verander. “You want a post card/wallet/bangle/water?” is hoe die openingssalvo gewoonlik afgevuur word. “No thanks, but thanks for offering,” sal daar dan walgegooi word. “But my grandfadda him dead in the genocide…” Punt. Skaakmat. Einde van die storie. En selfs al het jy geen noodsaak aan die lukrake snuistery wat jou aangebied word nie, stop jy maar in elk geval ‘n 50-sentjie in die vuil handjie wat voor jou oopgehou word. Sommer net vir sommer. Want om die armoede in Kambodja eiehandig te probeer verlig, sal wees soos om die Stille Oseaan met ‘n lepel te probeer leegskep. Maar ‘n mens kan tog seker maar probéér om ‘n verskil te maak, want as jy nie gaan nie, wie gaan dan?

***********************************************************************

Ek is uit my dagdroom geruk toe ons stotterend in Phomh Penh tot stilstand gekom het. Ek was in een stuk. Ontwater, en met spierkrampe op plekke waar ek nie geweet het ek plekke het nie, maar in een stuk.

Met die verloop van die volgende vier dae het ons die Kambodjaanse hoofstad en omstreke verken, en dít kan ek jou na dese daarvan sê: dié plek is soos ‘n lewendige, wriemelende organisme. Die energie is bykans tasbaar. Dit klop met lewe en dit borrel met die handel wat op primitiewe wyse gedryf word. In die smal straatjies, waar voetgangers, smouse, karre en motorfietse om dieselfde beknopte spasie meeding, word jy deur die beelde, klanke en reuke oorweldig. Dis waarlik die Asië waarvan mense van ver af droom.

En al tref die onmiskenbare armoede jou soos ‘n vuishou in die gesig, bly dit lieflik, en inspirerend. En wanneer jy van Kambodja af weggaan, wéét jy dat jy ‘n les geleer is oor medemenslikheid, nederigheid, en dankbaarheid. Innige, ínnige dankbaarheid.

Mei 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.