Oor die tekens van die tyd

13 tekens van die tyd

Daar is ‘n paar dinge in hierdie lewe waaraan geen sterfling kan ontsnap nie, soos die natuur se roepstem, die belastinggaarder se tentakels en, natuurlik, die ongenaakbare verbytik van die jare. Ja, daar kom ‘n tyd in elke mens se lewe dat hy moet erken dat die tekens van die tye daar is – die tekens dat jy die dae van jou jeug vir goed agterweë gelaat het.

Om ‘n Saterdagaand by jou huis deur te bring vul jou nie meer met waansinnige vrees nie. En in teenstelling met vervloë dae, toe ‘n 3-liter bottel Strongbow net voldoende was vir ‘n opwarmingsessie, is jy nou heeltemal geneë daarmee om aan ‘n nagmaalgrootte glas sjerrie te teug. Die hele aand lank. Behalwe wanneer werkstres jou noop om ‘n bottel brandewyn ‘n les te leer.

Wanneer jy jou wel na ‘n nagklub wend, is dit nie omdat jy hoop om ‘n testosteroongedrewe gelukkie los te slaan, of omdat jy die drinkery of die dansery so baie geniet nie. Nee, jou motivering spruit eerder uit die feit dat jy jouself wil oortuig dat jou sosiale lewe nog ‘n titsel woema in hom het. Maar eintlik, as jy eerlik is, sal jy erken dat jy veel eerder op verlore slaap sou wou inhaal. ‘n Goeie ding is dat jy nie meer in sulke plekke vir jou ID gevra word nie, maar enige ouderdomsverwante oëverblindery word in elk geval ontmasker vir die leuen wat dit is wanneer jy, na ‘n enkele Tequila, jou beste Macarena-moves begin uithaal.

As jy gelukkig genoeg is om nog hare te hê, is ‘n gryserige skynsel hier bolangs nog grotendeels aanvaarbaar. Daar is immers wysheid in grysheid. Dis egter die ontdekking van ‘n kolonie grys meneertjies op jou bórs wat jou vervaard na Mamma se tweezer laat gryp in ‘n (futiele) poging om die tekens van die tye te probeer verbloem.

Geeneen van jou vriende se ma’s is meer hot nie. Inteendeel, slegs ‘n onbeduidende persentasie van jou vriende se vróúens is nog hot.

Jy kan uiteindelik ‘n duur denim bekostig, maar neig om dit heeltemal te hoog op te trek om agting by enigiemand jonger as 30 af te dwing. Kyk waar sit Justin Bieber se broek. En dan kyk jy waar sit Simon Cowell se boek. En dan sal jy verstaan wat ek bedoel.

Jy verseg om ‘n mening uit te spreek oor die hupse 18-jarige klerk by die werk se voorkoms. Jy weerhou jouself om só aan haar te dink, want pedofilie is per slot van sake strafbaar met ‘n hele paar jaar agter tralies.

Jy rook omdat jy verslaaf is aan nikotien, nié omdat dit cool is nie. ‘Groepsdruk’ is ‘n irrelevante konsep en is, om die waarheid te sê, deesdae net iets wat jy by ‘n swinger’s club sal ervaar. Kug-kug.

Daar is meer x’e op jou klere-etikette as op ‘n verliefde skoolmeisie se pennesakkie. En wanneer jy wél die dag by ‘n gym uitkom, ignoreer jy die gewigte soos ‘n stopstraat en pyl jy reguit op die hardloopmasjien af, want om ysters te pomp gaan geen verskil aan jou bultende pens maak nie.

Jy raak nostalgies wanneer jy terugdink aan die dae toe high speed dubbing nog vir Kurt Cobain soos ‘n chipmunk laat klink het. Jou enigste opinie oor kontemporêre musiek is dat Psy, wel, saai is en dat hy nooit as te nimmer by Crowded House en Bon Jovi sal kan kers vashou nie. Praatradio boesem nie meer die heilige vrees van vroeër by jou in nie en dikwels draai jy instinktief die volumeknoppie selfs verder na regs – veral wanneer dit tyd word vir die nuusbulletin. Boonop skeel dit jou min dat die platejoggie na die musiek uit jou era as ‘vintage’ verwys.

Jy vind toenemend dat jy in gebreke bly om doeltreffend met die jonger geslag te kommunikeer. Jou arsenaal windmakerwoorde, insluitend ‘dude’‘stuff’‘radical’ en ‘amazing’, maak nét nie meer dieselfde impak as vroeër jare nie. Jy hoor hoe kinders na ‘n paar tekkies as ‘siek’ verwys, en jy kan nie die logika daarin sien nie. Jou sms’e aan jou broerskinders bly onbeantwoord, bes moontlik omdat hulle jou nie kan verstaan nie. Jý kom immers uit ‘n era van nougesetheid, waar woorde enduit geskryf word, en jy skl mar mt d kwl Mxit-taal wt d 10ers no gebrk.

En dan, les bes, het jy ‘n unieke probleem as jy ‘n lid van die skoner geslag is. ‘n Unieke, ongereelde probleem. Want wanneer die ouderdom kom klop, raak daai dikderm verstop. Ten minste lei jou gevolglike obesessiewe veselinname tot ‘n trein wat weer die stasie op tyd verlaat, wat weer lei tot ‘n uitbundige vergenoegdheid soos wat jy laas tydens jou kinderjare ervaar het.

Maar soos klokslag, nét voor die neerdrukkende feit van die tyd jou té droefgeestig stem, skemer daar weer ‘n betroubare sprankie hoop deur…want al is jy vandag ouer as wat jy ooit tevore was, is jy nog steeds jonger as wat jy ooit sal wees.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Comments are closed.

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.