Oor die impak van ‘n celebrity-ontmoeting

10 Oor die impak

Ek het nie veel erg aan celebrities nie. In elk geval nie méér nie. As kannetjie het Naas Botha my feitlik elke aand in ’n droom kom besoek, en later jare was Michael Stipe van R.E.M. die vernaamste teiken van my tienerfiksasies. Tussendeur het ’n hele rits krieketspelers my kamermure versier én ek was boonop obsessief verlief op Meg Ryan.

Maar deesdae staan ek grootliks afsydig jeens die sirkus wat met die celebrity-fenomeen gepaard gaan – verál wanneer die fokus van dié sirkus sentreer rondom ‘glanspersone’ met ‘aardskuddende’ talente soos om te kan sing. Of te kan dans. Of toneel te kan speel. Moerse. Ek kan Jan Pierewiet deur my neus fluit, maar ék word nooit genooi na gala-geleenthede waar die genooides hovaardig na mekaar as ‘mede-celebs’ verwys en met selfingenome genoegdoening mekaar se winde sit en opruik nie.

Maar tóg is ek nie totaal oninskiklik wanneer dit kom by die verering van verdienstelike individue nie. Ek sou dit net verkies het dat die amperse goddelike eerbied wat die gepeupel so geredelik betoon, beperk word tot persone wat wérklik ‘n verskil aan die wêreld gemaak het. Soos  Tim Berners-Lee, wat die internet uitgevind het, of Alexander Fleming, wat penisillien ontdek het, of Johannes Gutenberg, wat die drukpers ontwerp het. Of Justin Bieber, wat kan sing én kan dans én kitaar kan speel. Jy weet?

Maar ondanks my onmiskenbare sinisme is ek onlangs herinner aan die emosionele maalstroom waarin jy gedompel kan word wanneer jy van aangesig-tot-aangesig met ’n régte celebrity kom.

Ons het vir ’n paar dae in Parys gaan uitspan, en toe die imponerende Eiffeltoring en Arc de Triomphe, en selfs die majestueuse Sacré-Coeur daarin faal om ’n glimlag op die jongste lid van ons reisgeselskap se bakkies te sit, was dit ’n teken dat ek my troefkaart sou moes speel – ’n besoek aan Disneyland Paris.

Nou ja, die toegangsfooi alleen kan ’n nedersetting in die derde wêreld vir ’n jaar lank van lewensmiddele voorsien. Voeg daarby die nimmereindigende geroesemoes van kinderliedjies wat uit onsigbare luidsprekers verrys, tallose gesinnetjies wat meedoënloos op hul volgende bestemmings afpyl, en die ellelange rye wat jou selfs by die relatief vervelige pretritte begroet, en dié uitstappie kan potensieel in ’n hewige beproewing ontaard. Maar ek het verseg om van stryk gebring te word, synde ek reeds van vroegdag af my oog op die dag se grand finale, die Disney Magic Parade, gehad het.

Ons het ons op die sypaadjie langs die hoofstraat tuisgemaak, oomblikke voordat die aanvang van die prosessie met trompetgeskal aangekondig is. Rondom my was die afwagting afgeëts op grootoog-kindergesiggies, volkome betower deur dié grootse oomblik in hulle lewens. Die verskyning van die eerste vlot doer bo in die straat het ’n beroering rondom ons veroorsaak, en toe Die Goeie Feë, wat aan die voorhoede was, by ons verbykom, is sy met ’n gejil en ’n getril verwelkom asof dit 1964 was en The Beatles pas op JFK geland het.

Op die maat van ’n klassieke Disney-deuntjie het hulle een vir een by ons verby beweeg: Sneeuwitjie en haar dwergies, Alice, The Mad Hatter, Peter Pan, Captain Hook, Tinkerbell, Woody, Buzz Lightyear, Mister Potato Head, ag noem maar op. Maar die luidste gejuig is gespaar vir die groot trekpleister, die legende, die een en enigste, die koning van die animasiekarakters, die Disney-diamant: Mickey Mouse.

Dalk was dit die vervoering waarin ek toe reeds verkeer het wat dit veroorsaak het. Of dalk was dit die feelgood-liedjie wat uit die luidsprekers gestroom het. Of dalk selfs die histeriese kinderkrete van “MICKEYYY! MICKEYYY!” vanuit alle oorde rondom my. Maar midde-in hierdie betowerende oomblik, vasgevang in die heilsaamheid waardeur ek omring is, het my oog die onbeskaamde verwondering op ons kleine Ben se gesiggie gevang. En toe stróóm die trane oor my wange. Omdat ek só oneindig lief is vir hom. En omdat ek skielik so oneindig lief geword het vir Mickey Mouse. En ag, sommer net omdat alles, in die hele wye wêreld, oukei gaan wees…

Waar ek nou hier sit en tik voel dit onwerklik dat ek só deur emosie oorval kon word. Ondenkbaar, selfs. Maar dit hét gebeur. Ek, met my sogenaamde afkeer in celebrities, hét voor die sjarme van een geswig. So hoe sal ek ooit weer veroordelend kan staan teenoor iemand wat iemand anders, vir welke rede ookal, wil ophemel en op ’n troontjie wil plaas? Ek kan nie. En ek sal ook nie weer nie. Each to his ownWhatever rocks your boat. Leef. En laat leef.

En intussen sal ek my volkome verlustig in my droomlandgeselsies met ’n vriendelike muis met ’n rooi broek en geel skoene…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.