Oor Julius Hitler en Adolf Malema

16 Julius Hitler

Hier volg die nuus uit Suid-Afrika: Julius Malema, Julius Malema, Julius Malema.

Nog nooit vantevore is die Suid-Afrikaanse koerantopskrifte en nuusbulletins in só ’n mate gedomineer deur iemand wat nie ’n regeringsminister, sportster of massaprediker was, as wat tans die geval met die heer Malema is nie. Dis alom bekend dat Malema se houtwerkvaardighede hoogs bedenklik is, maar dit wil voorkom asof hy ’n groter bedrewenheid in sy geskiedenisklasse getoon het. Daarvan getuig sy onrusbarende gedrag, wat toenemend ooreenkomste met die mees berugte antagonistiese figuur in die geskiedenis toon.

Ná soortgelyke stotterende wegspronge in die lewe, as treurige kunstenaar en ellendige akademikus onderskeidelik, kon beide Adolf Hitler en Malema hul oorspronklike hindernisse oorkom en beroemdheid verwerf.

Net soos Hitler, is Malema obsessief oor die ‘bevryding’ en die ‘stryd’ van ‘sy mense’. Die eenvoudigste wyse om ekonomiese emansipasie te verseker, is om te konfiskeer wat reeds bestaan, en nes die geval was onder die eertydse Duitse burgery, wil die ontvanklike ore van onderdrukte Suid-Afrikaners hoor hoe nasionalisasie bo-aan die politieke agenda verskyn. En dít verskaf Malema aan hulle in oormaat.

Hitler se aangrypende, ontroerende openbare toesprake, sowel as sy vermoë om te kon bepaal wat die massas wou hoor, het van hom die leier gemaak wat die Duitsers gehoop het hul nasie nogmaals sou laat gedy. Net so is Malema, deur middel van opruiende toesprake, in staat om vrugbare grond vir sy retoriek te vind – in die desperasie van gewone mense. Brandarm Suid-Afrikaanse jeugdiges, hunkerend na dít waarop hulle ‘geregtig’ is, het Malema reeds as hul Messias gesalf.

Hitler het ’n fyn bewustheid gehad van die krag van simbolisme, en deur te hamer op die ‘ongeregtighede van die verlede’ het hy die Duitse volk om sy pinkie gedraai. Ditto Malema.

Hitler se doktrine wat die Jode, ’n minderheidsgroep, verantwoordelik gehou het vir als wat krom en skeef was in Duitsland, is deur gewone Duitsers ingedrink, net soos gewone Suid-Afrikaners Malema se oproep om “Boere” te skiet, tydens elke massabyeenkoms eggo. En dít in weerwil van die gelykheidshof se onlangse bevinding dat die sing van Dubulu iBhunu op haatspraak neerkom.

Hitler se Derde Ryk, wat vir ’n duisend jaar moes bestaan, was ’n propagandamasjien wat geen teenstand geduld het nie. Nie van politieke teenstanders nie en beslis nie van die media nie. Die ANC, wat sal regeer “totdat Jesus terugkeer”, se omstrede Wet op die Beskerming van Inligting word heelhartig deur Malema ondersteun, terwyl hy enige politieke teenstand deur intimidasie en bullebakkery in die kiem smoor.

Hitler se kwalik bedekte beleide van nasionalistiese indoktrinasie, rassehaat en revolusie, is met minating bejeën en afgelag, net soos wat vandag met Malema gebeur, maar ná die konsolidasie van Nazi-mag is hierdie beleide aangegryp deur die aanhangers van Hitler se retoriek. Wie weet waartoe die Malema-ondersteuners in staat sal wees indien hý eendag die magtigste man in Suid-Afrika word?

Maar dis die volgende ooreenkoms tussen Hitler en Malema wat deur elke Suid-Afrikaner met meer as net ’n tikkie benoudheid in oënskou geneem behoort te word: in 1923, ’n volle tien jaar voordat Hitler tot Kanselier van Duitsland verkies is, het hy ’n optog van sowat 2000 Nazi’s deur die strate van München gelei. Die oogmerk hiérmee was om uitendelik ’n staatsgreep op die ongewilde Weimarregering uit te voer. Die Biersaal-putsch, soos dit later bekend sou staan, het egter misluk. Hitler is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy uiteindelik nege maande uitgedien het. In die tronk het hy sy handleiding vir Nazi-oorheersing, Mein Kampf, geskryf en die res is, wel, geskiedenis.

Presies twee weke nadat Malema ’n optog teen armoede gelei het, is hy deur die ANC se nasionale dissiplinêre komitee skuldig bevind aan ’n rits oortredings en is hy vir vyf jaar uit die party geskors. Suid-Afrikaners, wit en swart, juig, en hoop dat dit die einde van die era van rassepolarisasie sal inlui. Noem my sinies, maar ek is nie oortuig dat die laaste bladsy in die biografie van Julius Malema geskryf is nie.

Ek hoop egter ek is verkeerd. Mag Malema deur die geskiedenis onthou word as ’n magshonger demagoog wat eens op ’n tyd gedreig het om die relatiewe rasseharmonie wat ons ná 1994 bereik het, ongedaan te maak. Mag sy skorsing ’n draaipunt vir ons land wees en mag ons kinders se kinders ons eendag vra: Julius? Julius wie?

*Hierdie inskrywing het oorspronklik in November 2011 as ‘n rubriek in The South African verskyn – kort nadat Malema weens wangedrag vir ‘n tydperk van vyf jaar uit die ANC geskors is. 

facebook-page

Laat 'n boodskap

  1. MJ Uys sê:

    Fanie, hier is jy in die kol. Laat ons maar van die begin af begin. Ek het jou raakgeloop op FB landbou sosiaal, en het so deur van jou fotos gekyk. Man kyk ek hou van jou skryfstyl, ek dink regtig nie jy is ‘n gewone ou wat skryf nie. Eerder ‘n buitengewone begaafde ou wat skryf. Ek dink as jy vir Huisgenoot sou skryf, hul sirkulasie syfers sou verdubbel, amper iets soos ‘n moderne Eugene Marais. En die fotos, die beste wat ek in ‘n lang tyd gesien het. ‘n Mens reis werklik deur jou lens. Baie, baie goeie fotografie. Ek gaan nog lank en lekker kyk en lees. Maar kom ons kom gou terug Malema, ek het ook daardie ooreenkoms raakgesien. Anders as Hitler het Malema egter geen werkbare idees nie en as hy aan bewind kom, gaan daardie storie van die tiener profeet waarvan jy geskryf het soos ‘n kinder partytjie lyk en dan gaan die ander profeet waarvan jy geskryf het se woorde waar word. Ek wonder presies hoeveel mense suid van die Sahara, van Suid Afrika afhanklik is vir hul oorlewing. Al wat ek weet is dat dit enorm is en dat as die Afrikaner boer (en hier bedoel ek landbouer) hier vernietig word, die gevolge sal wees soos met Simson se heengaan. Snaaks hoe die geskiedenis homself herhaal. Ek is ook maar ‘n eenvoudige gewone ou wat glo aan leef en laat leef, en glo in die goeie in mense, en die sonskyn oor almal gun, elke ou sy opinie gun, en glo aan harde werk en so aan. So ietsie wat ek ook vir jou wil noem is dat Robert Mugabe blykbaar, akademies, die hoogs gekwalifiseerde President ter wêreld is, nie dat ek regtig daaroor wil nalees nie, net so ter inligting. Ons kinders se kinders sal dalk eendag ook in geskiedenis belang stel en dalk nalees oor wat die Malema sage opgelewer het. Ek ken ook so bietjie van Natte en Sappe en ons was Nat mense, maar ek gaan nou nie ou koeie opgrawe nie, so kom ons los dit daar, en jou werk te kosbaar om te kritiseer. Ek stel belang in geskiedenis maar is glad nie ‘n kenner van geskiedenis of het dit glad nie bestudeer nie . Ek sou graag wou weet of daar suksesvolle onderhandelde skikkings in Afrika was waar minderhede se sake op ‘n regverdige manier geëindig het? In onderhandelinge in Suid Afrika kan ek dink aan Piet Retief, Vrede van Vereeniging en dan die 1994 Oorgawe ekskuus, demokrasie. Nie een het goed geëindig vir die Afrikaner nie. Die diaspora van die Afrikaner is getuienis daarvan, driekwart van my familie is weg en baie van my maats. As ek so na jou fotos kyk Fanie, dan brand my hart, want my land kon ook so gelyk het, dan brand my hart, want ouens soos jy moes hier gewees het, nie vir Chinese kinders skool gehou het nie, maar vir Afrikaner kinders. Ek blameer niemand wat hier padgee nie, inteendeel moedig ek elke kind wat ek teekom aan, moenie ‘n minuut langer hier vertoef as wat absoluut nodig is nie. Om nou weer terug te keer na die oorspronklike onderwerp, jy weet die deel wat my werklik fasineer is die deel van ongeveer 1900 tot huidig. Daar is soveel beeldmateriaal en dokumentêre programme beskikbaar op Youtube en so aan. As ek so na die goed kyk, veral as dit kom by Jode in Nazi Duitsland, dan dink ek, hoe is dit moontlik dat hierdie mense nie die tekens gesien het nie? Hoe is dit moontlik dat hulle nie gevlug het nie, alles het daarop gedui van dit wat sou kom, nie waar nie? Dit was eintlik al in Mein Kampf geskrywe wat lank voor die tyd wyd en vrylik beskikbaar was. As jy egter na die stories gaan luister sal jy uitvind, dat hulle ook eiendom besit het, ook gevestigde belange gehad het, ook bang was en nie kon glo dat “hulle” regering so iets sou doen nie. Ook geglo het dit is opportunistiese propaganda, politiek wat ook al. Hulle was so blind dat selfs toe hulle op die treine gelaai is, hulle nogsteeds positief was en geglo het hulle gaan hervestig word. Arme drommels wat het hulle gedink? Wat dink ons? Dit sal nooit weer gebeur nie? Dit is nie moontlik nie? Presies dieselfde as wat hulle gedink het. Ons weet albei die wêreld kan oornag verander. Dit vat nie ‘n profeet nie net ‘n realis, om hierdie goed te sien. Baie dankie vir jou skryfwerk en fotos dit is heelik om te lees en te sien.

    • Fanie sê:

      MJ,

      Hierdie boodskap van jou is wragtig die 21ste eeu se weergawe van ‘n message-in-a-bottle. Ek kan nie glo hoe lank dit reeds hier ronddobber sonder dat ek dit gesien het nie. Askies man! Ek kom eintlik nooit op dié blad nie, maar wil graag bietjie meer doen.

      Jis, ek weet nie weet nie eers waar om te begin antwoord nie. Hahaha! Maar ek ís baie beïndruk met jou toleransievlakke, want om deur sóveel van die inhoud van my site te kon wroeg, kon nié maklik gewees het nie. 😉

      Laat ek maar eers net dankie sê – dankie vir jou boodskap. En jammer dat dit moes lyk asof ek dit ignoreer. Ek het dit regtig nie gesien nie.

      Groete. Fanie.

Laat 'n boodskap na MJ Uys Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.