Die stigting van die HNP: ‘n gevolg van die veranderinge in die ondersteuningsbasis van die Nasionale Party

11. NP se ondersteuningsbasis

Tussen 1948 en 1966 was daar ‘n merkbare verandering in die tradisionele ondersteuningsbasis van die Nasionale Party – ‘n verandering wat ‘n aansienlike impak op Afrikanereenheid sou hê, en uiteindelik gelei het tot die stigting van die Herstigte Nasionale Party in 1969…

Op 26 Mei 1948, toe D.F. Malan se Nasionale Party (NP) in die nasionale verkiesing geseëvier het, het die NP se ondersteuningsbasis hoofsaaklik bestaan uit minder welgestelde boere, staatsamptenare, en Afrikaners uit die werkersklas (myn-, spoorweg en staalwerkers). Die instroming van groot getalle swart mense tot die vervaardigingsektor het ‘n ernstige bedreiging vir wit werkers ingehou, en het gelei tot groot ontevredenheid met die mededinging om betrekkinge en stedelike hulpbronne wat op hiérdie toestroming gevolg het. Boere het, na aanleiding van hul ondersteuning van strenger instromingsbeheer vir swart plaasarbeiders, verwag dat die NP hul belange sou bevorder, terwyl Afrikaners in die staatsdiens gehoop het dat die nuwe regering die gewaande diskrimininasie wat hulle van hul Engelssprekende kollegas moes verduur, sou aanspreek.

Die Nasionale Party het hom spoedig begin beywer vir die ekonomiese ontwikkeling van die Afrikaner en die verafrikaansing van die staatsdiens. Boere is bygestaan deur die stabilisering van die landelike (swart) arbeidsmag, en die vasstelling van gunstige pryse vir landbouprodukte. In die privaatsektor het die NP wetgewing aangeneem wat ingrypende beperkings op swart arbeid, in die vorm van instromingsbeheer, toegepas het. Voorts is daar ook beter beskerming gebied aan nie-vaardige en semi-vaardige blanke werkers deur die instelling van die werksreserveringsbeleid. In die staatsektor is honderde swartmense afgedank en deur blankes vervang. Die streng toepassing van tweetaligheid het die Afrikaners begunstig, terwyl die doelbewuste toewysing van sleutelposisies gelei het tot die verdubbeling van Afrikaners in die staatsdiens tussen 1948 en 1966.

Staatsinstellings het ook die ekonomiese ontwikkeling van die Afrikaner versterk. Staatsondernemings soos Yskor, Eskom, Krygkor, Soekor en Sasol, is feitlik uitsluitlik op senior vlak deur Afrikaners verteenwoordig, terwyl Afrikaanse ondernemings soos Sanlam, Volkskas, die Nasionale Pers en Rembrandt hoogs gerespekteerde onderneimgs gword het.

Snelle ekonomiese groei en die ‘Afrikaners eerste’-beleid, het tot die totstandkoming van ‘n groot aantal Afrikanerkapitaliste gelei. Teen 1960 kon byna ‘n derde van die Afrikaners as middelklas beskou word, terwyl hul opvoedkundige kwalifikasies ook merkwaardig verbeter het. Dit het meegebring dat ‘n nuwe groep welgestelde, intellektuele Afrikaners op die toneel verskyn en ‘n diverse Afrikanerdom, gekenmerk deur klasseverskille, ontstaan het. Die nuwe groep welgestelde Afrikaners het nie meer in dieselfde mate staatgemaak op regeringshulp nie, wat tot ‘n merkbare verandering van die regering se ondersteuningsbasis gelei het.

Hiérdie welgestelde Afrikaners, ook bekend as die ‘andersdenkendes’, het van meet af aan hul bedenkinge oor die regering se apartheidsbeleid gehad. In 1949 het Reinhallt Jones, voormalige direkteur van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, in ‘n toespraak kritiek gelewer op regeringsplanne om ‘totale apartheid’ in te stel. Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) onder leiding van Nic Olivier en Barnie van Eeden, het in 1950 gewys op die enorme finansiële las wat die uitvoering van totale apartheid sou wees, terwyl G.B.A. Gerdener, professor aan die N.G. Kerk-kweekskool in Stellenbosch, ‘n artikel gepubliseer het waarin hy sy ongemaklikheid met die apartheidstelsel laat blyk het. In 1953 het Phil Weber, Die Burger se redakteur, kritiek uitgespreek teen die regering se kleurlingbeleid, en ander vooraanstaande joernaliste, insluitende Piet Cillié en Schalk Pienaar, het later gewaarsku teen die illusie dat apartheid besig was om alle probleme op te los.

Ná die Sharpeville-krisis van 1960 het verskeie besigheidsorganisasies, insluitende die Afrikaanse Handelsinstituut en SABRA, versoek dat die griewe van swartmense ondersoek word, en dat die paswette en ander vorme van instromingsbeheer hervorm word. Selfs in die kabinet was daar ernstige beleidsverskille. Ben Schoeman, minister van vervoer, het Verwoerd se verbod op die gebruik van swart werkers in die Wes-Kaap geïgnoreer, en die afskaffing van die pasboekstelsel bepleit.

Ook in kulturele kringe was die andersdenkende Afrikaners ontgogel, en het hulle gemurmureer or die apartheidsbestel en eng Afrikanerskap. N.P. van Wyk Louw, digter en skrywer, het in sy 1966-opvoering oor die Anglo-Boereoorlog, Die pluimsaad waai ver, vertwyfeling en onsekerheid onder die Boereleiers uitgebeeld, en is heftig daarvoor deur Verwoerd gekritiseer. Van die middel van die sestigerjare af het al hoe meer Afrikaanse skrywers en digters van die volksbeweging vervreemd geraak. Die werke van onder andere Etienne Leroux, André P. Brink, Breyten Breytenbach en Wilma Stockenström, het gehelp om die politieke bewussyn van die Afrikaanse leserspubliek op ‘n subtiele wyse te verander.

As gevolg van Verwoerd se onaantasbare regeringstyl is die andersdenkendes se menings grootliks onder die mat gevee, en is hul hervormingsinisiatiewe openlik gedwarsboom. Verwoerd het die party en die kabinet meer as enige van sy voorgangers oorheers, en het die onderskeie dele gedwing om in gelid in die apartheidsoptog te marsjeer. In 1963 is ‘n streng stelsel van sensuur ingestel en enige rebelse Afrikaner is uit die establishment geskuif. Ná die Sharpeville-krisis het Verwoerd beslissend teen die SABRA-hervormers opgetree en die leier, Nic Olivier, is uit die NP en die Broederbond verban. Beyers Naudé is ook gedwing om as NG-predikant te bedank nadat hy geweier het om die resolusies van die Cottesloe-konferensie (wat die trekarbeidstelsel veroordeel het) af te sweer, en gevolglik die direkteur van die veelrassige Christelike Instituut geword het.

Nie alle Afrikaners was egter teen Verwoerd en die regering se beleide gekant nie. Die Afrikaanse Studentebond het op sy kongresse in die 1950’s en 1960’s dikwels debatte gevoer oor die gevare van liberalisme, kommunisme en jingoïsme. Piet Meyer, voorsitter van die SAUK, Andries Treurnicht, redakteur van die NG Kerk se blad, Die Kerkbode, en die kabinetslid Albert Hertzog, het steeds hul onwrikbare steun aan Verwoerd gegee. Hierdie groepering het bekend gestaan as die ‘verkramptes’, en het die staat as ‘n Afrikanerstaat beskou en apartheid as ‘n totale stelsel wat in alle opsigte onveranderd moes bly.

Na die sluipmoord op Verwoerd op 6 September 1966, is B.J. Vorster as sy opvolger verkies, en daarmee saam het die NP ‘n nuwe weg ingeslaan. As leier het Vorster gou die steun van die Afrikaners gewen. Hy was minder afsydig as Verwoerd en het nie alle regeringsbsluite probeer oorheers soos sy voorganger nie. Hy was ‘n politieke pragmatis, meer buigsaam en met meer gematigde ideologiese en doktrinêre beskouings as Verwoerd. Afrikanernasionaliste kon dus die apartheidsbeleid op ‘n openhartige manier kritiseer, sonder om as dislojaal gebrandmerk te word. Vorster het egter spoedig ‘n troebele verhouding met die verkramptes ontwikkel.

Een Volksraadslid, Jaap Marais, het besluit dat Vorster die fundamentele beginsels van wit baasskap versaak het, terwyl Albert Hertzog, ‘n kabinetslid en leier van die verkrampte vleuel, die toelating van swart ambassadeurs aangeval, en die pogings om die gaping tussen die twee wit gemeenskappe (Engelse en Afrikaners) te vernou, gekritiseer het. Hierdie belediging teenoor die Engelse gemeenskap het daartoe gelei dat hy deur Vorster uit die kabinet ontslaan is, waarna hy die party verlaat en die Herstigte Nasionale Party in 1969 gestig het.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.