‘n Nuut-verenigde Duitsland word deur tweespalt bedreig: Otto von Bismark se uitdagings

1. Otto

Op 18 Januarie 1871, met die proklamasie van Wilhelm 1 van Pruise as keiser, het die Tweede Duitse Ryk tot stand gekom. Otto von Bismarck, die argitek van die Ryk en ‘n geswore Pruisiese patriot, is as kanselier aangewys. Die Ryk was slegs ‘n demokrasie in naam, want die realiteit was dat Bismarck ‘n verbloemde outokraat was, en alles in sy vermoë sou doen om Pruise se heerskappy binne die Ryk te beskerm en uit te brei. Die grondwet was só ontwerp dat Pruise deurentyd bevoordeel sou word. Wanneer hul stemme van protes te luid sou word, is sogenaamde ‘vyande van die staat’, insluitende die Katolieke en Sosialiste, met reëlmaat deur wetgewing onderdruk. Daarbenewens kon die lojaliteit van sekere sfere van die Ryk, insluitende die Pole in Posen, die Franse van Elsas-Lotheringe en die Dene in Schleswig, nooit volkome gewen word nie. Onder Bismarck was die Duitse Ryk die magtigste staat in Europa, maar diepliggende sosiale verdeeldheid was besig om haar haar krag te ondermyn…

Die grondwet van die Duitse Ryk het voorsiening gemaak vir ‘n tweekamerparlement, wat uit die Reichstag (laerhuis) en die Bundesrat (hoërhuis) bestaan het. Die Reichstag se 397 lede is verkies deur manlike burgers van die Duitse Ryk, bo die ouderdom van 25 jaar. Enige besluit wat in die Reichstag geneem is, moes egter deur die Bundesrat goedgekeur word. Elke lidstaat van die Ryk moes ten minste een van die 58 lede van die Bundesrat aanwys. Geen staat, behalwe Pruise (17), het meer as ses verteenwoordigers gehad nie, wat meegebring het dat Pruise enige besluit in die Bundesrat kon veto. Geen besluit wat die gesag van Pruise kon uitdaag, sou dus ooit deur die Bundesrat ingestel word nie.

Die grondwet het ook bepaal dat die Duitse Keiser die hoof van die staat, die gewapende magte en die uitvoerende gesag sou wees – effektiewelik dieselfde persoon as die Koning van Pruise. Verder sou die kanselier verantwoordbaar gehou word deur die Keiser en nié deur die uitvoerende gesag nie nie. Die implikasie van hierdie bepalings was dat ‘n uitgeslape politikus soos Bismarck, wat Keiser Wilhelm na sy pype laat dans het, in wese die alleenheerser oor die Duitse Ryk geword het. Die grondwet het, behalwe vir die kanselier, het geen voorsiening gemaak vir enige ander ministers nie, en Bismarck kon daarom sy eie besluite sonder teenstand in werking stel.

Verwikkelinge in Duitse geskiedenis het die Duitse Ryk met ‘n aansienlike Katolieke minderheid gelaat. Bismarck, ‘n Lutheraan, het hierdie groep met agterdog bejeën, en het geglo dat lojaliteit teenoor die Katolieke Kerk seperatistiese neigings in die Ryk sou laat wortelskiet. Die grondliggende rede hiervoor was dat die Katolieke hoofsaaklik in die suidelike state van die Ryk woonagtig was – state wat in die verlede Oostenryk ondersteun en teen Pruisiese oorheersing gekant was. Bismarck se teenvoeter hiervoor was om die Kulturkampf van stapel te stuur. Daarvolgens is verskeie beperkende maatreëls teen die Kerk ingestel, insluitende die Kanzelparagraph, die verbanning van die Jesuïte en die aflê van ‘n Kulturexamen deur voornemende geestelikes.

Die Kulturkampf het sterker Duitse eenheid ten doel gehad, maar het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Nie net het Katolieke in opstand gekom nie, maar selfs Lutheraanse Pruisiërs het dit as ‘n aanval op georganiseerde geloof beskou. Toe die Sentrale Party, wat die Katolieke ondersteun het, ‘n toename van 33 Reichstag-setels in die verkiesing van 1874 bekom het, het Bismarck besef dat die Kulturkampf futiel was en het hy dit laat vaar. Alhoewel die Katolieke nie meer as vyande van die staat gebrandmerk is nie, kon hul volle ondersteuning vir die Duitse Ryk nooit daarna bekom word nie.

Die volgende bedreiging vir Bismarck het in 1875, in die vorm van die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD), op die toneel verskyn. Die SPD het die omgekeerde van Bismarck se konserwatiewe, industriële, kapitalistiese ideale gepropageer, maar het enorme ondersteuning onder die snelgroeiende proletariaat geniet. Bismarck se reaksie was om die SPD en ander sosialistiese partye te verban, terwyl individue wel toegelaat is om as Reichstag-kandidate te staan. Soos met die Kulturkampf het Bismarck se maatreëls die teenoorgestelde uitwerking gehad, en het die Sosiaal-Demokrate se ondersteuning verdriedubbel. Bismarck was genoodsaak om radikale sosiale hervormings (insluitende verpligte versekering teen siekte en ongelukke) in te stel, wat weer die Nasionaal-Liberale vervreem het.

Behalwe vir die Katolieke en die Sosialiste, was daar ook etniese afvalliges wat die eenheid van die Ryk bedreig het. In Posen was daar die Pole, wat hulself nooit werklik deel van die Duitse Ryk gevoel het nie, maar as gevolg van die Kulturkampf en meedoënlose pogings om hul te verDuits, selfs verder van die Ryk se ideale verwyderd geraak het. In Elsas-Lotheringe was daar tweespalt onder die bevolking, aangesien ‘n groepering terug na hul vorige Franse heersers gehunker het, terwyl die Dene in Schleswig vergeefs gewag het op die volksstemming wat hul tydens die vredesonderhandelinge van 1866 belowe is.

Bismarck was sedert sy aanstelling as Kanselier van Pruise in 1852 in sy aksies gedryf deur die konsolidering en uitbreiding van Pruisiese mag. Met die totstandkoming van die Duitse Ryk in 1871 het hierdie ideale nie verdwyn nie, en het hy Pruisiese waardes van onderdanigheid en lojaliteit aan die Keiser aan die ander Duitse lidstate probeer opdwing. Indoktrinasie in skole, universiteite, kerke en die weermag was aan die orde van die dag, met die uiteindelike doel om die aanvaarding van Pruisiese dominansie te bewerkstellig. Die grondwet was ook só ontwerp dat alle lidstate van die Ryk, met die uitsondering van Pruise, in wese magteloos gelaat is. Gevolglik was daar deurentyd religieuse, sosiale en etniese groeperinge wat die eenheid van die Ryk ondermyn, en daarmee saam die absolute mag wat ‘n liberale, nasionalistiese en verenigde Duitse Ryk kon inhou, onmoontlik gemaak het.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.