Oor ’n universitêre uitdaging

9 - university challenge

Ek is mál oor game shows, oftewel ‘televisievasvraprogramme’, soos Edwill van Aarde dit in sy keurige Afrikaans sou sê. Om bulderend die korrekte antwoorde te verskaf op die vrae van die aanvallige Anne Robinson van Weakest Link-faam, gee my ’n euforiese genoegdoening wat dikwels vir weke lank duur. Die hupstoot wat my selfbeeld daardeur kry kan waarlik net geëwenaar word deur my (minder gereelde) akkurate voorspellings van die identiteit van die CSI-moordenaar. Oukei, toegegee, om ’n handvol van Me. Robinson se breinknopers agtereenvolgens te ontrafel is weliswaar nie die mees wetenskaplike metode om die omvang van jou algemene kennis te bepaal nie, maar ek verkies om dáárdie onbenulligheid te ignoreer wanneer ek impulsief ’n meerderwaardigheidsgevoel ontwikkel jeens die Weakest Link-stommerikke wat kennelik tydens hul kinderjare minder Chappies-papiertjies as ek gelees het.

Nou kyk, as man van die huis beskou ek dit nie net as my reg nie, maar inderdaad as my plíg om eienaarskap van die TV se afstandbeheer te neem. My gewoonte om sonder ophou deur die kanale te blaai lei wel tot eindelose frustrasie vir my gade, maar ten minste kan niemand my daarvan beskuldig dat ek my verantwoordelikhede as man versaak nie.

Dit is tydens een só ’n kanaalblaaisessie dat my oog ’n BBC-vasvraprogram met ’n hoogdrawende titel vang – University Challenge. ’n Universitêre uitdaging, dus. En gegewe my voorliefde vir vasvraprogramme, die feit dat ék immers óók universiteitsopleiding ondergaan het, én dat ek boonop nooit van ’n uitdaging af wegskram nie, voel ek my genoodsaak om sonder versuim die select-knoppie te druk…

Op die skerm verskyn agt deelnemers wat regtig net, met alle respek, as gedrogte beskryf kan word. Elke gesig word deur ’n dikraambril versier, en elke kop word afgerond deur ’n Einstein-geïnspireerde haarstyl. Die hele lot is geklee in uitrustings wat herinner aan die prentjies in ’n 1974-kledingskatalogus, terwyl die bleek, amper deursigtige gelaatskleure onomstootlike bewys lewer dat buitemuurse aktiwiteite maar laag op dié klompie se agendas is.

Die agttal neem deel in twee spanne, met die een span wat die Universiteit van Oxford verteenwoordig, en die ander een die Universiteit van Cambridge – baie soos die jaarlikse bootresies, maar vir studente sonder spiere. Of sportbeurse.

Die emosielose aanbieder, Jeremy Paxman, roep beelde op van ’n onderwyser op detensiediens – stug en afgetrokke, dog onberispelik toegewy aan die gewigtige taak wat op sy skouers rus. Ná ’n vlugtige keelskoonmaak val hy fronsend weg, en aandagtig spits ek my ore.

Van die eerste paar vrae verstaan ek geen jota of tittel nie. Dit bestaan uit woorde waarvan ek die betekenis nie ken nie, en teen die einde van die vraag het ek lankal reeds vergeet wat ter aanvang gevra is. Maar die deelnemers is die ene konsentrasie. Die are hier langs hulle slape staan skoon bol soos die breinkrag ingespan word – vlytigheid wat vermoedelik spruit uit ‘n vrees vir die strafmaatreël vir onderpresterende deelnemers: vir ’n ganse dag sal hy verbied word om ’n boek te lees, en sal hy instede gedwing word om in die buitelug te staan en ’n bal rond te skop.

Ek ken my sterkpunte en kernfisika is nie een nie, maar ek stel myself nietemin ten doel om minstens ’n raaiskoot te waag op die vraag in dié kategorie: “sometimes known by the name of its inventor, the Scottish physicist CTR Wilson, which apparatus consisting of a vessel fitted with a piston and filled with gas saturated with water vapour, is used for tracking ionised particles?” My kop draai skuins soos ’n hond wat ’n ultrasoniese klank hoor. Ek’s nog besig om die herkenbare fragmente in die vraag in ’n logiese geheel te probeer saamsnoer, wanneer die Oxford-liggie flits en die korrekte antwoord aangebied word: “an expansion cloud chamber”. Maar natuurlik. Hoe kon ek so onnosel wees?

Ten spyte van my powere vertoning tot dusver, skep ek moed wanneer Paxman die geskiedeniskategorie aankondig. Geskiedenis is immers my kos. Die Nazi’s? JFK? Martin Luther King? Gandhi? Nee-nee, die vraag handel oor die alombekende Romeinse ingenieur en argitek, Vetruvius. En weereens word ek die loef afgesteek deur ’n Oxford-outjie met ewe veel puisies as breinselle.

Ek slaag onverwags daarin om ’n punt aan te teken deur die land wie se onafhanklikheid deur die Lancaster House-ooreenkoms bekragtig is, suksesvol weer te gee, maar met die volgende dosyn vrae is ek terug by die ge-uhm en ge-a’ery. Dít terwyl die Oxbridge-brigade met ontstellende reëlmaat antwoorde verskaf waarop Paxman kopknikkend sy goedkeuring aandui.

Ek staar oopmond na die TV-skerm. My selfvertroue dobber op ’n bittere lae eb. Waar krap hulle hierdie fratse uit? Is dit ooit wettig om só baie van álles af te weet?

My laaste hoop berus op die musiekkategorie, waar daar van die deelnemers verwag word om ’n uittreksel uit ’n musiekstuk positief te identifiseer. Ek hoop heimlik om ietsie van The Cure of Green Day of The Stone Roses te hoor, maar die uitdaging word helaas aan ’n klassieke komposisie gekoppel. En nie sommer Wolfie Mozart se Eine Kleine Nachtmusik nie. Nee meneer! Dáái’s mos musiek vir die gepeupel man! Gluck, Campioni, Rameau en Paisiello – dis húlle wat die antwoordliggies vervaard laat flikker.

Wat ’n ontspannende paar minute voor die TV moes wees, ontaard in ’n folterende emosionele pyniging. Binne die bestek van 30 minute word die indruk wat ek van my algemene kennis gehad het sonder seremonie ontbloot vir wat dit is: ’n waanbeeld. My  selfbeeld lê aan skerwe, en waar ek verwese en ineengekrompe teen die hoekie van die rusbank terugdeins, besef ek nogmaals dat mens nooit ’n man op sy baadjie moet takseer nie. Agter elke onversorgde, eksentrieke individu, skuil daar bes moontlik ’n intellektuele reus, en uiteindelik is dit jy, die spotter, wat met eier op jou gesig sit.

University Challenge is toe glad nie ’n uitdaging nie. Dis ’n onoorkombare struikelblok. Selfs al is ek ’n punt toegeken vir elke poging om ’n antwoord te opper, sou ek maar ’n fraksie van die wenspan se puntetotaal kon insamel. Nie dat ek bly kyk om te sien wie uiteindelik wen nie, want diep in my donker depressie pas ek emosionele skadebeheer toe deur blitsig oor te skakel na die Cartoon Network…hoopvol dat ek dáár darem iéts van sal verstaan.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.