Religie: teorieë oor die ontstaan van georganiseerde geloof

12. Geskiedenis van religie

Wanneer die ontwikkeling van georganiseerde geloof, of dan ‘religie’, bestudeer word, raak dit gou duidelik dat daar ‘n groot verskeidenheid (en dikwels teenstrydige) sienings, redenasies en argumente daaroor bestaan. Omdat religie sedert die begin van die mensdom deel van die mens se psige was, is dit ‘n hoogs relevante onderwerp, maar terselfdertyd bestaan daar beswaarlik enige empiriese bewyse ter stawing van enige teorie oor die ontwikkeling daarvan. ‘n Legio akademici, filosowe en sosioloë het deur die eeue heen teorieë en hipoteses daaroor ontwikkel. Vervolgens word die fokus geplaas op sommige van hiérdie teorieë, en word ‘n aantal kwessies wat daarmee verband hou, uitgelig.

1. Teorieë oor die ontstaan van geloof

1.1 Animisme

Die eerste noemenswaardige teorie oor die oorsprong van die religie, is ‘animisme’ – die breinkind van Edward Burnett Taylor. In wese verwys ‘animisme’ bloot na ‘die geloof in ‘n siel’. Volgens Taylor het prehistoriese mense dit moeilik gevind om te verduidelik hoe mense kan sterf, maar steeds in lewende mense se drome en herinneringe bly voortbestaan. Hierdie primitiewe mense kon slegs een verklaring daarvoor vind, naamlik dat elke persoon oor ‘n onsigbare, ontasbare siel beskik wat bly voortbestaan selfs ná die persoon se dood. Hierdie gedagtes was, volgens Taylor, ‘n resultaat van vroeë mense se onvermoë om te kon onderskei tussen drome en die werklikheid, en tussen die lewe en die dood.

Hierdie idee is later oorgedra na nie-lewende voorwerpe en daar is aanvaar dat alles (die son, plante, berge, diere, riviere) oor ‘n persoonlikheid en ‘n siel beskik. Hierdie beskouing het waarskynlik ‘n rol gespeel in die ontwikkeling van latere religieë, soos die Romeine, wat ‘n hele aantal gode aanbid het wat direk aan natuurlike verskynsels verbind was (byvoorbeeld Ra – die Songod).

1.2 Mana

Ander denkers het met Taylor verskil en het geredeneer dat animisme voorafgegaan is deur deur ‘n geloof in mana – ‘n onpersoonlike bonatuurlike krag.

Enige voorwerp kon mana bevat, en mense kon krag en sterkte put uit sulke voorwerpe (bekend as fetisje) vir persoonlike gewin. Dié gelukbringers wat mana bevat het was neutraal en kon vir goeie of slegte doeleindes aangewend word.

Bewyse vir die bestaan van ‘n geloof in mana word aangetref in uiteenlopende historiese samelewings, onder andere in Afrika en Noord-Amerika.

1.3 Totemisme

Totemisme is die verskynsel dat ‘n familie of stam hulself met ‘n voorwerp, gewoonlik ‘n plant of dier, vereenselwig. Die totem is beskou as ‘n oer-voorvader of gees wat gewaak het oor die familie/stam. Emile Durkheim (een van die vaders van sosiologie as studieveld) en Sigmund Freud het albei geglo dat totemisme die vroegste vorm van religie was.

Volgens Durkheim se teorie, onstaan en ontwikkel religie aan die hand van sosiale strukture. Religieuse praktyke word aangewend om die goeie in die samelewing te bevorder en die slegte te beperk. Die totem is ‘n vergestalting van die groep se kollektiewe strewe na ‘iets groter’. Stamlede kon individueel inspirasie put uit die totem, maar uiteindelik was die totem ‘n verpersoonliking van dít wat vir die groep belangrik was.

Durkheim se koppeling van religie aan die sosiale orde, is vandag steeds relevant, en is van toepassing op die meeste hedendaagse gelowe. Christene gebruik byvoorbeeld die tien gebooie as ‘n riglyn vir hul lewens, maar nege van daardie tien gebooie kan gebruik word om ‘n beskaafde en georganiseerde samelewing teweeg te bring, ondanks die kulturele agtergond of wêreldligging van só ‘n samelewing.

Freud gebruik twee mites, naamlik die oer-misdaad en die Oedipus-kompleks, om sy teorie oor die onstaan van geloof te verduidelik. Albei hierdie mites handel in wese oor die moord, gedryf deur jaloesie, van ‘n vader deur sy seun/s.

In die mite van die oer-misdaad vermoor ‘n aantal jaloerse seuns hul vader, waarna hulle hom verorber. Hul kry egter berou oor hul dade, en herdenk as boetedoening hul vader se lewe deur middel van ‘n ritueel, wat die eet van ‘n dier insluit. Die eet van die vader word dus vervang deur die eet van ‘n dier, en hierdie vervanging beteken dat die vader as totem verewig word.

Dis interessant om te let op die ooreenkomste van bogenoemde ritueel met dié van die nagmaal in die moderne Christelike kerk, waar brood en wyn as plaasvervangers dien vir die vlees en bloed van Jesus Christus.

Freud het bespiegel dat geloof geëvolusioneer het deurdat die getotemiseerde vader van die oer-misdaad mettertyd ontwikkel het tot ‘n god. Volgens Freud word ‘God’ deurlopend gemodelleer op ‘n vader en bepaal ‘n mens se persoonlike verhouding met jou vader jou verhouding met God. Vandag vind mens Allah (‘n man) as enigste god van Islam en God die Vader as die Christelike god, om net twee voorbeelde te noem.

2. Die evolusie van geloof

Sommige denkers glo dat die progressie van religieë ‘n geleidelike proses was.

Herbert Spencer (‘n 19de-eeuse sosioloog en filosoof) het geglo dat geloof ontstaan het uit ‘n vrees vir die dooies. ‘n Siel of gees is aan dooies gekoppel om aan hulle ‘lewende’ kwaliteite (soos om in drome of herinneringe te bly voortbestaan) te verseker. Gode het ontwikkel uit die idee van geeste, wat daartoe gelei het dat die aanbidding van voorvadergeeste en gode (politeïsme) die eerste vorm van geloof geword het. Volgens Spencer was monoteïsme die laaste stap in die evolusie van geloof.

Nog ‘n teorie rakende die evolusie van geloof, wat in die laat 1800’s die lig gesien het, is dié van Sir James Frazer. Frazer het aangevoer dat daar drie stappe in die ontwikkeling van die intellek van die mensdom (en gepaardgaande religieuse ontwaking) plaasgevind het.

Die eerste stap was die vertroue in toorkuns, waardeur die manipulering van die mana deur middel van rituele gewaarborg sou kon word. Die volgende stap – religie – was ‘n gevolg van ‘n afhanklikheid van bonatuurlike wesens. Indien die mana nie deur toorkuns beheer kon word nie, sou dit moontlik wees om deur gebed en offergawes die gode te oorreed om ‘n mens te help of genadig te wees. Die derde en finale stap – wetenskap – het deur ‘n gevoel van ontnugtering in gelowige praktyke ontstaan. Frazer het gereken dat geloof sou verdwyn met die aanbreek van die wetenskaplike era.

Danksy moderne wetenskap kán voorheen onbeantwoordbare vrae vandag beantwoord word, maar tóg het dit nie tot die totale verdwyning van geloof gelei nie.

Verskeie denkers wys verder op die ontwikkeling van geloof vanaf ‘n matriargale inslag, tot ‘n patriargale een. Volgens hulle was God eers ‘n vrou. Verskeie bewyse vir die hoë waarde wat vroulikheid in die geloofslewe van vroeë beskawings gespeel het, is al ontdek. Met die verloop van tyd het die manlike geslag die heersers onder die mensdom geword, en daarmee saam het die gode wat mense aanbid het se geslag ook verander.

Bogenoemde teorieë is egter algemene teorieë en kan nie van toepassing gemaak word op die ontwikkeling van alle gelowe nie. Só wys die antropoloog, Malinowski, byvoorbeeld daarop dat tegnologie en die geloof in toorkuns gelyktydig in die lewe van die Trobrianders (wie hy bestudeer het) bestaan het.

Daar bestaan ook min bewyse wat die teorie van die evolusie van geloof kan staaf, en daarom moet die teorieë wat hierbo bespreek is met omsigtigheid benader word wanneer die ontwikkeling van geloof beredeneer word.

3. Die neo-evolusionêre klassifisering van die religie

Daar kan maklik fout gevind word met die vroeë teorieë rakende die evolusie van religie, maar dat daar inderdaad ontwikkeling plaasgevind het, kan nie betwyfel word nie. Volgens Robert Bellah is daar ‘n direkte verband tussen die ontwikkeling van geloof, en die veranderinge in kommunikasiemetodes, sowel as in ekonomiese en politieke stelsels.

Volgens Bellah is moderne religie nie noodwendig beter of slegter as primitiewe religie nie, maar daar bestaan beslis verskille. Boeddhisme, Islam en Christendom verskil van primitiewe gelowe in grootte, vlak van kompleksiteit, die differensiasie van funksies, sowel as die siening van die einddoel. Ooreenkomste kan egter ook gevind word in die rol wat religie gespeel het en steeds speel in die ontwikkeling van moraliteit, en die daarstelling en ontwikkeling van volhoubare samelewings.

Om hierdie ooreenkomste en verskille te meet, is dit egter nodig om kennis te dra van die evolusie van die religie. Bellah en Joseph Kitagawa klassifiseer die ontwikkeling van die religie in vier fases naamlik: Primitiewe Religieë, Argaïese Religieë, Klassieke Religieë en Moderne Religieë.

3.1 Primitiewe Religieë

Die term ‘primitiewe religieë’ word gebruik as versamelnaam vir die gelowe van vroeë samelewings uit die steentydperk, sowel as gelowe wat deur meer onlangse, ongeletterde stamme beoefen is. Dis moeilik om ‘n presiese weergawe van primitiewe religieë saam te stel, aangesien daar min empiriese bewyse daarvoor bestaan, en omdat primitiewe gelowe en die lewenswyse van die samelewings wat dit beoefen het, deur die eeue beïnvloed is deur ander gelowe en kulture. Ons kan egter ‘n idee kry deur samelewings wat slegs gedurende die laaste 200 jaar beïnvloed is en verander het te bestudeer (sub-Sahara Afrika, sekere dele van die Amerikas en Suid-Oos Asië).

In primitiewe gemeenskappe was die lewe gelyk aan geloof. Dit beteken nie dat alle samelewings diep gelowig was nie, maar alle aspekte van die lewe was gebonde aan geloof. Kuns, medisyne, sosiale strukture en tradisies was gesetel in geloof. Daar is ‘n duidelike lyn te trek tussen primitiewe religieë en animisme, aangesien alle natuurverskynsels (die son, maan, bome, riviere) beskou is as bonatuurlike geeste. Kos is gesien as heilig, omdat dit lewegewend was. Mense, gode en die natuur was een. ‘n Aanduiding van die ineenverweefde aard van primitiewe religieë, is die feit dat primitiewe samelewings geen woord vir geloof gehad het nie – geloof is eenvoudig gesien as ‘n noodwendige deel van die mens se daaglikse bestaan.

Daar was slegs enkele gemeenskappe gedurende die steentydperk wat wérklik bestendig was, en ‘n uitvloeisel daarvan is dat daar geen permanente tempels vir gode opgerig is nie. Geestelike leiers (bekend as Shamans) het hul mandaat om te lei deur direkte kontak met die gode ontvang, en van burokrasie was daar geen sprake nie. Daar was geen heilige boeke (soos die Bybel of Koran) nie, en geestelike tradisies is mondelings van geslag tot geslag oorgedra.

‘n Baie belangrike eienskap van primitiewe religieë is dat dit gewoonlik binne ‘n spesifieke stam gebly het. Primitiewe stamme het hulself dit nie ten doel gestel om ander stamme van hulle geloof te oortuig nie. Sendelinge het nie bestaan nie, en die fokus vir Shamans was die geestelike versorging van uitsluitlik die lede van die stam.

Primitiewe religieë het min verandering getoon tydens die tydperk toe dit beoefen is, maar met die verloop van tyd is sowel die gelowe, sowel as die samelewings wat dit beoefen het, totaal en al verander, en in die meeste gevalle heeltemal uitgewis deur kontak met meer komplekse samelewings.

3.2 Argaïese Religieë

Argaïese religieë verwys na die gelowe van meer komplekse samelewings, waar die spesifieke geloof op ‘n stadium deur die staat onderskryf is. As voorbeelde kan die Grieke, Romeine, Aztecs, Mayas en antieke Babiloniërs gebruik word. Alhoewel argaïse religieë op etnisiteit gebaseer was, is mense van ander etnisiteite deur middel van ondertrou en ander vorme van kontak by die geloof geïnkorporeer. Argaïese religieë het, net soos primitiewe religieë, dit nié ten doel gehad om steun onder ‘ongelowiges’ te wen nie.

Met enkele uitsonderings na was argaïese religieë beoefen deur geletterde samelewings. Met geletterdheid het beter georganiseerde samelewings gekom, en die gevolg daarvan was dat argaïese religieë permanente strukture vir hul gode opgerig het, en in staat was om heilige verhale en instruksies met behulp van hiërogliewe en ander literêre hulpmiddels in heilige geskrifte te omskep.

Geloofsleiers van argaïese religieë was die intellektuele van hulle tyd. In baie gevalle was hulle nie net shamans nie, maar ook geneeshere, storievertellers en towenaars. In meer komplekse samelewings het die rol van die geestelike leier meer gespesialiseerd begin raak, maar die hiërargieë in argaïese samelewings het meegebring dat daar twee geloofstrome ontstaan het, naamlik ‘n ‘hoë’ geloof vir politici en geloofleiers, en ‘n ‘populêre’ geloof vir die laer klasse.

Argaïese religieë was hoofsaaklik politeïsties (meer as een god) van aard, en geloofsleiers het as medium gedien vir kontak tussen gewone mense en hul gode. Daarbenewens het talle argaïese samelewings in ‘n heilige koningskap geglo. Die leier van die volk het dus nie slegs ‘n politieke posisie beklee nie, maar was gestuur deur die gode om oor die volk te heers. ‘n Voorbeeld hiervan is die Farao’s van Egipte. Die Egiptenare het geglo dat die Farao, deur bloot op die troon te sit, die seun van die songod Ra sou word, en as medium sou kon optree tussen die sigbare en die onsigbare.

Soortgelyk aan die teologieë van primitiewe religieë, was die fokus van argaïese religieë op natuurlike verskynsels. Die son, maan, sterre, berge, riviere, diere en plante was heilige simbole, terwyl vrugbaarheid ‘n belangrike tema van die teologie was.

Die heelal is as ‘n sikliese eenheid gesien. Bewyse daarvoor is gevind in die omwenteling van die seisoene, die daaglikse opkoms en ondergang van die son, en die proses van die saai, groei en oes van plante. Baie argaïese religieë (onder andere die Egiptenare, Incas en Aztecs) het geglo dat die dood ‘n oorgang was na ‘n geestelike lewe, maar volgens ander (soos byvoorbeeld die Sumeriane en die Grieke) was dit net die gode wat vir ewig kon lewe, en was ‘n hiernamaals gewone sterflinge nie beskore nie.

3.3 Klassieke Religieë

Klassieke religieë sluit die meeste hedendaagse religieë, soos Christendom, Islam, Boeddhisme, Hindoeïsme en Judaïsme in, en het ontstaan in geletterde samelewings van die meer onlangse verlede. Alhoewel hierdie gelowe merkbaar uiteenlopend is, het dit tóg sekere kenmerke in gemeen, insluitend die bestaan van heilige tekste (Bybel, Koran, Torah) wat die woord van God is wat deur boodskappers oorgedra is (Jesus, Mohammed).

Klassieke gelowe breek met die siening van ‘n kosmiese eenheid van primitiewe en argaïese gelowe. God, die natuur en die mens is nié een met mekaar nie, maar God heers oor die natuur en oor die mens.

Die meeste klassieke gelowe voer ook aan dat daar lewe na die dood bestaan. Christene sien uit na ‘n ewige lewe in die hemel saam met God. Hindoes en Boeddhiste glo aan reïnkarnasie, terwyl Moslems uitsien na ‘n lewe in die paradys. Aan die ander kant is daar ook ‘n vaste geloof in oordeel, en ‘n lewe in die hel indien daar nie ‘n goeie lewe gelei word nie. Verder word daar ook, anders as met primitiewe en argaïese gelowe, na die toekoms gekyk. Jode sien byvoorbeeld uit na die koms van die Messias, terwyl Christene glo dat Jesus weer sal kom.

‘n Baie belangrike verskil tussen vroeë en klassieke gelowe, is dat laasgenoemde, soos die Christendom, Islam en Boeddhisme, dit ten doel het om mense te bekeer, en volgelinge te wen van buite die tradisionele kring van familielede en stamlede. Die klassieke gelowe het sendelinge en sendingstasies gevestig op soveel plekke as wat hul hulpbronne kon toelaat, en gevolglik kom klassieke religieë baie meer wydverspreid voor as wat die geval ooit met primitiewe en argaïse religieë was. Behalwe vir die feit dat mense ver buite die tradisionele grense van klassieke religieë hulself as volgelinge van byvoorbeeld Jesus, Mohammed en Buddha sien, het hierdie religieë ook daarin geslaag om die kulture van die grootste deel van die wêreldbevolking te beïnvloed.

Die grootste deel van die Westerse samelewing beskou hulself as Christene, en Christelike dae soos Kersfees en Paasfees is ‘n onlosmaaklike deel van Westerse kultuur. Net so is Islam die fondasie waarop sekere lande in die Midde-Ooste regeer word. Sharia-wette kry in hierdie gebiede voorkeur bo meer moderne konsepte soos demokrasie en menseregte. Daar kan dus geargumenteer word dat klassieke religieë ‘n meer substansiële invloed op hedendaagse samelewings uitgeoefen het en steeds uitoefen, as wat die geval met primitiewe en argaïse religieë was.

3.4 Moderne Religieë

Moderne religieë het ontstaan vanweë die interaksie tussen klassieke religieë en die moderne lewenswyse. Konsepte soos die wetenskap, industrialisasie, tegnologie, nasionalisme, plurisme en sekularisme het ‘n rol in die ontwikkeling van hierdie religieë gespeel.

Alhoewel religieë in Afrika, Noord-Amerika, Japan en Tibet deur modernisasie geraak is, is dit veral die Christelike geloof wat op ‘n duidelike wyse daardeur verander is.

Toe Martin Luther in 1517 sy ’95 stellings’ teen die deur van die kerk in Wittenberg aangebring het, is die Christendom in twee kampe verdeel – Katoliek en Protestants. Luther het geprotesteer teen die Katolieke kerk se beskouing dat hul priesters sendelinge was wat deur God aangewys is, en Sy wil op aarde kon uitvoer. Veral die sondebelasting van die Rooms-Katolieke kerk het sterk onder skoot gekom. Luther het geglo dat die Kerk sy mag misbruik het, en geen reg gehad het om God se vergifnis aan mense te verkoop nie. Luther het ook die ryk en magtige Pous en priesters van magsmisbruik beskuldig.

Volgens Max Weber het Protestantisme gelei tot die ontstaan van kapitalisme. Die feit dat daar teen die outokratiese styl van die Rooms-Katolieke kerk in opstand gekom is, het ook gelei tot opstande teen diktatoriale alleenheersers in Europa. Namate demokrasie gegroei het, het konsepte soos religieuse pluralisme (meer as een geloof is aanvaarbaar en word beoefen binne die grense van ‘n land) en sekularisme (die neiging dat geloof glad nie ‘n rol speel in die regering van ‘n land nie) se populariteit ook gegroei.

Hieruit kan gesien word hoe moderne beskouinge van die wêreld en die mens se plek daarin, gelei het tot veranderinge binne bestaande religieuse kontekste. Daardeur is klassieke religieë aangepas om moderne religieë die lig te laat sien.

Samevatting

Soos uit bogenoemde bespreking afgelei kan word, is dit ‘n haas onbegonne taak om die ontwikkeling van geloof in ‘n neutedop saam te vat. Wat wel duidelik is, is dat daar wel sekere tendense geïdentifiseer kan word – tendense wat deurgetrek kan word na verskillende religieë wat hul oorsprong in verskillende wêrelddele gehad het.

Wat belangrik is om te onthou, is dat, alhoewel daar sekere fases in die ontwikkeling van die religie bestaan, daar kenmerke van elke fase in elke ander fase te bespeur is. Verder moet daar onthou word dat geen geloof (of sy volgelinge) uit enige fase van die ontwikkeling van geloof, as meerder- of minderwaardig aan ‘n ander geloof (of sy volgelinge) in ‘n ander fase gestel kan word nie

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.