Oor ‘n verjaarsdag-oueraand

7 - oueraand

Nou ja, só het my eerste verjaarsdag agter die Bamboesgordyn toe sy onvermydelike opwagting gemaak. En as ’n spesiale vergunning het die skool-burokrate besluit om my op dié spesiale dag te bederf met niks minder nie as ’n… oueraand. So, in plaas daarvan om fees te vier met ’n koue, Chinees-gebroude Tsing Tao in die hand, moes ek die een na die ander immer-gierige ouer verseker dat sy/haar telg wél eendag ’n historikus van formaat sal wees.

Maar jy weet mos wat hulle sê van elke donker wolk, en in dié geval was die silwer randjie die persente waaronder ek toegegooi is. Ek weet nie of dit dalk iets te make gehad het met die feit dat daar vir twee weke lank ’n bitter onsubtiele A3-grootte aftelplakkaat teen my klaskamer se deur geplak was nie, maar die leerders in China onthóú nie net jou verjaarsdag nie, hulle is kennelik ook meer vrygewig as die lot in Londen, waar ek voorheen my leerkrag-vaardighede ingespan het.

Dáár kon ek hoogstens op ’n enkele kaartjie ter gelukwensing reken – gewoonlik een van die oorskiet van die vorige jaar se Kerskaartjies, met ‘Christmas’ uitgekrap en ‘Birthday’ in ’n wankelrige handskrif in die plek daarvan aangebring. Boonop sou daar dan, binne die bestek van ’n halfdosyn reëltjies, ewe veel spelfoute wees as wat ek in jare oud was. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek dink dat dit inderdaad só beplan was. Vir komiese effek. Wat dit tóg uiteindelik was. Maar onbedoeld só.

Met hiérdie verjaarsdag is ek egter bederf met onder andere die volgende: gourmet-sjokolade, ingevoer van België af; KWV-wyn, ingevoer van die Paarl af, en ’n strikdas. Dis reg – ’n koddige, blou-en-wit-geruite strikdas. Want elke geskiedenisonderwyser wat sy sout werd is moet immers ’n strikdas in sy arsenaal hê.

Maar behalwe vir die oorhandiging van persente, was daar ook ander amuserende oomblikke. Soos toe Mev. Liu*, van kop tot tone in Louis Vuitton uitgevat, haar 14-jarige seun Zang Jun*, en haar tolk (dis ’n regte mens, nie ’n nuwerwetse gadget nie hoor – amper soos ’n slaaf, maar met skoon hare en nuwe klere) voor my kom stelling inneem het.

Die tolk, wie se Engels ook maar ten beste so-so was, het my ter aanvang, ewe formeel, ingelig oor die prosedure wat tydens ons gesprek gevolg gaan word. Ek het aandagtig geluister, my kop instemmend geknik, en dit opgevolg met ’n hoflike ‘ni hao’ in Mev. Liu se rigting. Dis immers nie aldag dat ’n pleb van Pretoria-Noord hom in die geselskap van ’n Chinese kaziljoenêr bevind nie, en ek hét mos maniere, so waarom dit nie gebruik nie? My vriendskapsgebaar is erken met ’n enkele statige kopknik, waarna ek weggeval het met ’n bespreking oor die jong Zang Jun se (onbevredigende) vordering…

Nou kyk, Zang Jun het, soos baie ander rykmanskinders, maar min motivering om homself as mens te verbeter. Hy is gaaf genoeg, nie heeltemal ’n bedorwe brokkie nie, maar ook nie juis lief vir ekstra inspanning wanneer dit by huiswerk en addisionele navorsing kom nie. Seunsdinge, jy weet. Veral tienerseunsdinge. Niks té ernstig nie. Maar ek wou dit tóg op ’n subtiele, dog streng manier aan die drietal daar voor my duidelik maak dat hy sy sokkies sal moet optrek.

Terwyl ek met ’n strak gesig die vertaler oor Zang Jun se gebrek aan motivering ingelig het, kon ek deurentyd Mev. Liu se blik deur my voel boor. Ek het egter verseg om na haar te kyk, want vir haar sou ek in elk geval net gelyk het soos ’n waansinnige wat besig was om in tale te praat. My strategie was derhalwe om die vertaler stip in die oë te kyk, en in die proses sommer ’n mini-staarkompetisietjie te loods – vir my eie vermaak.

Hoe langer ek gepraat het, hoe meer ongemaklik het die vertaler begin rondskuif. ‘Lekker,’ het ek gedink, ‘hy weet seker dat Mev. Liu, na aanleiding van my klikkery, móói vir Zang Jun die Leviete gaan voorlees wanneer hulle later vanaand by die huis kom.’ En dít was presies wat ek wou gehad het, so my strategie was besig om vrugte af te werp.

Ek was reg – die tolk hét geweet wat kom. Maar as ek net geweet het wát hy geweet het, sou ek geweet het om die pap nie hééltemal so dik aan te maak nie…

Ek het my laaste sê gesê, die tolk het vir oulaas reggeskuif, Mev. Liu het haar ysige blik van my af na die tolk toe verskuif, waarna hy in ’n warboel van vreemde klanke aan haar begin verslag lewer het. Deur die verblindende glans van haar diamantoorbelle kon ek net-net uitmaak hoe haar gesig langsaam van woede vertrek. Op die beste van tye kan Chinees nie juis as sag op die oor beskryf word nie, maar die tolk se stemtoon en intonasie het besónder onheilspellend geklink. Hy het skoon na sy asem gesnak soos hy die woorde probeer uitspoeg het, en uiteindelik, na ’n paar stotterende nagedagtes, het hy stil geraak.

Mev. Liu het vlugtig in my rigting gekyk, en toe stadig na Zang Jun, wat nog deurentyd na die vloer gestaar het, gedraai. Daar was ’n effense frons tussen haar oë. Sy het haar kop stadig, báie stadig, net so effentjies na een kant toe gekantel. Só het sy hom vir ’n paar sekondes aangegluur. En toe, sonder enige waarskuwing, het sy haar arm met ’n geklingel van goue armbande teruggetrek en hom ‘DWAP!’ teen die kop geklap.

Sy bril het hier voor my op die tafeltjie neergeplof, maar voor jy kon sê ‘hoenderpoot’ het hy dit opgeraap en weer op sy neus staangemaak. Verward. Verwilderd. Verwese.

Ek kon my oë nie glo nie, maar die afgelope paar maande het my geleer om my verbasing (en in uiterste gevalle, walging) na binne te keer, sonder enige uiterlike teken daarvan. Ek wou lag. Natúúrlik wou ek lag! Want hier sit ’n dinastiële matriarg in die beste juwele, klerasie en skoeisel wat geld kan koop, en gedra haar soos ’n zeffer van Brakpan af. En daar bewys dit nógmaals – die vere maak nie die voël nie. En die strikdas ook nie.

Die res van die ouers was meer bedees en aansienlik meer normaal. Ryk, maar normaal. Daar was egter net so báie van hulle…en ek het net só lekker gesels…en toe ek weer sien het ál my kollegas verkas en my agterweë gelaat met ’n ry so lank soos die een vir die hernuwing van jou bestuurderslisensie buite die munisipale gebou in Bronkhorstspruit. Ek sal natuurlik graag wil glo dat dit tekenend van my gewildheid is, maar in alle waarskynlikheid kan dit eerder toegeskryf kan word aan my verwarrende lesse waardeur die leerders genoop word om hulle ouers op te steek om te kom duidelikheid kry oor wat ‘eish’, ‘howzit’ en ‘historical significance’ nou éintlik beteken.

Nou ja, met dié sleep ek toe véél later by die huis in as wat ek aanvanklik beplan het. En dít nogal op my verjaarsdag. Gelukkig was dit nie my 1ste, 16de of 21ste verjaarsdag nie, en daarom het dit nie eintlik verdién om in die oortreffende trap gevier te word nie. C’est la vie.

Volgende jaar sal ek weer verjaar, so hoop ek, en dán sal ek seker maak dat ek wye draaie om vroulike Chinese kinderaanranders loop. En intussen het ek darem ’n boks Belgiese sjokolade en ’n bottel KWV-wyn waarmee ek myself solank kan besig hou…

*Name verander om hul identiteit te beskerm…en om die bepalings van my indiensnemingskontrak te eerbiedig. 😉

facebook-page

Comments are closed.

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.