Oor ‘n eerste besoek aan ‘n Chinese supermark

3 - supermark

Die Bybel sê mens kan nie van brood alleen lewe nie, maar dalk moes dit eerder ‘rys’ gewees het, want soos wat ek ná my hervestiging in China ontdek het, kan mens beslis ook nie van rys alleen lewe nie.

Ek het geweet dat ek my eetgewoontes sou moes aanpas, maar niks sou my kon voorberei op wat op my sou wag nie, of meer spesifiek: wat nié op my sou wag nie. In Sainsbury’s was dit altyd so maklik. Ek het presies geweet waar ek als kon kry – vleis, eiers, brood, melk, sjokolade, roomys, ag noem maar op. Maar o wee, hoe anders het ek dit nie hier nie.

Op my tweede dag in Guangzhou het ek plek gemaak in my dagboek vir ‘n uitstappie na die sogenaamde ‘Westerse’ supermark hier naby my. Ek het sorgvuldig ‘n lysie van al my kosbenodigdhede saamgestel en my, à la Hansie Slim, vol van moed in die wye wêreld van die Chinese supermark begewe.

Die supermark was inderdaad super – rak na rak na rak vol kruideniersware…waarvan ek weinig kon herken. Die absolute vreemdheid van die opset was by tye só oorweldigend dat ek myself kort-kort moes knyp net om seker te maak dat ek nie droom nie.

Om mee te begin: die verpakking van die meeste produkte verklap bitter min oor die inhoud daarvan, en die beskrywings daarvan is uitsluitlik in Chinees. Nou kyk, Chinese skrif is weliswaar baie oulik…mits dit bo ‘n Chinese take-away aangebring is. Of op ‘n aanvallige nooi se blad getatoeëer is. Wanneer jou oorlewing van ‘n begrip daarvan afhang, raak dit aansienlik minder amuserend en aansienlik meer frustrerend.

Die vleisrak was ‘n mengsel van ‘n interessante nuwe belewenis, ‘n skrikwekkende ontnugtering en ‘n doodgewone siek grap. Rooivleis was grootliks onbekombaar, en die paar onaptytwekkende stukkies wat wel rondgelê het, het beelde van die destydse perdevleisskandaal in die UK by my opgebring (opgebring – vesta’ jy?). Ek het derhalwe besluit om my spysverteringstelsel ‘n potensiële foltering te spaar deur bloot net verby te stap.

Vis was daar wel in oorvloed. Die enigste probleem was egter dat dit nie verpak was soos ek daaraan gewoond is nie. Die allerverskriklikste seegediertes het daar, in hulle oorspronklike vorm, met koppe en binnegoed steeds netjies in plek, na my gelê en loer. Ek kon my dit dalk verbeel het, maar ek kon sweer dat ek nog hier en daar ‘n stert sien klap het.

En toe draai ek my kop negentig grade na links, waar ‘n onstellend-amuserende gesig my begroet het. Met die eerste oogopslag wou dit voorkom asof die troeteldierafdeling reg langs die vleisrak aangebring is, maar by nadere ondersoek het dit aan die lig gekom dat ‘vars vis’ presies dít beteken. Vars. Só vars dat dit inderdaad nog lewe. Al wat jou te doen staan, is om ‘n winkelassistent nader te wink en dié sal, ná ‘n kortstondige gespartel in die vistenk, met jou vis-keuse vorendag kom. Die feit dat die meeste visse in bogenoemde tenk soos mensvreters lyk, was egter genoeg om my aptyt vir vispastei te blus.

Vark was daar ook, maar ek sou met geen mate van sekerheid kon sê watter deel van die vark dit was waarmee ek in my hand gestaan het nie. Deur bloot daarna te kyk kon ek geen wyser raak nie, synde die Chinese skrif op die verpakking ontstellend baie soos dié op die agterkant van ‘n boks vol Chinees-vervaardigde vuurwerke gelyk het. Die vark is daarom ook maar met rus gelaat.

En dan was daar die hoender. Daar was ‘n paar pakke wat bleekwit dye en boudjies bevat het, maar telkens wanneer ek daarna gereik het, is dit deur ‘n Chinese hand voor my weggeraap. Goeie maniere blyk hier ewe skaars te wees as vleis van ‘n gangbare kwaliteit.

Dis tóé dat ek die pakke hoenderborsies opmerk. Ek was ietwat uit die veld geslaan om te besef dat dié pakke aansienlik goedkoper as enige ander deel van die hoender was. My lus vir ‘n hoenderborsie het egter die oorhand oor my agterdog gekry en ek is uiteindelik daar vort met ‘n hoop hoenderborspakke. Ek sou later leer dat die Chinese nie eintlik veel erg aan ‘n hoender se bors het nie. Wat hulle aanbetref is dít ‘n byproduk van dié spesifieke pluimvee. Húlle het ‘n veel beter ontwikkelde smaak vir die kop, pote en poephol van die hoender, want ‘dis mos die éintlike lekker daarvan’.

Die groente- en vrugterak was ook ‘n lewensles van soorte. Ek sou nie kon dink dat ek op my (relatief) gevorderde ouderdom nog iets in só ‘n rak sou teëkom wat my verdwaas sou laat nie. Maar ek hét. Daar was ‘n peulerige affêre in die vorm van ‘n komkommer, dog effens sagter, soos ‘n skorsie. Dié manjafter kom egter in ‘n enkele kleurskakering: pers. En nou bedoel ek nie die sagte pers van Barney the Dinosaur se pels nie, ek bedoel ‘n neon-pers soos die naambord van ‘n nagklub – nie heeltemal hoe ek die kleur van my groente verkies nie. Daar was ook ‘n vrug (só verneem ek) wat die meeste mense met afsku sou vervul. Hy’s ronderig, omtrent so groot soos ‘n lekker groot lemoen, maar helder pienk. Tot sover klink dit seker nie te vreemd nie, maar dié outjie het klipharde, hakerige stekels van omtrent 2cm lank regoor sy lyfie. Hy moet seker smaaklik aan sy binnekant wees, maar hoe mens daarby uitkom, is steeds vir my ‘n raaisel.

Iets anders wat my nou nog nagmerries gee, was die ‘bemarkingsdames’ wat die plek volgestaan het. In Sainsbury’s het jy hulle ook gekry – glimlaggende tannies wat kuis in hulle stalletjies staan en stukkies kaas, ham of sjokolade in proehappies aan verbygangers aanbied in die hoop dat die proeseltjie sal lei tot die aankoop van die ware Jakob.

In die Chinese supermark is dit egter nie tannies wat dié ‘diens’ verrig nie. Dis aggressiewe jong meisies in lagwekkende kostuums wat met…wag vir dit…mikrofone en draagbare luidsprekers gewapen is. Jy sal nog ewe rustig ‘n plastiekpotjie, wat lyk of dit dalk joghurt kan bevat, van die rak afhaal om te probeer ontsyfer wat presies die inhoud daarvan is, wanneer een van dié bemarkingsdames langs jou kom stelling inneem en met behulp van haar mikrofoon-en-luidspreker-kombo in Chinees op jou begin skree. En nee, sy laat haar nie van stryk bring deur die verslae uitdrukking op jou gesig nie. En dan, voordat jy nog behoorlik tot verhaal kan kom, sal een van haar mededingers van die teenoorgestelde kant af kom en dan van daai kant af, met die gebruik van soortgelyke tegnologie, iets in Chinees vir jou begin skree. Terwyl jy jou dan midde-in hierdie kakofoniese tweegeveg bevind, sal hulle boonop die vermetelheid hê om die produkte wat hulle bemark in jou mandjie te begin laai! Dit maak ook nie saak hóé erg jy protesteer nie, die geskreëry kry eenvoudig nie end nie. Ek sweer, geen mens se senuwees kan dit hou nie. Moet ook nie dink jy kan net na die volgende rak toe ontsnap nie, want dáár lê die bemarkingsagent van die volgende produk jou voor. Ai.

Probeer ook gerus, wanneer jy die volgende keer in ‘n supermark in Guangzhou is, om die volgende te vind: aanmaakkoeldrank, bekostigbare deodorant, of roomys wat nie patatgeur is nie (wel, die illustrasie op die verpakking lyk báie soos ‘n patat). Ek sal graag van jou wil hoor. Wat jy wél in oorvloed sal kry, is rys. Rakke en rakke vol rys. En nie sommer net ‘n pakkie met vier sakkies ‘boil in te bag’ nie. Ek praat van industriële grootte – 10kg-sakke van elke rysvariëteit onder die son.

Nou ja, my eerste supermarkondervinding was weliswaar ‘n interessante een, maar ek sal nie sê dat ek heeltemal onverrigter sake daar weg is nie. Ek kon darem raap en skraap en genoeg bymekaarmaak om my kosrakke minder karig daar te laat uitsien. Die éintlike pret was egter om dít wat ek gekoop het oop te maak, en vir weke daarna was elke ete soos Kersfees – grootliks omdat ek, ten spyte van my beste intensies, nooit seker was wát presies as maaltyd voorgesit sou word nie.

Gelukkig vir my hoef ek nie uitsluitlik staat te maak op supermark-kos nie. Net soos op enige ander plek ter wêreld vind mens hier ook ‘n verskeidenheid restaurante. Jy beter net jou woorde versigtig kies, want om te vra vir ‘n ‘hot dog’ kan moontlik iets heeltemal anders op jou bord laat beland as waarop jy gehoop het. Maar woorde is in elk geval nie die mees effektiewe kommunikasiemetode om jou kos mee te bestel nie. Deur soos ‘n besetene in gebaretaal tekere te gaan, lewer gewoonlik veel beter resultate op. En ek gebruik doelbewus die woord ‘beter’, want ‘goeie resultate’ dié kry jy maar selde.

Kyk, die kruks van die saak is dat hier nie eintlik Westerlinge woon nie. Om dié rede pas restaurante ook nie hulle spyskaarte aan om aan Westerlinge se voorkeure te voldoen nie (ook nie hulle eetgerei nie – mister Miyagi se maai man, jy moet MY deesdae met chopsticks sien!). Om kos in ‘n restaurant te bestel bly dus ten beste ‘n dobbelspel, maar die kans is uitstekend dat jy iets gaan kry wat jy nog nooit voorheen oor jou lippe gehad het nie. Soms sal jy die heerlikste rysgereg kry wat jy áltyd weer sal bestel (mits jy die naam daarvan kan onthou) en soms sal jy ‘n bordjie koue varkvet kry, wat jy beslis nóóit weer sal bestel nie (mits jy die naam daarvan kan onthou). You win some, you lose some. Maar die één ding waarvan jy verseker kan wees, is dat die bier wat aan jou bedien word, warm sal wees. Soos ‘n glasie rooiwyn. Want dis hoe hulle dit hier doen. Njam. Njam.

Moet ook nie die fout maak om te dink dat jy die smaak van enigiets wat jou nie aanstaan nie in die badkamer uit jou mond kan gaan spoel nie. Hier kan jy nie die water uit die krane drink nie. In ‘n restaurant kan jy nog ‘n botteltjie mineraalwater bestel, maar by die huis lol dit effens.

Ek het ‘n tamaai watertenk in die kombuis, wat baie help, maar die probleem lê daarin om ‘n vol tenk te bestel wanneer die huidige een aan’t leegloop is. Jy sien, só ‘n ekstra-groot waterbottel gooi jy nie sommer oor jou skouer by die supermark nie – hy moet eers per telefoon bestel en dan afgelewer word, maar natuurlik verstaan die persoon aan die ander kant van die lyn nooit Engels nie. My waterwinkel-kliëntenommer bestaan uit vier nommers, en wanneer die persoon aan die ander kant antwoord, vermy ek enige bekendstellingsgeselsies en val eenvoudig in my beste Chinees weg met ‘ie-djou-lieng-oe’ (1905). Nadat ek dit so vyf keer herhaal het, word die foon dan soos klokslag in my oor neergeplak. Vervolgens kan een van twee dinge gebeur: daar kan (1) sowat drie ure later ‘n klop aan die deur wees, en wanneer ek dit oopmaak, staan daar dan ‘n plankdun Chinese man met ‘n reusagtige waterbottel op ‘n trollie voor die deur, of daar kan (2) niks gebeur nie. Want, so vertel Me. Yan by die werk vir my, die Chinese kan nie my Chinees verstaan nie, omrede ek dit met ‘n aksent praat. Wil jy nou meer.

Bogenoemde is natuurlik ‘n paar uiterste staaltjies oor die afgelope paar maande of so. Sedertdien het ek darem my voete (en my kosvoorkeure) begin vind en hier sal ek vir seker nie doodgaan van die honger nie. Dit sal beslis nog ‘n rukkie wees voordat ek hééltemal gewoond is aan die andersheid van als, maar, soos wat ek nou al vir geruime tyd weet: kos is die laaste ding waaroor ‘n mens jou behoort te bekommer, want kos jaag in elk geval net stront aan in jou maag.

Koes! Dis ‘n inkopietog in ‘n Chinese supermark! from Fanie van der Merwe on Vimeo.

facebook-page

Laat 'n boodskap

  1. Gawie Liebenberg sê:

    Fanie, baie dankie dat jy jou inkopie-avontuur met ons gedeel het. Dit is nogal n ervaring om dit self te kon beleef het en ek praat hier uit ondervinding uit. Het self menige male in soortgelyke supermarkte moes gaan voorraad aanvul in Shenzhen, Wuxi, Shanghai en ook Hong Kong.

    Hoop om dieselfde ervaring weer binnekort te kan ervaar in Shenzhen, Guangzhou asook Hong Kong.

    Groete vanuit n koue Suid-Afrika!

Laat 'n boodskap na Gawie Liebenberg Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.