Die Stormloop vir Afrika: die geboorte van Afrika-kolonialisme

4. Stormloop

Gedurende die negentiende eeu het verskeie Europese moondhede hul belange in Afrika begin uitbrei. Dit was grootliks op ‘n beperkte skaal, en die status quo was om die direkte administrasie van ‘n uitgestrekte, digbevolkte, vreemde gebied te probeer vermy. Die stadige penetrasie van Afrika gedurende die negentiende eeu het egter ontaard in ‘n stormloop om grondgebied gedurende die laat 1870’s, as gevolg van komplekse faktore. Grondliggend hiertoe was die Europese moondhede se strewe na die uitbreiding van hul ekonomiese belange, sowel as die versugting om polities voordeel te trek in ‘n tydvak waarin die heersende politieke magsbalans begin verander het. Religieuse en ideologiese faktore het as sekondêre redes ook ‘n beduidende rol gespeel.

Die Industriële Revolusie, wat in die agttiende eeu in Brittanje ontstaan het, het ‘n era van ongekende ekonomiese en industriële ontwikkeling in Europa ingelui. Tegnologiese ontwikkeling het nywerhede in staat gestel om massiewe hoeveelhede produkte teen lae koste te vervaardig. Die bekende, plaaslike markte het egter spoedig versadig geraak onder hierdie vloedgolf produkte, en daarom moes alternatiewe markte gevind word. Die depressie van 1873-1896 het meegebring dat verskeie Europese lande proteksionistiese maatreëls ingestel het om hul markte teen internasionale mededinging te beskerm, met die gevolg dat daar wyer as Europa en die Amerikas na geskikte markte gesoek moes word. Die ontluikende markte in Afrika het die ideale oplossing gebied, en die wedywering om ekonomiese voordeel uit handel met Afrika te trek het die stormloop vir Afrika ‘n aansienlike hupstoot gegee.

Benewens die soeke na afsetgebiede vir oorskotprodukte, het die ryk natuurlike hulpbronne van Afrika as addisionele aansporing tot uitbreiding vir die Europese moondhede gedien. Rou materiaal soos palm- en grondboonolie, rubber, byewas, ivoor en koffie, en minerale insluitend goud en diamante het Europese lande laat bokspring om eerste hul kleim daarop af te steek. Rubber in die Kongo (België se Leopold II) en goud en diamante in Suider-Afrika (Brittanje), was van die belangrikste faktore wat tot die anneksasie van daardie gebiede gelei het.

Gedurende die negentiende eeu het die finansiële sektor in Brittanje ‘n toenemend belangrike rol in haar ekonomie begin speel. Oorsese kapitale beleggings in hoofsaaklik die Midde-Ooste en Suidoos-Asië moes, en hét inderdaad ook, balans verleen aan die chroniese handelstekort wat ondervind is. Britse kapitaliste het daarom hul oog op Afrika as ‘n teiken vir addisionele finansiële investering gehad. Groot gebiede in Afrika sou egter nie kapitale investering regverdig nie en historici verskil daarom oor die impak wat die investering van surpluskapitaal op die stormloop vir Afrika gehad het. Dat dit ‘n wesenlike ekonomiese faktor was wat daartoe bygedra het, moet egter nie uit die oog verloor word nie.

Die Stormloop vir Afrika kan nie alleen voor die deur van ekonomiese redes gelê word nie; politieke faktore het ook ‘n rol gespeel. ‘n Nuutverenigde Duitsland, onder Pruisiese leierskap, het die relatiewe ewewig tussen Europese moondhede verstoor. Gedurende die Frans-Pruisiese oorlog van 1871 moes Frankryk in ‘n vernederende verwikkeling die ekonomies voordelige gebiede van Elsas-Lotharinge aan Duitsland afstaan. In ‘n poging om nasionale eer en respek te herwin, het Frankryk sy mag uitgebrei deur beheer te neem van verskeie gebiede in hoofsaaklik Wes-Afrika.

Die tydperk ná die vereniging van Duitsland is gekenmerk deur nasionalistiese wedywering, die toepassing van magspolitiek, en die strewe na nasionale glorie. In ‘n paranoïese obsessie met nasionale sekuriteit en internasionale mag is alliansies, insluitende die Drievoudige Verbond tussen Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Italië, tussen die Europese moondhede gesluit. In hierdie atmosfeer van wankelende diplomatiese stabiliteit was die verkryging van kolonies van onskatbare waarde. Wanneer een moondheid ‘n kolonie bekom het, moes ‘n volgende die voorbeeld volg om sodoende die magsbalans te herstel. Magspolitiek en –balans was dus van enorme belang in die Europese moondhede se stormloop vir Afrika.

Interne politieke kwessies het verder bygedra tot Europese imperialisme. In Brittanje het die verkryging van oorsese kolonies die vuur van ‘n nuutgevonde patriotiese trots onder gewone burgers gestook. Vir die werkersklas het die markte in die kolonies die belofte van hoër lone ingehou, terwyl die aristokrasie en ander lede van die hoër klas dit as ‘n geleentheid gesien het om ‘n betrekking van hoë status en aansien in die koloniale struktuur los te slaan. Franse en Belgiese militêre ampsdraers het soortgelyke ideale gekoester vir die gebiede onder hul lande se beheer. In Duitsland het die opkoms van sosialisme in die besonder die heersende politieke magsbalans begin uitdaag. Bismarck, wat aanvanklik louwarm teenoor kolonialisering gestaan het, se siening het verander in die hoop dat dit die aandag van plaaslike probleme sou aflei. Frankryk en Brittanje se imperialistiese aksies het Bismarck verder oortuig dat Duitsland nie bloot passief kon toekyk hoe haar tradisionele vyande en ekonomiese mededingers hul strategiese posisies verbeter nie.

Ofskoon dit straks as regverdiging, eerder as ‘n volbloed-motivering vir kolonialisasie beskou kan word, is die Europese uitbreiding in Afrika ook aangevuur deur religieuse en ideologiese faktore. Beide Katolieke en Protestante was gretig om die ‘heidense’ massas van Afrika tot die Christengeloof te bekeer, en het daarom hul onderskeie regerings aangemoedig om beheer oor groot gebiede in Afrika te neem. Sendelinge het dikwels vir die fondamente gesorg waarop volskaalse kolonisasie gebou kon word. Die negentiende eeu is ook gekenmerk deur ‘n meerderwaardige Europese selfbeskouing met betrekking tot Afrikane. Europeërs het geglo dat dit hul plig was om beskaafde waardes en praktyke na Afrika te neem. Aggressiewe kolonisasie kon daarom effens versag word deur dit onder die dekmantel van ‘humanitêre opvoeding’ deur te voer.

Die Stormloop vir Afrika was inderdaad ‘n komplekse historiese gebeurtenis. Historici verskil dikwels oor die aard en relevansie van die onderskeie faktore wat deur die jare aangevoer is as sneller-meganismes daarvoor. Daar kan egter bo enige redelike twyfel aanvaar word dat die nywerheidsontwikkeling wat dit voorafgegaan het, gelei het tot die Europese moondhede se strewe om nuwe markte vir hul oorskotprodukte te vind, en voordeel te trek uit die ryk natuurlike hulpbronne wat Afrika kon verskaf. Die veranderende politieke klimaat het ook die uitbreiding van grondgebied en politieke invloed genoodsaak. Afrika, met sy relatief ongeorganiseerde politieke stelsels was daarom ‘n ideale teiken. Al ontbreek daar eenstemmigheid oor die faktore wat daartoe gelei het, is dit ‘n onbetwisbare feit dat die stormloop vir Afrika die geskiedenis van Europa, Afrika en inderdaad die wêreld, onherroepbaar verander het.

facebook-page

Laat 'n boodskap

  1. Devan sê:

    braaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

    nice

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.