Vyf vrae oor die nalatenskap van die Groot Trek

6. Groot Trek
  1. Waarom is die Groot Trek steeds relevant tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis?

Die Groot Trek is steeds relevant tot Suid-Afrikaanse geskiedenis om veral twee redes. Eerstens vanweë die feit dat dit ‘n belangrike era van Europese uitbreiding na die Suid-Afrikaanse binneland ingelui het. Dit was ‘n tydperk van kontak tussen Europeërs en inheemse volke wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis onherroepbaar sou verander en die verhoudinge tussen die nasies van Suid-Afrika sou beïnvloed en vorm. Daar kan inderdaad geargumenteer word dat die Groot Trek en spesifiek die mites wat daarom ontstaan het, bepalend was in die totstandkoming van die Nasionale Party se rampspoedige rassebeleid ná 1948. Tweedens is dit steeds relevant deurdat dit ‘n voorbeeld is van hoe die geskiedenis gebruik, of eerder misbruik, kan word om eng nasionalisme, etniese baasskap en rassediskriminasie te propageer.

 

  1. Was dit hoofsaaklik ‘druk’- of ‘trek’-faktore wat die Voortrekkers beïnvloed het om die Kaapkolonie te verlaat?

Daar was sonder twyfel ‘n aantal ‘druk’-faktore wat die Voortrekkers beïnvloed het om die Kaapkolonie te verlaat. Jarelange probleme met die Xhosas op die Oosgrens, wat verskeie Xhosa-oorloë ingesluit het, was een só ‘n ‘druk’-faktor. ‘n Ander, waarskynlik meer belangrike een, was ontevredenheid met Britse heerskappy aan die Kaap. Baie grensboere, wat later Trekkers sou word, het gevoel dat die Kaapse (lees Britse) regering wêrelde van hul verwyder was, en van  bykans nul en gener waarde was in hul alledaagse bestaan. Tog het die Britte hardnekkig probeer om hul onbekende ideologieë van gelyke rasseverhoudinge en humanisme aan die grensboere op te dwing. Daar was egter ook ‘trek’-faktore wat die Groot Trek meegebring het. Die binneland het vir die Trekkers, wie se ekonomiese aktiwiteite hoofsaaklik in landbou en veeboerdery gesetel was, aanloklike ekonomiese geleenthede ingehou. Die Trekker-persepsie dat die binneland grootliks onbewoon was na afloop van die Mfecane, het hierdie faktor ‘n nóg groter aantrekkingskrag gegee.

 

  1. Waarom is die Groot Trek in die vroeë 20ste eeu gepopulariseer?

Die Groot Trek is gepopulariseer, veral in die vroeë twintigste eeu, deur onder andere die bou van monumente, die hou van feeste, en die verfilming van mites wat uit die Trek voortgespruit het. Die doelwit hiermee was die bevordering van die Afrikaners se ekonomiese en politieke belange in ‘n Suid-Afrika waarin hul soos tweederangse burgers gevoel het. Deur die Voortrekkers en die Groot Trek te populariseer, kon ‘n hoeksteen vir nasietrots onder die Afrikaners gevestig word, en kon hierdie nuutgevonde nasietrots en Afrikanersentiment deur politici gebruik word om die ideologie van Afrikaneroorheersing in Suid-Afrika te propageer en te regverdig. Die popularisasie van die Groot Trek sou Afrikanerpolitiek bevorder, en daardeur kon die ekonomiese dilemma waarin die meerderheid Afrikaners hulle hul in die 1930’s bevind het, verlig word.

 

  1. Waarom was die eeufeesvierings in 1938 so gewild?

Teen 1938 het die Groot Depressie ook sy tol in Suid-Afrika geëis en is ‘n magdom Afrikaners verlaag tot die status van ‘armblankes’. Talle het uit die platteland na die stede getrek, waar hulle op gelyke voet met ander bevolkingsgroepe om die laagsbesoldigde betrekkinge moes meeding. Na die twee Anglo-Boereoorloë het die Afrikaners hul boonop midde-in ‘n vreemde politieke bestel bevind, en het hulle soos vreemdelinge in ‘hul eie land’ gevoel. Die sogenaamde ‘Tweede Groot Trek’ het aan Afrikaners die geleentheid gebied om opnuut te verenig. Deur na die durf, moed en trots van die oorspronklike Groot Trek se helde te kyk, kon Afrikanernasionalisme en nasietrots gekweek en die onderdrukking van die Afrikaner agterweë gelaat word. Die 1938-vieringe was daarom suksesvol omdat dit aan Afrikaners die hoop gebied het dat hul vertrapte volk kon opstaan uit die as en die ekonomiese en politieke moeras waarin hul vasgevang was, tot die geskiedenis kon verdoem.

 

  1. Kan die Groot Trek gesien word as ‘n fase van Europese kolonialisasie?

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek beteken die woord ‘kolonisasie’ die volgende: “Vestiging van ‘n volksplanting in ‘n landstreek”. Geen historikus kan die feit betwyfel nie dat die Trekkers die Kaap verlaat het met ‘n permanente volksplanting in die binneland as primêre doelwit. Was die Trekkers egter volbloed-Europeërs? Sekere Europese kenmerke soos hul blanke gelaatskleur, Christelike geloof, Europese boerderymetodes en rassistiese vooroordele is saam met hulle die binneland in, maar die Trekkers se enigste gedagte aan Europa was heel waarskynlik om so ver moontlik daarvan af weg te kom! Bykans tweehonderd jaar se struwelinge teen Nederlandse, en later Britse onderdrukking, kwalifiseer myns insiens die grensboere as Afrika-vryheidsvegters – gebore in Afrika, in opstand teen Europese onderdrukkers. ‘n Fase van kolonialisasie, dié was die Groot Trek gewis, maar ‘n fase van Europese kolonisasie? Nie volgens my nie – op grond daarvan dat die Voortrekkers nie beplan het om enige Europese moondheid vasstrapplek in die Suid-Afrikaanse binneland te gee nie.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.