Post-koloniale Afrika: van veelpartystate tot eenpartystate

8. Post-kolonialisme

Binne enkele jare na dekolonisasie het talle van die nuut-onafhanklike Afrika-state wegbeweeg van ‘n veelpartystelsel na ‘n eenpartystaat, en vervolgens na militêre beheer. Hiérdie verskynsel het wyd voorgekom, en daar is verskeie redes wat daartoe aanleiding gegee het…

Na meer as tagtig jaar van koloniale beheer het ‘n gees van euforie en optimisme geheers tydens die onafhanklikwording van Afrika-state gedurende die 1950’s en 1960’s, en is daar wyd geglo dat die oorgang na verteenwoordigende demokrasie glad sou verloop. Dekades van koloniale uitbuiting en onderdrukking het egter sy letsels op die vasteland gelaat, en het dit die nuwe Afrika-bewindhebbers met skynbaar onoplosbare probleme opgesaal. Kunsmatige landsgrense sonder inagneming van taal- en kultuurverskille tussen landsburgers, armoede, ongeletterdheid, onderontwikkeling, onvoldoende infrastruktuur en ‘n dreigende ekonomiese krisis – dít was die nalatenskap van kolonialisme. Onder hierdie omstandighede het die nuwe magshebbers beweer dat ontwikkeling ten beste gefasiliteer kon word in ‘n eenpartystaat. Opposisiestemme is stelselmatig stilgemaak en derhalwe kon slegs die party-lojaliste gehoor word. Die nuwe Afrika-regerings het dit bitter moeilik gevind om aan die uitermate hoë verwagtinge van hul burgers te voldoen en in hierdie atmosfeer van publieke onvergenoegdheid was dit dikwels die weermag wat tot ‘die redding’ van die mense gekom het. ‘n Militêre staatsgreep het in ‘n realistiese politieke opsie ontwikkel, en sedert onafhanklikheidwording het die meerderheid Afrikastate ten minste een coup d’etat ondervind en talle veel meer as een.

Die koloniale mag in Afrika is verkry deur brutale militêre oorname, terwyl outoritêre regering tydens kolonialisme die norm was. Talle leiers is tydens die stryd vir onafhanklikheid aangehou sonder verhoor, bloot omdat hulle dit durf waag het om hul uit te spreek teen die onregverdige aard van koloniale beheer. Teen hierdie agtergrond het die nuwe bewindhebbers bloot die status quo gevolg deur die opposisie op enige moontlike manier te onderdruk en selfs te vernietig. Verder was landsgrense tydens koloniale beheer kunsmatig geskep, wat ernstige probleme veroorsaak het vir nasionale eenheid na onafhanklikwording. ‘n Gemeenskaplike geskiedenis of taal onder landsburgers het dikwels ontbreek, en hoewel streekslojaliteit wyd voorgekom het, kon dieselfde nie gesê word van lojaliteit teenoor die nuwe staat as geheel nie. In die suid-ooste van Nigerië het etniese- en streekslojaliteite onder die Igbo, byvoorbeeld gelei tot die uitroep van die Republiek van Biafra in 1967, wat ‘n 2-jaar lange burgeroorlog ontketen het.

Tydens kolonialisme het Afrika ‘n netto uitvoerder van hul rykdom na Europa en die VSA geword, en teen die 1950’s ‘n netto invoerder van voedsel. Die ekonomiese realiteite waarmee Afrika-leiers ná onafhanklikwording gekonfronteer is, het ‘n snelle bevolkingsaanwas en die gepaardgaande druk op hulpbronne, sowel as oorbevolking in stedelike gebiede, waar werkloosheid hoogty gevier het, ingesluit. Vervoerstelsels was onvoldoende vir die kontinent se interne ontwikkelingsbehoeftes, terwyl die onderontwikkelde telekommunikasienetwerke en gebrekkige onderwys verder bygedra het tot die nypende ekonomiese krisis. Dit was voor die handliggend dat Afrika steeds in ‘n toestand van ekonomiese afhanklikheid verkeer het, en die term ‘neo-kolonialisme’ is die eerste keer deur Kwame Nkrumah van Ghana gebruik om Europa se voortgesette ekonomiese beheer oor polities-onafhanklike Afrika te beskryf.

Nuwe regerings regoor Afrika het derhalwe aangevoer dat die ekonomiese krisisse wat hul ná onafhanklikwording in die gesig gestaar het, die beperking van demokratiese beginsels sou regverdig en dat nasionale eenheid nodig was om sosiale en ekonomiese ontwikkeling in die hand te werk. Veelpartydemokrasie was ‘n ‘verdelende mag wat tyd, hulpbronne en mannekrag vermors’ het, en ‘n eenpartystaat sou na bewering in ‘n beter posisie wees om ekonomiese probleme die hoof te kon bied. Dis daarom duidelik dat ekonomiese redes ‘n vername dryfveer was agter die pogings om ontluikende Afrika-demokrasieë in eenpartystate te omskep.

Die armoede, ongeletterdheid en etniese vyandighede wat steeds ná onafhanklikwording voorgekom het, het saamgeval met die toenemende voorkoms van elitisme en korrupsie onder talle nuwe Afrika-regerings. Hierdie toedrag van sake het tot groot ontevredenheid onder opposisiepartye gelei, en kritiek uit opposisiegeledere het algemeen voorgekom. Die bewindhebbers was, soos te verwagte, uiters sensitief hieroor en het gevolglik verskeie metodes ingespan om opponerende kritici die mond te snoer.  In Malawi en Uganda is die opposisie met huid en haar verban, terwyl die Keniaanse opposisie na afloop van die eerste verkiesing by die regerende party geïnkorporeer is. Verder is outonome instellings, soos universiteite, vakbonde en koerante se magte dikwels ingeperk, terwyl die staatsdiens, gewapende magte en regbank onder partybeheer gebring is.

In post-koloniale Afrika het die nasionalistiese bevrydingspartye dikwels, na aanleiding van die sleutelrol wat dié groepe in hul onderskeie bevrydingstryde gespeel het, die steun van die oorgrote deel van die samelewing geniet. In lande soos Ghana, Kenia en Tanzanië is hierdie toedrag van sake egter uitgebuit, en is die eliminasie van die opposisie geregverdig deur daarop te sinspeel dat die regerende party die wil van die mense weerspieël en derhalwe ‘n mandaat het om na willekeur te regeer. ‘n Verdere politieke faktor wat ‘n rol gespeel het in die aftakeling van veelpartydemokrasie, was die persepsie dat ‘n eenpartystaat beter in staat sou wees om die sogenaamde ‘verdelende faktor’ – kulturele pluralisme – te oorkom. Só het Kwame Nkrumah se regering gedurende die 1950’s die Muslim Association Party, die Northern People’s Party en die National Liberation Movement verban in ‘n poging om volkseenheid te verseker.

Die nuwe Afrika-regerings se onvermoë om die volgehoue ekonomiese probleme suksesvol op te los, en die gevolglike ontgogeling onder die algemene publiek, het die weg gebaan vir die vervanging van onbevoegde regeringslui. Vanweë die ernstige belemmering van die demokratiese proses, was militêre oorname dikwels die enigste haalbare opsie. Nuwe Afrika-state is selde of ooit bedreig deur eksterne vyande, wat hul weermagte se fokus na interne aangeleenthede verskuif het. Gegewe die ontoereikende aard van die demokratiese instellings in talle nuwe Afrika-state, het die weermagte van sulke state voor nagenoeg geen teenstand te staan gekom nie, en kon hulle feitlik met ‘n vry hand in politieke sake inmeng. Korrupsie (Festus Okotie-Eboh, minister van Finansies van Nigerië, is in 1966 deur militêre magte om die lewe gebring), wanadministrasie, finansiële uitspattigheid (Jean-Bedel Bokassa se inswering as Keiser van die Sentrale Afrika-Republiek in 1977 het dié arm land se staatskoffers met $22 miljoen laat krimp) en die vermindering van weermagte se magte en begrotings, was enkele van die katalisators was gelei het tot militêre staatsgrepe.

‘n Coup d’état was dikwels nie die wondermiddel wat genesing sou bring nie en talle state het binne ‘n kort tydperk verskeie militêre staatsgrepe beleef. In Nigerië is die coup d’état in Januarie 1966 gevolg deur Generaal Gowon se staatsgreep in Julie van daardie jaar. Die Gowon-regering se ondoeltreffendheid het gelei tot die militêre magsoorname van generaal Murtala Muhammed in 1975. Ten spyte van sy doeltreffende hervorming van die staatsdiens, het generaal Olusegun Obasanjo in 1979 aan bewind gekom nadat Muhammed tydens ‘n mislukte staatsgreep om die lewe gebring is.

Dis egter belangrik om daarop te let dat miltêre regerings nie in alle lande die norm was nie. Verskeie burgerlike Afrika-leiers, insluitende Kenneth Kaunda in Zambië, Hastings Banda in Malawi en Felix Houphouët-Boigny in die Ivoorkus, kon daarin slaag om vir dekades lank aan bewind te bly sonder om beheer oor hul militêre magte te verloor. Militêre beheer het verder ook nie in elke land waar dit toegepas is, rampspoedige gevolge gehad nie.

Na onafhanklikwording was talle Afrika-leiers dus nie in staat om die koloniale nalatenskap van ekonomiese probleme en ‘n gebrek aan volkseenheid suksesvol te oorkom nie. In ‘n poging om hul verdeelde lande in ‘n eenheid saam te snoer, het Afrika-leiers hul gewend tot die beperking van demokratiese beginsels en die vernietiging van veelpartypolitiek. Hierdie strategie kon bogenoemde probleme egter nie met welslae oplos nie, wat tot diepe misnoeë onder die bevolking gelei het. Die algemene ongewildheid van die nuwe magshebbers en die gebrek aan demokratiese instellings het daarom die deur oopgemaak vir militêre leiers om met geweld die mag oor te neem.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.