Oor die elfde gebod: jy mag nie dobbel nie

10 - lottery

Ek sou graag die Britse lotery wou wen. Om ses nommertjies reg te voorspel is op die oog af nie die mees onbegonne taak nie, is dit? Dis egter die ergernis daarvan om week na week ’n pienk kaartjie met jou ‘gelukkige’ nommers op te bekom, dié stukkie papier dan soos goud te bewaar, en boonop nog te moet uitvind wat die wennommers vir jou trekking ook was, wat meebring dat ek my droom van kitsrykdom net louwarm najaag. Dan is daar nog die emosionele wipwaentjierit van oe-ek-gaan-ryk-wees-wat-gaan-ek-als-met-die-geld-doen-ag-nee-dis-alweer-nie-my-nommers-nie ook om mee rekening te hou. Ek het derhalwe begin aanvaar dat ek my miljardêrstatus op ’n ander manier gaan moet verwerf.

Maar toe ontdek ek ’n uiters bruikbare National Lottery-fasiliteit: jy registreer eenvoudig jou nommers op hulle webblad en húlle doen die res – speel jou nommers namens jou, samel jou betalings maandeliks via ’n aftrekorder in, en stel jou selfs per e-pos in kennis indien jy dalk ’n wenner sou wees. Op dié manier word al die tekortkominge van die loterystelsel dus omseil. Ek het byna oombliklik ingeteken op dié diens, maar namate die maande verbygetik het, was die enigste bewys van my weeklikse lootjies die transaksies aan die debietkant van my bankstaat. Totdat die loterymense se e-pos getiteld “Good news about your ticket” flussies in my inboks verskyn…

‘Ek het gewen’, flits dit deur my gedagtes. Met koorsagtige haas klik ek onverwyld op die regte skakels om die boodskap oop te maak en…en…ek het inderdáád gewen! Maar hoeveel weet ek nie. Daar word vereis dat ek op hul tuisblad aanteken, maar my werkplek se internetdiensverskaffer blokkeer besoeke aan die donker hoekies van die wêreldwye web – dobbelgedrewe webblaaie inkluis.

My hart klop onstuimig, maar ek berus my daarby dat ek eers met my tuiskoms vanaand sal ontdek watter goeie nuus gisteraand se nommers vir my inhou. Ek moet myself voortdurend maan om my gedagtes weg van dié onverwagse meevaller te stuur, en verbasend genoeg slaag ek daarin om relatief ongestoord met my dagtake voort te gaan. In my agterkop word die lugkastele se fondasies egter reeds onverpoos gegrawe.

Huistoegaantyd breek aan. Nie ’n sekonde te vinnig nie. By die moltreinstasie seil ek links teen die roltrap af. Twee-twee trappe op ’n slag. Ek glip verby die treindeur wat reeds aan’t toemaak is, en wanneer ek my sitplek inneem, begin my gedagtes behóórlik bokspring. ’n Koerant lê oopgeslaan op my skoot, maar die woorde is onleesbaar deur die wasigheid van my dagdroom. Voor my geestesoog sien ek ’n jarelange wêreldreis – Rusland, Japan, Suid-Amerika. Ek sien my familie en beste vriende se gesigte wanneer hulle die substansiële deposito’s in hulle bankrekenings ontdek. Ek sien ’n trust, in my naam, wat hom beywer vir die opheffing van húlle wat dit die nodigste het. ‘My lewe het vandag verander’, dink ek, want voortaan sal ek nooit weer ’n geleentheid van die hand moet wys bloot omdat my beursie te dun is om dit aan te gryp nie. Koebaai rat race!

Die trein kom tot stilstand. Ek haas my na bo. Ek swiep deur die kaartjieshek. Kies ylings koers huistoe. My tempo versnel tot ’n drafstap. My hart klop in my keel. Die sleutel knars in die voordeurslot. Met een beweging is ek agter my rekenaarskerm. Google maak tydsaam oop. Die afwagtig tasbaar. N-A-T-I-O-N-A-L. L-O-T-T-E-R-Y. Gebruikersnaam. Wagwoord. Open messages. Opgehoue asem. Ek maak sin van die woorde op die skerm hier voor my: “Congratulations! You’ve won £10 in last night’s draw”.

En ek weet nie of ek moet lag of huil nie.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.