Lenin, Stalin, Khrushchev en Gorbachev: die dilemma van die hervormers

7. Lenin en Stalin

Die outokratiese en burokratiese aard van die kommunistiese staat wat deur Lenin en Stalin geskep is, het beteken dat enige hervorminge wat Khrushchev en Gorbachev later van tyd wou implementeer, die gevaar geloop het om die kommunistiese kenmerke van die USSR te ondermyn en te verwater…

Na die abdikasie van Tsaar Nicholas II in 1917, is Rusland oor die daaropvolgende vier dekades deur Lenin en Stalin in ‘n kommunistiese staat omskep. Gevolglik is ‘n outokratiese staatsbestel geskep, waarin die Communist Party of the Soviet Union (CPSU) alle sake beheer het, en alle oorblyfsels van kapitalisme en die burgery verwoes is. Vryheid van spraak is onderdruk, en geen kritiek teen die regering is geduld nie. Alle produksiemiddele is onder staatsbeheer geplaas en die ontwikkeling van ‘n magtige militêre masjien het ‘n industriële prioriteit geword. Anders as wat die ideaal was, het kommunisme egter gelei tot lae produksievlakke, ‘n gebrek aan verbruikersgoedere, en ‘n lae lewenstandaard vir die deursnee burger van die Sowjet-unie. Hierdie feit het Khrushchev in 1956, en Gorbachev in 1985, genoop om politieke en ekonomiese hervorminge deur te voer in ‘n poging om die voortbestaan van die USSR te verseker. Khrushchev se de-Stalinisasie en Gorbachev se Glasnost en Perestroika, het egter lynreg teen die beginsels van Lenin en Stalin se kommunistiese staat ingedruis, en die implementering daarvan sou daarom ook die kommunistiese beginsels van die USSR ondermyn.

Vladimir Lenin het ná die Oktoberrevolusie in 1917, waartydens Nicholas II van sy mag gestroop is, ‘n eenpartystaat geskep wat onder die beheer gestaan het van ‘n hoogs gesentraliseerde revolusionêre party. Geen debatte of faksies is binne die CPSU geduld nie, mediavryheid en vryheid van spraak is koorsagtig beperk, terwyl ‘n fel antireligieuse beleid gevoer en kerkeiendom gekonfiskeer is. Die berugte All-Russian Extraordinary Commission (Cheka) het in Desember 1917 die lig gesien, met die doel om ‘teenrevolusionêre magte en sabotasie te beveg’ en vermeende vyande van die staat om die lewe te bring. Terreur en geweld het dus ‘n erkende instrument van die regering geword, en die brutale uitoefening van mag ‘n kenmerk van kommunisme.

Tydens die Russiese burgeroorlog (1917-1921) is ‘oorlogskommunisme’ ingestel – alle industrieë is genasionaliseer, private handel is geëlimineer, voedsel en talle ander kommoditeite is gerantsoeneer, en streng beheer is oor die werkersklas uitgeoefen. Lenin het ‘vrede, grond en brood’ aan die mense beloof, maar voedseltekorte en erge hongersnood het in 1921 uitgebreek nadat kleinboere hul teen die regering se drakoniese maatreëls verset en hul oeste versteek het. In die lig van die dreigende ekonomiese ineenstorting en groeiende interne antagonisme jeëns die regering, het Lenin die Nuwe Ekonomiese Plan ingestel, waardeur beperkte private handel toegelaat is. Die bankwese, vervoernetwerke, swaar industrieë, buitelandse handel en ekonomiese beleid het egter steeds onder staatsbeheer geval.

Na Lenin se dood in 1924 het Josef Stalin in 1929 die vozhd (diktator) van die staat en die Party geword. Die CPSU is van bo af beheer deur ‘n Sentrale Komitee, wat bestaan het uit die twintig mees prominente Kommuniste. Die mees briljante en aktiewe lede het werk verrig in ‘n spesiale komitee – die Politburo – wat die algemene Russiese en kommunistiese beleid neergelê het. ‘n Persoonlikheidskultus het rondom Stalin ontwikkel, en hy was in alle opsigte verhewe bo die Party en gewone burgers. Stalin het die USSR met ‘n ysterhand regeer. Alle teenstanders is brutaal om die lewe gebring gedurende die Suiwerings (Purges) van die laat 1930’s, en selfs gewone, onskuldige burgers is na straf- en arbeidskampe gestuur.

Ekonomiese ontwikkeling is in die hand gewerk deur twee 5-jaarplanne, wat ‘n aanvang in onderskeidelik 1928 en 1932 geneem het. Streng produksieteikens is daargestel, en ‘n enorme burokratiese netwerk is ontwikkel om die bereiking daarvan te verseker. Die USSR het in ‘n industriële staat ontwikkel, terwyl die kollektivisering van landbou (saamstorting van landbougrond, masjinerie, voorraad en geboue) geïmplementeer is. Kollektivisering het egter gelei tot lae produksievlakke, terwyl die fokus op industriële groei gelei het tot ‘n gebrek aan verbruikersgoedere, wat ‘n powere lewenstandaard vir fabriekswerkers tot gevolg gehad het. Die spanning van die Koue Oorlog het ook gedurende die vroeë 1950’s gelei tot intensiewe bewapening, wat ernstige finansiële implikasies vir die USSR ingehou en industriële ontwikkeling verder gestrem het.

Khrushchev, wat in 1956 as Sekretaris van die CPSU aangewys is, was oortuig dat ‘n minder arbitrêre regering noodsaaklik was vir die USSR se ekonomiese prestasie en internasionale prestige. Hoogsgeskoolde stedelike wetenskaplikes, ingenieurs en tegnici het aangedring op beter vooruitsigte vir hul professionele en persoonlike vervulling, terwyl die kollektivisering van plase, fabrieke en besighede, lae lone, skaarsheid van verbruiksgoedere en intellektuele sensorskap ‘n beproewing was vir die gewone burgers van die Sowjet-unie. Khrushchev het besef dat die produksievlakke van die era voor kollektivisasie nooit herhaal sou kon word nie, en het derhalwe beperkte politieke en ekonomiese hervorminge as ‘n oplossing vir die USSR se toenemende verval beskou.

Khrushchev het beoog om kommunisme deur middel van hervorminge te versterk, en het nie die Sowjet-unie se eenpartystelsel, kollektivisasie van boerderye, óf sentrale ekonomiese beplanning bevraagteken nie. Hy het egter wel die persoonlikheidskultus rondom sy voorganger, Stalin, verag, en tydens die Twintigste Kongres van die CPSU tydens ‘n ‘geheime toespraak’ aan die Party ‘n aanval op Stalin se skrikbewind en moorde op lede van die Party en helde van die revolusie (insluitend Trotsky) geloods. Hierdeur is ‘n proses van de-Stalinisasie begin.

Wat Khrushchev nie voorsien het nie, was dat hierdie toespraak die front van eenheid wat kommunisme tot op daardie stadium voorgehou het, tot in sy fondamente sou skud, en vir die eerste maal die simpatiseerders van kommunisme in Westerse lande sou vervreem. Op die langtermyn het dit ook gelei tot kritiek in sommige van die USSR se Europese satellietstate, wat tot die algemene ondermyning van die oorkoepelende kommunistiese stelsel gelei het.

Khrushchev se hervorminge het aansienlike teenstand ondervind uit sekere geledere van die burokrasie wat daardeur bedreig is. ‘n Negatiewe nalatenskap van die outokratiese staat wat deur Lenin en Stalin gevestig is, was die ontstaan van die Nomenklatura – die elite van die CPSU wat beheer uitgeoefen het oor alle aspekte van die Sowjet-samelewing, en te midde van toenemde ekonomiese verval steeds ‘n rykmansbestaan gevoer het. Die Nomenklatura het hul beywer vir die voortbestaan van kommunisme – nié vanweë ‘n onwrikbare geloof in die ideologie nie, maar omdat hul bevoorregte posisie andersins in die gedrang gebring sou word.

Teen 1985 was dit vir die nuwe leier, Mickail Gorbachev, duidelik dat politieke en ekonomiese hervormings van kardinale belang was om die volgehoue lewensvatbaarheid van die USSR te verseker. Volgens Gorbachev moes outoritêre eenpartybeheer vervang word deur politieke pluralisme, en die staatsbeheerde ekonomie deur gemengde eienaarskap en ‘n hoofsaaklik markgerigte ekonomie. Gorbachev het sy hervorminge deurgevoer onder die vaandel van Glasnost (oopheid vir interne kritiek) en Perestroika (die herstrukturering van die samelewing en die ekonomie).

Perestroika het gelei tot die desentralisering van sekere ekonomiese besluitneming na plaaslike vlak, terwyl daar ook ruimte geskep is vir ‘n beperkte aantal private plase en klein besighede. Gorbachev se pogings om die ekonomie te hervorm het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie, en hy het toenemend besef dat ‘n volskaalse kapitalistiese stelsel die enigste alternatief sou wees. Só ‘n toedrag van sake sou egter lynreg teen die beginsels van kommunisme indruis. Alhoewel Perestroika aanvanklik slegs ‘n tegniek vir ekonomiese hervorming was, het Gorbachev teen 1987 verklaar dat demokrasie die wese daarvan moes wees, en dat vrye en regverdige verkiesings noodsaaklik was. Die magtiging van veelpartyverkiesings sou egter die outokratiese eenpartystelsel van die Leninistiese-Stalinistiese Sowjet-unie ongedaan maak, en daardeur sou kommunisme nóg verder ondermyn word.

Glasnost het die vrylating van politieke teenstanders en groter politieke debatvoering onderskryf, en in die tweede helfte van die 1980’s is dit  toenemend uitgebrei totdat dit tot feitlik volkome mediavryheid en vryheid van spraak gelei het – ongehoorde konsepte tydens die eerste helfte van die twintigste eeu, toe staatsbeheerde mediaberriggewing en die gedwonge stilswye wat aan politieke teenstanders opgelê is, hand-in-hand met die kommunistiese bestel gestaan het. Ook met hierdie hervorminge sou Gorbachev dus die kommunistiese stelsel ondermyn.

Die outokratiese en burokratiese aard van die kommunistiese staat wat deur Lenin en Stalin geskep is, het dus mettertyd sinoniem geword met ‘n aantal geniepsige kenmerke wat tot die ekonomiese, politieke en morele verval van die USSR gelei het. Alhoewel beide Khrushchev en Gorbachev geesdriftige en opregte kommuniste was, en beslis nie die vernietiging van die kommunistiese bestel kon voorsien het nie, het hul tóg genoodsaak gevoel om hervorminge deur te voer om die voortbestaan van die Sowjet-unie te verseker. Hierdie hervorminge sou egter die meedoënloosheid van die stelsel verlig, en daarom sou kommunisme terselfertyd ook ondermyn word.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.