Oor sonde met die sneeu

8 - Haat sneeu

Dag 1: Dis net na sononder. Die eerste sneeuvlokkies begin skaam-skaam hulle verskyning maak. Vanuit die knusheid van ons sitkamer kyk ons glimlaggend hoe die hemelse witgoud geruisloos op die aarde neerdaal. So vreedsaam. So sereen. So skadeloos. Die oorblufte uitdrukking op klein Ben se gesiggie is onskatbaar; sy opgewondenheid aansteeklik. Ek kan skaars my éie opgewondenheid beteuel wanneer ek dink aan die sneeupret wat die dag van môre inhou. Ek hoop dit sneeu sommer die hele nag lank.

Dag 2: Dit hét die hele nag lank gesneeu! Sover as wat die oog kan sien is die landskap omtower in ’n sprokieswêreld. My geluk ken geen perke nie. Ons wend ons na buite, waar die vars sneeu onder ons skoene knars. Ben lag uitbundig. Vanuit die kleurvolle see van plastieksleë en wolmussies in die park oorkant die straat klink daar kort-kort ’n baldadige gejil op. Ons word deel van dié pret deur mekaar speels met sneeuballetjies te gooi, sneeu-engeltjies te maak en ’n uithaler-sneeuman te bou – kompleet met klein aartappeltjies vir ogies en ’n wortel vir ’n neus. Dít terwyl ons aan die allerbelangrikste sneeureël gehoorsaam bly deur wye draaie om enige geel kolle sneeu te loop. Later, met ’n beker warm sjokolade in die hand, sak ons op die sitkamermat neer. Poot-uit, maar diep tevrede. Wat ’n perfekte dag.

Dag 3: Vandag is die deur na die Noordpool toe oopgelaat. Hiérdie is geen hallo-waar’s-jou-mamma-tipe koue nie, dis ’n kwaraaa-waar’s-jou-maaa-tipe koue. En dit sny tot teen die been. Die donserige vlokkies in die voetpad voor ons huis het ’n seepgladde, lewensgevaarlike laag ys geword. Met Fred Astaire-agtige passies probeer ek vastigheid onder my voete vind, maar ná ’n patetiese half-agteroorsalto slaan ek plat op die naat van my rug neer. Ek vermoed my stuitjie is gebreek. Of ten minste gekraak. Ek kom stadig tot verhaal, sopnat en in erge pyn. Moeisaam vat ek Ben, wat die hele petalje in stomme verbasing gade geslaan het, se hand en lei hom in die rigting van die park. Die straat is bedek met ’n goor donkergrys ysmodderlaag, waaruit ’n afstootlike stank verrys. Toe ons die park binnestap wonder ek hardop wat van gister se winterwonderland geword het. Ons sneeuman is verrinneweer deur vandale: sy wortelneus nou só herposisioneer dat daar geen twyfel oor sy geslag kan bestaan nie. Ek staan nog kopskuddend die skade en betrag, toe ’n sneeubal my teen die linkeroor tref. Ek vlieg om, tydelik doof gelaat deur die hewige impak, net om te sien hoe ’n minderjarige japsnoet met méning spore maak. Ben begin huil. Snot en trane loop teen sy rooi-van-die-koue-wangetjies af. Ek besluit om die aftog teen hierdie mislike sneeudag te blaas en eerder die veiligheid van ons huis op te soek. Drie meter van die voordeur af trap ek in Wagter van langsaan se aandete van gisteraand. Hoe moes ek daai landmyn sien as hy so goed vermom was onder ’n lagie sneeu? Dis sout in die wonde man, sóút in die wonde. Binnenshuis oorhandig ek vir Ben aan sy ma, wat behendig die gevriesde resultaat van sy loopneus verwyder. Die kind weier volstrek om dit weer naby die deur te waag, en vir die res van die dag sit ons en origami-vliegtuigies vou. Mag die verraderlike wit goed asseblief tog teen môre die wyk geneem het.

Dag 4: Dit het f*&^%$ alweer ge-f*&^%$-sneeu. Ek worstel met die vooruitsig om dit nogmaals in die wit hel buite my voordeur te waag, maar my vermoedelik gekraakte stuitjie dwing my om ’n dokter te gaan sien. Gewapen met drie truie, twee jasse, longjohns, ’n mus en twee pare wolhandskoene, begewe ek my na buite. Dit lyk of iemand duisende gallonne Coke-geur Slush Puppie in die straat uitgegooi het. En dit walg my. Onder ’n 30cm-sneeubedekking lyk elke geparkeerde motor op die sypaadjie dieselfde, maar na ’n intensiewe soektog herken ek myne aan sy bande. Met lang hale vee ek die sneeu van my windskerm af, en vir my moeite word ek beloon met matige vingervriesbrand. My kar ruk, sluk en stotter voor ek eindelik die pad kan vat, maar spoedig betwyfel ek die wysheid van dié stap. Sneeu, ontdek ek tot my intense ontsteltenis, lei tot akute sneeukoors onder motoriste. Dis asof die koue in hulle koppe in trek, en enige padhoflikheid daardeur uitgewis word. Nét wat ek vandag nodig het. By die dokter gekom, merk ek al van ver af die nota teen die deur op. By nadere ondersoek lees dit soos volg: “Weens ongure weersomstandighede sal hierdie spreekkamers gesluit wees tot verdere kennisgewing. Besoek asseblief die ongevalle-eenheid van die naaste hospitaal indien u geval ernstig is.” Ernstig? ERNSTIG? “Is jý ernstig jou misbaksel van ’n kwaksalwer?” skree dit in my kop. Mismoedig draai ek om. Ek staan peinsend op die sypaadjie en wag vir my kans om die straat oor te steek na waar my karretjie nou geparkeer staan. “Sneeu,” dink ek so in my binneste, “dis duidelik dat jy my haat. Maar ek haat jou ook. So kom ons sluit ’n vredespakt: as jy belowe om my met respek te behandel, sal ek belowe…” en toe, juis tóé, tref die wiel van die nr.93-bus die ysmodderpoel hier voor my…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.